Satyn Omnibus 6. Ettie Bierman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Satyn Omnibus 6 - Ettie Bierman страница 10

Satyn Omnibus 6 - Ettie Bierman

Скачать книгу

onthou vaagweg dat die foon gelui het. Meer as een keer. Iemand het geklop ook, sy kan nie onthou hoe laat nie. Sy was siek en vol pille. Al wat sy wou doen, was omdraai en slaap, in haar kokon onder die komberse.

      “Ek was uit, ja,” beaam Arabel. Uit soos ’n kers … “Lekker aand gehad?”

      “Ja, dankie.”

      “Ek hoor die manne sê ons gaan by die koraalriwwe snorkel. Is jy seker jy wil nie saamkom nie?”

      Arabel kreun. “As ek nou moet gaan snorkel, gaan ek sink en verdrink.”

      “Rowwe aand gewees?” simpatiseer Madeleen.

      “Seker nie rowwer as julle s’n nie. Was dit ’n jolige partytjie?”

      “Jolig, ja. Gebraai, gedans en op die ou end almal in die swembad beland.”

      “Die kaptein ook?”

      “Dit was so warm, hy was eerste in. Sommer ingeduik – jeans, T-hemp en al. Hy is heel duidelik ’n topswemmer.”

      Dit voel natuurlik, amper vanselfsprekend om oor Henning te praat as sy naam ter sprake kom. Maar Arabel begin aan die situasie gewoond raak en trap nie weer in die strik deur te sê hy was ’n diepseeduiker en vakansietye ’n lewensredder nie.

      “Goed dan, sien jou een of ander tyd,” groet Madeleen.

      Arabel draai op haar rug en gooi haar arm oor haar oë. Haar hoofpyn is beter, maar nie weg nie. Een troos darem is dat Henning nie net vir Tess genooi het nie, maar die hele bemanning. Dis goed dat sy nie daar was nie, sy sou net weer ’n bloukous gewees het wat al die pret bederf. Swem is nie haar sterk punt nie. As dit was, was sy waarskynlik vandag beter daaraan toe, want dan het sy Henning Reynecke daardie dag nooit ontmoet nie en het haar lewe ’n ander wending geneem …

      Clifton was van kleins af haar gunstelingstrand tydens skoolvakansies. Maar toe was sy al ’n student op Stellenbosch. Tweede jaar onderwysdiploma. Sy was nie op Clifton om te swem nie, maar om in die son te lê, want die volgende naweek was jool. Sy was tweede prinses en wou bruingebrand wees vir die vlotoptog en jooldans die aand. Dit was ’n drukkend warm dag. Die wolke het laag gehang en daar was nie wind nie. Sy wou net vinnig gaan afkoel. Die see het so glad soos ’n dam gelê en sy het nie na die lewensredders se waarskuwing op die kennisgewingbord opgelet nie; nie geweet van die sterk teenstroom nie.

      Henning het haar agterna vir ’n aap uitgeskel en sy was woedend vir hom. Maar hy was reg. Sy het te diep ingegaan en was binne enkele minute in die moeilikheid, sonder dat sy dit besef het of die strandwag se fluitjie hoor blaas het.

      Eerste wat sy van die teenstroom bewus geraak het, was toe haar voete skielik nie meer grond geraak het nie. Pleks van kop te hou en te probeer dryf, het sy paniekbevange teen die stroom baklei. Gespartel. Moeg geraak en water gesluk. Die see was ysig koud en sy het krampe gekry. Die strand het al verder weggeraak en sy was angsbevange. Daar was geen ander swemmers naby om haar te help nie. Sy het geskree en haar arm probeer opsteek om te wys sy is in die moeilikheid, maar die stroom het haar meegesleur en sy kon nie bo bly nie, kon nie asem kry nie. In haar ore was ’n suising en om haar het alles donker geword. Sy het al minder gespartel en begin sink, ophou baklei en haarself willoos oorgegee aan die koue diepte onder haar …

      Hy het later vertel hoe hy met ’n reddingstou ingeswem en haar aan ’n voet beetgekry het, haar omgedop het sodat sy kon lug kry en haar met sy eie lyf drywend gehou het; hoe ’n lang gespook en geworstel dit gekos het om haar op die strand te kry. Sy kon niks daarvan onthou nie.

      Al waarvan sy duidelik bewus was, was die gespierde arms wat haar op die sand neergelê het en die sterk hande wat aanhoudend op haar ribbes en borskas gedruk het sodat sy kon asem kry. Die arms en die hande, en die warm, nat mond op hare … Dit het haar vinnig laat bykom. Sy het gehoes en gestik, haar oë oopgemaak en in die ongelooflikste paar deurskynende seegroen oë gekyk – die kleur van ’n brander net voor hy breek.

      Henning wou agterna nooit erken of dit mond-tot-mond-asemhaling was en of hy haar gesoen het nie. Hy het net gesê dit was nodig en terselfdertyd lekker, en gelag. Die mooiste, warmste lag. En die sexyste man wat sy al ooit in haar negentien jaar gesien het. Sy sou van voor af die branders aangedurf het, net om weer sy arms om haar te voel …

      Maar toe het hy alles bederf deur haar taamlik hardhandig op haar maag te draai sodat onwelriekende strome soutwater deur haar neus en keel uitgestroom het. En kwaai met haar geraas: “Is jy ’n aap of ’n bobbejaan? Hoekom dink jy was daar nie ander baaiers in die water nie? Het jy nie jou oë oopgemaak en gekyk nie? Ek het duidelik in groot letters op die bord geskryf: SEETOESTANDE: GEVAARLIK. STERK TEENSTROOM. Maar nogtans het jy ingegaan. Diép in! Terwyl jy heel duidelik nie twee treë kan swem nie … Domastrant en stiksiende! Jy kon verdrink het, meisiekind, besef jy dit?”

      Sy het aan skok gely en was skaam vir die kring nuuskieriges wat haar aangestaar het. Al was dit warm, het sy kouekoors gehad, en sy was oorbewus van die skrapse bikini wat sy aangehad het. Nog ’n klomp seewater het uitgekom. Sy het miserabel gevoel en begin huil.

      Miskien as Henning aanhou raas het, het sy hom afgeskryf as ’n ongeskikte buffel en ’n spierpaleis sonder ’n brein. Maar hy het langs haar gehurk en haar gesig skoongevee, ’n handdoek vir haar gehou sodat sy haar neus kon blaas.

      Sy wou nie, sy was te skaam. “Nee, blaas gerus,” het hy herhaal. “Ek is gewoond daaraan. Jy sal beter voel as jou neus oop is en jy behoorlik kan asemhaal.”

      Sy groot hande het toe al geweet om koesterend en teer te wees. Hy het nog ’n handdoek gebring en dit knus om haar lyf gevou. Toe het hy met sy duim oor haar wang gestreel, haar opgetel en na sy motor gedra. ’n Rooi MG-sportmodel met ’n afslaandak. Hy het haar in die passasiersitplek gelaai, teruggegaan om haar klere en strandsak te kry en haar huis toe geneem.

      Haar pa en ma was nie tuis nie. Henning het haar ewe bekwaam in die bed gesit en selfs vir haar warm pajamas aangetrek. Hoe, weet sy nie, en sy het liewer ook nie gevra nie. Maar daar was niks onbehoorliks nie, hy was te ordentlik.

      Hy het die duvet oor haar gegooi en vir haar soet tee gaan maak vir die skok. Toe het hy op die kant van die bed kom sit en haar hand vasgehou.

      “Ek het nie met jou baklei omdat ek dit geniet om mooi meisies te boelie nie, maar omdat ek vir jou omgee.” Hy het gegrinnik. “Buitendien, die Chinese sê as jy iemand se lewe gered het, behoort daardie persoon lewenslank aan jou, anders versteur jy die ritme van die lewe.”

      Sy het nie geweet hoe om te reageer nie en maar net gebloos. Henning het nog omtrent ’n uur gesels. Oor Langebaan, Impalas, Rooi Arende, ver plekke en drome … totdat haar ma gekom het.

      Dit was liefde met die eerste oogopslag, van albei kante. Arabel het hom die week daarna jooldans toe gevat om te spog en haar vriendinne jaloers te maak. Sy was steeds kwaad oor die beledigings, en skaamkwaad oor die neusblasery, maar sy kon nie ontken dat dit heerlik was om weer in sy arms te wees nie. En hy het selfs mooier in ’n donker pak klere gelyk as in ’n Speedo. ’n Rock-orkes het gespeel, maar Henning het verkies om styf teen haar te dans, met albei arms om haar lyf en haar kop teen sy skouer. Sy mond was meesal teen haar wang gedruk, maar driekwart deur die aand het hy dit teen haar oor gedruk om hoorbaar te wees bokant die lawaai van tromme en akoestiese kitare.

      “Trou met my?” het hy geskree.

      Sy kon niks uitmaak nie. “Wát?”

      “… trou?”

      “Met

Скачать книгу