Die dinge van ’n kind. Marita van der Vyver
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die dinge van ’n kind - Marita van der Vyver страница 5
Hulle staan op die stoep, besig om vleis te braai, en kyk uit oor piesangbome so ver soos die oog kan sien. Nader aan die huis, langs die swembad waar ek in die son lê en lees, toring die hoë, dun stamme van ’n paar papajabome bo trosse bougainvillea in skakerings van pienk en pers, en bosse vol rooi hibiskusblomme. Ek draai op my rug om die son van voor te vang.
“Kyk, doer anderkant waar dit so dynserig raak, is die Wildtuin.” Pa beduie met ’n bierbottel in die hand en ’n verspotte laphoedjie op die kop. Prisoner of Love staan in rooi letters op die wit materiaal. Hy vat ’n sluk bier en draai die rooster behendig om. “Jy kan snags die leeus hoor brul.”
“Wragtag,” sê sy vriend uit die Kaap.
“Wragtag,” beaam my pa. “Partykeer kom die seekoeie hier onder in die swembad water suip.”
Die Kapenaar lag onseker. Ek draai die radio langs my harder sodat ek nie na my pa se liegstories hoef te luister nie. Wikkel my boude op die maat van Mick Jagger se stem. I can’t get no satisfaction. Probeer weer op my boek konsentreer.
Dis Dalena wat gesê het ek moet dit lees. Wat my dadelik onraad laat vermoed het, want my kamermaat is nie die fluksste leser in die wêreld nie.
“Is daar seks in?” wou ek weet.
“Jou tone sal krul van lekkerkry.”
“In Afrikááns?”
“Man, Andre P. Brink is nie soos ander Afrikaanse skrywers nie.” Die manier waarop sy die P beklemtoon het, het die naam elegant en eksoties laat klink. “Dis hot stuff, ek sê jou. Kaalgattonele.”
Ek wou nie wys ek stel belang nie. Maar toe my ma ons Vrydagmiddag terug koshuis toe neem, ná ons in die Portugese kafee gekuier het, het ek haar by die biblioteek laat stilhou.
“Het julle Ambassadeur van André P. Brink?” het ek vir die tannie agter die toonbank gevra.
“Dié Ambassadeur.” Sy het na my grys skoolrok gekyk en haar swaar wenkbroue het soos identiese helikopters bo haar brilraam opgestyg. “Is jy nie bietjie jonk vir so ’n moeilike boek nie?”
“Dis vir my ma.” Sonder om te blik of te bloos. Soms aard ek na my pa.
En nou lê ek in my vakansiebikini langs die swembad, swetend op soek na die eerste kaalgat-toneel.
“Die plek krioel van die slange,” sê Pa. “So dik soos my boarm. Mambas. Groenes in die bome en swartes op die grond.”
“Wat maak jy as jy op een afkom?” Die Kapenaar begin effens skepties klink.
“Jy maak jou broek nat!” lag Pa. Ek loer bo-oor my donkerbril na die stoep se kant toe. Pa skud sy kop en buk af om die rooster weer om te draai. “Nee, die swart mense hier rond weet wat om met slange te maak. Never Die – dis nou die boss boy – dra altyd ’n lang stok by hom. Hy kan ’n slang se kop met een hou plat slaan.”
“Seker dié dat sy naam Never Die is,” sê Pa se ander vriend, wat van Pretoria af kom.
Ek sing geluidloos saam met Mick Jagger. Ek weet nie wat ek sonder LM Radio sou gedoen het nie.
“Mart, jy moet oppas vir die son!” roep my ma wat pas met ’n slaaibak in haar hande op die rand van die stoep verskyn het. “Vanaand sit jy weer in ’n asynbad en huil.”
“Aaaag, Maa!”
“Ek sê maar net.” Ma dra ’n geblomde trilobal-romp bo-oor ’n bypassende geblomde baaikostuum. Haar donkerbril lyk soos Jackie Onassis s’n. Aan haar ore hang trossies rooi kersies, so lewensgetrou dat jy daaraan wil hap. “Onthou, dis nie die Kaapse son dié nie.”
Ek sit die oop boek plat op my gesig neer. Die swart letters swem voor my oë. Ek voel hoe die sweet by my maag afloop en in my naeltjie opdam.
“Sjoe, maar die water lyk lekker.” Die Pretorianer se stem klink nader, asof hy langs Ma kom staan het. Ma se hoë kurksoolsandale kraak toe sy wegstap. Dis ’n rukkie stil, maar ek kan voel iemand kyk na my. Ek loer onder die boek deur en sien hoe die man oor die reling van die stoep leun. “Die molle het al goed gestoot daar onder, nè.”
“Ja.” My pa lag verleë. “Ek sal een van die dae ’n haelgeweer moet aanskaf om die kêrels weg te hou.”
“Ek sal haar graag oor ’n paar jaar wil sien.”
Dink die donner miskien ek is doof? Ek lê roerloos, asof ek aan die slaap geraak het.
“Mart is ’n stil kind,” sê my pa, “altyd met haar neus in ’n boek. Dis Liefie wat my grys hare gaan gee, dit kan ek nou al sien. Sy’s die wilde een.”
“My naam is nie Liefie nie!” roep Liefie van iewers uit, hardloop teen die trap af, en spring in die swembad met ’n geplons wat soos applous klink.
Ek is so dankbaar vir die afleiding dat ek nie eens omgee om nat gespat te word nie, probeer net die boek droog hou deur dit hoog bo my kop te lig. Draai my rug na die stoep en kyk hoe my sussie soos ’n skitterende forel deur die oppervlak van die water bars.
“Ek het haar nou die dag in die badkamer betrap, besig om haar beenhare te skeer!” sê Pa ontstoke. “Met my skeermes! En sy’s nog nie eens op hoërskool nie!”
Liefie klouter by die swembad uit, kom staan wydsbeen bo-oor my en skud haar lyf droog. Die waterdruppels skroei my vel soos droë ys.
“Nee, man, kyk hoe lyk die boek nou!”
“Wat lees jy?”
“Niks wat jy sal verstaan nie.”
“Hoe weet iy?”
Sy sak langs my op die nat plaveisel neer. Haar vel is bruin soos ’n boomstam, haar lyf nog ongevorm, maar haar tepels begin klaar donkerder deurskyn onder die klewende bikini-bostuk. Sy knipoog vir my asof sy weet wat ek dink.
“Jy sal vir Ma moet vra om vir jou ’n bra te koop.”
“Ek het al.” Glad nie skaam daaroor soos ek was nie. “Ek dra dit elke dag skool toe.”
Ek trek die klam boek nader, probeer weer lees. Die frangipaniboom agter my ruik so klewerig soet soos Ma se haarsproei. Oral om my is roomwit frangipaniblomme op die plaveisel afgegooi, asof die reuk selfs vir die boom te erg geword het. Dis moeilik om op ’n boek te konsentreer – selfs ’n boek met seks in – as die bome om jou soos haarsproei ruik en die son jou kaal bene brand en die plante so groen is dat dit voel asof jy pal deur ’n donkerbril na die wêreld kyk, selfs wanneer jy jou bril afhaal. Nou verstaan ek waarom almal altyd sê die mense oorsee lees meer as die mense in Afrika.
Nog ’n rede waarom ek eendag in ’n dakkamer in Parys wil gaan woon. Om baie boeke te lees, terwyl ek lang Franse brode eet en goedkoop Franse wyn drink en sterk Franse sigarette rook. En wanneer ek nie lees nie, sal ek romantiese Afrikaanse gedigte skryf wat ek met groot gevoel sal voordra aan dodelik aantreklike Franse mans met sulke swart oë en sulke hol wange, wat natuurlik nie ’n woord daarvan sal verstaan nie …
“Ek het vir