Soetloop. E. Kotze

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Soetloop - E. Kotze страница 4

Автор:
Серия:
Издательство:
Soetloop - E. Kotze

Скачать книгу

wag, laat ek opkom.”

      “Ma kan maar bly lê, ons sorg vir alles.”

      Die wasgoed is gestryk, ja, maar die vuurherd moet uitgewit kom, die vloer gesmeer. Met ’n drif gooi sy die komberse van haar af. Sy ken die kinders, jy kan hulle net vertrou so ver jy hulle sien. En waar’s Claas?

      “Pa is met die vee die kliprug uit,” sê Malie. “Hy’t gesê hy maak sommer by die Milanners agtuur.”

      Eet hom daar dik aan wors en eiers, dink Ellen. Aan die ander kant bring hy dalk ’n stukkie vleis saam. Vrugte as die smouskar omgekom het.

      Sy spoel haar mond met soutwater uit. ’n Kiestand gee antwoord. Haar tande is gevoelig; elke kind vat kalk uit haar liggaam.

      In die kombuis woel Malie en Liesie. Daar is reeds gemelk, die skeier gedraai, uitmekaar gehaal en gewas. Nou maak hulle die vuurherd skoon, vee die kole en as met die bossie vere bymekaar, dra die rooster en vuurysters en swart ketel uit om te skuur met bondels strooi en as.

      “Die potterak hoef nie vanoggend afgeskrop te word nie, stof maar net af,” maak Ellen ’n toegewing aan Malie wat die res van die nag sit en krale vaswerk het. Sy moenie te straf op die kind wees nie.

      Sy stap in die oggendkoelte uit en agterom die huis, na die oorskiet van die tuintjie wat sy jare terug probeer aanlê het. Malvas en verstrengelde kappertjies en die onverwagte groen van die dillebos met sy fris anysgeur, aan die lewe gehou in die drup van die dak. ’n Aftreksel van die saad is goed vir maagkrampe en slapeloosheid by babas, en dis iets om aan te kou as daar niks anders is nie. Sy breek ’n takkie af en verbeel haar sy is dadelik verkwik.

      Die buitekamer, sien sy, is aan die kant, so na as kan kom. Die kombers oor die katel is gelyk getrek, die ysterkooi agter die deur opgemaak. Aan die muur hang die tuie en stroppe. Vel en sool en naairiempies en skoenlees op hulle plek langs die boekekas. Sommige boeke kom nog uit haar skoolhoudae, ook leesboeke van die kinders, leie en griffels.

      Die boeke moet ’n slag uitgepak en afgestof word, dink sy, as sy maar so laag kon buk. Maar eers ’n koppie tee en ’n paar krummels beskuit teen die flou gevoel. As daar is.

      Sy sukkel om kombuis toe, kyk krities na Malie wat fluks besig is om elke ding terug op sy plek te pak: koffieblik en suikerblik, blik vir sago. Droëbone en ertjies het haar pa vroeër altyd van die plaas af gestuur. Wintertyd wanneer hulle vark slag, kon sy heerlike sop kook. Ertesoep met spekkies en snye roosterbrood daarin geweek, iets om die mond te laat water …

      Sy vat die onderdeur vas. “Malie!”

      Die kind het die doek waarmee sy afgestof het ongeërg by haar voorskootband ingedruk. Dieselfde doek waarin Claas se middagkos gister toegeknoop was, waaraan hy sy vetterige mond en hande afgevee het.

      “Het jy tog nie daai vuil doek wat na kos ruik en waarop die vlieë gepak het in my kombuis gebruik nie?” vra Ellen skerp. “En dan wil jy man vat? By jou eet ek nie!”

      Sy haak haar kombuisvoorskoot agter die deur af en sukkel met haar ongemaklike lyf houthoop toe, antwoord nie toe Liesie by die skuurtafel vra wat aangaan nie. Sy maak asbostakke bymekaar en steek ’n vuur aan. Met omstand maak sy loog van die as, skep die skoon water af en gaan skrop eiehandig die potterak af. Én die tafelblad wat sy net gister afgewas het.

      Sy stoom, haar vel klam soos die dood, maar die drif lewe nog in haar oë toe sy die aswater onder die boom uitskiet.

      “Ma …” Malie en Liesie is albei in trane, skaam en kwaad oor die onregverdigheid.

      Ellen se mond is toegeskroef om nie ’n geluid te laat ontsnap nie. Sy voel siek van swakte en haal ternouernood die kamer, los haar hopie klere net waar dit val. Sy vee die sweet van haar gesig af, trek ’n afgeleefde flennienaghemp aan wat eens pienk was maar nou perkamentagtig soos haar vel lyk, en sak op die bed neer.

      “Hou die kinders buite,” beveel sy Liesie toe die skool die middag uitkom.

      “Moet ons vir Pa laat roep?”

      “Jou pa behoort self te weet.”

      “Maar sê Ma …”

      “Trek net die deur toe.”

      Die gevoel sal netnou bedaar, laat sy net ’n rukkie rus, ’n ruk lank slaap.

      Dis ’n steurnis toe ’n hoenderhen begin kekkel. Só ’n bek sit die hen op. Elke eier ’n geboorte. Die arme ding moet ook al die elke-dag-se-opklim gewoond wees, voel dit seker skaars, die leg so uitgerek, kom die gedagte deur die slaapnewels.

      Dit moet ná die middag wees toe Ellen wakker word van ’n gewoel in die kombuis. Sy ruik kos, daar word gekook. Sy ruik sout en peper en kruienaeltjies en neutmuskaat.

      Malie kom van buite af in. “Hoe ver is die kos?”

      Die kleintjies sit plat op die vloer met hul rûe teen die muur en sing hú-hú-hú. Hulle wieg vorentoe en agtertoe en sing tot vervelens toe, tot malwordens toe.

      ’n Potdeksel klink. Kaplaks! val ’n hou. Daar huil een.

      “Sie jy in die kos kom klou!” raas Malie.

      “Toemaar, kom suig solank die beentjies af,” paai Liesie.

      Die stoele word nader aan die tafel getrek. Hulle kwetter en eet, vee die sous met brood op tot die borde blinkskoon is.

      Daar skiet hulle nou die skottelgoedwater oor die werf uit. Het hulle ooit die vadoeke behoorlik gewas en uitgespoel? Ellen is teen dié tyd goed opgewerk.

      Iemand klop liggies. “Ma?” Dis Liesie.

      “Wat lol julle met my?”

      “Hier’s ’n bietjie sop.”

      “Louise, waar kry julle die reg om een van my hoenders te slag?”

      “Ma, die kinders is honger, en hier’s niks anders in die huis nie. Dit was een van die ou werfhane.”

      “Melk en brood is ook kos.”

      “Die brood is muf, Ma.”

      “Dan moet daar ingesuur en gebak word.”

      “Môre op die Sondag? En Pa moet nog die meel bring.”

      Ellen voel hoe woede in haar opstuif. En die laaste treksel tee is gedaan, net ’n bietjie stof in die blik. Wat dink Milanner, wat tog ’n grootmens is, dat hy nie die provisie van die winkel af saamgebring het nie? ’n Kramp laat haar na die naaste ding gryp, een van haar velskoene. Sy slinger dit na die oop deur om van die opstand en ongemak ontslae te raak.

      “Sie jy ophou teëpraat! En laat Malie sien waar sy ’n hoender vir haar bruilofmaal kry!”

      Niemand waag dit weer in die kamer nie. Dit raak so stil dat Ellen onrustig word. Het hulle haar nou alleen gelos in die huis, sonder ’n lewende siel? En sy in barensnood.

      Kan die pyne die begin van die geboorte wees? Hoekom duur dit dan so lank? Met Claasie en Susanna was dit soos ’n oogknip verby, Susanna het feitlik uitgeval. Maar dis vyf jaar gelede. Het haar bekken

Скачать книгу