Tryna du Toit Omnibus 11. Tryna du Toit

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Tryna du Toit Omnibus 11 - Tryna du Toit страница 5

Tryna du Toit Omnibus 11 - Tryna du Toit

Скачать книгу

Jacques en ek wil nog ’n bietjie oefen, en jy het die seuns belowe jy sal vroeg terug wees.”

      Paul sit sy hand liggies oor hare. “Ek is gereed.”

      Hulle groet, en Margaret kyk hulle agterna terwyl hulle wegstap, ’n vreemde gevoel in haar binneste. Dan draai sy om en stap na Charl, wat ’n entjie daarvandaan staan, in druk gesprek met een van sy kollegas. Miskien is hy ook lus om huis toe te gaan.

      Charl trek haar nader toe sy by hulle aansluit en sy sien die warmte en bewondering in sy blik.

      “Wil jy al huis toe gaan?” wil hy weet. “Doktor Buys het gevra ons moet by hulle kom koffie drink, daar is iets wat ons nog moet bespreek. Ons sal nie lank wees nie, ek belowe. Is dit reg so?”

      Dit was laat toe hulle uiteindelik tuis kom. Ingrid se kamer was al donker. Hartseer het Margaret gaan slaap. Ook sy sou graag vanaand vroeg huis toe wou gekom het om ’n rukkie voor slaaptyd saam met hulle dogter te kuier.

      Hoofstuk 3

      Charl se werk het steeds meer veeleisend geword en Margaret het later gevoel dat hulle te midde van al die partytjies, onthale en Charl se ander verpligtings by mekaar verbyleef, net hier en daar kontak maak. Watter sin het so ’n lewe? het sy gewonder. Ter wille van Charl het sy stilgebly, maar sy was dikwels ongelukkig en bekommerd oor hulle dogter wat grootword en haar nodig het.

      Soms het sy Ellen haar rustiger bestaan beny, maar sy het geweet dit is ook nie die antwoord nie. Sy het nie die wyse ou strydros se woorde vergeet nie. Ná ’n moeilike dag op kantoor wil ’n man nie na ’n leë hotelkamer terugkeer nie. Hy het iemand nodig met wie hy kan praat oor die dag se frustrasies; hy het die rus en aanmoediging nodig wat net sy vrou vir hom kan gee. As hy dit nie by haar kry nie, soek hy dit elders.

      En toe gebeur dit.

      Margaret het onrustig na die eerste half skertsende praatjies oor Herman en sy nuwe sekretaresse geluister. ’n Mooi jong meisie wat blykbaar besig was om die – soos almal gedink het – standvastige Herman se voete onder hom uit te slaan.

      Was dit net kwaadwillige praatjies, of was daar waarheid in?

      Margaret en Charl het Herman en die meisie een aand in ’n restaurant raakgeloop en Herman het haar later na hulle tafel toe gebring.

      “Julle ken vir Lizelle,” het hy met ’n glimlag gesê, maar Margaret kon sien hy is nie op sy gemak nie. “Ons begroting is dié week aan die gang, soos julle weet, en ons werk ons byna oorhoeks. Ek het die arme kind gebring om iets te eet voor sy beswyk.”

      Die meisie was op haar gemak, mooi en jonk, die onskuld self. Botter sou nie in haar mond smelt nie.

      Herman se vriende het minder en minder van hom gesien. Hy was altyd besig, of net nie beskikbaar nie. Intussen het Margaret gehoor hy en Lizelle is saam by die perdewedrenne gesien, op ’n partytjie, ’n Sondag op die strand by Clifton. Margaret was ontsteld en ongelukkig. Moet sy met Herman praat? Vir Ellen bel en sê sy moet dadelik Kaap toe kom?

      Voor sy iets kon doen, het die bom ontplof. Herman en Lizelle was ’n naweek alleen by ’n skilderagtige hotel by een van die kleiner strandoorde, waar vriende hulle gesien het. Binne ’n dag het dit die hele Kaap vol gelê.

      Dit was ongelukkige, hartseer dae. Die stof het uiteindelik gaan lê, ander nuus het die skinderstories op die agtergrond geskuif. Daar sou geen egskeiding wees nie. Ter wille van die kinders sou hulle weer probeer. Ellen sou voortaan saam met Herman Kaap toe kom terwyl haar ma vir die kinders huishou. Maar dit was ’n ouer, ontnugterde Ellen. Daar was ’n hardheid in haar wat vroeër nie daar was nie. Die barsie in die kruik was daar.

      Met Paul se werk het dit goed gegaan. Hy het hom toegelê op vaskulêre chirurgie en groot sukses behaal. Dikwels wanneer Margaret van sy prestasies hoor, het sy gedink aan die dae toe hulle studente was. Toe al het die professore ’n mooi toekoms vir Paul voorspel.

      Ja, met Paul se werk het dit goed gegaan, maar in sy private lewe is hy hard geslaan.

      Anita het aangegaan met haar musiek. Sy het steeds opgetree en was veral gewild as begeleidster. Daar was af en toe gerugte dat dit nie so goed gaan met die Wagners se huwelikslewe nie, maar Margaret het gehoop dit is net praatjies. Dis altyd die hoë bome wat die meeste wind vang.

      Sy was verlig toe sy hoor dat Paul vir ses maande Amerika toe gaan vir navorsing, en Anita en die twee seuns saamneem. Soos sy verwag – en gehoop – het, was die gerugte ongegrond.

      Die Wagners was pas terug van Amerika toe Paultjie, hulle jongste seun, verongeluk het. Hy het met sy fiets voor ’n vragmotor beland en is op slag dood.

      Margaret en Charl het begrafnis toe gegaan, en later het Margaret weer die Wagners besoek. Dit was asof sy ’n behoefte gehad het om met Paul te praat. Anita was in die bed met griep, en sy en Paul het lank gesels. Hy was kalm en rustig – soos ’n man wat in sy werk ook die skadukant van die lewe goed leer ken het – maar die hartseer in die grys oë het haar nog dae lank bygebly.

      Margaret en Charl was die volgende jaar in die Kaap vir die sitting toe sy hoor dat Anita ’n groot operasie ondergaan het. Sy het vir Anita ’n briefie geskryf en haar ’n spoedige beterskap toegewens. Paul het self die briefie beantwoord. Hy was kort en saaklik: dit is ’n kwaadaardige gewas en reeds wyd versprei. Die prognose is swak: ses maande, op die meeste ’n jaar of twee.

      Margaret was geskok en verslae. Anita is die dogter en die vrou van twee vooraanstaande geneeshere – kon hulle werklik niks vir haar doen nie?

      Terwyl Charl en Margaret net na die sitting in Switserland was, is Anita Wagner oorlede. Die einde het gouer gekom as wat hulle verwag het.

      Die ironie van die lewe, het Margaret gedink. Die briljante geneesheer wat so baie ander siekes gehelp het, kon sy eie vrou nie help nie.

      Hulle het Paul besoek toe hulle terug was in Pretoria: ’n stil, ingetoë Paul tot wie Margaret vir die eerste keer nie kon deurdring nie.

      In Januarie is hulle terug Kaap toe sonder dat sy Paul weer gesien het.

      Die dolle gejaag het voortgeduur. Charl was ’n ruk lank ernstig siek met ’n kwaai griepaanval wat hy nie kon afskud nie. Selfs nadat hy beter geword het, was hy moeg en prikkelbaar. Hy het sleg geslaap en was dikwels tot laat in die nag in sy studeerkamer besig om die agterstallige werk in te haal. Aan sy dokter se waarskuwing dat hy die pas nie kon volhou nie, het hy hom nie gesteur nie. Pretoria, Kaapstad, Londen, Rome – dit was sy werk en sy lewe, ’n opwindende spel waarvan hy elke oomblik geniet het.

      In Ingrid se matriekjaar is Margaret weer vir ’n paar weke saam met Charl na Switserland, waar hy ’n konferensie moes bywoon. Sy wou Ingrid nie graag op dié tydstip alleen los nie, maar Charl het net geweier om sonder haar te gaan.

      “Ingrid is ’n selfstandige kind – sy het jou nie nodig nie. Ek het. Ek wil hê jy moet saamkom, Margaret.”

      “Natuurlik moet jy saamgaan, Mamma,” het Ingrid gesê toe sy van Charl se planne hoor. “Ek kan na myself kyk.”

      Maar daar was trane in haar oë toe sy Margaret groet, ’n stille verwyt wat Margaret die hele tyd in Switserland nie kon vergeet nie.

      En toe was dit weer tyd om Kaap toe te gaan. Ingrid sou Stellenbosch toe gaan. Sy het drie onderskeidings in die matriekeksamen gekry en Charl het trots en tevrede geglimlag. Hy ken sy dogter!

Скачать книгу