Koukonap. Johann Botha

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Koukonap - Johann Botha страница 21

Koukonap - Johann Botha

Скачать книгу

dinge op hierdie vakansiedag.

      “Nie te lank nie,” sê hy. “Sê vir jou ma.”

      Ênie se huisie het twee kamers. Die eerste is waar ’n mens inkom. Dan is daar ’n binnedeur na nog ’n kamer. Dit moet seker ’n slaapkamer wees, want die voorkamer is iets van alles, kombuis, sitkamer, eetkamer, babakamer. By die venster is daar ’n kraan teen die muur en ’n waskom op ’n tafeltjie. Dries kyk na die linoleum op die vloer en die prentjies teen die muur. Van hulle lyk bekend. Dis seker uit Die Huisgenoot of Sarie Marais geknip. Bêreplek is geprakseer van paraffienkiste met gordyntjies voor. Daar is ’n ketel op die primus wat saggies sis. Blou vlammetjies lek onder die ketel uit.

      “Hy sal nou kook,” sê Ênie.

      Daar sit sy ma ewe tuis op ’n kombuisstoel en langs haar, weggesink in ’n ou leunstoel, sit ’n klein vroutjie, krom van die ouderdom, ’n mussie op die wit kroesies, ’n kombersie oor die skouers, die gesiggie ene rimpels. Net haar loerende ogies wys sy is wakker. Dries herken die leunstoel. Dit het vroeër in die Fouries se huurhuis gestaan. Daar was nie plek daarvoor in Arnotstraat nie.

      “Ouma Ester Tarentaal,” sê Ênie. “Japie se mammatjie.”

      Die oumatjie mompel iets.

      “Jy moet harder praat, mammagoed,” sê Ênie. “Ons kan jou nie hoor nie.”

      Dit klink of die oudste sê: “Wat soek die duusmense hier?”

      Ênie wys haar die mandjie vol geskenkies en verduidelik.

      “Aginte,” sê oumatjie Ester. “Moet niks teken nie. Al sê hulle ook wat.”

      “Nee, magoed. Dis my miesies dié,” sê Ênie.

      “Hulle sal nog die huis onder jou gat uit teken,” sê die oumatjie tevrede. Haar ken sak op haar bors. Sy gee elke keer ’n ligte snorkie as sy asemhaal.

      Jason vang Dries se oog en beduie met sy kop na buite. Voor die huis staan hulle mekaar en deurkyk. Nie een weet wat om te sê nie.

      “Ry jy nog daai traaisiekel?”

      Dit klink moedswillig. Dries antwoord kortaf. “Nee. Ek het ’n fiets gekry.”

      “Heit,” sê Jason. “’n Baaisiekel vir die kleinbaas.”

      “Kleinbaas se gat,” sê Dries.

      Hulle kyk mekaar in die oë. Dries oorweeg sy volgende woorde. Hy sê dit met nadruk.

      “My naam is Dries.”

      “Ek weet dit hoeka.” Jason gee ’n suur glimlaggie. “Van toeka af.”

      As nie een verder iets te sê het nie, is dit of hulle effens ontspan. Al doen hulle dit nie openlik nie, hou hulle mekaar versigtig dop, reg met ’n skerp antwoord. Het hulle sowaar vreemdelinge geword, wonder Dries. Dalk selfs vyande? Dit van ’n simpel gesprek, lank terug? Dan kan ’n mens se woorde mos groot skade aanrig.

      Daar is ’n Engelse rympie wat sê: Sticks and stones can break my bones, but words can never hurt me. Dis net nie waar nie. Kan woorde regmaak ook? Dries wil iets sê, wat weet hy self nie, iets versoenends. Hy kry nie die regte woorde nie. Dis die man met die rooi hemp uit die sjebien wat die stilte onderbreek. Hy moes agter die Olds aan om die hoek gedrentel het. Hy skree oor die kar se dak.

      “Jason my bra, wat is dit met jou? Wat soek die whiteys by julle?”

      ’n Verbyganger of twee vind dit interessant genoeg om vas te steek. Ook van die bure se kant is daar belangstelling. In Breipaal is daar skynbaar nie veel privaatheid nie. Dit voel vir Dries of daar van oral na hom gekyk word.

      “Kom ons loop,” sê Jason.

      Die probleem is, daar is nie juis êrens om heen te loop nie.

      “Wie’s dit?” Dries maak of hy nie geskrik het nie.

      “Adam Yzerbek.” Jason praat teësinnig.

      “Wie’s hy nou eintlik?”

      Jason aarsel. “Jy kan mos hoor,” sê hy. “Lekker gesuip.”

      “Watse soort van whiteys is dit die?” vra Adam Yzerbek luidrugtig. “Weet hulle nie van separate but equal nie? Kan hulle mens nie eers met die holiday saam uitlos nie? Laat hulle voertsek! Hierie is die plek van die coloureds.”

      Soos ’n lekeprediker wend hy hom tot sy groeiende gehoor. “Of wat sê ek, brothers en sisters? Wat van bietjie reverse apartheid hierso!”

      Van die toeskouers brom instemmend. Ander lag. ’n Paar skud meewarig die kop. Iemand skree uitgelate: “Vat hom, Adam!” ’n Jong meisie en haar maatjie giggel en bedek dan hul mondjies met hul hande. Êrens uit die omtrek kom die heuningstem van Bing Crosby oor Breipaal se dor strate aangesweef.

      I’m dreaming of a white Christmas

      Just like the ones I used to know

      Adam Yzerbek het afgebuk en praat nou op kort afstand met oom Manie deur die kar se venster. Oom Manie leun effens weg van die sterk asem so onder sy neus. Hy wil egter nie die indruk skep dat hy geïntimideer voel nie.

      “White Christmas se hol!” sê Adam. “Dis Coloured Christmas hier by ons! Wat sit jy nog hier met jou dik bek, whitey?” Sy eie gepraat sweep hom verder op. “Vat jou mousterkar en vat die pad. Voertsek! Fok hier weg!”

      Teen dié tyd is daar ’n kring toeskouers. Japie Tarentaal het nie verniet self ’n paar doppe agter die blad nie. “Los daai Yzerbek vir my!” skree hy van ver af. Lenie staan by Ênie voor die huis, besluiteloos oor wat haar te doen staan. So iets het sy nie voorsien nie.

      Maar Mank Manie het niemand se hulp nodig nie. As hy nie taxi dryf of vrag ry met sy lorrie nie, is hy ’n mekenniek van faam, met dié beroep se gebreide hande en kragtige voorarms. Toe Adam Yzerbek nog so in sy gesig staan en skree, kry hy hom met sy duim en voorvinger in ’n knyptang-greep aan die onderlip beet. Adam se regvaardige woede verander in ’n geslobber. Hy gryp met sy hande aan die kar se vensterbank, maar kan sy kop nie roer nie.

      Tot sover geniet oom Manie die omstanders se goeie gesindheid. Hy maak egter die fout om nie net sy dade te laat praat nie. “Hotnot,” sê hy in ’n stem wat dra, “vandag donder ek vir jou dat daar ’n nat kol sit.”

      ’n Gemor volg op sy woorde. “Regte bliksemse Boer!” sê iemand. Dis of die kring om die kar kleiner word. “Wie de hel dink hy is hy?” Japie druk tussen die mense deur en neem plek in met sy rug teen die Olds. Jy kan sien hy geniet elke oomblik. “Toe, kom nader,” nooi hy uit. “Ek moer die eerste varknek wat ek in die hande kry.”

      Ênie skree van die voordeur af. “Skaam vir julle! Wat staan julle nog en ginnegaap? Voertsek hier weg! Dis my mense hierdie!”

      Die situasie bedaar toe die polisiebakkie daar stilhou. Die twee manne van die SAP klim uit. Dries sien hulle dra albei ’n pistool in ’n bruin leerholster op die heup. “Toe, toe, toe,” sê sersant Du Preez gemoedelik. “Genoeg van die sports. Gaan nou maar huis toe. Gaan geniet nou maar die af dag verder sonder moleste.”

      Konstabel Bester speel stut

Скачать книгу