Piekfyn Afrikaans Graad 6 Leesboek vir Huistaal. Fanie Viljoen
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Piekfyn Afrikaans Graad 6 Leesboek vir Huistaal - Fanie Viljoen страница 4
het ek poppe laat dans.
Maar net soos ná
die daeraad
daar weer ’n nag
aanbreek,
moet ek nou sê:
‘Ek groet, maat.
Vaarwel aan elke
streek!’”
Hier en daar begin iemand hande klap soos ’n mens mos ná ’n toespraak maak, maar toe hulle eers mooi begryp wat Uilspieël bedoel, stroom die trane. Ja, hulle het ’n wyse keiser gekry, maar hulle het hul grootste grapmaker verloor. Stil-stil gaan die skare uiteen terwyl hul vors, Tyl Uilspieël die Eerste, sy raadsmanne byeenroep om die dag se staatsake te reël.
(Uit: Uiltjie, Uiltjie in die spieël. Human & Rousseau. 2006)
Beantwoord die volgende vrae in julle groepe:
1.Ons weet dat Uilspieël ’n karakter is wat genoeg selfvertroue het en nie bang is vir ’n uitdaging nie. Bewys hierdie stelling deur gepaste voorbeelde uit die teks te gee.
2.Dit is duidelik dat die Keiser verbaas, maar tog beïndruk is met Uilspieël se eerste antwoord. Waaroor was die Keiser verbaas? Wat sou julle sê, was die rede vir Uilspieël se vinnige, reguit antwoord?
3.Wat leer julle uit Uilspieël se optrede wat ’n mens sal kan toepas met die oplos van probleme?
4.Uilspieël het drie weke gebruik om die laaste vraag op te los. Hoekom het hy so lank geneem om die derde vraag op te los?
5.Die Keiser was seker dat hy Uilspieël met die laaste vraag uitgevang het. Gee bewyse uit die Keiser se optrede dat hy seker was dat hy vir Uilspieël uitgevang het.
6.Watter tipe mens is die Keiser? Kies een van die volgende eienskappe en verduidelik waarom julle so sê.
behulpsaam
hoogmoedig
vriendelik
neerhalend
7.Wat het julle uit hierdie verhaal van Uilspieël en die Keiser geleer?
Die leeu, die haas en die hiëna
’n Verhaal uit Kenia
Eens op ’n tyd het Simba die leeu alleen in ’n grot gewoon. Toe hy jonger was, het dit hom nie gehinder om op sy eie te wees nie, maar nou het hy sy been só seergemaak dat hy nie vir homself kos kon kry nie. Gou het hy besef dat geselskap tog voordele het.
Dit sou maar sleg met hom gegaan het as Sunguru die Haas nie op ’n dag verby sy grot geloop het nie. Sunguru het in die grot gaan loer en gesien dat die leeu besig is om dood te gaan van die honger. Hy het dadelik begin om sy siek vriend te versorg en hom gemaklik te maak.
Danksy die haas se mooi versorging het Simba geleidelik weer sterk geword, totdat hy uiteindelik vir hulle bokkies kon vang om te eet. Nie lank nie of ’n groot klomp bene het buite die leeu se grot begin ophoop.
Toe kom die dag dat Nyangau die hiëna die heerlike geur van murgbene kry terwyl hy in die omtrek rondsnuffel vir iets om buit te maak. Sy neus lei hom tot by Simba se grot – maar omdat die bene vanuit die grot gesien kan word, kan hy hulle nie sommerso steel nie. Nes al sy broers en susters is Nyangau ’n groot ou lafaard, en hy besluit die enigste manier om die lekker happies in die hande te kry, is om met Simba vriende te maak. Hy kruip dus tot by die grot se ingang en gee ’n kuggie.
“Wie versteur die mooi aand met so ’n lelike hoesie?” wil die leeu weet en hy kom orent om ondersoek in te stel.
“Dis ek, jou vriend Nyangau,” sê die hiëna, wat so amper die bietjie moed verloor wat hy nog het. “Ek het vir jou kom sê hoe baie die diere jou mis, en hoe ons daarna uitsien dat jy weer heeltemal gesond moet wees!”
“Skoert,” grom die leeu. “As jy my vriend was, sou jy al lankal na my welstand kom verneem het, eerder as om te wag tot ek weer vir jou van nut kan wees. Skoert, sê ek!”
Die hiëna skarrel blitsvinnig daar weg met sy stert tussen sy bene, die haas se gegiggel in sy ore.
Maar die dikvellige hiëna kan net nie vergeet van daardie lekker bene buite die grot se ingang nie. Ek sal weer probeer, besluit hy.
’n Paar dae later maak hy seker dat hy besoek aflê terwyl die haas weg is om water te gaan haal om die aandete te kook.
Hy tref die leeu aan waar hy voor die grot lê en slaap.
“Vriend,” glimlag Nyangau liefies, “ek verneem dat die wond aan jou been baie stadig gesond word omdat dit so verkeerd behandel word deur jou sogenaamde vriend Sunguru.”
“Hoe nou?” knor die leeu. “Dis aan Sunguru te danke dat ek nie van die honger omgekom het toe ek op my siekste was nie. En toe het jy en jou metgeselle geskitter in julle afwesigheid!”
“Wat ek sê, is nietemin waar,” sê hiëna op ’n vertroulike stemtoon. Eers vertel hy hoe ’n wonderlike dokter Sunguru is, en hoe goed sy medisyne is. “Maar almal hier rond weet dat hy jou met opset die verkeerde behandeling gee. Dis om te keer dat jy gesond word, want dan sal hy sy pos as jou huisbediende verloor. Dis mos ’n lekker gemaklike posisie vir hom … Laat ek jou daarom waarsku, my goeie vriend – Sunguru tree nie in jou beste belang op nie!”
Op daardie oomblik kom die haas van die rivier af terug met ’n kalbas vol water. “Nou toe nou,” sê hy vir die hiëna terwyl hy die kalbas neersit, “ek het nie verwag om jóú hier te sien ná jy die ander dag so vinnig en sonder waardigheid hier weg is nie. Sê my, wat wil jy dié keer hê?”
Simba draai na die haas. “Ek het so pas geluister na wat Nyangau vir my van jou vertel het,” sê hy. “Jy is glo oral bekend vir jou vaardigheid as dokter. Hy sê ook dat die medisyne wat jy voorskryf sonder gelyke is. Maar hy hou voet by stuk dat jy lank gelede al die wond aan my been gesond kon gemaak het as jy wou, maar dat dit tot jou nadeel sou wees. Is dit waar?”
Sunguru dink ’n oomblik na. Hy moet dié situasie baie versigtig hanteer, want hy het ’n sterk vermoede dat Nyangau hom met ’n skelmstreek wil vang.
“Wel,” antwoord hy versigtig, “ja en nee. Jy sien, ek is mos maar nie van die grootste nie. Partykeer is die medisyne wat ek voorskryf egter baie groot en dan kan ek dit nie in die hande kry nie – soos in jou geval, vriend Simba.”
“Wat bedoel jy?” Die leeu sit belangstellend regop.
“Dis eintlik eenvoudig,” verduidelik die haas. “Ek het ’n stuk vel van ’n volgroeide hiëna nodig om op jou wond te sit sodat dit heeltemal gesond kan word.”
Toe hy dít hoor, bespring die leeu vir Nyangau voor die verraste hiëna tyd het om hom uit die voete te maak. Hy skeur ’n stuk vel van die arme sot se rug af – van sy kop tot by sy stert – en