Elf dae in Parys. Elizabeth Wasserman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Elf dae in Parys - Elizabeth Wasserman страница 3

Elf dae in Parys - Elizabeth Wasserman

Скачать книгу

die Alliance Française net twee weke ná ons terug is. En soos julle weet, moet julle ook ’n mondelinge eksamen doen. Dis nou julle kans om Frans te bemeester tot die vlak waar julle dit vlot kan praat – ons sal sorg vir geleenthede om so veel as moontlik Franse gesprekke te voer. Madame Flaubert, die bestuurder van die gastehuis, is nou wel oorspronklik Afrikaans, maar sy woon al jare lank in Frankryk en was met ’n Fransman getroud. Haar seun, Luc, is ’n jaar of wat ouer as julle, en hy sal julle touwys maak oor die Franse tradisies en gewoontes.”

      “O, ’n regte, egte Franse ou!” koer Clarissa.

      Emma se selfoon biep. ’n WhatsApp van Salome.

      Waars jlle?

      Lughawe Jhb

      Enige hot ous?

      Hele Boishaai rgbyspn

      Kidding?

      Wt dink jy?

      “Kom, dis tyd dat ons aanstoot,” sê meneer Thompson, die selfverklaarde groepleier.

      Emma bekyk hom misnoeg. Verslete aktetas wat hy vir sy handbagasie gebruik, ’n sportbaadjie wat waarskynlik meer akriel as wol bevat, en ’n das wat mens nie te naby aan ’n vlam moet bring nie. Ouma Hebs het die belangrikheid van natuurlike vesel by haar ingeprent: katoen, wol of sy. Natuurlike vesel haal asem saam met jou lyf, akriel is soos ’n plastieksak wat jou porieë stadig versmoor.

      Sy tel haar rugsak op en streep agter die ander aan terwyl sy haar selfoon op flight mode sit. Sy sal haar gesprek met Salome hervat sodra die vliegtuig land. Die vlug is net bietjie minder as elf ure, as sy reg onthou.

      Agtuur môreoggend is sy in Parys.

      Aankoms

      Emma voel tam tot in haar tone. Die grootste euwel van vlieg is die gewaggery. Hulle land op die Charles de Gaulle-lughawe en taxi oor eindelose velde van beton, verby rye vliegtuie van alle groottes en vorms.

      Haar hart bly hang aan die laaste wolk waardeur hulle gedaal het. Sy is in ’n vreemde land, in ’n vreemde hemisfeer. Alleen, sonder ma of pa.

      Daar staan sowaar nog ’n SAA-Boeing op die aanloopbaan! Sy stert is die heel mooiste van almal, besluit sy. Air India. Swissair. KLM. Gaan sy ooit in haar lewe ’n kans kry om met hulle almal te vlieg?

      Om haar rumoer dit soos passasiers hulle boeke en brille tussen komberse en piepklein kussinkies probeer vind om hul handbagasie reg te kry vir die afklim. Uiteindelik skuifel hulle in rye verby die lugwaardinne wat die deur bewaak vir ’n laaste groet, dan deur metaaltonnels met venstertjies wat net hier en daar ’n loerkans gee. Buite is dit al lig, maar dit lyk trietsig: vaal lug, grou beton en ’n paar kolle kroes gras. Hulle kon enige plek in die wêreld geland het.

      Anderkant die loopgang verwelkom groot advertensieborde hulle: Bienvenue à Paris!

      “Oe! Neem ’n foto van my!”

      Clarissa druk haar selfoon in Emma se hand en gaan staan voor een van die borde. Sy gooi ’n arm in die lug soos ’n wafferse ballerina, lig een voet pikant en pruil haar mond.

      “Jy lyk soos ’n eend,” brom Emma en neem die foto.

      Clarissa gryp dadelik haar foon terug. “Ek post dit gou op Instagram!”

      Emma skud haar kop. Nou weet die hele wêreld hulle het in Parys aangekom.

      Hulle stoei deur die bondel mense om die carousel en gryp hulle tasse met verligte uitroepe. Almal giggel en loer rond. Meneer Thompson wink hulle na die middel van die aankomsaal.

      Emma herken die ander twee onderwysers by hom: juffrou Louw en juffrou Danson. Sy het laas nag hulle name op die program gelees toe sy nie kon slaap nie. Die res van die toerlede is vir haar net ’n mengelmoes van gesigte. Sy twyfel of sy almal se name in die volgende elf dae sal onthou.

      Maar juffrou Danson van Johannesburg het ’n troefkaart: ’n sak vol naamkaartjies. Sy stuur dit rond. “Speld dit aan julle klere vas waar dit duidelik sigbaar is en sorg dat julle dit te alle tye dra.”

      Die toerlede sug en brom. “Ons is nie meer in graad een nie,” protesteer Clarissa.

      Juffrou Danson glimlag gemaak vriendelik in haar rigting. “Dan is julle volwasse genoeg om te besef dat sekere reëls nodig is vir orde in ’n groep. Ek is te oud om almal se name te onthou, of dalk stel ek net nie genoeg belang om dit te memoriseer nie. Die naamkaartjies sal dit makliker maak terwyl ons mekaar leer ken.”

      Die sak kom by Emma aan en sy vis haar naamkaartjie uit. Iemand loer oor haar skouer. “Emma Volmaak! Ek bedoel Vermaak,” sê ’n seunstem.

      Sy kreun. Dis weer die rugbyspeler. Ag tog, ’n flerrie van ’n mansmens is die laaste waarvoor sy nou kans sien. Haar hart behoort aan Mathew.

      Sy ignoreer hom en stap weg om by Clarissa te gaan staan. Dié het reeds by die belastingvrye winkel op OR Tambo ’n bottel Franse parfuum aangeskaf, waarvan sy hopeloos te veel aangespuit het. Sy kwetter soos ’n opgewonde spreeu.

      “O, ek kan nie wag om die Eiffeltoring te sien nie! En die brûe oor die Seine! En die katakombes!”

      “Katakombes? Wat is dit?” vra ’n kort, dikkerige seun van Johannesburg.

      “Dit is …” begin Clarissa onseker.

      “… tonnels onder die stad waar die gebeentes van miljoene mense bewaar word.”

      Emma en Clarissa swaai gelyk om. Agter hulle staan Tombi. Sy lyk kalm en selfversekerd, asof sy gewoond is daaraan om elke oggend op ’n lughawe in ’n vreemde land te arriveer.

      “Geraamtes? Yuk!” gril Clarissa.

      “Sowaar?” Die kort outjie – Kevin Brown, sien Emma op sy naamkaartjie – kyk geïnteresseerd na Tombi.

      Sy glimlag vir hom, en Emma verkyk haar aan die meisie se perfekte tande. Geen draadjies is nodig om háár gebit reg te kry nie. En haar lae, melodieuse stem het sowaar vir Clarissa stilgemaak, iets waarvoor sy beslis ’n punt verdien.

      Emma kyk rond toe sy ’n vrolike deuntjie hoor. In die besige aankomssaal speel ’n man op ’n panfluit. Sy gesig is groen geverf en twee bokhorings van plastiek prik deur sy krullerige hare. Hy klop die ritme van sy lied op die marmervloer uit met skoene wat soos hoewe lyk. Dan val ’n viool in, gespeel deur ’n blougeverfde man in ’n seekostuum, goue kartonkroon op die kop.

      “Wat gaan aan?” vra Kevin.

      “Daar’s hierdie week ’n kunstefees in die stad,” verduidelik juffrou Louw en haal ’n bril uit haar oorvol handsak om die spulletjie beter te betrag.

      ’n Meisie in ’n nimfkostuum kom verby getrippel en druk ’n brosjure in Emma se hand. Sy lees die opskrif: Festival de l’Inspiration des Arts.

      “Kom, ons bus is hier!” roep juffrou Lategan en hou ’n opgevoude pers sambreel omhoog. “Almal, volg my!”

Скачать книгу