Melk die heilige koeie. Deon Maas

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Melk die heilige koeie - Deon Maas страница 3

Автор:
Серия:
Издательство:
Melk die heilige koeie - Deon Maas

Скачать книгу

dinge kon beheer, het gekwyn. Alkoholisme, kindermishandeling en armoede het daartoe gelei dat amper ’n derde van Afrikaners verarm het.

      Om na sy mense te kon omsien, het die Afrikaner al hoe meer op sy politieke mag gesteun vir die bevordering van Afrikaans. Een van dié maniere was deur kultuurprojekte.

      Boeremusiek was die gewildste vorm van musiek in die 1930’s. En dit was nie die boeremusiek wat ons vandag ken nie. Hierdie ouens het gesing ook. Hulle het groot Cadillacs gery en vet partytjies gehou. Een van die grootste sterre, David de Lange, het ’n treffer gehad met die lirieke “maak ’n doppie, maak ’n stoppie, al die rokers bymekaar”.

      Een van die eerste dinge wat die Nasionale Party ná sy bewindsoorname in 1948 gedoen het, was om boeremusiek oor die radio te verbied. Die Afrikaner, so het die ringkoppe gemeen, is nie deel van Afrika nie en boeremusiek het te hard gesteun op hierdie invloede.

      Dr Anton Hartman, destyds hoof van musiek by die SAUK, het begin om Europese liedjies in te voer en in Afrikaans te vertaal. Op dié manier het hy probeer om die Afrikaner se Europese identiteit te behou. Dié gebruik duur tot vandag toe voort.

      Tydens die 46 jaar wat die Nasionale Party aan die bewind was, het Afrikaans hoogty gevier. Verskeie Afrikaanse universiteite is gebou, die staatsdiens was amper eksklusief Afrikaans en organisasies soos die Broederbond het seker gemaak dat Afrikaners eerste geholpe raak.

      Kultuurorganisasies wat die Afrikaanse saak bevorder het, het staatsteun gekry en is ook deur die regering gebruik as platform om sy politieke idees te bevorder. Banke is gestig wat goedkoop lenings aan boere gegee het. Die taal is vereenselwig met apartheidspolitiek en terwyl Afrikaanssprekendes voordeel daaruit getrek het, het die taal internasionaal ’n vloekwoord geword.

      Met die koms van die nuwe Suid-Afrika het talle mense gedink die doodsklok lui vir Afrikaans.

      Presies die teenoorgestelde het gebeur. Afrikaans, as onbeskermde taal, het gegroei danksy sy vermoë om hom te herskep as ’n kommersiële entiteit. Sonder die tradisionele beskerming van kultuurorganisasies het Afrikaans ook vir die eerste keer verder ontwikkel. Bevry van alle beperkinge het die saadjie ontkiem wat in 1988 deur die Voëlvrybeweging geplant is.

      Vir die eerste keer is popkultuur toegelaat om ’n invloed te hê op die ontwikkeling van Afrikaans. Kunstenaars soos Fokofpolisiekar en Jack Parow het die taal vir ’n nuwe geslag Afrikaners herskep. Hulle het die taal by die politieke meesters weggegryp en dit weer cool gemaak om Afrikaans te wees.

      Die beste en suksesvolste Suid-Afrikaanse rolprente, sepies en boeke is in Afrikaans. Kunstefeeste soos die KKNK en die Woordfees hou Afrikaanse teater lewend. Daar was MK en daar is steeds Huisgenoot. Daar is ook 7de Laan en Deon Meyer. Die meeste advertensiegeld word steeds in Afrikaans bestee.

      En nou is Kaaps ook terug. En die HAT spog met woorde soos “gattas”, “gabba”, “laaitie” en “sharp”. Die taal het beslis gevorder – van “dis ons erns” tot “kyk hoe lyk ons nou”!

      2 Kunstefeeste

      Een van die propagandawapens wat die Nasionale Party van ouds gebruik het om die volk te oortuig dat ons niks met Afrika te doen het nie maar dat ons rêrig Europees is, was die kunste.

      Toe die Natte in 1948 oorgeneem het, het hulle gou seker gemaak dat die Afrika-invloede in ons kunste onderdruk word. Nico Carstens se multikulturele “Zambezi”, wat ’n internasionale treffer was, het nie juis in die plaaslike mark aandag gekry nie. Dit was eerder Eurosentriese komponiste soos Danie Bosman wat die ondersteuning van die regering gekry het. Ongelukkig het Danie toe selfmoord gepleeg. So, dit was die einde van daai plan.

      Onder dr. Anton Hartman, oor wie se seksualiteit daar druk bespiegel is, het die SAUK beheer oor alle radiostasies gehad en die musieksmaak van die volk beheer.

      Dolly Parton en Jim Reeves was gewild in die swart mark, want Radio Bantu het dit gespeel.

      Om seker te maak dat veral die Afrikaanse luisteraar voortdurend blootgestel word aan sy Europese invloede, is plaaslike liedjieskrywers soos die Briels uitgeskuif en gewilde oorsese liedjies (veral van Europa af) ingevoer, Afrikaanse lirieke gegee en dan deur plaaslike sangers opgeneem en gewild gemaak.

      As jy op ou plate gaan kyk na wie die liedjies geskryf het, sal daar altyd twee vanne wees. Die een sal gewoonlik Afrikaans wees. Dis die ou wat die lirieke vertaal het. Die ander sal ’n eksotiese Europese naam wees. Dis die persoon wat die musiek van die oorspronklike treffer geskryf het.

      Omtrent elke groot liedjie uit die sestiger- en sewentigerjare is ’n vertaalde liedjie wat deur die groot name van die dag soos Min Shaw opgeneem is. Anton Goosen en Koos du Plessis was twee van die min uitsonderings uit daai tyd.

      Die beheer van die kunste is verder versterk deur die stig van kunsterade. Elke provinsie het een gehad: Kruik, Truk en dies meer. Ná 1994 het die ANC-regering besluit om nie meer hierdie rade te ondersteun nie. Hoewel die rade veeltalig was, was die algemene gevoel dat die afskaffing van die rade veral die bevordering van Afrikaans negatief sou beïnvloed.

      Dit is toe Afrikaanse kunstefeeste gebore is. Geskep met geld van Naspers om die Afrikaanse kultuur te stimuleer en seker te maak dat die taal kommersieel genoeg is sodat daar ’n toekomstige mark sou wees.

      Daar is in die vroeë negentigerjare baie mooi na die nasionale kunstefees in Grahamstad gekyk wat toe reeds vyftien jaar oud was.

      Deur dié resep met die kunsterade van ouds en ’n kerkbasaar te meng, is daar toe vorendag gekom met die resep wat vandag ons kunstefeeste is.

      Daar is min plekke waar jy die diversiteit van onse volkie so mooi kan sien as by die kunstefeeste. Wit Afrikaners met hulle Fortuners wat gaan vertonings kyk waar kaartjies R100 plus kos. Die kaartjies word geskeur deur minder ryk Afrikaners wat R100 ’n dag verdien vir die voorreg om dit te doen. Daarna tel bruin Afrikaners die gemors op wat deur die ryk mense agtergelaat word. Teen minder as R100 per skof. (Net om regverdig te wees: By Aardklop en Inniebos is dit nie bruin Afrikaners wat die gemors optel nie, dis swart mense wat die meeste van die tyd nie Afrikaans praat nie.)

      Oor die afgelope paar jaar, met die ontluiking van ’n bruin middelklas en ’n sterk poging van die organiseerders om die feeste meer “inklusief” te maak (hulle woord, nie myne nie), het die feesgangers effens verander, maar dis oor die algemeen steeds ’n wit Christenfees.

      Soos kunstenaars soos Miriam Makeba by die KKNK in 1998 en MaJozi by Inniebos in 2016 ervaar het, is baie Afrikaners nog nie reg om die deur oop te maak vir mense wat nie soos hulle lyk en praat nie.

      Boere wat speel, is ’n interessante toeskouersport. Elke fees het sy eie karakter.

      Die Woordfees is vir ernstige Kapenaars wat netjies praat en hulself as intellektueel verhewe sien bo die res van die gepeupel. Die gepeupel sluit natuurlik ander tale en rasse ook in. Die Woordfees is vir mense wat lees en na musiek luister waarop jy nie kan dans nie.

      Daar is ook ernstige gesprekke waar Dan Roodt opdaag met lyfwagte omdat hy bang is vir die mense wat nie kaalvoet oor die Drakenberge getrek het nie. Of dalk wou hy maar net afshow dat hy met sy Euro-playboy-hare en Franse serpe ook kan uithang met groot rowwe manne. Dieselfde rowwe manne het natuurlik later teen hom gedraai nadat iemand hulle aandag gevestig het op die boeke wat die dissident Roodt in die jare tagtig geskryf het, maar dis weer ’n storie vir ’n ander dag, daai …

      So, net om op te som en seker te maak dat ons almal op dieselfde bladsy is:

      Woordfees

Скачать книгу