Die leliemoordenaar. Lerina Erasmus

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die leliemoordenaar - Lerina Erasmus страница 16

Автор:
Серия:
Издательство:
Die leliemoordenaar - Lerina Erasmus

Скачать книгу

lank na die foto van ’n rooikopvrou op bladsy 2. Top sleuth to New York? lui die opskrif. Hy lees die berig met hernude aandag. Dit vertel van die 43-jarige kaptein Daniella Hector se fenomenale suksesse deur die jare met die opspoor van reeksmoordenaars. Dit het gelei tot ’n werkaanbod van die FBI.

      Die hand wat die stomende koppie na sy mond bring, bewe liggies. Hy plaas dit terug in die piering en bestudeer die foto. ’n Mooi vrou, gedetermineerde trek in die donker oë. Sy het haar ma se oë, dink hy, maar die rooi hare moes sy van Braam Brink geërf het. Hector is waarskynlik haar getroude van. Hoewel die artikel melding maak van ’n dogter, noem dit niks van haar eggenoot nie, ook nie of sy die Amerikaners se aanbod aanvaar het nie. Haar akademiese prestasies word gelys: ’n BSc en LLB in strafreg van die Universiteit van Kaapstad, asook ’n MA in sielkunde.

      Hy sit die koerant neer. Danny Brink . . . sy moes dertien of veertien gewees het toe hy haar die laaste keer gesien het. Rankerig soos ’n jong vulletjie, ooraktief, gedurig aan die hardloop of bokspring. Hy ledig sy koppie en die bitter nasmaak lê nog ’n paar oomblikke op sy tong.

      Hy wink die kelnerin nader vir die rekening. Die koerant vou hy met groot sorg op. Hy sal dit saamneem en die artikel by die ander knipsels in die lêer plaas.

      In die parkeerarea kyk hy op sy horlosie voor hy in sy motor klim. Vir hom is presiese tyd van die grootste belang. 16:00. Hy het reg geskat, sy aanvoeling vir tyd laat hom selde in die steek. Hy sal net mooi genoeg tyd hê om sy voorbereidings by die huis te tref. Dis uiters belangrik: die allerfynste voorsorg. Hy moet te alle tye op enigiets voorbereid wees. Die reël vir sukses is voorsorg. Daarom sal hy elke wegruiming met absolute presisie uitvoer, sy selfopgelegde ritueel deurgaans volg.

      Vanoggend het die amarillis se ontluikende knop ontvou. Kersregop en mooi, die wasagtige kelk helderrooi. Rooi soos bloed. Nee, daar sal geen bloed wees nie. Hy sal niks nalaat nie.

      Kyk na die lelies van die veld, kom die Bybelvers by hom op toe hy die motor aanskakel. ’n Skadu van ’n glimlag raak aan sy mond. Die blomme het sy kompas sowel as sy kalender geword.

      Met chirurgiese presisie lig hy die kloppende hart uit die borskas, hou dit ’n oomblik in sy gehandskoende hand. Dan kyk hy na die vrou wat hulpeloos uitgestrek op haar eetkamertafel lê, haar oë wyd gesper van vrees. Sy probeer praat, maar geen geluid kom oor haar lippe nie.

      Die masker wat sy mond bedek, verskuil sy glimlag. “Probeer jy iets sê, Delicia? Ek het nie mooi gehoor nie.”

      Sy stem is gesmoord agter die masker, maar in die verskriklike stilte in die derderangse woonplek klink dit oorverdowend. Sy wil haar kop skud, maar die twee inspuitings wat hy haar gegee het, het haar spiere verlam. Net met haar oë kan sy om genade pleit.

      Maar sy aandag is nie meer by haar nie. Hy plaas die hart in ’n plastiekhouer en tel ’n aarklamp op wat hy om die hoofslagaar vasknyp.

      “Totsiens, Delicia.” Met ’n netjiese snit amputeer hy die orgaan finaal van die liggaam.

      Hy kyk hoe die lewe uit die vrou se starende kykers doof. Dit is volbring, dink hy. Nommer drie is afgehandel.

      Hy plaas die uitgekerfde grafsteentjie in die borsholte presies waar die hart was. Nou moet hy haar nog net toemaak, netjies maak. Hy laat nooit sy slagoffers slordig agter nie.

      Hy staan eerbiedig in die flikkerende kerslig voor die altaartjie wat hy self van stene gebou het. Die foto van die jong vrou en dogtertjie is omring deur ses kerse, soos elke keer wanneer hy sy bloedoffer bring. Plegtig sit hy die kleipot waarin die amarillis gloeiend rooi blom voor die silwer portretraam neer.

      Links daarvan staan nog twee bolplante. Die een aan die buitekant se blom is af, die steel hang verlep. Die tweede se blomkelk is voospienk en die blomblare begin val, want dis al meer as ’n maand oud.

      Dis tyd om ’n nuwe bol uit die koelkamer te haal en op die vensterbank neer te sit waar die son inkom, dink hy. En oor een-en-twintig dae sal dit ook blom.

      Hy tree terug, draai om en loop na die muurkalender. Met ’n rooi pen trek hy sorgvuldig ’n streep deur die dag se datum, 1 Oktober.

      Hoofstuk 13

      Speurluitenant Billy Venter kyk met genot hoe sy twee seuns wegval aan die superburgers wat hy vir hulle gekoop het. Cerise, sy eks, sal hom weer uittrap daaroor. Sy sê dis gemorskos, maar haar ou gat! Vandag behoort die seuns aan hom, hulle skoolvakansie is so te sê verby. Hy gaan hulle bederf en vir hulle koop net waarvoor hulle lus het.

      Brian, die oudste, sluk, maar sy mond is nog vol kos toe hy praat.

      “Al die ouens in ons skool se pa’s vat hulle vir die wedstryd in Soweto.”

      “So?” sê Billy, kamma ongeërg. Hy wil nog eers die geheim bewaar dat hy ten duurste kaartjies bekom het vir Saterdag as Bafana teen Kameroen speel. Dit moet ’n verrassing wees vir die seuns.

      “Ag, Paaa . . .” kom dit van Johnnie. “Kan ons nie ook gaan nie?”

      Billy trek sy skouers op. “Miskien. Dit kos baie geld, jong. Maar as . . .”

      Sy selfoon begin vibreer in sy hempsak. Hy vis dit uit en kom orent. Hy moes die demmitse ding afgeskakel het! Hy oorweeg dit ’n oomblik om die oproep te ignoreer, maar antwoord dan: “Bill Venter.”

      Toe hy ’n paar tree van die seuns af wegloop, kyk dié betekenisvol na mekaar. Hulle weet maar te goed so ’n oproep beteken heel moontlik die einde van hulle dag by Gold Reef City, en daar’s nog so baie goeters waarop hulle nie gery het nie.

      “Draai toe, Johnnie, vir padkos,” beveel Brian terwyl hy sy halfgeëete hamburger in ’n papierservet toewikkel.

      Billy sien dit toe hy omdraai en voel soos ’n weeluis. Hy gaan al weer sy latte teleurstel.

      “Wat’s die adres?” vra hy kortaf. “Oukei, het dit. Ek kom so gou ek kan, maar ek moet eers my seuns gaan aflaai. Nou’s my af dag ook in sy moer in. Wag vir my daar.”

      Toe hy terugkom by die tafel, het die twee al opgestaan. “Jammer, my boytjies, maar dis ’n noodgeval.”

      “Is wat Pa altyd sê,” kom dit gelate van Brian.

      Johnnie knik instemmend. “Ma sê mens kan Pa met niks vertrou nie.”

      “Nè, is dit wat sy sê?” Billy wil iets byvoeg, maar bedink hom. Wat sal dit tog help? Cerise het nou maar eenmaal haar mes in vir hom, en hy wil dit nie nog moeiliker maak vir die seuns nie.

      Hy vat sy motorsleutels op die tafel. “Kom, ek sal julle by Ouma gaan aflaai.” Hel, sy eks-skoonma gaan weer ’n bek vol hieroor te sê hê!

      Billy sluit sy motordeur en kyk om hom rond. Joubertpark was eens ’n respektabele buurt, maar nou het die duiwehokwoonstelle in krotte verander, dink hy toe hy kyk na die gebreekte vensters en rommel wat in hope rondlê. Te veel mense ingeprop in woonstelblokke waarna die huurmeesters hoegenaamd nie meer omsien nie.

      Hy klim die trappe op na die ingang. Koperletters waarvan ’n paar ontbreek, spel Winds-r Co-rt. Nog ’n simpel koloniale naam, dink hy, veral bespotlik noudat die plek só lyk.

      Volgens Koot se oproep het hulle ’n liggaam ontdek wat lyk soos die Klipmoordenaar se werk, die saak waaraan Billy werk. Hy skud sy kop. As dit so is, is dit die bliksem se derde slagoffer.

      Die

Скачать книгу