Satyn Omnibus 6. Ettie Bierman
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Satyn Omnibus 6 - Ettie Bierman страница 16
Henning grinnik. “Ek sal my bes doen, maar hou daardie pienk bikini van jou reg vir ingeval.”
Tess trek groot oë. “Is daar nie haaie nie?”
“Net van die tweebeen-soort.” Sy bloos en lyk skuldig toe sy uiteindelik van Arabel onthou. “Vreemdeling! Skies, jou nie gesien nie … Hoesit met jou?”
Staan reg langs haar, maar haar nie gesien nie? Omdat sy net vir Henning oë het … Arabel loop nie oor van vriendelikheid nie, nie teenoor een van die twee nie. “Uitstekend, dankie.”
Tess kyk takserend na haar. “Jy klínk nie uitstekend nie … Wat is dit? Weer maagpyn?”
“Ja, dieselfde ding wat my nog steeds ’n pyn gee,” antwoord Arabel met ’n soet glimlag. “Het jy onthou om jou tas buite te sit, Tessie?”
“O heng, nee!” Tess druk haar pet vas en draf terug in die gang na haar kamer.
Arabel kyk na Henning. Sy is lus en druk die paar platforms in sy keel af. Pienk bikini en tweebeenhaaie … Skaars van een ontslae, en hy vry al weer na ’n ander meisie.
Henning is baie bedees. “Ek is jammer om te hoor jy het weer ’n pyn.”
“Ja, en jy weet wat sy naam is!”
Sy gryp die sandale by hom, draai om en klap die deur toe. Sy is kwaad en seergemaak, sonder dat sy weet hoekom. Wat gee sy om as dit vir Henning net ’n speletjie is, die hele episode op die strand net ’n flirtasie?
Wat was sy verduideliking? Kop verloor. Sommer net ons hormone, sommer net uit gewoonte …
“Vlieg maan toe, Henning Reynecke!” roep sy uit. “Ek is nie verleë oor jou nie; was dit nog nooit nie.”
Sý is immers die een wat uitgestap het uit die huwelik. Hy hoef nie van die pille en die trap in die donker te weet nie. Attie Strydom het haar ’n guns gedoen toe hy gesê het dit gaan voor die wind met haar, sy swot, gaan aan met haar lewe en is gelukkig. Net jammer Attie het nie bygelas van rye kêrels wat toustaan om haar uit te neem nie. Maar dis nooit te laat om iets daaraan te doen nie. As Henning sy flikkers vir Tess kan gooi, kan sy dieselfde doen. Jaco is ’n goeie kandidaat, al dooi hy oor haaivinne. Dis makliker om ’n man dít af te leer as om hom broccoli en spinasie te laat eet.
Sy gooi die sandale in die snippermandjie, saam met haar drome van romantiese lewensredders en vegvlieëniers. Die wulpse Franse kamermeisie kan al drie maar erf. Brigitte is in elk geval meer Henning se styl as sy preutse eks.
In die bus sit Tess langs Arabel. Sy vertel van die snorkeluitstappie wat toe eintlik flou was, want Henning – die een wat aanvanklik die duikery voorgestel het – het toe nie opgedaag nie. Sy wag tot die raserige enjin dreun, sodat hulle privaatheid het. “Wat het hy met jou sandale gemaak?” wil sy nuuskierig weet.
“Ek het hulle op die strand vergeet en hy het hulle vir my gebring.”
“Was julle saam stránd toe? Ek dag jy hou nie van hom nie?”
“Ek hou steeds nie van hom nie. Hy is arrogant, met net een ding op sy brein.”
Tess lyk geïnteresseerd. “Watse ding?”
Arabel kyk deur die venster na die visserskuite. “Jy wil liewer nie weet nie …”
“Hoe weet jý?”
“Jy kan mos sien hy is ’n rokjagter. Dink al wat meisie is, val oor haar voete vir hom. Jaco is ’n beter proposisie; ten minste eerbaar en ordentlik.”
“Jaco?” Tess trek haar neus op. “Hoe vervelig … Wie wil nou ’n eerbare en ordentlike kêrel hê?”
“Ek.”
“So, jy het na my preek geluister? Dis goeie nuus. Enig-iets is beter as ’n bus met ’n pap wiel, selfs Jaco. Klim uit jou dop, Bella-bel, en gee die hunks ’n kans. Jy sal vind dis lekkerder as boeklees.”
“Dalk doen ek dit.”
“Saam met wie?”
Arabel kyk fronsend na haar. “Wat bedoel jy?”
“Ek bedoel saam met watter hunk wil jy uit jou dop klim?” Sy aarsel en hou Arabel onderlangs dop. “Dalk ons … kaptein?”
Arabel snork verontwaardig. “Seblief …! Ek het mos gesê ek sal nie met ’n tang aan hom raak nie.”
“Wou maar net dubbel seker maak … Die man gee my hartkloppings, maar ek wil nie in jou slaai krap nie.”
“Al wat hy in my slaai is, is die wurm op die komkommer.”
By die lughawe swaai Tess haar handsak oor haar skouer, neem haar kajuitsak en stap saam met Arabel deur doeane. Sy kyk nadenkend op. “Jy het Henning Reynecke voorheen geken.”
Dis nie ’n vraag nie, eerder ’n stelling. “Ja,” erken Arabel.
“Dis hoe jy geweet het hy kom van Stellenbosch af en is allergies vir jasmyn.”
“Dom van my gewees …”
“Was daar iets tussen julle?”
Dit help nie sy ontken dit nie. Arabel knik kortaf en bekyk die passasierslys: 304, onder meer ’n jeugkoor, ’n Japanse afvaardiging, drie vegetariërs wat spesiale kos bestel het en ’n draagbaargeval. Niks buitengewoons nie.
“’n Verhouding wat gesink het?” raai Tess.
“Soos ’n stuk lood.”
“Daarom dat jy hom al sedert Johannesburg vermy?”
“Ek probeer. As jy slim is, sal jy dieselfde doen. Hy is ’n losbol, Tess. ’n Hartebreker en ’n kansvatter. Hy speel met meisies se gevoelens, en ek wil nie hê jy moet seerkry nie.”
“Soos jy?”
Arabel antwoord nie.
“Hoe lank het julle verhouding gehou?”
Arabel wens Tess wil ophou uitvra. Sy bestudeer haar kroegstate sodat sy ’n verskoning het om haar nie in die oë te kyk nie. “Dis so lank terug, ek kan nie eens meer onthou nie.”
“Kán nie onthou nie of wíl nie onthou nie?”
“Wil nie,” antwoord Arabel kortaf. “En hou hierdie inligting asseblief vir jouself.”
“Natuurlik.” Tess knik nadenkend. “Het hy die snorkelduik gelos om jou te gaan soek?”
“Ek weet nie. Ek het hom net op die strand gekry, ek weet nie of hy my spesiaal gaan soek het nie.”
“En toe hy jou gekry het, was julle ure lank weg.”
“Jy’s nes ’n foksterriër, Tessie. Ek erken ek het eens op ’n tyd ’n gevoel vir Henning Reynecke gehad. Erger as net hartkloppings.