Die dinge van ’n kind. Marita van der Vyver
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die dinge van ’n kind - Marita van der Vyver страница 3
Toe ek my oë toemaak, het ek die skerp skuimsmaak van tandepasta op my tong geproe, en skielik onthou dat Niek se mond na pepermente en tabak gesmaak het, met so ’n effense souterigheid agterna.
’n Klok het gelui – nóg een – en almal het uit die badkamer geskarrel soos kokkerotte wanneer ’n lig in ’n donker vertrek aangeskakel word. Ek het ook in ’n kokkerot verander.
In my nuwe slaapkamer het my uitgepakte kleretas en my leë skoolrugsak op die bed gelê. Bo-op die tas was ’n paar stukke gekreukelde koerantpapier waarin ek ’n koffiebeker en ’n porseleinpoppie en ’n paar ander patetiese ornamente toegedraai het om my aan die huis te herinner. Ek het op die bed gaan sit en een van die koerantberigte begin lees omdat ek nie geweet het wat anders om te doen tot die volgende klok lui nie.
Ons vyande moet weet dat elkeen wat ons aan die grens afgee, ons hegter bind aan ons land, Suid-Afrika. Die Minister van Polisie, mnr. Jimmy Kruger, op die begrafnis van ’n jong konstabel wat in Rhodesië doodgeskiet is.
Ek het die koerantpapier opgefrommel en ’n snippermandjie gesoek. Onder die tafel het ’n draadmandjie gestaan. Grys, natuurlik.
Toe ek buitentoe kyk, deur die sifdraad en die tralies, het die onbekende boom steeds in oranje vlamme gestaan. Honderde tongetjies vuur het helder aan die skemer gelek. Verder agtertoe het ’n oranje bougainvillea oor die draadheining rondom die koshuistuin gestort. En vlak voor die venster het ’n groen struik so hoog soos ’n boom gegroei, met groot wit blomme wat soos omgekeerde kreukelpapierkelke aan die takke hang. Ek het gewonder of dit die kelke was wat so hartseer ruik.
Ek moes wegdraai van die venster omdat my oë wéér begin brand het van die trane.
Toe sit en staar ek maar na die kaal muur voor my en vryf ingedagte oor die growwe seilmateriaal van my rugsak. ’n Vuilerige kakiekleurige rugsak waarop vriende se name en verspotte boodskappe met verskillende kleure viltpenne geskryf is. Ek het afgekyk en my asem skerp ingetrek. Langs my op die bed het iets gelê wat soos ’n hopie gemorste sout lyk. Versigtig, omdat dit veel, veel kosbaarder as sout was, het ek dit in my palm probeer bymekaarskraap.
Ek het die seesand heen en weer uit een hand in die ander gestrooi terwyl my vakansie soos ’n fliek in my kop draai. Eintlik baie beter as ’n fliek, want ek kon selfs die sonbrandolie ruik.
Ek het die rugsak as strandsak gebruik, elke oggend my handdoek en boek en donkerbril en beursie daarin gepak voordat ek vir Niek gaan soek het. Moenie agter hom aanloop nie, het my ma aanmekaar gewaarsku, soos ma’s mos maar altyd waarsku. Maar ek het nie agter hom aangeloop nie. Ek het gesorg dat ek op die regte tyd op die regte plek was. Daar’s ’n verskil.
Ek het die weer en die branders leer lees. Dis wat jy doen as jy simpel genoeg is om op ’n branderplankryer verlief te raak. Ek het geweet wanneer ek hom wáár kon kry.
Hy het meer in die branders as in mý belang gestel, moes ek op die ou end erken. Maar hy het darem meer in mý as in enige ander meisie belang gestel.
Toe die ligte-uit-klok lui, het ek eindelik die kleur van sy oë onthou. Soos daardie klam blasies aan seebamboesslange, daardie blasies wat so ’n sagte plofgeluid maak wanneer hulle stukkend gedruk word.
Londen
16 Junie 1992
Liewe kind
Jy het pas sestien geword, het ek vandag besef. So oud soos ek was, daardie dag toe die foto in die Pretoriase dieretuin geneem is.
Ek het dit gaan uitgrawe – die enigste foto wat ek van ons al vier het – nadat ek my seun met Roald Dahl se grillerigste gediggies aan die slaap gelees het. Nee, dit maak hom blykbaar nie bang nie. Hoe wreder, hoe wyer glimlag hy. My onskuldige, bloeddorstige seuntjie.
Hy weet nie wat die datum is, of wat dit beteken nie. In die koel groen land waar sy pa se voorvaders honger gely het, word dit Bloomsday genoem, deur lesers wat weet wie Leopold Bloom was. In die bloedige warm land waar sy ma se voorvaders gejag en geplunder het – waar politiek nog altyd belangriker geag is as boeke – word dit om ander redes onthou. Hy weet nie van die kinders wat dood is, of van die kind wat kort voor daardie dag gebore is nie.
En nou sit ek hier en staar na ’n foto van vier vreeslike wit tieners op ’n geel grasperk, ’n hok met ape op die agtergrond. Die seuns se hare is stomp gesny, hulle lywe lomp in army-uniforms. Die meisies is uitgedos volgens die modebladsye van die Afrikaanse Sarie en die Amerikaanse Seventeen. Een dra ’n halterneksmok van denimmateriaal wat wyd om haar heupe uitklok bo-oor jeans wat selfs wyer om haar hoë kurksole hang, soos ’n outydse laag-op-laag-troukoek wat in denim toegedraai is. Die ander een se hare is onder ’n kopdoek weggesteek, haar lyf onder ’n voorskootrok van laslap-materiaal, asof sy ’n huishulp se uitrusting vir die geleentheid geleen het. ’n Rykmanskind in armmansklere.
Ek wens ek het my tienerjare in ’n eleganter tydperk deurgebring!
Ek het my voorgeneem dat ek nooit oor my jeugjare gaan skryf nie. Wat kan jy sê oor die jare sewentig – behalwe dat jy wens jy was nie daar nie? Die jare sestig het hippies en seks voortgebring, die jare tagtig yuppies en geld, maar die jare sewentig? Wat kan jy sê oor platformskoene en langbroeke met belaglike wye pype, David Bowie se versnipperde haarstyl, John Travolta se diskodanse en Abba se musiek?
Dit was waarskynlik die verganklikste dekade in die geskiedenis van die wêreld. Weggooimodes, weggooidanse, weggooimusiek. En weggooilewens, in die warm land waar ek grootgeword het. Wit seuns wat op die grens geskiet is, vir volk en vaderland. Swart skoolkinders wat in townships geskiet is, vir ’n ander volk en dieselfde vaderland.
Maar ek het toe tog daaroor begin skryf, teen my eie beterwete. Dis nie wat ek wil vertel nie, dis wat ek móét vertel.
Ek sou die storie graag aan jou wou opdra, as ek dit ooit eendag klaarkry. Maar ek weet nie eens wat jou naam is nie.
Geluk met jou verjaardag, my naamlose kind. Ek hoop jou sewentiende lewensjaar is mooier as wat myne was.
M.
Ons sal stry en in die geloof voortgaan
“So dit gaan darem al ’n bietjie beter?” vra my ma met bekommerde oë. Oorkant haar suig my boetie sy glas chocolate milk shake so lawaaierig leeg dat jy hom buite in die straat kan hoor. Sy kry die gewone gemartelde wat-het-ek-gedoen-om-dit-te-verdien-uitdrukking, maar ignoreer hom verder.
“Ek het nie so gesê nie,” mompel ek met die strooitjie tussen my tande vasgeknyp.
Ons sit in die Portugese kafee langs die plaaslike bioskoopsaal, die mure om ons toe onder ou rolprentplakkate. Voor my is ’n vetkol op die rooi-en-wit geruite tafeldoek, ’n groot rooi plastiektamatie vol tamatiesous, en ’n spyskaart wat soos ’n skoolboek met plastiek oorgetrek is. Daar is nie elegante kofliehuise op Swartstroom nie, het ek ná drie weke op dié dooierige dorp aanvaar.
“Doctor Zhivago,” sug my ma. “Dis die enigste love story waarvan jou pa ooit gehou het.”
My oë dwaal na die plakkate teen die muur terwyl ek stry teen die versoeking om soos Niel die