Elf dae in Parys. Elizabeth Wasserman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Elf dae in Parys - Elizabeth Wasserman страница 4

Elf dae in Parys - Elizabeth Wasserman

Скачать книгу

die bus kies sy ’n sitplek agter teen die venster. Dit lyk of die rugbyspeler weer na haar kant toe mik, maar genadiglik plak Tombi haar op die leë sitplek neer.

      Emma leun met haar voorkop teen die ruit en kyk na die mense in die motors langs hulle. Vier lane verkeer sukkel op die hoofweg in die rigting van die stad. In Frankryk sit die bestuurder links voor en dit voel vreemd om mense in die passasiersitplek aan die regterkant te sien koerant lees. Die meeste van die motors is donker van kleur en van Franse fabrikaat: Peugeots en Renaults.

      Voor in die bus draai juffrou Lategan skuins in haar sitplek en begin met ’n lesing.

      “Die Franse is baie lojaal aan hul kultuur. Skrywers, kunstenaars en filosowe word hoog geag in hierdie gemeenskap, en hulle pas hul erfenis met groot sorg op. So byvoorbeeld het die Franse regering ’n hele departement wat sorg dat al die historiese geboue mooi verlig is snags.”

      “Parys, die stad van lig!” sê Clarissa teatraal.

      “Maar daar’s ’n nuwe wet wat keer dat onnodige ligte ná eenuur in die oggend brand,” sê juffrou Danson. “Dit het onlangs in werking getree en dit spaar miljoene euro aan elektrisiteitskoste. Dis deel van ’n veldtog om die stad groener te maak.”

      “So ná middernag word la ville lumière ’n duistere plek,” fluister Tombi vir Emma.

      Soos hulle die buitewyke van die stad nader, raak die verkeer al digter. Langs hulle druk ’n taxibestuurder op sy toeter en waai sy vuis by die venster uit. “Putain!” skel hy op die vrou in die klein Fiat 500 wat voor hom ingedruk het.

      Emma giggel. “Ons gaan ten minste ons Franse woordeskat verbreed.”

      “Ja,” beaam Tombi. Sy kyk skuins na Emma. “Jy’t nog nooit gewonder hoe dit is dat ek en jy in dieselfde skool beland het nie, of hoe?”

      “Wat bedoel jy?” vra Emma oorbluf.

      “Ek meen maar net. Nie een van ons is eintlik ’n Suid-Afrikaner nie.”

      Emma trek haar rug regop. “Natuurlik is ek ’n Suid-Afrikaner! Ek is daar gebore.”

      “Ja, maar …” Tombi kyk betekenisvol na haar.

      Trane prik skielik agter Emma se oë. Sy is moeg. Sy is opgewonde om Parys te sien, maar terselfdertyd wil sy terug by die huis wees. Die laaste ding waarvoor sy nou kans sien, is ’n rasdebat met ’n klasmaat.

      “Ek’s jammer, ek het dit glad nie só bedoel nie.” Tombi sit ’n warm hand op haar voorarm. “Ek het gedink aan die mondeling wat ons verlede jaar oor ons voorsate moes doen. Jou voorsate kom van Holland en van hier, so dis net vir my interessant. Jy kan nou van die bus af klim en in die straat loop en almal sal dink dat jy hier hoort.”

      Emma knik. Natuurlik, nou onthou sy. Ouma Hebs het in detail vir haar verduidelik van die Edik van Nantes en die Franse Hugenote wat meer as tweehonderd jaar gelede na die Kaap gevlug het. Haar ouma se nooiensvan was Viljoen (Villion in Frans) en haar ma se nooiensvan was Labuschagne, ook van Franse oorsprong. Tog is Europa vir haar vreemd, sy voel geen verbintenis met die kontinent nie.

      Haar bloed is eintlik Europees, en dis blote toeval dat sy in Afrika gebore is. As haar voorsate nie hier weggedryf is deur oorloë nie, kon sy daardie meisie in die donkergrys Renault skuins voor hulle gewees het, die een wat nou haar laaste stukkie huiswerk voor skool sit en doen.

      “Ja, die diaspora. Ons al twee kom van ver af …” sug Tombi.

      Juffrou Lategan se volgende lesing onderbreek hulle gesprek.

      “Frankryk is een van die mees burokratiese lande in Europa, tog laat die Franse hulle nie maklik deur enige reël bind nie. Daar is byvoorbeeld nie ’n enkele parkeermeter in Parys nie, en ook geen spoedbeperking nie. Jy kan teen honderd kilometer ’n uur in die Champs-Elysées af jaag, solank jy net nie ’n ongeluk maak nie.”

      “Vryheid, gelykheid en broederskap!” roep Kevin.

      Hy kry ’n Lategan-glimlag vol pienk tandvleis vir sy slimheid, en Emma moet ’n geïrriteerde kreun onderdruk.

      Chez Flaubert

      Geleidelik begin die stad vorm aanneem om hulle. Die woonstelblokke van beton verander in ’n landskap wat Emma herken as die Parys van foto’s en tydskrifte: spits dakke met stomp nokke en uitgeboude venstertjies. Die kleur van die geboue smelt saam tot dowwer skakerings en hulle word ouer, mooier. Die groenigheid raak meer: sy sien ’n laning hoë bome in ’n straat wat na links uitdraai, en baldadige pienk malvas op die vensterbanke van ’n gebou met balkonrelings van gekrulde yster.

      Sy kyk nuuskierig na die voetgangers op die sypaadjies. Hoe is hulle anders as die mense by die huis?

      “Daar’s die Eiffeltoring!” roep iemand uit.

      Almal krink hulle nekke om beter te sien. Vir Emma lyk dit kleiner en verder weg as wat sy verwag het.

      Hul gastehuis is op die linkeroewer van die Seine, skuins agter die Notre Dame, in die buurt van die Sorbonne Universiteit. Die straatjies word al nouer, en eenrigtingverkeer maak dat die bus al in die rondte moet ry voordat die bestuurder die regte plek vind.

      Hulle bondel uit terwyl die onderwysers links en regs instruksies gee. Tasse word op die sypaadjie neergeplak, tot konsternasie van die voetgangers.

      “Pardon! Pardon! Excusez-moi, monsieur!” piep juffrou Lategan toe sy ’n man in ’n donker jas met een van haar hoëhakskoentjies pootjie.

      “Madame, vous êtes folle!” sê hy vererg, maar struikel oor Clarissa se neongroen grimeertassie.

      “Kyk waar jy loop!” snou sy hom in goeie Afrikaans toe en gryp die kosbare tassie onder sy voete uit.

      Die harwar op die sypaadjie spoel uit in die straat en verkeer begin ophoop. Toeters blaas. ’n Rooi verniste deur gaan oop in die gebou langsaan.

      “Bonjour, tout le monde!” roep ’n vrolike stem. “Hierdie kant toe! Kom binne!”

      ’n Aantreklike blonde vrou hou die deur oop en waai almal met groot gebare by die gebou in. “Tout de suite!” por sy.

      “Dit beteken maak gou,” vertaal die rugbyspeler en glimlag sy een-mondhoek-glimlag vir Emma.

      “Ek weet. Ek leer ook Frans,” brom sy terug.

      Sy naam is Hein, sien sy op sy naamkaartjie. Hein-gee-my-’n-pyn, dink sy en lag vir haar eie gedagte. Hy dink sy lag vir hom en knipoog koketterig terug.

      Dit kos stamp en stoot om almal in die klein voorportaal in te pas. Meneer Thompson tel die koppe. “Is almal in? Ons moet een-en-twintig wees. Staan stil! Ons kort ’n kop!”

      “Hy’t vergeet om homself te tel,” fluister Tombi vir Emma.

      Emma giggel.

      Die vrou loer uit om seker te maak al die bagasie is binne, dan maak sy die deur agter hulle toe. Die straat se lawaai word afgesny,

Скачать книгу