Eindspel. Wilna Adriaanse

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Eindspel - Wilna Adriaanse страница 20

Автор:
Жанр:
Серия:
Издательство:
Eindspel - Wilna Adriaanse

Скачать книгу

de Bruin. Misdaadintelligensie.” Frans is ’n lang, skraal man. Hy het krom skouers soos iemand wat sy lewe lank by deuropeninge moet buk. Sy gesig is ook lank en hy het groot ore.

      “Stacy Hendriks. Georganiseerde misdaad.” Stacy lyk vir Nick soos iemand vir wie ’n mens jou probleme sal wil vertel. Sy het ’n sagte gesig met mondhoeke wat opkrul sodat dit die indruk skep dat sy permanent glimlag. Sy het ’n gemaklike en rustige energie. Haar donker oë is helder en hy vermoed ’n mens kan jou met haar misgis. Sy lyk maar net so rustig.

      “Bonani Gaba. Organised crime.” Niks aan Gaba is sag nie. Dit lyk of hy uit hoeke aanmekaargesit is. Hy is aansienlik korter as De Bruin. Hy is nie vet nie, maar het ’n paar skouers en ’n hoekige bolyf soos ’n voorryman.

      “Jeremy Jansen. Tegniese dienste.” Nick weet nie veel van die modebedryf nie, maar hy vermoed Jansen sou vir ’n model kon gaan. Alles aan hom is in proporsie en sy gesig is waarskynlik eenhonderd persent simmetries. Hy het groot donker oë wat seker al ’n paar vroue van hulle goeie voornemens laat vergeet het.

      “Ek aanvaar die meeste van julle ken mekaar en vir kaptein Barnard?”

      Almal knik.

      “Eerstens, dankie dat julle bereid is om met die saak te help. Ek weet julle almal het vol dossiere. Van my kant af sal ek alles in my vermoë doen dat ons die saak so gou moontlik kan oplos. Dit beteken egter nie ons gaan oorhaastig wees nie. Ons het net een kans.”

      Nick begin hulle vertel van die skietery by Allegretti se huis en die ontvoering Vrydagaand in Kampsbaai.

      “Ons het nog geen bewyse dat die twee voorvalle met mekaar verband hou nie. Die feit dat hulle verloof was, laat ’n mens egter wonder. Ons kan ook nie die moontlikheid uitsluit dat Allegretti by Clara Veldman se verdwyning betrokke was nie. Hoewel motief belangrik is, gaan ons net eers gou fokus op die feite wat ons in die hande kan kry. Daarna sal ons na motiewe begin kyk.”

      Nick kyk na Jansen. “Selfoonrekords. Laaste plek en tyd waar albei se selfone geregistreer het. Ek hoef nie vir julle te sê dis dringend nie. Vra gunste, dreig, enigiets. Ek weet almal sê altyd hulle is besig en dis nie die enigste saak nie, maar ek wil nie op die oomblik verskonings hoor nie.

      “De Bruin en Hendriks, bel die lugdienste. Kyk of hulle name op enige passasierslys voorkom. Daar is sekuriteitskameras op van die geboue naby Paranga. Ek soek die beeldmateriaal van Vrydagaand. Ek soek ook ’n lys van alle personeel wat daardie aand aan diens was. Bel vanaand ál julle kontakte. Binne en buite die departement. Hoor sommer net of iemand nuwe inligting het wat nog nie by die lêers uitgekom het nie.” Hy kyk na Clive. “Ons het iemand nodig om die admin te doen.” Dan gaan sy blik weer oor die ander. “Ek soek alle brokkies inligting wat hier aankom in lêers. Elke bewysstuk. Elke verslag. Niemand hou enigiets vir homself nie. Waarsku ook sommer julle huismense dat julle vir ’n rukkie redelik skaars gaan wees. Ons sien mekaar môremiddag vieruur weer hier en dan wil ek die een of ander vorm van nuus hê.

      “Terloops,” sê hy toe hulle opstaan, “my naam mag nêrens gebruik of genoem word nie. As daar enige navrae is of iemand vra om met julle baas te praat, bel vir kaptein Barnard.”

      “Ja, kolonel,” kom dit asof uit een mond.

      “My naam is Nick,” sê hy terwyl hy twee selfoonnommers neerskryf en dit vir Jansen gee. “Dis die nommers wat ons soek.” Hy sit ’n skoon bladsy op die tafel neer. “Julle name en selfoonnommers. Sorg dat almal mekaar se nommers het.” Hy skryf sy nommer boaan die lys. “En onthou, hierdie is nie ’n amptelike ondersoek nie. Nie een van hierdie voorvalle is al aangemeld nie. Ons is nog nie veronderstel om hiervan te weet nie. Wees vaag, sê net genoeg dat mense bereid sal wees om julle te antwoord, maar moet geen detail gee nie.”

      Toe almal weg is, stap Nick en Clive deur die res van die huis. Uit die eetkamer en kombuis loop ’n groot leefkamer met rusbanke en gemakstoele en ’n platskerm-televisie teen die muur. Nick wonder vir watse operasie die huis ingerig is.

      Links van die voordeur is ’n studeerkamer met ’n lessenaar en twee gemakstoele. Twee van die slaapkamers af in die gang het ook lessenaars in, met ’n enkelbed-divan teen die muur. Daar is ’n badkamer in die gang en aan die punt van die gang is wat blyk die hoofslaapkamer te wees. Daar staan ’n koninggrootte bed in die middel van die vertrek met twee bedkassies weerskante. Dit lyk of die inwoners die plek net so gelos het.

      In die agterplaas is ’n grasperk, ’n swembad en ’n groot plataanboom waarvan die blare al verkleur het – en ’n klomp lê op die grasperk en in die swembad.

      Hulle stap terug na die studeerkamer en gaan sit oorkant mekaar by die lessenaar.

      “Ons het nie genoeg mense nie.”

      Clive knik. “Ons almal weet dit, maar dis al wat ons gaan kry. Eerstens omdat daar werklik nie meer is om te spaar nie en tweedens omdat ons nie voor die voet mense wil betrek nie. Hierdie is mense wat ons en Ahmed persoonlik gekies het.”

      Hulle begin oor die begrotingsdokument praat en na ’n paar minute is Nick bly hy het na Barnard toe gegaan. Hy ken sy storie en weet presies wat hulle moontlik nodig kan hê.

      Hy het lanklaas so nou saam met ’n span mense gewerk. Dit gaan ’n aanpassing wees.

      Hoofstuk 10

      Dis skemer toe Ellie voor Melissa-hulle se huis stilhou. Sy het gewik en weeg of sy hier sal stop, maar vandat sy vir Clive en Albert gesien het, verlang sy na bekendes. Iemand wat haar dalk beter ken as wat sy haarself ken.

      Na twintig jaar se vriendskap is daar nie meer geheime tussen haar en Melissa nie. Hulle spot dikwels dat hulle nie kan bekostig om kwaaivriende te word nie. Hulle weet net té veel van mekaar. Die feit dat Melissa ook ’n sielkundige is, is soms ’n voordeel, maar soms ook ’n nadeel. Daar was al tye dat Ellie gewens het sy kan dinge probeer wegsteek. Tot dusver kon sy dit egter nog nooit regkry nie.

      Melissa maak die deur oop. Staan terug en frons. “Ek het klaar al ons ou klere vir die welsyn gegee en die brood is op.”

      “Ek sal ’n kind ook vat.”

      “Daarmee kan ek dalk help. Maar net as jy twee vat.” Melissa sluit die veiligheidshek oop. Steek haar arms uit en druk Ellie teen haar vas. “Ek weet nie waarom ek jou groet nie. Ek is so moerig vir jou. Wat de hel het van jou geword? Ek het weke laas van jou gehoor.”

      “Jy moenie so bekommerd oor my wees nie. Ek is soos ’n kakkerlak. Almal sal al weg wees, dan sal ek nog hier êrens rondsluip.”

      Melissa kyk na die motorfiets voor die deur. “Ek sal liewer nie vra nie.”

      Hulle stap die huis in. Van êrens af hoor Ellie gille.

      “Dis die pa se beurt om hulle te bad. Teen hierdie tyd is hy en die badkamer natter as hulle, maar dit gee my die kans om darem een glas wyn in vrede te drink.” Sy tel die bottel op wat op die kombuistoonbank staan, haal nog ’n glas uit die kas en skink dit vol. “Kom ons gaan sit in die sitkamer. Dis die laaste plek waar hulle my sal kom soek.”

      Toe hulle oorkant mekaar sit, lig Melissa haar glas. “Ek weet nie waarop ons kan drink nie, maar cheers.”

      “Hoe gaan dit met julle?”

      Sy waai met haar hand. “Soos dit in die suburbs kan gaan. Vertel eerder wat maak jy hier? Is jy terug?”

Скачать книгу