Die leliemoordenaar. Lerina Erasmus

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die leliemoordenaar - Lerina Erasmus страница 13

Автор:
Серия:
Издательство:
Die leliemoordenaar - Lerina Erasmus

Скачать книгу

regsverteenwoordiger.

      “Ons gaan binnekort land,” sê Svensson. “Dit sal wys wees as ons volgens die stipulasies optree en die gewone Rooi Kruis-protokol handhaaf. U as joernalis is hier as gas van die afvaardiging.”

      Braam knik. Wat wil die man eintlik sê? wonder hy. “Met ons aankoms sal dit die beste wees as u saamsmelt met die groep,” gaan die Sweed voort. “Ek wil vra dat u saam met die res van ons die inspeksietoer meemaak en onderhoude voer met die prisoniers. Die hoofbewaarder is kommandant Da Silva. Ek sal sodra ek die geleentheid kry sy toestemming vra dat u meneer Williams alleen mag besoek.”

      “Wat is die kans?” vra Braam.

      “Ek sal die humanitêre aspek beklemtoon: dat die gevangene se vrou en kind gesterf het en dat u as sy vriend die tyding persoonlik wil oordra.”

      Braam oorweeg Svensson se versoek. Hy kan seker nie anders as om in te stem nie, besluit hy.

      “Goed, ek sal hou by wat u voorstel. Ek wil glo dat u alles in u vermoë sal doen om ’n persoonlike gesprek te reël?”

      “Ek sal,” beloof Svensson.

      Die helikopter begin daal in die rigting van die landingstrook. Onder hom kan Braam nou die omgewing duideliker uitmaak. Links sien hy ’n soort krater wat witterig glim in die skerp sonlig. Nee, eerder ’n soort steengroef of myn, dink hy, want daar is koekepanne wat beweeg en mense, klein soos miere, wat oral werskaf. Verder aan merk hy die tronk, ’n uitgestrekte eenverdiepinggebou met hoë sekuriteitsomheining.

      Met die helikopter wat oor die landingstrook huiwer, maak almal reg vir die landing. Soos die tuig nader aan die grond sak, jaag die kragtige rotor stof op wat alle sig versper. Die vlieënier maak ’n foutlose landing.

      Wat ’n godverlate plek, dink Braam toe hy uitklim. Die dorp moet verder weg lê, want afgesien van die bunkeragtige gebou merk hy geen teken van bewoning in die omgewing nie. Die hoë doringdraad wat die tronkperseel omhein, herinner hom aan foto’s van Duitse konsentrasiekampe. Net, hier is jy intens bewus van die hitte en die skril geskree van sonbesies.

      Wagte gewapen met AK47-gewere maak die swaar hekke oop. Met Svensson aan die voorpunt loop die groep in stilte deur. ’n Wag begelei hulle na die klipgebou se ingang, waar nog wagte op diens is. Groot houtdeure word ontgrendel. Die voorportaal is koel en byna donker. Toe die laaste van die afvaardiging binne is, word die deure luid agter hulle gegrendel.

      Braam raak bewus van ’n neerdrukkende stilte wat teen sy oordromme klop. ’n Wag begelei hulle na ’n primitiewe wagkamer met ou houtbanke. Hy beduie hulle moet sit. Soos gedweë skoolkinders gehoorsaam hulle.

      Hulle wag. Niemand praat nie. Sou Svensson op die res van die groep ook ’n verbod geplaas het? wonder Braam. In die benouende atmosfeer tik minute verby, maar dit voel vir hom soos ure. Dan maak ’n korpulente swart man sy verskyning.

      Aan die talle rangtekens aan die man se uniform lei Braam af hy is die bevelvoerder. Die man bekyk hulle vir ’n paar oomblikke met ’n glimlag, maar dit word nie in sy oë weerspieël nie.

      “Welkom in Cuito,” sê hy met net ’n sweem van ’n Portugese aksent. “Daar is verversings in die personeel se eetkamer. Ons sal oor iets te ete en te drinke nader kennis maak. Altyd meer vrugbaar, nie waar nie?”

      Svensson kom orent. “Ons waardeer u gasvryheid, kommandant Da Silva, maar ons . . .”

      “En u is?” Die vraag klink soos ’n bevel.

      “Dieter Svensson.”

      Weer die smalende glimlag van die kommandant. “A, natuurlik, die regsman en segsman. U naam word in die dokumentasie genoem.”

      Hy blaf ’n vinnige bevel aan die twee wagte, dan kyk hy terug na die groep. “Die wagte sal u na die eetsaal begelei. Daarna sal ek u te woord staan, meneer Svensson.”

      Dis eers ná drie, toe die inspeksietoer verby is, dat Svensson onderlangs aan Braam sê dat hy Adam vir ’n halfuur mag sien.

      “Maar ’n wag sal teenwoordig wees,” waarsku Svensson.

      Braam frons. “Hoekom? Toe ons met die ander gevangenes onderhoude gevoer het, was daar nie —”

      “Da Silva is paranoïes. Hy was dadelik agterdogtig toe ek die versoek rig. Ek het hom nie gesê nie, maar ek dink hy weet u is ’n joernalis.”

      “Goed. Dankie vir die moeite.”

      ’n Halfuur later word hy na die westelike vleuel van die gevangenis gelei. Dié deel was nie ingesluit by hulle inspeksietoer nie, besef hy. Die wag se voetstappe weerklink in die lang gang, en weer word Braam bewus van die stilte wat soos ’n kombers oor alles hang. Dis die onnatuurlikheid daarvan wat opvallend is, dink hy. Agter die toe deure moet daar tog mense wees? Of word Adam in afsondering aangehou?

      Die wag steek voor so ’n deur vas. Die sleutel knars in die slot en hy maak die deur oop, staan opsy om Braam in te laat. Dis ’n bedompige, klein vertrek sonder vensters, met ’n tafel met ’n plastiekstoel aan elke kant. Die agterste muur is afgesper met ’n traliehek en daar wag Adam, vasgeboei aan ’n wag. Hy ontgrendel die hek, lei Adam binnetoe en ontsluit sy handboeie.

      “Half hour, then I come,” waarsku hy voor hy uitloop en die traliehek agter hom sluit.

      Braam het intussen by die tafel gaan sit. In stilte staar hy en Adam na mekaar. Hy merk hoeveel gewig die jonger man verloor het. Adam was nog altyd lenig, maar die diep holtes in sy wange laat nou sy gesig skedelagtig vertoon. Om sy oë is daar littekens.

      “Sit!” beveel die wag wat langs Braam teen die muur leun. “No touching!”

      “Hopelik verstaan hy nie Afrikaans nie,” mompel Braam toe Adam op die stoel oorkant hom neersak.

      “Hoe het jy my opgespoor?” vra Adam, sy stem hees, asof hy ongewoond is aan praat.

      Braam verduidelik kortliks, intens bewus van die tragiese nuus wat hy moet oordra.

      “Dit voel soos ’n ewigheid wat ons mekaar laas gesien het,” sê Adam. “My bekommernis daai dag . . . ek was reg. Hulle het my op ’n sending gestuur en die konvooi is in ’n lokval gelei. Drie ouens dood, die vierde het uit die brandende Casspir ontsnap, maar hy’s tereggestel. Ek weet nou nog nie hoekom hulle my laat leef het nie.”

      “Wie was die aanvallers? Frelimo?”

      Adam skud sy kop. “Verstaan jy dan nie? Dit was ’n valse sending. Hulle wou my uit die pad kry omdat ek wou uitklim. Hulle kon dit nie bekostig nie, want ek weet te veel. Daarom het hulle ’n hele maneuver uitgewerk om van my ontslae te raak. Dit was sonder twyfel die werk van die SAW.”

      Hy raak aan die littekens op sy gesig. “My oë het skade gekry in die ontploffing, ek was twee weke lank in die hospitaal. Toe is ek oorgeplaas hiernatoe, seker die mees vergete hool in Angola. As jy ooit iemand wil verlóór, is dit die plek. Hier hou jy op om te bestaan.”

      “Is jy alleen? Eensame opsluiting?”

      Adam knik.

      “Word geweld gebruik?”

      “Baie. Dit hang af van die bui van . . . Soos ek twee weke gelede gelyk het, sou hulle niemand toegelaat

Скачать книгу