Koukonap. Johann Botha

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Koukonap - Johann Botha страница 20

Koukonap - Johann Botha

Скачать книгу

haar sending na Breipaal vergesel. Mank Manie is opgekommandeer om hulle met sy taxi te vat. Lenie sit hoflikheidshalwe voor. Dries sit agter by die mandjie.

      Hulle ry op Tweede Kersdag met die enkelbrug oor die Vaal. Aan die oorkant trek ’n bakkie effens eenkant toe dat hulle kan verbykom. Dis die polisiebakkie. Sersant Izak du Preez sit agter die stuurwiel. Langs hom sit konstabel Dolf Bester. Oom Manie hou stil en draai sy ruit af.

      “Môre, kêrels. Probleme?”

      “Nee wat,” sê Du Preez. “Of laat ek sê, nog nie.”

      Oom Manie lag. “Jy meen, as die voggies begin praat.”

      “Einste.”

      Hulle groet en ry verder. Die lokasie lê langs die Campbell-pad, uitgestrek op ’n oopte ’n ent van die rivier af. Dries kyk nuuskierig rond. Dis nou Breipaal. Vlae musiek uit radio’s en platespelers hang tergend in die lug of dawer onverwags uit ’n ander rigting. Groepies mense by huise, kinders op straat. Min Breipalers sal vandag op Koukonap moet werk, waar kantore en winkels toe is. Die eerste paar strate waardeur hulle ry, het name soos Dahlia en Begonia. Die paaie is gegruis en die huise lyk netjies. Dan tref dit Dries.

      “Hier is omtrent nie bome nie.”

      “Seker lankal afgekap vir brandhout,” sê oom Manie.

      Die erwe is ook kleiner en die huise meer opmekaar as op Koukonap. Daar is hier en daar ’n woning met ’n paar struike, ’n stukkie grasperk of ’n bedding groente. Die grond lê meestal kaal en bak in die son. Die onderste deel is blykbaar die deftige deel van Breipaal, want hoe dieper hulle die lokasie inry, hoe knapper raak die erwe, hoe kaler raak die grond en hoe meer versukkeld raak die huisies.

      Oom Manie ken dié geweste sleg. Hy soek Gousblomstraat, beland in Soutbosweg en gou is hulle tussen ’n plaat plakkershutte, aanmekaar getimmer van enige denkbare afvalmateriaal. Hoenders en boerbokke wei tussen die mankolieke skuilings en een van die buurt se brandmaer honde lyk vir Dries of hy met ’n bietjie pap in die pens Dapper se boetie kon gewees het.

      Op ’n oop stuk grond is kinders besig om ’n tennisbal rond te skop. Vrouens uit die plakkershutte vergader met emmers en konkas by ’n waterkraan. Hul stemme dra oor die veld, van waar ’n ou man met ’n kruiwa vol doringtakke aangesukkel kom. Hy laat sak sy vrag en staan half gebukkend met een hand op sy kruis en wag dat die Oldsmobile verbykom.

      Oom Manie het sy draai gekry en ry nou stadig terug na waar daar afgebakende strate is. Hy bestuur versigtig. Hy wil nie hier ’n hoender of ’n bok of ’n kind raak ry nie. Aangeleun teen een van die huise in Bloekomlaan is ’n afdak van sinkplaat en kreosootpale geprakseer. Daar sit mans op ’n paar houtbankies of staan en praat met glase of bierbottels in die hand. Jy hoor hul musiek en die lag en gesels al van ’n afstand. Wanneer die Olds nader kom, droog die gesprekke op. Iemand lig die platespeler se arm en onderbreek so Frankie Laine se wroeging oor die hartelose feeks Jezebel. Almal se oë volg die kar wat by hulle verbyry.

      “Sjebien,” sê oom Manie. “Van dié klomp drink seker al van vroeg af.”

      Die gesels en gelag hervat. Dries sien deur die agterruit dat ’n paar van die groep omdraai om die kar dop te hou. Die musiek tref ’n uitdagender noot met Bill Haley en sy Comets wat laat waai met die stamp-stamp van harde rock. Een van die bondel, ’n langeraat uitgevat in ’n helderrooi hemp, sy pet windmaker oor een oog gekantel, sien Dries deur die karruit loer en hy maak met sy vinger ’n dreigende pistool. Dries kan hom nie hoor nie, maar hy kan sien hoe hy “kabam!” sê en soos in ’n cowboy-fliek die rook van die loop se bek wegblaas. Dis seker die uitdrukking op Dries se gesig wat die man laat lag. Hy beduie iets vir die man langs hom. Nou lag albei.

      Dit kom by Dries op dat die enigste blanke mense in die hele Breipaal op hierdie oomblik in die kar sit. Sy ma, oom Manie en hyself. Verder is almal by wie hulle verbyry, oud en jonk, man, vrou en kind, mense van kleur. Oom Manie se arms is ook behoorlik bruin, maar as hy sy hoed afhaal, soos nou in die kar, is sy voorkop ’n uitgewaste bleekwit.

      Ênie se woning is nie ’n stal nie, maar as armoedigheid die kriterium is, kwalifiseer haar huisie. Dis een van ’n lang ry eenderse geboutjies van sementblokke en asbesdakke. Weerskante van die voordeur is ’n malva in ’n blik en voor die venster ’n paar sonneblomme. Die werfie is gevee en agter die huis staan daar, soos vroeër by die Fouries se huurhuis die geval was, ’n buite-kleinhuisie.

      Hier in Gousblomstraat is daar ’n paar sulke kleinhuisies. Dit moet wees hoe ver die nagwa kom, want by die plakkershutjies verder aan is daar nie sulke geriewe nie. Dries weet sommer. Daardie mense moet maar êrens ’n plan maak, in ’n sloot of tussen die bossies op die meentgrond. Vir hulle sal Ênie se huis seker ’n paleis wees.

      Wanneer die Olds voor nommer 117 stilhou, roer die gordyntjie voor een van die vensters. Iemand kom uit die huis te voorskyn. Met ’n effense beklemming sien Dries dis Jason. Hul uitval is lankal ou geskiedenis, maar sedertdien het hulle vir mekaar vreemdelinge geword. Jason het nooit weer saam met sy ma na die Fouries se huis gekom nie.

      Oom Manie sê: “Nou, loop doen julle ding. Ek bly sit maar in die kar.”

      Lenie klim uit. “Bring die mandjie,” sê sy vir Dries.

      Jason het na binne geroep. Nou kom die res van die gesin te voorskyn. Heel voor Japie Tarentaal. As vader van twee Malmokkies laat hy hom die rol van gasheer geval. Saam met hom ’n skamerige klonkie van so heuphoogte. Dit moet Foroklok wees. Dan maak die matriarg haar verskyning, die eintlike baas van die plaas, Ênie Malmok. Sy staan op die trappie, baba Krismis in haar arms.

      Dis ’n toneeltjie wat onverwags aan Dries se hart vat. Japie se breë glimlag vertoon sonder skroom ’n paar gapings tussen die tande. Ênie se liewe gesig gloei van trots. Krismis het vrede met die wêreld. Hy slaap vas. Jy sien skaars sy geplooide gesiggie by sy kombersie uitsteek. Tot Foroklok glimlag skaam en steek sy kop agter sy pa se bene weg.

      Net Jason lyk nie oorweldig nie. Hy luister met ’n uitdrukkinglose gesig hoe Japie die mandjie geskenke oorlaai met lof, maar reageer dadelik toe sy ma hom aanspreek.

      “Toe nou, Jason, waar’s jou maniere? Vat die mandjie daar by …” Dan aarsel sy ’n oomblik. “Daar by Driesgoed. En sê dankie.”

      Sy hou Krismis met een hand teen haar bors vas. Met die ander vat sy Lenie se hand. “Welkom, mies Lenie. Ons kan dit rêrig goed gebruik.”

      Lenie hou Ênie se hand styf vas. “Laat ek hom bietjie sien,” sê sy. “Dis mos ’n pragtige kleinding, Ênie.”

      “En so soet,” sê Ênie. “Hy sê skaars kwêk as sy doek vuil is.”

      “Hy lyk nes sy pa,” sê Japie. Hy tik op sy bors. “My oupa was mos ’n Skotsman.”

      Dis so onvanpas op daardie oomblik dat die vrouens lag kry. “Toe, jy,” sê Ênie.

      “Kyk maar net,” sê Japie. “Sy oge is rôjil bloe.”

      Dries kom agter dat Japie so bietjie wieg as hy stilstaan.

      “Ou Krismis,” sê Japie. “Kan jy nou meer. So op die Krismis.”

      Ênie nooi hulle binne. “Ek sit die water op, mies Lenie.”

      Dries is nie seker wat om van dié uitnodiging te maak nie. Kan mens sommer so by bruin mense kuier? Moet jy dan uit dieselfde koppies drink? Maar Lenie sê dankie asof dit die

Скачать книгу