Koukonap. Johann Botha

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Koukonap - Johann Botha страница 18

Koukonap - Johann Botha

Скачать книгу

sou vier nie beter gewees het nie, as dit by seuns sou bly? Twee sou darem te min wees. As dit drie moes wees, sou twee seuns en een dogtertjie dalk beter gewerk het? Of andersom?

      Die ding met drie van dieselfde geslag, so lyk dit vir haar, is dat die bloot toevallige volgorde van hul geboortes houdings in die gesin bepaal en karakters vorm – of vervorm, as jy nie oppas nie. Die oudste is, nou ja, ’n egpaar se eersteling. Dis ’n posisie wat hy nooit afstaan nie, met al die aandag en verwagtings wat dit inhou. Die jongste is jou laatlam, jou laaste. Natuurlik word hy so bietjie gepiep en vertroetel. En hy skik hom daarna. Die middelkind het nie so ’n duidelik afgebakende plek van sy eie nie. Sy posisie is tussenin, te gerieflik klassifiseerbaar as een van … Een van julle drie kinders, een van julle twee oudstes, een van julle twee jongstes. Onbedoeld word hy misken en afgeskeep.

      Is dit hoekom Karel van jongs af moeilik was? Asof hy van kleins af aangevoel het hy moet baklei vir aandag? Sy wonder of dokter Freud – of was dit Jung – kommentaar sou kon lewer op Karel se allergie vir moedersmelk. Is so iets inderdaad moontlik? Of die feit dat hy op al die kiekies in sy bababoek sy kop skeef hou – asof hy die kamera nie mooi vertrou nie. Of sy gehegtheid as kleuter aan daardie aaklige leerpop met die koeigesig wat hy Kokoted noem – in sy persepsie dus iets tussen ’n teddiebeer en ’n gogga.

      Of sy trane van frustrasie in Sub A omdat hy links neig en die juffrou hom regs wil maak skryf. Daaroor voel Lenie tot vandag toe sleg. Teen die tyd dat sy en Lood dit agterkom, was dit te laat. Regs sou hy bly skryf, met ’n verbete greep wat potloodpunte soos mieliekorrels laat spat. Noudat sy daaraan dink, het dít dalk iets te doen met sy kort humeurtjie, selfs sy vrot spelling?

      Al drie haar seuns is wonderlike kinders. En tog … ’n Moeder se hart voel dinge aan. Dries het wel ’n flink verstand, dit was van die begin af duidelik. Maar dat almal dit sê, is nie noodwendig ’n goeie ding nie, is dit? Gee dit hom nie ’n vals indruk van sy vermoëns nie? Verwag hulle nie te veel van hom nie? Sal hy kan vasbyt as dinge moeilik raak?

      Ou Theunie is so ’n liewe kind, mens wil hom sommer net vasdruk. Maar beskerm sy posisie as jongste hom nie oormatig nie? Is dit hoekom hy soms so … so half passief reageer? Het hy nie klaar geleer om agter ander te skuil nie? Gaan dit nie op die duur sy selfstandigheid aantas nie? Mens kan tog nie altyd opkyk na ander nie?

      As Lenie oor dié dinge wonder, dink sy sommer ver terug. Al drie die seuns se geboortes was moeilik. Hulle was groot babas, by die tien pond, en sy is klein van postuur. Na Theunie se geboorte was ’n histerektomie dus aangewese en sy het tot vandag toe las van ’n uitsakking. Natuurlik blameer sy nie die seuns vir haar gesondheidsprobleme nie, maar sy vind dit goed om met hulle daaroor te praat. Hul afwysende reaksie krenk haar. Dis of hulle nie daarvan wil hoor nie. Dries vlug openlik weg as sy in dié rigting gesels.

      “Dit gaan tog oor die feite van die lewe,” kla sy by Lood.

      “Wat verwag jy?” is sy reaksie. “G’n seun wil hoor sy geboorte het sy ma se gesondheid geruïneer nie.”

      Hy weerhou hom daarvan om meer te sê. Sy meegevoel met die opofferings van moederskap maak hom nie blind vir die versoeking wat dit inhou vir emosionele afpersing nie.

      Lenie vind sy antwoord kwetsend. Hy is ’n onsimpatieke buffel. Wat dink hy van haar. Sy het tog geen begeerte om haar seuns op te saal met ’n skuldgevoel nie. Sy wil maar net ’n bietjie begrip vir haar vrese en gevoelens hê. Sy voel haar soms bitter eensaam en misken, so vrou-alleen in ’n huis vol mansmense.

      In sulke oomblikke, wanneer Lood by die werk is en die seuns buite speel, raak die lewe te veel. Sy maak seker Ênie is in die kombuis doenig. Sy trek die slaapkamerdeur agter haar toe en trek haar klerekas se onderste laai oop. Versteek onder die broekies en bra’s wag daar ’n plat halfbottel wodka. Net ’n slukkie of twee kan tog nie kwaad doen nie.

      Dan gaan borsel sy haar tande.

      15. Kerol

      ’n Botteltjie in oupa Sarel se kiaathoutkissie bevat ’n donkerbruin vloeistof wat ruik na dip. Agterna het die seuns soms dié botteltjie onthou en daaroor gelag. Wat sou daarin gewees het? Kerol, het hul oupa dit genoem. Eienaam of soortnaam? Tuisgemaakte konkoksie, ironies Kêr-ôl genoem, na die Engels Care All, of was daar inderdaad ’n patente medisyne met dié skynbaar toepaslike naam?

      Jare later sien Dries toevallig, op ’n koöperasie se rak, ’n stowwerige botteltjie met die handelsnaam Kerol. Kan dit sowaar die Kerol van ouds wees? Volgens die etiket is dit ’n middel uitsluitlik vir eksterne gebruik, nuttig om eelte en vratjies in toom te hou, ’n potente mengsel van ureum, melksuur, sinksuur, salisielsuur en alkohol. Vermy aanraking met jou oë en lippe … spoel dadelik uit met skoon water …

      Hy draai die prop af en ruik. Pure beesdip. Kan jy nou meer. Die reuk voer hom reguit terug tot in Arnotstraat 13 se agterplaas. Die groen fiets het hom afgegooi en sy knie is behoorlik stukkend. Straaltjies bloed loop teen sy been af. Lenie kloek bekommerd, maar oupa Sarel sê toe maar, nie so erg nie, ek sal regsien.

      Onder die kraan spoel hy die bloed en stof van Dries se been af, maak seker daar sit nie korrels sand of ander vuiligheid in die skrape nie, en … bring die botteltjie Kerol te voorskyn. Dries weet wat kom en byt by voorbaat op sy tande. Oupa Sarel drup van die donkerbruin vloeistof op ’n skoon flennielappie. Sonder omhaal ontsmet hy die wond. Hy doen dit deeglik. Daarmee klaar, kyk hy met so ’n effense laggie op na Dries.

      “Brand dit so erg?”

      “Ja, Oupa.”

      “Dis goed so, dit brand die kwaad uit.”

      Toegegee, nie een van die Fourietjies se verskeidenheid snyplekke en skrape wat só deur oupa Sarel gedokter is, het ooit kwaad ingekry nie. Dit kan natuurlik ook deels toegeskryf word aan ’n gesonde leefwyse in die buitelug.

      By die ontsmetting van wonde het oupa Sarel egter nie sy botteltjie Kerol gelaat nie. Vir seer keel het hy gorrel met ’n bietjie Kerol in flou soutwater aanbeveel. Die donker druppels maak die water melkerig. Vir hoes, suig aan ’n titseltjie Kerol op ’n teelepel suiker. Die Kerol kleur die suiker bruin. Daar is ’n konkoksie met Kerol en kookwater, suurlemoensap of heuning vir elke kwaal, van omgekrapte maag tot winde en koliek.

      Vir hardnekkige dorings brei jy ’n trekpleister met Kerol, brood en Sunlight-seep. Idem vir nege-oë, karbonkels en pitswere. En natuurlik, vir eelte, vratte en skurwe hakskene – onverdunde Kerol, mildelik aangewend. Herhaal en skuur met puimsteen waar nodig.

      Waar hy daar tussen die rakke met die botteltjie in sy hand staan, gee Dries ’n snorklaggie. Dis dalk ’n wonderwerk dat oupa Sarel se kleinseuns sy medikasie oorleef het. Tog was dit vir hul ma selde nodig om een van haar kroos vir ’n siekte of skeet dokter toe te neem. In die era van penisillien het hulle gefloreer op boererate. Toe onthou hy die bok, en dié keer lag hy hardop. Maar anders as destyds is sy lag getemper met meegevoel.

      Die oubaas se oorlog was al ’n halfeeu in die vergetelheid. ’n Plaas het hy lankal nie meer gehad nie. Nie ’n trop melkbeeste nie, nie lusernlande nie, nie meer ’n kapkar en karperde en ’n ryperd en ’n met Dubbin behandelde saal en ’n deftig gevlegde karwats nie. Nie meer ’n lewensmaat en ’n dorpshuisie oorkant die kerk nie. As sy kamer in die Bloemfonteinse aftree-oord hom vaskeer, haal hy ’n trein na een van sy kinders. Met Fred deesdae doenig in Durban en Isabel en haar sielsmaat bedrywig in hul Johannesburgse ateljee, is die bestemming ál meer dikwels die Fouries – en raak sy kuiers al langer.

      Oupa Sarel moes die wêreld voor sy oë sien verander het, besef Dries. Vreemd om daaraan te dink – hy is gebore in ’n tyd toe ou president Paul Kruger geglo het

Скачать книгу