Die dinge van ’n kind. Marita van der Vyver

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die dinge van ’n kind - Marita van der Vyver страница 4

Автор:
Серия:
Издательство:
Die dinge van ’n kind - Marita van der Vyver

Скачать книгу

sê sy in ’n Amerikaanse aksent.

      “Sjarrap,” sis ek en probeer agter my ma wegkruip toe een van die matriekseuns by die tafel in die hoek omkyk na ons kant toe.

      “Kinders,” probeer my ma in my pa se stem sê. Maar dit werk nooit.

      “Ma, hy sit hier in sy skoolklere en gedra hom soos ’n olifant in ’n dieretuin!”

      “Tj’aag, ou Mart is net bang een van haar boy-friends by die tafel daar agter dink haar broer het nie maniere nie.”

      “Wel, hy het nie,” sê ek en gryp die glas so vinnig voor hom weg dat die strooitjie soos ’n lang, pap sigaret in sy mond bly hang.

      “Jislaaik, waar’t jy geleer om so vinnig te gryp?” vra hy met iets soos bewondering in sy stem.

      “Aan tafel in die koshuis. As jy nie gryp nie, ly jy honger.”

      Ek geniet die effens geskokte uitdrukking op my ma se gesig. Sy vat aan haar bottelblonde hare, styf gespuit soos gewoonlik, en kyk bo-oor my kop na die plakkate. Niel breek ’n wind op terwyl hy my reguit in die oë kyk. Liefie giggel agter haar hand en my ma lyk meer gemartel as ooit.

      “Ma moes hom ’n jaar agtergehou het,” sê ek. “Enige idioot kan sien hy hoort nog nie in ’n hoërskool nie.”

      Hy kyk na my asof ek hom geklap het. Ek kry hom amper jammer. Hy’s die kleinste in sy standerdsesklas, en sy grootste vrees is dat hy nie veel verder gaan groei nie.

      “Toe maar wat,” troos Ma soos altyd. “Simon het ook eers begin groei toe hy al amper uit die skool uit was.”

      Simon se naam laat my van voor af bedruk voel. My oudste broer het ’n maand gelede sy diensplig begin doen. Nou’s ek die oudste by die huis, met hierdie windgat dwerg van ’n boetie, en ’n sussie wat haar verbeel die lewe is ’n fliek waarin sy al die hoofrolle speel.

      Die Portugese kafee-eienaar staan vooroor gebuig agter die toonbank, sy gewig op sy elmboë, tussen die kasregister en ’n waaier wat soos ’n mens se kop heen en weer draai. Elke drie sekondes blaas ’n elektriese bries deur sy donker hare. Daar is nog twee sulke waaiers in die agterste hoeke van die kafee, hoog bo die tafels, maar dit voel nie of hulle enige verskil maak nie. My grys skoolrok kleef aan my bobene vas en klam sweetkolle slaan onder my arms deur.

      Agter die eienaar se kop hang die enigste plakkaat in die kafee wat nie ’n rolprent adverteer nie. Dis die soort wat jy gewoonlik in reisagente se toonvensters sien: ’n groot kleurfoto van ’n verlate strand met palmbome. Soos iewers oorsee, dink ek verlangend. Lourenço Marques staan in vet, swart letters bo-oor die blou lug. Dis waar LM Radio vandaan kom.

      Die man het hartseer oë. Hy herinner my aan die kafee-eienaar in ’n boek wat ek die vakansie gelees het. The Heart Is a Lonely Hunter. Dis die naam wat my aandag getrek het op die boekrak in die strandhuis, tussen al die ander boeke wat al jare daar staan en verbleik in die son. Ek wou die storie vir Dalena vertel, maar sy het belangstelling verloor toe sy hoor dit het nie ’n happy ending nie.

      “Gone with the Wind,” sug Ma weer met haar oë op ’n ou plakkaat.

      “Hulle-maak-nie-meer-sulke-films-nie,” sê Niel en Liefie vinnig voordat Ma dit kan sê.

      Dit lyk asof Ma hulle nie eens hoor nie.

      “Het Ma weer van hom gehoor?”

      “Simon?” My ma krap in ’n gehekelde handsak met ronde hout-handvatsels en haal haar pakkie Cameo uit. “Twee briewe in een week! Hy moet vreeslik homesick wees.”

      “Ek mis hom.”

      “Ek ook, Mart.”

      Ma sluk die laaste tee in haar koppie af en steek ’n sigaret aan. Gelykheid? vra die vrou in die Cameo-advertensie, terwyl sy deur swaar vals wimpers na die kamera loer. Dis net mans wat gelyk geskape is. Ons is anders. Soos ons sigaret. Sy begin effens verveeld lyk. Ma, nie die vrou in die advertensie nie.

      Eintlik is ons al vier effens verveeld. Dis Vrydag, maar omdat die skool môre kleure-atletiek hou, mag die koshuiskinders nie vanmiddag huis toe gaan nie. Ma het ons jammer gekry en vir ons kom kuier. Maar as sy en Liefie netnou terug plaas toe ry, moet ek en Niel hier agterbly.

      “’n Vrydagnag in die koshuis!” Ons sal die stryd teen terrorisme en Kommunisme nie gewonne gee nie, lees ek in die koerant wat voor my ma lê. Ons sal stry en in die geloof voortgaan totdat ons ’n regverdige vrede bewerkstellig het. Die Minister van Polisie by die begrafnis van ’n adjudant-offisier wat saam met drie ander polisiemanne aan die Rhodesiese grens doodgeskiet is. “Dis verskriklik!”

      “Dit gaan sports wees!” Niel glimlag met Ma se donker oë, grootmens-oë in ’n spits seuntjiegesiggie, wat hom net nog meer soos ’n uitgeslape dwerg laat lyk.

      “Ek wens ek was ’n jaar ouer,” sug Liefie, “dan was ek ook in die koshuis!”

      “Ek wens ek was twee jaar ouer, Liefie, dan hoef ek nooit weer ’n koshuis te sien nie!”

      “My naam is nie Liefie nie,” sê sy, soos gewoonlik.

      “’Skuus, Liefie,” sê ek, soos gewoonlik.

      Pat Garrett and Billy the Kid, lees ek op ’n plakkaat in die hoek waar die matriekseuns sit. Daar was nou vir jou ’n lekker fliek. Bob Dylan se musiek.

      “As jy Stellenbosch toe wil gaan, Mart,” sê Ma en trek ’n asbakkie in ’n miniatuur-motorband nader, “sal jy in ’n koshuis moet bly.”

      “No ways, Ma! Dan gaan ek eerder na ’n Engelse universiteit toe. Dan kan ek doen wat ek wil, al moet ek in ’n koshuis bly.”

      “Jy sal jou pa se hart breek as jy nie Stellenbosch toe gaan nie.”

      “Hy’t myne gebreek,” antwoord ek, “die dag toe hy my hier voor die koshuis afgelaai het.”

      “Moenie altyd oordryf nie, Mart. Dis nie só erg nie.”

      “Hoe weet Ma hoe erg dit is? Ma was nooit in ’n koshuis nie!”

      Dit klink bitsiger as wat ek bedoel het, maar Ma reageer nie, tik net haar as netjies in die klein motorbandjie af. Goodyear staan op die rubber geskryf. ’n Goeie jaar vir wie?

      “Ek hoor mos hoe praat jy … oor jou kamermaat, oor hoe julle …”

      “As dit nie vir Dalena was nie, het ek seker al selfmoord gepleeg!”

      Dié keer reageer sy.

      “Moenie so sê nie, Mart.” Met ’n wysvinger wat vinnig tik-tik-tik teen die sigaret. Dis ’n teken dat jy in jou spore moet trap. Sy word nie maklik kwaad nie, my pa is die humeurige een, maar as sy haar die dag vervies … Don’t push me, sê sy altyd. Don’t push me.

      “As dit nie vir Dalena was nie, het ek seker al weggeloop.”

      “Lady and the Tramp!” Ma se pruilmond vou oop, haar oë verheug. “Onthou julle dit nog?”

      Sy weet ek sal nie wegloop nie. Ek sal kerm en

Скачать книгу