Soetloop. E. Kotze

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Soetloop - E. Kotze страница 2

Автор:
Серия:
Издательство:
Soetloop - E. Kotze

Скачать книгу

noem hulle hulleself. Leopold Taar het ’n broer en ’n ma wat by hom bly.

      “Wat dink jy, juffer, hoe ’n lewe kan hy jou bied?” het Ellen haar afkeer te kenne gegee.

      ’n Hele gemeente Taars om voor reg te staan. Alles klam van die seedouklimaat, van die mure tot die kooigoed. Want die huis staan met sy fondasies so te sê in die water as die gety opstoot. Ingerygde steentjies, die ene grate, aan die manatok drup ’n pekelsous. En só ’n wind, yskoud oor die water.

      Maar Malie is wys, met altyd ’n beter antwoord gereed.

      “Ma, al is Leopold ’n seeman, skaam ek my nie vir hom nie. Hy’t bakkies en nette en ’n huis van sy eie. Dit kan nie erger wees as die lewe hier op Laaggelee nie.” Waar die kinders deurmekaar dwars oor die katel ingeryg lê as dit loop aand word.

      Behoort hy ooit aan ’n kerk? staan Ellen haar man. Is die Taar Rooms? Waar trou hulle, en waar doop hulle hul kinders?

      “Vrou, los dit. Wat maak dit saak as hy Katoliek is?” maak Claas haar stil.

      In die laaste jare is sy sommer net “vrou”, lank nie meer “my lam” nie. So min beteken die kerk vir hom, in soveel opsigte het hy afvallig geword. Wanneer kom húlle ooit onder die geklank van die Woord? Deesdae net wanneer hulle laat doop. Dis ver dorp toe, met die donkiekar.

      Dit was nie die enigste onderonsie toe Malie die dag met troustories by die huis aangekom het nie. Met die intrap het Malie gesien hoe dinge staan, dat Ellen al weer onder die ruim geplooide voorskoot wys. Sy was onthuts.

      “Is dit dan nou nodig? Die bruid se ma met ’n kleintjie aan die bors. Die skande!”

      Juis omdat Ellen dit self so beskou het, het die woorde seergemaak. Met haar verleentheid wat sy nie anders kon uitdruk nie, het sy ’n stompie uit die houtkis gegryp en haar neëntienjarige dogter oor die arm getik. En nog ’n maal oor die blad, want het sy nie respek vir haar ouers nie?

      ’n Onvergeeflike ding, wat Malie haar seker nooit sal laat vergeet nie: dat sy kort voor haar troue nog ’n pak slae van haar ma gekry het. En watter ondersteuning kry sy van Claas?

      “Nou het jy ’n fout gemaak, Ellen,” sê hy toe hulle weer alleen is. “Jy sal moet probeer regmaak … as jy kan.”

      “Hoekom maak jý dan nie reg nie? Jy moet mos ook van beter geweet het.”

      Maar wat verwag jy van ’n man wat saam met die hoenders gaan inkruip, en van vieruur soggens af lê en kwaaddoen?

      “En jy wil vir my sê jy kry nie iets daaruit nie?”

      Hulle baklei met woorde, en ysige buie, maar veral broeiende stuipes.

      2

      Onrus dwing Ellen op uit die stoel. Sy stut die ronding van haar maag met albei hande. Sy voel die kind in haar roer, van lê verander, teen haar ribbes skop, met vuiste en knieë haar maagvel brei.

      Soos Claas met sy sterk hande die velle en rieme vir skoene en tuie brei … My man, skrei sy van binne en soek sy oë, verberg agter verbleikte wysbroue.

      “Wat’s jou plan, Claas, sit jy net daar?”

      “Wat wil jy hê moet ek doen, Ellen?”

      “Jy lyk so prens en vrede. Gaan kyk waar die kinders bly! Het jy nie vandag die see hoor raas nie?”

      Sy sien hoe hy verlangend na die koffiekan kyk, kan mos nie rus voor die laaste moer afgeskink is nie. Hy vat sy sweep en hoed.

      Sy kyk hom agterna, hoe hy sy lyf skuins gooi teen die duine uit. Is dit moontlik dat dít Claas Prins is, in sy vroeë veertigs maar ’n ou man? En sy, ’n hoogswanger vrou van by die vyftig. Waar’t jy so iets al ooit op ’n viool hoor speel?

      Sulke gesegdes van haar ma wat ’n Sandvelder is, het sy met haar saamgebring De Hoop toe. Tot groot vermaak van die Prinse.

      Uiteindelik, met die sakkende son agter hulle, tuimel die kinders oor die kruin. Hulle rol soos skeelpietbosse teen die duin af tot onder in die plate vyerank. Die jongstes ren vooruit en val byna gelyktydig by die deur in.

      “Milanner het vir ons weggery, Ma! Die bakkies was nie uit nie, dit was kwaaisee, toe draai hy slap!”

      Hulle kom toe seelangs tot by die wasklippe, net betyds om te sien hoe die water vir Liesie en San teen die duin op jaag, die witgoed in worse rol en intrek. Amper het dit weggespoel as Nieko-hulle nie ingehardloop en die goed uitgesleep het nie. Miekie van De Hoop was by, hy’t gehelp om die waspoele wat toegespoel het oop te grawe toe die golwe bedaar en om die baddens opnuut vol te maak met skoon water.

      Claas het hulle anderkant die tweede duin gekry, rus-rus, die emmer vars water vir die huis half uitgestort. Almal stokflou. Dorstig dam die spannetjie die emmer brakwater by, verdring mekaar soos ’n beestrop en drink. Susanna val in Ellen se skoot. Hulle het haar ’n ent laat draf, sy wat anderdag nog die baba was.

      Ellen kyk rond waar Miekie is. Die dun jongetjieskind in driekwartbroek en oprygstewels deurdrenk van seewater het Susanna die laaste ent op sy rug gedra. Maar hy’t stilweg De Hoop toe verdwyn. Seker gesien daar’s nie kos in die potte nie.

      “Wat eet ons?” rek Nieko sy nek.

      “Melk en brood,” sê Ellen.

      Die afgeroomde melk het aangebrand met die kook, die pot se boom is dun. Sy kon snysels gemaak het as daar meer fynmeel was. Of frummeltjies. Meelpap. Maar die ou brood moet eers opgeëet word.

      Die harde kors kraak onder die mes toe sy dit sny. Elke kind het ’n bakkie, die enamel hier en daar afgesplint, en ’n lepel. Sy het ’n diepbord en Claas ’n porseleinkommetjie. Dat daar nie tafel gedek word nie, sien sy oor.

      “Laat ons bid.”

      Sy doen lankal die tafelgebed, die aandgodsdiens ook. Claas is dikwels laat, of glad nie by die huis nie. Soos hy daar aan die kopkant van die tafel sit, is hy nie die man wat sy gedink het hy is nie.

      “Waar’s Malie?” vra sy.

      “Het sy nie noumaar hier in die pad opgestap nie?” vra Claas.

      Ellen sug. Natuurlik vir Leopold tegemoet. Met so ’n wind op die see was die Langbáánse vissers ook nie uit nie.

      Sy buig haar hoof. “O Heer, voor spys en drank …”

      Hulle breek die brood in, sy skep vir elkeen ’n potlepel melk. Daar’s nie suiker nie. Miskien nog ’n knypie kaneelsuiker in die blik, maar te min vir almal, daarom bly almal daarsonder.

      Daar is ’n onooglike swart kraak in Claas se kommetjie wat Ellen lank reeds uit die gebruik wou haal, as hy nie so daaraan vasgeklou het nie. Dit kom uit sy kleintyd, spierwit met ’n mooi blou werkie om die borand. Made in Russia. Die ou mense het van die loop-Jode gekoop wat vroeër op die plase kom smous het.

      Juis vanaand moet die kommetjie middeldeur breek, sodat die melk ’n plas op die skoongeskropte tafel vorm en stadig begin uitsprei om weg te loop na die moot waar die twee blaaie van mekaar af weggetrek het. Instinktief maak Claas sy hand bak en keer, vee die melk sorgvuldig bymekaar en vang dit op voordat dit afdrup en in die vloer wegsyfer.

Скачать книгу