Satyn Omnibus 6. Ettie Bierman
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Satyn Omnibus 6 - Ettie Bierman страница 14
“Ek weet. Ek het met haar kontak gehou.”
Hy knik. “Sy het my gesê. Sy is nog steeds lief vir jou.”
Liewer as wat haar seun vir my is, voeg Arabel in haar gedagtes by. Dis die hartseer daarvan … Ma Bettie het destyds gereeld kom kuier, haar geleer stryk en hoe om haar bedorwe seun se fiemies te omseil. Kamoefleer die broccoli met gerasperde kaas en gooi mayonnaise by die spinasie …
Maar ná die skeisaak was dit asof hulle katvoet om mekaar geloop het, omdat hulle verdeelde lojaliteite gehad het en bang was om kant te kies. Die tragedie van ’n egskeiding … vriende en familie is ongemaklik met die situasie. Die maklikste is om die probleem te vermy; liewer te sms as te bel, liewer ’n e-pos as ’n kuier.
’n Geskeide vrou is persona non grata. Almal is bang jy is uitgehonger en vry hulle mans af. Die gevolg is dat jy alleen tuis sit, ten beste dalk vir tee genooi word as die mans by die werk is, of vir ’n kombuistee of ooievaarspartytjie. Jy leer gou om te sê jammer, jy’s vreeslik besig – jy moet jou selfoon laai, ’n virus-check op jou rekenaar doen of jou potplante natgooi. Ná ’n ruk raak hul gewetes afgestomp en droog selfs die sms’e op.
“Ek en Attie het ook nog kontak,” sê Henning. “Hy sê jy het Boetie gehou. Ek dag jy het hom lankal op die skrootwerf gegooi.”
“’n Mens gooi nie ’n MG weg nie.”
“Het hy jou nie baie kopsere gegee nie?”
“Nie meer as jy nie,” antwoord Arabel reguit. Besef hy hoe verlore sy was en hoe die verlange in haar binneste geknaag het? Dit was makliker vir hom: hy het ’n nuwe lewe in ’n nuwe omgewing begin, terwyl sy alleen agtergebly het tussen die herinneringe, die skerwe en die eggo’s. Party van die CD’s en foto’s kon sy nie na kyk nie en lê nou nog in ’n boks bo in ’n kas.
Daar was ’n hemp, groen-en-wit gestreep, wat Henning die dag tevore nog aangehad het en in die wasgoedmandjie vergeet het. Snags as sy nie kon slaap nie, het sy die hemp in ’n bondel teen haar vasgehou, haar gesig daarteen gedruk, oor die materiaal gevryf en daaraan geruik. Só gehuil dat sy by die agterdeur uitgevlug het en buite in die donker op die trap gaan sit het. Een nag sommer ’n bottel slaappille wou drink; sover gegaan om die eerste handvol af te sluk en toe vir haarself geskrik – haar vinger in haar keel gedruk en die res in die toilet afgespoel …
Het hy ook soms alleen in die donker op ’n trap gesit? As hy het, hoekom het hy nie net die foon opgetel nie? Net gevra of sy regkom nie? Sy sou op haar knieë gepleit het hy moet terugkom. Die dag van hul huweliksherdenking het sy oortyd gewerk omdat sy bang was om alleen te wees. En omdat sy die geld nodig gehad het. Henning het oplaas al die rekeninge betaal en onderhoud aangebied, wat sy te trots was om te aanvaar. Maar sy was onprakties en het nie besef hoe duur die lewe is nie.
“Ek is jammer,” sê hy.
Sy kyk hom stil aan. Waaroor? Omdat hy ooit met haar getrou het? Of omdat hy nie al vroeër geloop het nie?
“Oor die kopsere.” Hy vee ’n nat haarstring van haar voorkop af. Hy aarsel; dit lyk of hy iets anders wou sê, maar van plan verander. “Noudat ek terug is, sal ek na Boetie omsien.”
Sy draai haar kop weg. “Jy hoef nie. Ek het ’n goeie werktuigkundige.”
“Ek verstaan die MG se nukke en grille.” Sy oë is onleesbaar toe hy sy vinger onder haar ken sit, haar kop terugdraai en die res van haar nat hare uit haar oë vee. “Soos ek destyds jou nukke en grille ook beter moes verstaan het.”
Dié erkenning vang Arabel onkant. Is dit sy manier om ’n verskoning aan te bied? Te min, te laat, dink sy. Henning het stringe vorige nooiens gehad, terwyl dit haar eerste ernstige verhouding was. Hy moes van beter geweet het as om haar adolessente uitbarstings ernstig op te neem. Hy moes gebly het en die huwelik probeer red het. Tensy hy ook besef het hulle het te gou getrou, voordat hy gereed was vir die verantwoordelikhede van ’n vrou en huishouding. Die egskeiding was dalk vir hom ’n gerieflike uitkoms, dié dat hy nie gekibbel of die skeisaak betwis het nie.
Arabel is bly dis skemerdonker onder die skuit, sodat hy nie die seer in haar oë kan sien nie. “Jy het gesê ek is histeries. Paranoïes.”
“Neuroties,” korrigeer hy.
“Dis dieselfde ding!”
“Dit is nie. Neuroties is minder erg.”
“Wie gee om? Ons is nie nou besig met ’n taalles nie.”
“Ék gee om. En dit was ook nie histéries nie. As ek reg onthou, het ek een keer, toe jy my baie verkeerd opgevryf het, gesê jy is kinderagtig.”
“Asof jý so danig volwasse was!”
“Arabel,” sug hy. “Asseblief, kan ons nie net vir hierdie een gesprek vir mekaar ’n olyftakkie gee nie, sonder om te kyk wie die ronde kan wen?”
Sy byt haar onderlip. Ses jaar ouer, maar niks uit die verlede geleer nie.
Henning se stem is laag, sodat sy mooi moet luister. “Ek het nie gebel nie omdat ek verwag het jy gaan die foon neerplak.” Hy gooi klippies oor die branderskuim hier naby hulle – plat, sodat hulle wipwip-wip in die water verdwyn. Hy kon altyd sulke dinge doen en sy, wat nie broers het nie, was gefassineer daardeur.
“Ek het baie aan jou gedink en dan ’n brief begin, partykeer ’n hele skerm vol geskryf, maar in plaas van send die delete-knoppie gedruk en die rekenaar afgesit. Attie het vertel dit gaan goed met jou. Jy het die egskeiding verwerk, weer begin swot, jou diploma ge-cum en gaan skoolhou. Ek wou jou nie ontwrig en indring waar ek onwelkom is nie. Jý was die een wat wou skei, nie ek nie. Jy het gesê dis finaal, jy wil my nooit weer sien nie. Niks wat ek gesê of gedoen het, kon jou van plan laat verander nie. Hoe meer ek verduidelik het, hoe harder het jy gehuil. Só erg, ek was bang jy word siek en voer jou dreigement uit om van ’n toring af te spring. Ek het nie ’n keuse gehad nie. Vredesonthalwe moes ek jou besluit respekteer en jou laat gaan.”
Arabel wens sy het ook ’n uitlaatklep gehad van klippe gooi. Grotes. Rotse. Teen haar eie kop.
“Ek was in so ’n toestand, ek kan nie alles onthou nie. Watter toring?”
“Ek weet nie.”
“Die kerktoring was te ver en jy sou my soontoe moes neem, en die watertoring so laag, ek sou hoogstens my enkel verstuit het. Het ek nie gespesifiseer nie?”
“Nee.”
“Hoekom het jy nie gevra nie?”
“Ek was te bang. Jy was baie kwaad vir my.”
Arabel wou haar woorde lig hou, maar Henning is ernstig. Sy onthou hoe gestres hy in daardie stadium was, bleek en moeg en gedurig met hoofpyn. Hy het sy werk verloor, sy visie was in sy maai, hy kon nie op sy instrukteurshandboeke fokus nie en sy vrou wou hom verlaat. Geen wonder Berna het gesê sy is aaklig en sy skaam haar vir haar selfsugtige suster nie.
“Pleks dat jy my ’n opstopper en ’n paar klappe gegee het.”
Hy skud sy kop. “Al het dit hoe woes gegaan, sou ek nooit my hande vir jou gelig het nie. Jy weet dit.”
Sy draai op haar sy sodat sy Henning se gesig kan sien.