Soetloop. E. Kotze

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Soetloop - E. Kotze страница 5

Автор:
Серия:
Издательство:
Soetloop - E. Kotze

Скачать книгу

hierdie bed opstaan, besluit sy. Vir die wis en onwis gereed maak, om nie onklaar gevang te word nie. Sy pak uit en lê op die enkelbedjie oop: handdoek en lappe, watte, Lysol, koekie lyfseep wat sy spesiaal gebêre het, ’n skêr, gare om die naelstring af te bind. Iets om die kind in toe te draai … Malie se pisvelletjie van neëntien jaar gelede sal doen.

      As dit net ’n vals alarm is, hoef niemand te weet nie. So nie bring sy die kind alleen-alleen in die wêreld. Of sterf. Hoe kry Claas dan die pap babatjie groot? Op meelwater? Liesie is nie bekwaam genoeg nie, en Malie met die vetterige vadoek val nie aan te dink nie. Trek op Claas; hulle het ’n voorvatter nodig, dit het sy met die tyd agtergekom.

      Waar is hy dat hy nie sy plig nakom en die ou vrou gaan haal nie? Dis ook nog ’n hele ent oor die klipperige kalkbanke met die donkiekar.

      Toe dit aand word, steek Ellen ’n kers aan, die flakkerende lig ’n soort onderskraging in haar lydensuur. Sy is nou op haar voete en kuier heen en weer in die smal gangetjie tussen die beddens, verby die voetenent waar sy aan die kooistyl hang en die pynstroom van die sametrekkings deur haar bene in die grondvloer laat wegvloei.

      Alleen is sy darem nie meer nie. In die kombuis het sy vroeër ’n skarreling soos dié van muise gehoor. Iemand doen tog iets. Die melk word ingebring, en emmers water.

      Die geboorte het begin, sy is daarin, sy moet daardeur. Haar water het nog nie gebreek nie, maar sy sien bloed. Sy ruik koffie en wil amper bly word.

      “Claas?”

      “Die kinders is by die Jordaans, Ma,” praat Liesie by die deur. “Ek gaan nou vir Pa roep.”

      “Dis te laat, hulle sal nie betyds wees nie. En jy los my nie alleen by Malie nie!”

      Dié is in die kombuis besig, sy stook die vuur en maak die ketels vol water.

      “Ek sal hardloop, Ma, ek ken die pad in die donker.”

      Ellen luister hoe Liesie se voetvalle tussen die klippe en bosse deur verdwyn. Sy voel die kind in haar stu, ’n opening baan waardeur hy homself kan verlos. Nie nou al nie, verset sy haar teen die verbete klein vegter wie se wil om te lewe sterker is as die slap moersak wat dreig om hom te versmoor. Sy het alle beheer verloor, kou op haar afgestompte tande, kreun … en kry nuwe moed toe sy ’n harde voetval hoor. Dis te gou vir Claas-hulle, maar wie dit ook al is, is net betyds.

      “Leopold!” hoor sy Malie uitroep. “Kom help, dis Ma!”

      Die Langbáner, opgewasse teen stormsee in ’n klein bootjie, laat die natuur sy loop neem, rol die seile op, laat die mas sak, en gee hom oor aan die stroom. Hy aarsel net ’n oomblik in die deur. Sê nog “Naand, tant Ellen” en stroop dan sy moue op, was sy hande en voorarms in ’n skottel, en lig haar op die bed.

      In haar nood is sy skaars bewus daarvan dat sy met oopgespalkte bene voor haar aanstaande skoonseun lê. Sy hoor hoe Malie en die Langbáner konfereer: die kind se kop is reeds daar. Sy druk, en nog ’n maal, daar is dit nou, die skouers steek vas. Breë skouers wat om die beurt uitgelig moet word.

      Tussen asemtogte deur gee Ellen orders aan die twee jong mense wat soos ’n span werk, die kindjie die wêreld in help, die naelstring knip, dan retireer vir die bloed, ’n kamerpot vol bloed van die velletjie afskep. Toe die nageboorte kom, word Malie naar. Leopold het sy hande meer as vol teen die tyd dat uitkoms opdaag.

      Die ou tante neem oor, gee eers aandag aan Ellen wat swak is, só swak dat sy skaars ’n mondjievol brandewyn kan sluk. Haar arms val kragteloos weg toe die suigeling aan haar gepresenteer word. Dis ’n dogtertjie, ’n lang, slap gedaantetjie wat kermend en met gebalde vuiste die wêreld ingekom het. Uit haar soekende mond kom klageluidjies soos van ’n diertjie wat te lank sonder kos was.

      Nogtans gee dit ’n gesukkel af om haar die bors te laat vat. In Ellen se toestand van beroering gee sy nie om of die kind die nag oorleef nie. Maar blykbaar het dié sewe lewens. Nadat Ellen sterk swart koffie gedrink het, suig die baba.

      Toe is die tante omgekrap. “Nou maar waarom die gesloer, hoekom my nie eerder kom haal nie? Julle twee meisies, het julle niks agtergekom nie?”

      “Dis nie ons werk nie. Vra liewer wat soek Pa op Kalkrug?” kap Liesie terug.

      Noudat die ergste verby is, spring die susters aanmekaar.

      “Moenie net vir Pa skuld gee nie,” bars Malie uit. “Gaan vra vir Ma, sy’t haar toegesluit uit pure moedswilligheid!”

      “Ma was kwaad oor ons die haan geslag het.”

      “Nee, voor dit al wou sy sommer alles op ons uithaal. En nie die sop eet waarmee ons soveel moeite gedoen het nie!”

      Malie skep asem om die oggend se gebeure op te rakel, maar Leopold Taar lê sy groot hand op haar skouer. Sy werk is klaar, sê hy, en hy’s weer op pad. Die paar steentjies wat hy saamgebring het om gaar te maak, sout hy net liggies voor hy ry, lekker sagte vissies vir ’n siek mens.

      Malie hang aan sy arm. “Ek gaan saam met jou, ek bly nie hier nie.”

      “Jy bly net hier,” sê Claas. “Jou ma het dit bitter genoeg met julle. Jy gaan nêrens heen solank sy in daai kooi lê nie, en ek sien haar nie gou daar opstaan nie. Eers dán sal jy weer aan trou dink en nie ’n dag voor dit nie. Kom help vir Liesie en tant Anna. En jy, Leopold, vat Milanner se rygoed terug. Maak jou perd agter die kar vas.”

      Sy sê gesê, stap hy saam met die Langbáner buitentoe.

      “Dankie, man,” groet hy.

      3

      Eers ná twee weke kom Ellen, nog effe onvas op haar voete, met die toegedraaide baba kombuis toe. Nie ’n mooi kind soos haar ander dogters nie, donker, met ’n smal gesig. En tog iets van Claas: blou oë, hoë wangbene en fyn neusbrug.

      “Daar kan dalk nog later iets van kom,” sê Nieko toe hy die kombersie wegtrek.

      Maar sy’s nie ’n lekker babatjie om vas te hou nie. So klein en so kwaai! Sy blaas soos die huiskat, wat die hele petalje van die vuurherd af met spleetoë sit en beskou.

      Die mense kom net een keer kyk en nie weer nie. Ellen is ook nie gretig om te wys nie. Net maar nog ’n kind. Die eerste drie dogters het sy en Claas met trots ten toon gestel. Met Nieko se doop was almal saam op De Hoop, haar ouers inkluis. Die afstand is nie ontsien nie.

      Om verstaanbare redes was dit met die res van die kinders nie moontlik nie. Altans, nie vir Claas en Ellen nie. Waarna sou dit lyk, ’n vrag armlastiges op ’n donkiekar wat van Laaggelee af vir haar familie gaan kuier?

      Haar ma-hulle het nie die volle afmeting van haar en Claas se armoede besef nie, die leef tot op die been, dermskraapsel. Toe hulle al vier jaar op Laaggelee gebly het, het haar ouers hulle kom verras. Kom gelukwens met die sesde baba, ’n sewende reeds op pad. Dit was ’n verleentheid.

      Al wat Ellen in die huis gehad het, was die gesoute bladjie van ’n lam. Sy het dit dadelik gestop met ’n vulsel van broodkrummels en uie, pietersielie uit haar huistuintjie wat toe nog nie heeltemal verdroog was nie, en ’n eier. Toe al het sy die voordeel van ’n lang sous geken waarmee sy ’n kossie kon rek. In papierdun skyfies gesny het sy die lam voorgesit saam met meelkluitjies en gestoofde droëperskes, van dié wat haar ma saamgebring het.

      Sy was te trots om haar nood

Скачать книгу