Elf dae in Parys. Elizabeth Wasserman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Elf dae in Parys - Elizabeth Wasserman страница 7

Elf dae in Parys - Elizabeth Wasserman

Скачать книгу

klassieke Franse boeke gelees?

      “In die ware The Hunchback of Notre Dame,” verduidelik Tombi, “verraai Esmeralda se eie ma haar, darem per ongeluk. Sy word tereggestel en die soldaat op wie sy verlief was, word doodgeskiet.”

      “En die bokkie?”

      “O, hy ontmoet seker ’n mooi prinses-bokkie en leef lank en gelukkig,” spot Kevin.

      “Dis letterkunde, Kevin,” raas Tombi, “nie sprokies nie.”

      “Kom, kom,” onderbreek meneer Thompson hulle. “Die museum is nog ver en daar’s baie te sien.”

      Emma loop onwillig agterna. Sy wil kort-kort by een van die straatverkopers vassteek om na die fantastiese versamelings ou boeke, foto’s en poskaarte van Parys te kyk. Die stalletjie-eienaars sit en speel skaak onder die bome of gesels oor klein koppies swart koffie. By feitlik elkeen se voete lê ’n hond opgekrul en slaap. Dit laat haar aan Willem dink en sy verlang sommer na hom.

      Aan die lamppale is kleurvolle plakkate wat die Festival de l’Inspiration des Arts adverteer. Sal hulle darem iets van die fees te siene kry? wonder sy. Eensklaps rol die towerspel van hierdie tydlose stad soos ’n onsigbare wasem vanuit die Seine op haar af en voel sy baie bly dat sy gekom het.

      “Net om hier te wees!” roep Tombi uit asof sy Emma se gedagtes kan lees. Sy strek haar arms wyd, lig haar gesig na die warm somerson wat tussen die wolke uitloer en draai ekstaties in die rondte.

      Emma lag. Ja, mens kan verdrink in die blote … Parysheid van die plek.

      “Die bome,” sê sy. “Dis sover vir my die heel mooiste van alles hier. Ek het nooit kon droom dat daar sulke hoë bome langs die strate staan nie.”

      “In die herfs word die stad ’n fees van oranje en geel,” sê meneer Thompson dromerig. “Ek het hier gewoon vir twee fantastiese jare voordat …” Maar hy maak nie sy sin klaar nie, draai net die ring aan sy linkerhand stadig in die rondte, sy blik ver weg op die rivier.

      Sy gebaar herinner Emma aan haar ma. Hoe sou dit met haar gaan? wonder sy. Sal haar ouers tyd maak om met mekaar te praat terwyl sy weg is?

      Sy trek haar skouers op. Almal by die huis moet maar vir eers hulle gang gaan. Sy is nou hier, in hierdie wonderlike stad, en dit voel reg. Asof hier iets is wat sy moet vind. Of wat sy moet doen.

      Almal se oumas is nie eenders nie

      Emma se selfoon biep.

      Die Orsay is die beste, Hebsodemmatjie. Moenie Van Gogh se La Nuit Étoilée mis nie, dis op die vyfde vloer.

      Ouma Hebs se boodskap laat haar glimlag. Vir ’n ouma is sy sowaar koel. En dis net haar ouma wat die verkleinwoord van haar hele, verskriklike doopnaam gebruik – Emma is immers na haar vernoem.

      Dan tref iets haar: Hoe weet ouma Hebs dat sy op pad is na die Musée d’Orsay? Is daardie Van Gogh werklik in die museum, of is dit net ’n raaiskoot?

      Sy draai na meneer Thompson. “Meneer, die werke van Van Gogh …”

      “O, daar’s verskeie in die Orsay,” val hy haar in die rede. “Die mooiste vir my is sy ‘Nag onder die sterre’. Die manier hoe daardie man met verf gewerk het!”

      Dan is dit so, dink Emma, die skildery is daar. Dit beteken afstand beïnvloed nie ouma Hebs se buitengewone vermoë om altyd te weet wat in haar lewe aangaan nie, asof haar ouma haar gedurig op een of ander magiese radarskerm dophou.

      Of dalk is dit geen geheime krag nie, bloot moderne tegnologie? Haar foon is altyd ingeskakel op ’n satellietdiens waarmee sy opgespoor kan word in ’n noodgeval – haar pa dring daarop aan. Maar sy twyfel of ouma Hebs eens daarvan sal weet. Dis nou nie asof haar ouma al die “foefies”, soos sy dit noem, op ’n slimfoon goed verstaan nie.

      Sy kyk na die instellings op haar foon. Die location tracking is inderdaad af; sy het dit nog nie weer aangeskakel nadat hulle in Parys geland het nie. Dit voel nog so onwerklik om hier te wees. Ag wat, sy sal haar anderdag weer verwonder aan ouma Hebs se vreemde talente. Sy prop die foon terug in haar rugsak.

      Iets tussen die sypaadjie se keistene trek haar aandag en sy steek vas. Dis ’n ysterdeksel soos dié wat gebruik word om ’n mangat toe te maak. Sy herken dadelik die patroon daarop: dit lyk nes Luc Flaubert se lapelwapen. Wat sal ’n lapelwapen nou met ’n mangatdeksel te doen hê? wonder sy.

      Dan sien sy die ander is reeds ver voor haar. Sy sal moet draf om hulle in te haal. Parys laat nie op haar wag nie!

      Die vioolspeler op die brug

      ’n Effense trilling in die lug, asof ’n wolk elektrisiteit in haar rigting sweef. Emma voel die musiek nog voor sy die note kan uitken. Kevin steek ook vas en draai sy kop skeef, soos ’n hond wat sy baas in die verte hoor fluit.

      Die suiwer vioolklanke ryg deur die kombers van lawaai wat die stad oordek. Emma tel die pas van die ritme; haar brein torring die note los van die rumoer om haar, tot dit vorm aanneem as ’n duidelike melodie. Een van Liszt se Hongaarse rapsodieë?

      Ouma Hebs luister gewoonlik na klassieke musiek in haar motor, en die rapsodieë is ’n gunsteling. “Klassieke musiek is nie net kerkmusiek nie, Emma!” sê sy gewoonlik voor sy die volume opdraai totdat die binnekant van haar motortjie wil bars van al die onstuimige klanke.

      Die rapsodieë is oorspronklik geskryf vir klavier, maar nou word die deuntjie gespeel op ’n enkele viool, en dit kom van iewers agter ’n groep omstanders aan die voet van die Pont des Artes. Hulle loop nader. Emma moet op haar tone staan om oor die koppe te sien.

      Die vioolspeler is ’n meisie. Sy sit kruisbeen, kiertsregop, met haar gesig gekantel na die son. Sy dra ’n kimono van grys sy, geborduur met rooi drake. Haar oë is toe. Haar blinkswart hare is in ’n rol op haar kop gestapel, met ’n paar slierte wat langs haar wang af hang. Sy wieg liggies op maat van die musiek en die strykstok in haar regterhand blits soos ’n hommelby oor die snare.

      Skielik maak sy haar oë oop en kyk reguit na Emma. Vir ’n oomblik voel dit vir Emma asof sy ’n paar sentimeter bo haar skoene gelig word om bo die sypaadjie te sweef. Is dit net die effek van die musiek op ’n Sondagmiddag in Parys, of is daar ’n vreemde betowering in die vioolspeler se donker oë? wonder sy verward.

      Die meisie hou op speel en laat sak haar kop. Die oomblik is verbreek. Die klein skare klap entoesiasties hande. Die hopie munte in die vioolkassie voor haar op die sypaadjie groei vinnig.

      Kevin trek aan Emma se mou. “Kom, ons raak agter!”

      Die vioolspeler begin met ’n nuwe deuntjie wat Emma nie herken nie. Sy sukkel om haar los te maak van die betowering van die musiek. Kevin het ook ’n salige uitdrukking op sy gesig, asof ’n stukkie van die hemel vir hom gewys is.

      Die deuntjie volg hulle soos hulle agter meneer Thompson en Tombi aan stap.

Скачать книгу