Ettie Bierman Keur 12. Ettie Bierman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ettie Bierman Keur 12 - Ettie Bierman страница 5

Ettie Bierman Keur 12 - Ettie Bierman

Скачать книгу

wat nie rook of sterk drank gebruik nie, kan die pen opneem.

      Ridder van Reddersburg is ’n 20-jarige, aantreklike swartkopoutjie met blou oë, 1,75 m lank en weeg 76 kg. Stel belang in visvang en mooi meisies. Slegs briewe met foto’s sal beantwoord word.

      Oudag in Hillbrow. Ou omie met ’n pankop en kierie. 100 jaar oud. Hou van ruk-en-rol en ysskaats. Doedies tussen 18 – 80, met die oog op ’n spoedige ontmoeting en moontlike huwelik.

      Daar is nog kolomme en kolomme daarvan en almal min of meer in dieselfde trant. Maar dan sien Mynie een wat anders is, een soos ’n stem roepende in die woestyn, een wat haar eie gemoedstoestand eggo.

      Wewenaar. Geen afhanklikes. 40 jaar oud. Wil korrespondeer met ’n dame wat verstaan wat dit beteken om eensaam en verstote te wees. Alle briewe sal beantwoord word.

      Mynie lees die advertensie drie keer deur. Dis eerlik, nie verspot nie, sonder tierlantyntjies en op die man af. Dis ’n persoon wat homself nie onnodig prys nie, wat nie spitsvondig probeer wees nie, wat werklik eensaam en verstote voel, net soos sy …

      Mynie gaan haal ’n pen, skryfblok en koeverte. Dan krul sy haar weer in die leunstoel op en lees die advertensie ’n vierde keer. Hy het nie gesê hy is ’n hiperaantreklike krulkop of ’n breedgeskouerde blouoog-ridder of ’n bruingebrande, skatryk boer nie. Hy het ook nie gesê hy hou van dans, popmusiek en partytjies nie. Albei dinge tel in sy guns. Hy is nie verwaand nie. Hy probeer nie beïndruk nie. Hy is eerlik. En wat soek ’n ou wat van mooi meisies, dans en partytjies hou se advertensie in elk geval in ’n hoekie vir eensames? As dít sy stokperdjies is, behoort hy soveel nooiens te hê dat hy nie kan voorbly nie. En daardie pankop – seker ’n klomp skoolkinders wat gekskeer.

      Maar hierdie wewenaar … Dis eg en opreg. Hy is eerlik en reguit. Hy probeer hom nie jonger of meer romanties voordoen as wat hy is nie. Hy is veertig. ’n Prosaïese ouderdom. Maar dis hoe oud hy is, en dis die ouderdom wat hy aangee. Ook reken hy nie dat voorkoms so belangrik is nie. Dit dui op ’n gebalanseerde uitkyk op die lewe. Hy besing nie sy eie deugde nie, hoewel hy waarskynlik aantrekliker is as Beautiful Dreamer of Seksie op Springs of enige van die Venusse, Casanovas, Pêrels, Orgideë en Lovely Lonely Lovers – op enige moontlike plek wat met ’n L begin – waarvan die rubriek wemel.

      Mynie kan nie verklaar waarom sy weer na die advertensie kyk en dan die skryfblok nader trek nie. Dalk is dit omdat haar moraal vanaand ’n laagtepunt bereik het. Miskien omdat sy self eensaam en verstote voel. Moontlik omdat sy verveeld is. Straks omdat dit Saterdagaand is en sy niks meer opwindends het om te doen as briewe skryf nie. Dalk omdat hierdie een werklik ’n stem in die barre woestyn is wat tot haar roep. Miskien omdat sy aan die noodlot glo wat haar die tydskrif laat optel het en dit by die penmaatrubriek laat oopval het. Moontlik omdat sy hoop die geluksgodin en die noodlot werk hand aan hand. Straks sommer omdat sy ’n impulsiewe geaardheid het. Dalk, miskien, moontlik, straks … Mynie het al die redes aangevoer, maar die werklike rede wil sy nie erken nie – selfs nie eens teenoor haarself nie.

      Mynie se ma het haar dogter ’n mooi opvoeding probeer gee, en sy weet haar ma sou dit afgekeur het dat sy aan ’n man skryf omdat sy hom dalk wil gebruik om ’n ander een mee te vermaak. Of is dit nie haar werklike beweegrede nie? Is dit nie omdat sy wil keer dat Heinz du Preez haar bejammer nie? “Arme, eensame ou Mynie … Sedert ek opgehou het om my oor haar te ontferm, sit die stomme ding aand na aand stoksielalleen en treur. Ek voel verantwoordelik vir haar. Annette, het jy nie ’n broer of ’n neef of iemand wat ons aan die arme siel kan voorstel nie?”

      Mynie se ken lig parmantig. Sy tel die pen op en begin skryf: Beste … Beste wát? Sy kan tog nie Beste Wewenaar skryf nie, kan sy?

      Mynie het die advertensie vyf keer bestudeer; eers ná haar sesde probeerslag in antwoord daarop, is sy min of meer tevrede met haar poging. Sy het nog nie vas besluit of sy die brief gaan pos nie, en of dit dieselfde pad as die vyf opgefrommelde velle skryfpapier in die snippermandjie sal volg nie.

      In haar sterkgevormde handskrif, met die individualistiese styl wat daarop dui dat sy kunssinnig is, het sy geskryf:

      Beste Geesgenoot

      Ek noem jou so omdat dit voel of ons twee op dieselfde golflengte kan wees. Ek is ook eensaam en verstote. Jy was eerlik genoeg om dit te erken. Ek ook. Dit is nie maklik om hierdie brief te skryf nie. Hierdie is my sesde probeerslag en ek vra dat jy dit simpatiek sal lees. Ek weet vooraf dit gaan voel asof ek besig is om my inkomstebelastingvorm in te vul, maar ek weet nie hoe anders ek jou al die volledige besonderhede aangaande myself kan gee nie. Jy het beloof om álle briewe te beantwoord. Op my beurt belowe ek dat my volgende brief minder soos ’n egoïstiese ensiklopedie oor myself sal lees. Verskoon asseblief intussen die woordjie “ek” wat noodgedwonge dikwels sal moet opduik.

      Ek is 23 jaar oud. As jy reken dis dalk effens jonk vir jou, wil ek byvoeg dat ek baie lewenservaring opgedoen het en eintlik ouer as my jare is. Ek is 1,7 m lank en weeg 56 kg. My stokperdjies sluit in skilder, tennis, lees en koskook. Ek meld laasgenoemde nie omdat ek glo dat die pad na ’n man se hart deur sy maag gaan nie. Dis omdat ek werklik daarvan hou om in ’n kombuis te bak en brou. Iewers in my voorsate moes Italiaanse bloed gevloei het. Ek is verslaaf aan spaghetti. Sonder om te spog: Ek kan spaghetti op 27 verskillende maniere opdis. Jammer om jou moontlik af te skrik, maar ek is ’n onderwyseres van beroep – kunsonderwyseres. Daarmee saam gaan die feit dat ek lief is vir kinders. Weer eens sê ek dit nie omdat ek aanvaar dat ’n wewenaar gewoonlik kinders het en ek my deur so ’n opmerking in jou goeie boekies wil inwurm nie. Ek hou regtig van kinders, daarom dat ek onnie geword het.

      Jou advertensie in Profiel het eerlik en opreg geklink. Dis wat my tot jou aangetrokke laat voel het. Daarom voel ek dat ook ék eerlik moet wees. Daar is ’n negatiewe sy in my karakter. Ek brand sproete op my rug as ek te lank in die son lê en ek eet nie pampoen of patats nie. Ook het ek ’n hekel aan naaldwerk, veral lap- en stopwerk. Wanneer klere skeur of stukkend raak, gooi ek dit weg en koop nuwes. Daaruit lei jy moontlik af dat ek ryk is. Ek is nie. Heeltemal sonder ’n bloue duit op my naam is ek gelukkig ook nie. Albei my ouers is in ’n motorongeluk dood toe ek eerstejaar op universiteit was. Hulle het my egter genoeg nagelaat om my BA-graad te voltooi en die geld wat oor was, het ek op ’n spaarrekening by ’n bougenootskap geplaas. Daarmee wil ek vir my ’n droom koop. My grootste ideaal is om eendag voltyds skilder te wees. Of ek egter genoeg talent het om uit skilder my brood en botter te verdien, weet ek nie. Daarom die spaargeld, indien my eerste uitstalling dalk ’n volslae mislukking is.

      Jammer, ek het afgedwaal en jou seker verveel. Om terug te keer na myself … Blou is my geliefkoosde kleur. Ek hou van lees. Verkieslik outobiografieë, maar ook fiksie. Ek is redelik bygelowig. En jy? Ingeval jy is en dit jou mag beïnvloed: Ek verjaar laat in Junie en is dus ’n Kreef. Ek is egter nie so stroomop soos die meeste Krewe nie. As niemand my kwaad maak nie, is ek stil, skaam en teruggetrokke. O ja, ek het donkerbruin hare en groen oë. Ongelukkig nie smaraggroen nie. Meer ’n moddergroen as jy sal verstaan wat ek bedoel.

      Nou ja, jy is teen hierdie tyd seker vas aan die slaap. Gooi maar my brief in die snippermandjie as jy besluit ek is nie die moeite werd om mee te korrespondeer nie. Ek sal verstaan. Jy het geen verpligting teenoor my nie, maar as jy wel besluit om te antwoord, sal ek dit waardeer.

      Met vriendelike groete

      Maryna Cronjé

      Net soos sy die advertensie bestudeer het, probeer Mynie ook haar brief objektief beskou. Sy is bang sy kom voorbarig voor. Of vrypostig. Of pretensieus. Of vervelig. Of spoggerig. Het sy te min of te veel geskryf? Te ernstig of te lighartig? Sy wil nie hê die man moet dink sy slyp haar tande om hom kansel toe te sleep nie, maar aan die ander kant wil sy ook nie hê dit moet na gekskeerdery klink nie. Al wat sy vra, is platoniese vriendskap. Hy is eensaam en sy ook. Dit sal goed wees as

Скачать книгу