Ettie Bierman Keur 12. Ettie Bierman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ettie Bierman Keur 12 - Ettie Bierman страница 8

Ettie Bierman Keur 12 - Ettie Bierman

Скачать книгу

en dat Annette die telefoon beantwoord? Ja, besluit Mynie, Heinz du Preez is gemeen genoeg om so iets te doen. Daardie kastige viesheid dat hý die oproep wou neem en dat hy Annette gewaarsku het die oproep sal vir hóm wees, was niks anders as toneelspel nie. Nie tevrede daarmee dat Mynie slegs ’n buitestander se woord daarvoor het nie, wou Heinz dat Mynie self uitvind Annette Basson is alleen by hom in sy woonstel sodat dit haar van die bestaan van ’n ander nooi kan oortuig. Asof sy nog getwyfel het!

      Mynie storm die gang af, soek die stuk vetkryt, voeg nóg ’n uitroepteken teen die muur by en onderstreep die woordjie haat met ’n dik swart streep. Toe gaan bad sy, klim in die bed en dwing haarself om aan arme tant Dollie Visagie se nare ondervinding met die vertroueswendelaar te dink. Ook aan die lekker kos wat hulle op die lughawe geëet het en waarvoor oom Pieter moes betaal. En aan môre se toets wat die standerd 9A’s skryf en aan haar nasienwerk wat lê en wag. Sy dwing haar om aan allerhande ander dinge te dink, behalwe aan Heinz du Preez en daardie blondine wat saam met hom in sy woonstel is. Daaraan wil sy nie dink nie. Sy wil nooit weer aan Heinz dink nie. Sy is klaar met hom. Sy haat hom en sy wil hom nooit weer sien nie. As sy in ’n ganse leeftyd nie weer met hom te doen kry nie, sal dit te gou wees.

      Mynie gaan gereeld kerk toe en sy weet dis verkeerd om bygelowig te wees. Maar sy kan haarself nie rehabiliteer nie. Sy loop nie onder lere deur nie, vermy dat haar pad met dié van ’n swart kat kruis en glo daar gaan kuiermense opdaag as haar regteroog spring. Ook glo sy dat dinge in drievoud gebeur. Toe sy Heinz se nota gekry het, en die volgende dag ’n skriftelike klagte van ’n ouer dat sy te hardhandig met sy bloedjie gewerk het, weet sy dat sy nóg ’n brief te wagte kan wees.

      Toe daar dus die volgende middag ’n ligblou koevert in haar posbus lê, is Mynie nie verbaas nie. Afgesien van die bygeloof, glo sy ook dat sy oor ’n sesde sintuig beskik. Haar voorgevoel sê vir haar dat hierdie brief van Wewenaar kom. Sy bekyk die posstempel, sien dat dit van Johannesburg is, beskou die handskrif en besluit dat sy daarvan hou.

      Saam met die brief is daar ’n paar rekeninge. Mynie maak hulle eers oop, trek ’n suur gesig oor die tandarts se bedrag wat hoër is as wat sy verwag het en gaan skink dan vir haar ’n koppie tee in voordat sy met die ligblou brief in die sitkamer gaan sit.

      Dit word haar egter nie gegun om in vrede haar brief te lees nie. Net toe sy die koevert oopskeur, is daar ’n klop aan die voordeur.

      Seker weer iemand wat iets verkoop, besluit Mynie. Sy stap deur toe om te sê dat sy reeds tien stelle ensiklopedieë besit, asook al die borsels, besems, matskoonmakers en onfeilbare vlekverwyderaars wat sy in haar dag des lewens kan opgebruik.

      Maar dis nie ’n verkoopsman nie. Ook nie ’n versekeringsagent nie. Dis Heinz du Preez. ’n Heinz du Preez wat nie baie vriendelik lyk en Mynie nie kans gee om die voordeur toe te druk nie. Hy is vinniger as sy. Hy druk ’n voet tussen die deur en die kosyn in.

      “Was dit jy wat gisteraand gebel het?”

      Mynie stoot haar skouers agteroor en lig haar ken parmantig.

      “Wat as dit was?”

      “Ek het gedag dis jy, maar toe ek direk daarna hierheen bel, was daar nie antwoord nie.”

      “Ek het die telefoon uitgeprop.”

      “Na ’n uur se gesukkel om deur te kom, het ek besluit om te ry en self te kom kyk wat met jou aan die gang is. Het jy gehoor toe ek klop?”

      “Nee.”

      Heinz is skepties. “Niemand kan so vas slaap dat hy nie hoor as die voordeur amper afgebreek word nie. Ek het seker tien keer geklop. Het jy niks gehoor nie?”

      “Nee.” Mynie sê nie dat sy ’n uur lank slapeloos in die bed rondgerol en oplaas ’n slaappil gedrink het nie. Sy gun Heinz nie die bevrediging om te weet dat sy ontsteld was en nie aan die slaap kon raak nie.

      Heinz laat hom nie deur die koel ontvangs en kortaf antwoorde van stryk bring nie. Hy wikkel sy voet om die deur, stoot dit wyer oop en stap die woonstel binne.

      Mynie het dit onwaardig geag om haar teen die indringing te verset. Heinz is frisgebou en sy skouers is breed. Sy sou die stoeiwedstryd teen hom en die deur verloor het.

      “Ek kan nie onthou dat ek jou binnegenooi het nie,” sê sy kil. Sy wonder wat sou gebeur het as sy nie haastig opsy gestaan het nie. Heinz sou seker soos ’n stoomenjin dwarsoor haar gestorm het.

      “Dit maak nie saak of ek ’n uitnodiging gehad het of nie. Dis hoog tyd dat ons praat. Ons sal dit nie regkry as jy aanhou deure toesluit en toeklap en telefone uitprop nie. Kom sit in die sitkamer, vroumens, en luister na wat ek te sê het.”

      Mynie bly roerloos in die ingangsportaal staan.

      “Ek het daardie Saterdagoggend gesê jy moet uit my woonstel padgee. Ek sê dit nou weer. Hou op om jou geselskap aan my op te dwing. Is jy so dikvellig dat dit nog nie tot jou deurgedring het dat ek niks meer met jou te doen wil hê nie?”

      “Ek moet doof en blind wees as ek nog nie die boodskap gekry het nie. Ek erken dat ek my daardie Saterdagoggend soos ’n buffel gedra het. Ek vra om verskoning.”

      “Goed, as dit jou tevrede sal stel, ek aanvaar jou verskoning. Sal jy nou padgee?”

      “Dis nie al rede waarom ek gekom het nie. Ek is skaam om dit te sê, maar die eerste paar dae was ek te woedend omdat jy my nie vertrou het nie, om veel te wonder oor hoe die misverstand kon ingesluip het. Dis hoekom ek nie weer gebel het nie, nie kom kuier het en nie ons afspraak die volgende Saterdagaand nagekom het nie. Omdat ek bitter kwaad vir jou was … dat jy ’n buitestander se woord bo myne geneem het. Toe ek egter afgekoel het, was ek in staat om die saak logies te beredeneer.”

      “En jy het tot ’n aardskuddende ontdekking gekom?”

      Heinz ignoreer die sarkasme in Mynie se stem.

      “Ja, ek het. Ek het mooi oor alles nagedink waarvan jy my beskuldig het, en ek weet nou presies wat gebeur het. Dit was nie Annette Basson wat ek gesoen het nie. Dit was my suster.”

      “Dit was nie Annette Basson wat jy gesoen het nie, maar jou suster,” herhaal Mynie sy woorde werktuiglik, dog dit maak geen sin nie.

      “Eerlikwaar, dit was my suster,” sê Heinz pleitend.

      “Jou suster wat jy in jou arms geneem, omhels en vurig gesoen het?” Nou eers dring dit tot Mynie deur wat Heinz pas gesê het. Daar is ongeloof op haar gesig te lees. “Verwag jy dat ek jou moet glo? Jou eie suster oor wie se hare jy gestreel het en jou arm om haar lyf gesit het?”

      “Ja. My suster het …”

      “Was dit nie dalk jou niggie nie?” val Mynie hom sarkasties in die rede. “Daardie storie van die niggie of suster is net so afgesaag soos die grap van die matroos wat die filmster genooi het om na sy etse te gaan kyk. Liewe land, Heinz, jy onderskat my intelligensie. Jou suster … Dink jy ek is so naïef om dit te glo? Loop, asseblief, voor ek my humeur verloor en jou sê wat ek van jou leuens dink.”

      “Mynie, dit was regtig my suster,” sê Heinz desperaat. “Ek het jou mos al van Karen vertel. Sy is twee jaar jonger as ek en …”

      “… en woon in Zürich. Lekker gerieflik ver. Te ver dat sy van die stories te hore sal kom wat jy oor haar loop en vertel. Omhels jou eie suster … Gaan jy met haar trou? Jy kan nie ’n danige prokureur en regsgeleerde wees as jy nie

Скачать книгу