Ettie Bierman Keur 12. Ettie Bierman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ettie Bierman Keur 12 - Ettie Bierman страница 4

Ettie Bierman Keur 12 - Ettie Bierman

Скачать книгу

hier is nog van jou goed!” roep sy, en die pyp en tabak en vuurhoutjies trek ook deur die lug.

      Mynie het dit nie so bedoel nie. Sy het nie eens gemik om Heinz raak te gooi nie. Al wat sy wou doen, was om niks in die woonstel te laat agterbly nie, geeneen van sy besittings wat haar gedurig aan Heinz du Preez sou herinner nie. Sy het nie bedoel dat die pyp fyn en flenters moes breek nie. Sy weet hoe geheg Heinz aan daardie kromsteelpyp was … Toe hy buk om die stukkies van die sypaadjie af op te tel, is dit meer as wat Mynie kan verduur. Sy gaan val op die bank neer en begin huil asof haar hart ook in stukke gebreek is.

      2

      Tot die volgende Vrydagaand, tot selfs laat Saterdagmiddag, het Mynie bly hoop Heinz kom dalk terug. Maar toe dit naderhand sewe-uur word, en later agtuur en nege-uur, weet sy haar en Heinz se paadjies het uiteen geloop. Sy is vies vir haarself. Hier sit sy, uitgedos in ’n nuwe rok – blou, omdat dit Heinz se geliefkoosde kleur is – haar hare gewas en los oor haar skouers en met reukwater wat elke halfuur agter haar ore en op ’n fyn kantsakdoekie gespuit word, en dis alles pure verniet. Heinz sal nie kom nie. Sy verneder haar net deur te bly hoop.

      Op hierdie oomblik kuier hy seker by Annette, haar arms weer in ’n seekatgreep om sy nek, sy hand strelend oor haar hare, terwyl hy haar vertel hoe lief hy haar het. Hy vertel seker nou vir háár dat sy die antwoord op sy drome is, die enigste meisie wat hy ooit sal liefhê. En hulle lag seker lekker oor arme ou Mynie wat so dikvellig is dat sy nie lankal reeds agtergekom het Heinz probeer van haar ontslae raak nie. Hulle sê seker dankie vir daardie onbekende nuusdraer wat vir Mynie vertel het dat hy ’n ander nooi het, sodat hy uiteindelik van die lastige Mynie Cronjé ontslae is …

      “Ek gee nie om nie!” sê Mynie hardop.

      Dis net ’n hol eggo deur die leë woonstel wat haar nie beter laat voel nie.

      “Ek gee nie om dat hulle vir my lag of my dalk bejammer nie,” herhaal sy.

      Al uitwerking wat haar valse bravade op Mynie het, is om opnuut ’n knop in haar keel en trane in haar oë te bring. Jammerte is die allerlaaste ding wat sy van Heinz wil hê, en niemand hou daarvan dat ander vir jou lag nie.

      Mynie is ’n kunsonderwyseres en haar gangkas is vol tekenboeke, potlode, verf, kwaste en kryt. Sy soek ’n lang stuk vetkryt uit, stap na die gangmuur en skryf met groot, swart hoofletters daarop: EK HAAT HEINZ DU PREEZ! Dan voeg sy as nagedagte by: EN DAARDIE WITKOP!

      Dít laat Mynie beter voel. Sy gaan maak vir haar ’n pot tee en ná drie koppies voel sy sterk genoeg om oënskynlik kalm en tevrede in die sitkamer met ’n tydskrif te gaan sit. Die advertensies en artikels boei haar nie. Een van die kortverhale lyk of dit interessant kan wees, maar nadat sy die eerste paar paragrawe gelees het, blaai Mynie eers na die einde. Ja, dis soos sy gevrees het … Die held en heldin vind mekaar en leef lank en gelukkig saam tot in alle ewigheid. Mynie gooi die tydskrif eenkant toe. Sy vee die trane uit haar oë en gaan haal vir haar nog ’n koppie tee. Sal alles haar dan altyd aan haar eie ongeluk en eensaamheid herinner?

      Toe sy weer in die leunstoel gaan sit, sien Mynie die tydskrif voor haar voete op die mat lê. Sy sien ook by watter rubriek dit oopgeval het.

      “Nee, so desperaat is ek darem nog nie,” sê sy. Dan skrik sy. Hoe het hulle gesê? Die eerste teken van neurose is wanneer ’n mens hardop met jouself begin praat.

      “Ek is nie neuroties …” Mynie bly stil en stap ’n draai deur die stil woonstel, asof sy vasgekeer voel. Maar selfs toe sy met die gang langs terugkom, voel sy nie beter nie.

      Sy gaan sit by die telefoontafeltjie, op soek na iemand om mee te gesels. Maar eers by die tiende lui onthou sy dat Elma mos saam met ’n groep vriende Durban toe is vir die naweek. ’n Ander meisie wat saam met haar skoolhou, is ook nie tuis nie. ’n Paar tennisvriende en ander kennisse is ook uit. Wat het sy verwag? Dat almal, net soos sy, met Jan Tuisbly se karretjie ry? En dit op ’n Saterdagaand?

      Mynie blaai deur haar telefoonboekie. Daar is baie name in, maar dis vriende met wie sy in twee jaar glad nie in verbinding was nie. Hulle sal dalk nie eens meer weet wie dit is as sy sê dis Mynie wat praat nie. “Mynie wie?” sal hulle vra. En sy sal ook nie eintlik weet waaroor om te gesels nie. ’n Mens bel in elk geval nie uit die bloute – nadat jy twee jaar lank amper van die bestaan van die persoon vergeet het – en huil op sy of haar skouer en sê jou kêrel het jou nie meer lief nie en hy het ’n ander nooi en dis Saterdagaand en jy is alleen en jy voel eensaam en neuroties nie. ’n Mens doen net nie so iets nie …

      Toe Mynie by die derde laaste bladsy van die boekie kom, aarsel sy. Johan Willemse … ’n Ou studentekêrel van haar wat een aand onder die wilgerboom gesê het hy sal nooit ophou om haar lief te hê nie. Hy sal vir haar wag – in die hoop dat sy eendag na hom toe sal terugkom …

      Het arme Johan daardie aand gevoel soos sý vanaand voel? wonder Mynie. Sy voel soos ’n skurk omdat sy so wreed was. Johan was ’n oulike ou. Nie so aantreklik soos Heinz nie, maar baie meer opreg en met meer getrouheid in sy pinkie as wat Heinz in sy hele lyf het. Hoekom het sy die standvastige Johan vir ’n losbol en ’n laventelhaan verruil? Hy is tien van Heinz du Preez se soort werd. En hy hét belowe om vir haar te wag.

      Mynie se hart bons in haar keel toe sy die nommer skakel. Dalk het Johan getrek. Dalk woon hy nie meer in dieselfde huis nie.

      Dis ’n vrouestem wat antwoord.

      “E … Wie praat?” huiwer Mynie.

      “Mevrou Willemse.”

      “Johan se … ma?”

      “Johan se vróú. Wie is dit wat hom soek?”

      “Jammer, verkeerde nommer,” sê Mynie haastig. Net voordat sy die gehoorstuk neersit, hoor sy in die agtergrond ’n babatjie huil.

      So, dis die waarde wat mens aan ’n belofte kan heg wat twee en ’n kwart jaar gelede onder ’n wilgerboom in ou Potchefstroom gemaak is.

      Dis haar verdiende loon, dink Mynie met ’n onderstebo glimlaggie. Dis omdat sy arme Johan destyds so wreed behandel het en ook omdat sy vanaand so voorbarig was. Van kleins af het haar ma haar geleer dat ’n welopgevoede meisie nie ’n man bel nie. Sy wag tot hy met haar in verbinding tree. ’n Ordentlike meisie hardloop nie agter ’n man aan nie.

      Al rede hoekom Johan Willemse haar sou skakel, dink Mynie wrang, sou wees om te vra of sy nie peetma vir sy jongste spruit wil wees nie. ’n Verspotte liedjie maal meteens deur haar gedagtes: Almal het maats, net ekke nie …

      Mynie gaan sit weer in die leunstoel en tel weer die tydskrif op. Sy is versigtig om nie na die bladsy te kyk waar dit netnou per ongeluk oopgeval het nie. Sy soek na ’n storie met ’n ongelukkige einde, waar die held doodgaan of waar die heldin ’n liefdesteleurstelling gehad het en besluit om ’n non of ’n kluisenaar te word. Profiel se redakteur is egter óf mensliewend óf hy glo nog aan feetjies, kaboutertjies en sprokiesverhale. Die arme tydskrif beland hierdie keer op Mynie se paar skoene wat sy netnou uitgeskop en op die vloer voor die radio laat lê het.

      Sy dink nie daaraan dat dit logies is dat die bladsye weer sal oopval waar dit in die middel met twee draadjies vasgekram is nie. Sy is ook nie bygelowig nie, maar sy wonder nogtans of dit nie dalk ’n teken is nie, of daar nie dalk ’n doel is waarom die ellendige tydskrif elke keer by die rubriek vir penmaats oopval nie …

      Half teen haar sin lees sy ’n paar van die advertensies.

      Aalwyn

Скачать книгу