Die leliemoordenaar. Lerina Erasmus
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die leliemoordenaar - Lerina Erasmus страница 17
Billy voel ’n magtelose woede in hom opstoot. Drie maal moor die bliksem en elke keer laat hy die slagoffer só na. Dis asof hy iets daarmee wil sê, maar wat?
“Weet julle wie sy is?” vra hy.
Sersant Koot Human knik. “Delicia Brown. Die skoonmaker het haar ontdek en vir die opsigter gaan sê. Sy het glo in een van daai sleaze clubs gewerk, ’n stripper of iets.”
“Kan julle bietjie soontoe staan?” sê die forensiese fotograaf.
Billy draai om na die ondersoekspan wat op hulle knieë soek na forensiese leidrade, hetsy bloed, selweefsel of hare.
“Enige clues?” vra hy.
Tom Heyns kyk op. “Niks tot dusver nie. Dis net soos met die ander twee.”
“Fynkam elke sentimeter,” beveel Billy. “Een of ander tyd moet die helhond tog iets agterlaat. En verseël die plek sodra julle klaar is.”
Hy praat harder, sluit almal in die vertrek met sy blik in. “Hou dit asseblief stil, manne. Die koerantaasvoëls gaan feesvier as hulle uitvind.” Hy draai na die sersant. “Ek gaan die opsigter en skoonmaker ondervra.”
Soos hy met die trappe af loop, brand frustrasie in sy maag. Drie slagoffers! Mbulu gaan ’n kat baar as hy hom sê. Die kommissaris sal sy kop op ’n paal wil spyker. Amper drie maande en hy het nog nie één bloue bliksemse clue opgetel nie.
Hoofstuk 14
Bongani Mbulu se gesig verklap niks van sy ergernis nie. Het hy ’n fout gemaak om Billy Venter op die saak te sit? wonder hy radeloos. Maar Venter is een van sy knapste manne. Hy het die deursettingsvermoë van ’n pit bull terrier en ’n haarfyn aanvoeling vir hoe ’n misdadiger se kop werk.
Ten spyte van sy moeilike kinderjare is Venter ’n baie goeie speurder. Op veertien was hy ’n klein maar gedugte jeugmisdadiger wat soos talle ander seuns in sy buurt diefstal en inbrake as enigste skoling gehad het. Toe hy oplaas in ’n verbeteringskool beland, het hy besluit om die reguit pad te loop. Hy het hard geleer sodat hy polisiekollege toe kon gaan, en as polisieman het hy homself bewys en gevorder tot speursersant. Met sy goeie straatkontakte het hy misdadigers sommer gou vasgetrek. Hy is tot luitenant bevorder en as sy eerste groot saak op die spoor van die Klipmoordenaar gesit.
Die kommissaris sug innerlik. Spoor? Dis die verkeerde woordkeuse, want tot dusver het speurluitenant Venter nog géén spoor gevind nie. Hulle is presies waar hulle was toe die eerste slagoffer op 21 Augustus gevind is. Die tyd vir bespiegel en rondspeel is verby, besluit hy. Hy sal ’n ander oplossing moet vind. Iemand met meer ervaring moet Venter onder sy vlerk neem.
“Dis ons eerste vroulike slagoffer, enige teken van seksuele geweld?” vra hy.
Billy skud sy kop. “Nie op die oog af nie, maar mens sal eers seker wees ná die outopsie. Dokter Vermaak het belowe die verslag sal môremiddag gereed wees. Ek’s jammer, chief. Ek weet ek het sweet blue all gegee tot nou toe. As mens net ’n verband kan kry tussen die slagoffers . . . Wat het ’n chop shop owner te make met ’n kameraman? En nou dié ene, ’n stripper en lank in die tand, waarskynlik ’n low-class call girl. Al wat ons het om op te gaan, is die grafsteentjie wat die moordenaar in die borskas agterlaat. Vir wat? Wat wil hy daarmee sê?”
“Hy of sy,” korrigeer Mbulu. “Maar dis soos jy sê, ons is nog niks verder as op dag een nie. Die publiek het die storie kop toe gevat en die pers is mal daaroor. Hulle is daagliks op my nek, tot die minister ook. Ons sal ’n ander plan moet maak.”
Billy frons. “Hoe meen chief nou?”
Mbulu hou sy hand op. “Gaan eers huis toe. Ons sal later praat.”
Hy kyk die jonger man agterna wat druipstert soos ’n ontknaterde brak by sy kantoor uitloop.
Ná ’n tydjie kom hy orent en loop na sy boekrak, haal ’n lêer uit. Hy blaai dit deur en kry waarna hy soek: die artikel oor kaptein Daniella Hector wat ’n werkaanbod uit Amerika gekry het.
Hy loop terug na sy lessenaar, lig die telefoon se gehoorstuk en skakel sy sekretaresse.
“Alet, kry vir my kolonel Visser van die Kaap op die lyn. En bespreek vir my ’n vlug Kaap toe vir Maandagoggend.”
Billy kyk bedruk na die kadawer waarmee die polisiepatoloog besig is.
“Hmm,” brom dokter Vermaak toe hy die grafsteentjie uit die borsholte lig en dit in ’n nierbakkie plaas. “Selle ou storie. Mý kopseer is dat die snit so netjies gemaak en toegewerk is. Professioneel is die woord. Die moordenaar kan dalk ’n dokter wees.” Hy kyk na Billy wat na die grafsteentjie staan en staar. “Forensies is nog nie klaar daarmee nie.”
Billy haal sy skouers op. “Maak nie saak nie, dok. Sit dit maar in ’n sakkie en merk dit as bewysstuk 3. Hierdie saak freak my uit. Die bliksem moes gesweet het om die goed uit klip te kerf, net om dit as ’n soort visiting card agter te laat.”
Vermaak trek die plastieklaken oor die lyk. “Genoeg vir vandag, ek sal die res môre doen. My vrou verwag my vroeg terug vanaand.”
Billy glimlag suur. Die dokter het ’n vrou wat vir hom wag en wat het hy? Zilch om na toe terug te gaan. Net Cerise wat hom waarskynlik gaan uitkak omdat hy die seuns by haar ma gaan aflaai het.
“Oukei, cheers, dok,” groet hy met die uitloop.
Buite die deur staan hy ’n oomblik besluiteloos. Wat de donner gaan hy by die huis doen? Nee, besluit hy, eerder ’n paar kappe by ou Harry gaan maak. Die dag was mislik genoeg om dit te regverdig.
Die kroeg is omtrent leeg toe hy daar instap. Harry, sigaret wat soos altyd uit sy mondhoek hang, sit sonder om te vra ’n beker bier voor hom neer.
Die beker is al amper leeg toe Harry na hom oorleun en fluister: “Check, my bra, dis jou eks daar by die deur.”
Billy kyk om toe die deurklokkie klingel. Cerise storm in, haar hare veelvuldige skakerings van rooi. Sy hart sak grond toe, want haar humeur is duidelik net so rooi. Sy seil tussen die tafels deur op hom af.
Hy staan op. “Hei, Cerise . . .”
As antwoord klap sy hom teen die bors en sis: “So, dís waar jou ‘groot emergency’ is – in Harry se bar! Kon dit gedink het, jou suiplap. Mens kan jou met sweet bleddie all vertrou. Hoe durf jy die kinders weer gaan afpak op Ma? Jy weet goed sy’s sieklik!”
Billy hou sy hande afwerend op. “Cool it, man! Ek kon nie anners nie, daar was nog ’n . . .” Hy wou sê moord, maar keer homself betyds. Die inligting is vertroulik en Cerise is ’n skinderbek.
“Dit was ’n noodgeval,” sê hy flou, “ek sweer dit was.”
Sy lag honend. “Ja, vertel dit vir die voëls. Kamstig so bly om die seuns op jou af dag te kry en jy drop hulle wragtig weer!”
Die lang nael van haar voorvinger, blou en silwer geverf, druk teen sy bors. “Nou luister jy na my. Ek is óp van jou, Mr Big