Satyn Omnibus 6. Ettie Bierman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Satyn Omnibus 6 - Ettie Bierman страница 9

Satyn Omnibus 6 - Ettie Bierman

Скачать книгу

nie, want ons reëls is anders as dié waaraan hy gewoond was. Hy het baie mooi verskoning gevra vir die misverstand en my vir sjampanje en ’n visbraai genooi vanaand op Mauritius, om sy eerste vlug by Jakaranda te vier.”

      Hoe romanties, dink Arabel. Hy het nooit vir háár sjampanje gekoop nie. Daar was nooit geld of tyd nie. Afgesien van die flirtasie met Tess het hy nie verander nie. Steeds die puntenerige perfeksionis wat haar ’n pyn gegee het. Negehonderd en tien is negehonderd en tien, op die kop. Tot op die laaste millimeter. Sy kan maar haar horlosie stel: die wiele sal presies negentien minute oor nege op Plaisance grond raak. Sy ervaar skielik dieselfde gevoel van ontoereikendheid as vroeër. Dieselfde gevoel van minderwaardigheid en kloustrofobie, toe sy tot elke prys wou uitkom. Padgee. Wegvlug …

      “Het hy oor my gevra?” vra sy.

      “Nee.”

      Dit beteken niks. Henning het seker ’n bemanningslys, of hy kan vir Jaco vra. Dis te sê as hy genoeg belangstel om sy eks se nooiensvan te onthou.

      “Jy is welkom om saam met ons ’n glasie te klink,” bied Tess aan.

      “Nee, dankie,” antwoord Arabel koel. “Ek wil nie derdemannetjie speel nie.” Sy weet sy is kleinlik, maar kan haarself nie keer nie. Te veel het gebeur en sy is oorspanne, met die hoofpyn wat al erger word.

      Die boordingenieur het vooraf gewaarsku as die wolke soos geil blomkoolkoppe lyk, kan vlug 636 donderweer verwag. Hulle het nie tyd gemors met die etebediening en dokumentasie nie. ’n Halfuur voor landing is hulle werk klaar, die kombuis opgeruim en Arabel besig om in die BBP-sitkamer met die Chinese attaché te gesels. Hy vertel haar van die Chu Chiang-rivier, wat “pêrel” beteken, toe die stuurkajuit se deur oopgaan.

      Dis hulle bevelvoerder. In volle uniform, met sy pet so effe skuins oor die linkerwenkbrou afgetrek, net soos op Langebaan. Behalwe dat die uniform donkerpers is pleks van die destydse grysblou. Hy is groter – langer, en sy skouers breër as wat Arabel hom onthou. Hartstogtelik aantreklik, met nog steeds die vermoë om haar hart te laat sweef, doer ver oor die reënboog. Sy mompel ’n vinnige verskoning en vlug by die toilet in voor Henning haar sien.

      Binne bly sy roerloos teen die dun paneeldeur staan en verbeel haar sy kan sy naskeermiddel ruik.

      ’n Effe soet speserygeur … Sy kruis haar arms voor haar bors, skielik bang hy hoor haar asemhaling en wilde hartkloppings.

      Hy en meneer Hong Lee praat Engels. Sy kan nie uitmaak waaroor nie, maar sy kan wel Henning se Australiese aksent hoor. “Strine”, noem hulle dit, want dis hoe hulle “Australian” uitspreek. Tot dusver was hy gerusstellend bekend, amper soos vroeër. Maar die nuwe aksent het ’n vreemde uitwerking op haar. Dit bring met ’n skok die besef terug dat sy en Henning uitmekaar is, dat hy ’n vreemdeling geword het wat lank reeds nie meer aan haar behoort nie. Hy kan flankeer met wie hy wil. As hy by ’n meisie wil aanlê en vir haar sjampanje koop, het dit niks met haar, Arabel, te doen nie.

      Miskien moet sy Henning se voorbeeld volg en minder terugkrabbel na die verlede, dink sy. Miskien vir haar ook ’n kêrel aanskaf, al is dit net om haar eks te wys sy is nie oor hom verleë nie.

      Ná ’n ruk raak sy moeg gesit op die toiletbak se deksel. Volgens die klank van die motore en te oordeel na die drukking teen haar oortromme het hulle begin daal. Sy moet die kleedkamers opruim en die kroeg sluit. Maar sy kan nie uitkom terwyl Henning in die sitkamer rondluier nie. Sy druk weer haar oor teen die deur. Die stemme is steeds hoorbaar. Sy kan nie verstaan hoekom Henning nie in die stuurkajuit is nie. Hy sal tog sekerlik nie die daling aan Jaco oorlaat nie. Wag hy vir haar? Is dit toevallig, of is hy besig met ’n speletjie om haar te toets?

      Arabel vererg haar. Verbrands kinderagtig! Geen wonder sy het hom toentertyd gelos nie. Sy het al vergeet hoe koppig hy kan wees. As sy die dag ooit weer trou, gaan sy nie voor ’n lyf en ’n warm, sexy mond swig nie. Die man moet liewer so lelik soos die nag wees, dan weet sy immers hy het ’n mooi innerlike.

      Sy tel tot by vyftig, dan maak sy die deur op ’n skrefie oop en loer uit. Henning is weg en meneer Hong Lee sit rustig en lees. Sy sluip op haar tone agter hom verby en af met die trap, na die veiligheid van die onderste vlak.

      Wat ook al die kompetisie was: hierdie ronde het sý gewen.

      Toe sy gaan sit vir die landing, kom sit Madeleen langs haar.

      “Phil se rekenaar voorspel swaar reën môremiddag,” merk Madeleen op. “Maar die oggend gaan sonskyn wees. Lus om strand toe te gaan en nog ’n paar sproete te brand?”

      “Klink lekker. Ek weet nie hoe loop my program nie. Ek sal jou bel, vroeg môreoggend.”

      Madeleen weet Arabel doen gewoonlik haar eie ding. Sy wil graag hê dat hulle vriende moet wees, maar sy wil haar nie opdring nie. “Als reg. Sien jou as ek jou sien.”

      Van Plaisance-lughawe na die Malagache Hotel is ’n halfuur se ry met die bus vir die bemanning, al langs die kus met sy koraalriwwe, tussen die suikerrietlande deur. Dis ’n vrolike rit wat Arabel gewoonlik geniet. Vanaand verduidelik sy egter aan die busbestuurder dat sy haastig is: vriende van haar het onverwags opgedaag en wag by die hotel. Sy sal sommer ’n taxi neem, dis vinniger as die bus.

      Vinnig genoeg dat sy al haar tas en sleutel sou kon kry en veilig in haar kamer is teen die tyd dat die res van die bemanning daar aankom … Arabel ontleed nie haar irrasionele optrede nie, want sy het nie antwoorde op die woelende vrae in haar gemoed nie.

      Is sy bang vir Henning, daarom dat sy weghardloop? Of bang vir haarself? Gaan sy môre heeldag in haar kamer wegkruip en môrenag die helfte van die vlug op die toiletdeksel deurbring?

      Sou sy saamgegaan het as hy haar ook vir sjampanje genooi het? vra sy haarself af. Dalk net so ’n rukkie gesels het, heel beskaaf, oor dit en dat, sonder om ’n groot storie daarvan te maak? Dit sou miskien die ys gebreek het en hul verhouding vorentoe vergemaklik het. Een of ander tyd sal haar kop by haar hart moet oorneem sodat sy kan ophou weghardloop, gaan stilstaan en hom in die gesig kyk.

      Die kans is goed dat hy weet sy is op die vlug. Hy is nie onnosel nie, en as bevelvoerder is dit sy werk om te weet wat op die vliegtuig aangaan. Al is hy haar eks, is hy nogtans haar bevelvoerder en, streng gesproke, haar baas. Sy moet hom seker darem net groet. Nie om die hals val nie, minstens net beleef wees en vra hoe dit gaan.

      Dis môre se probleem, besluit sy terwyl sy in die rammelkas-taxi met die seildakkie klim. Vanaand wil sy in ’n warm bad lê met baie badskuim, haar oë toemaak en die wêreld om haar uitsluit. Dan in die bed kruip en soos ’n volstruis die kombers oor haar kop trek.

      4

      Toe Arabel die volgende oggend wakker skrik, voel sy suf. Dit duur ’n rukkie om te onthou waar sy is, en voor sy besef dis die telefoon wat haar wakker gelui het. Sy kyk op haar horlosie. Amper halfnege. Sy het gisteraand ’n slaappil gedrink en was uit soos ’n kers.

      Dis Madeleen wat bel. ’n Groep van hulle gaan af strand toe, wil sy saamgaan?

      “Ek het ongelukkig ’n ander afspraak,” skerm Arabel.

      “Ja, die busbestuurder het gisteraand genoem jy het vriende wat by die hotel vir jou wag.”

      Nóg leuens … Of kan hoteljoggies as vriende gereken word? Sy gesels altyd met hulle en oefen haar Frans. “Dis reg,” antwoord Arabel.

      “Was jy saam met hulle uit? Ons het jou gebel,

Скачать книгу