Van sorg na liefde. Malene Breytenbach

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Van sorg na liefde - Malene Breytenbach страница 5

Van sorg na liefde - Malene Breytenbach

Скачать книгу

en nie gewoond om iemand fisiek te help nie.

      “Dankie, mejuffrou De Villiers. Ek gaan nou ’n bietjie dut. Gaan maak jou tuis en leer die plek en mense ken.”

      Mia loop uit met ’n goeie gevoel. Sy dink sy sal goed met dié aristokratiese vrou klaarkom.

      Maar sy is nie so seker of sy so ’n goeie verhouding met die manjifieke seun sal hê nie. Nie met iemand wat na haar kyk asof sy iets is wat die kat ingedra het nie.

      Toe sy by haar kamer kom, is die deur oop. Haar tas staan teen ’n muur en sy sien alles is uitgepak, in die klerekas opgehang en in die laaie opgevou. Wie het dit gedoen? Rosy? Dit voel soos ’n inbreuk op haar privaatheid, maar hulle doen dit seker so hier. Sy wonder of Jean de Lisle ’n valet het, soos die lord in Downton Abbey. Sy gaan kyk na die badkamer, wat luuks is, met ’n bad, stort, groot dubbelwasbak, ’n kas en die mooiste dik blou handdoeke en badmat. Die weelde verstom haar; sy is tog net die versorger. Maar aan die ander kant was dit mos die oorlede dogter se kamer.

      Nogal creepy, maar tog waardeer sy dit.

      ’n Geluid van die bed af laat haar soontoe kyk en sy skrik. Daar lê die pragtigste – en grootste – gemmer-en-wit kat wat sy nog ooit gesien het.

      “Hallo, wat doen jy hier?” vra sy hom. “Kom jy jou sommer tuis maak op die bed?”

      Sy loop nader en streel oor sy sagte pels. Hy spin en kyk na haar met groot groen oë. “Ek is bly jy het kom kuier.” Sy is regtig dol oor katte. As Reghardt nie so allergies was vir hulle nie, het sy lankal een gekry. Nou is hy uit haar lewe uit, sy is in ’n ander land en kan haar na hartelus oor dié kat ontferm.

      Sy stort en was haar hare. Dan trek sy ’n skoon wit bloes en denim aan en voel sommer heelwat beter. Gelukkig het sy gedurende die vlug geslaap. Die kat spring van die bed af en volg haar toe sy uitgaan, maar toe sy onder kom, loop hy stert omhoog by die deur uit na buite. Sy loop deur die groot vertrekke en vergaap haar van voor af aan alles. By die eetkamer se lang tafel kan minstens twaalf mense sit. Sy loop na waar sy stemme hoor en bereik die kombuis. Daar is ’n tafel waar vyf mense sit en tee drink. Hulle kyk op toe sy inkom. Sy herken die butler en Rosy, maar daar is ook ’n middeljarige vrou geklee in ’n donkerblou uniform en twee mans in wit uniforms.

      “Hallo, ek is Mia de Villiers, mevrou De Lisle se versorger,” stel sy haar voor.

      Die ouer man in wit, met swart hare en snor, staan eerste op. “Hallo, ek is Etienne Delmain, die sjef.” Hy beduie na die jonger man wat ook donker is maar skoongeskeer. “Dis my sous-sjef, Pierre Simone. Ons het ’n sterk vrou met gespierde arms verwag en kyk hoe lyk jy, soos ’n model.”

      Hy grinnik en Mia bloos haar gesig warm. So ’n Franse vleier.

      “Dis my vrou, Annie, die huishoudster,” sê Barnes.

      “Ek is bly om julle almal te ontmoet,” sê Mia.

      “Tee?” vra Etienne Delmain, wat haar noukeurig bestudeer.

      “Nee dankie, ek het by mevrou De Lisle tee gedrink en ek moet sê, die tertjies was die lekkerste wat ek nog ooit geëet het.”

      Etienne glimlag ingenome. “Jy kan enige tyd kom kos of verversings vra, hoor.”

      “Dankie. Ek … e … wil ’n bietjie buite verken. Die tuin lyk so mooi. Terloops, die yslike kat wat in my kamer was … die grootste kat wat ek nog gesien het …”

      “Dis Sylvester, hy is ’n Maine Coon,” sê die huishoudster. “Hulle is groot katte. Hy was mejuffrou Bienne se kat en hy gaan slaap soms daar in die kamer, al is sy lankal oorlede. Verwilder hom as hy jou pla.”

      “O, nee. Ek is baie lief vir katte. Hy kan maar by my kuier.”

      Sy kyk na die vriendelike glimlaggende gesigte en voel sommer tuis. Dit lyk na ’n goeie begin. Sover is daar niks wat pla nie. Die mense is almal gaaf en sy gaan besonder luuks bly. Sy het omtrent in die botter geval.

      Toe groet sy en loop uit, na die tuin. Daar is net een persoon wat nie heeltemal verwelkomend was nie … Sy wonder wanneer sy weer die manjifieke dog arrogante Jean sal sien.

      En hoe hy teenoor haar sal optree …

      3

      Mia loop deur die huis en bekyk alles. Sy kom by ’n groot binnehof waar die binnenshuise swembad is. In die hoeke is tropiese plante in potte. Sy gaan beslis hier kom swem. Sy loop in ’n gangetjie af en sien deur ’n oop deur dat daar ’n goed ingerigte gim is, met apparate wat al die spiere kan oefen. Hm, hoe sal Jean de Lisle lyk as hy met bultende spiere dié apparate gebruik?

      Moenie dat jou verbeelding met jou weghol nie, berispe sy haarself.

      Sy sien ’n deur wat blykbaar na buite gaan en loop daardeur, uit in ’n tuin. ’n Man staan op ’n leer en snoei ’n heining. Langs hom hark ’n jong man die afgeknipte stukke bymekaar.

      “Hallo,” roep Mia.

      Hulle kyk om. Die man wat snoei, klim van die leer af en die jong man kom regop.

      “Ek is Mia de Villiers, mevrou De Lisle se versorger,” stel sy haar voor.

      Die ouer man is diep bruingebrand en dra ’n oorpak. “Dagsê, ek is Albert, en my assistent is Billy.”

      Billy lyk vir Mia niks ouer as sestien nie. “Ek bewonder net die tuin. Julle hou dit baie mooi.”

      “Jy moet ook gaan kyk na ons groente- en kruietuin, dis agter die huis,” sê Albert. “En daar is mooi goed in die kweekhuis.”

      “Dankie, ek sal graag na alles gaan kyk.”

      Sy wuif en loop aan, by ’n bultjie op. Bo gaan staan sy en trek haar asem in. Anderkant ’n lappie bome en ’n stuk wit strand lê die see blouselblou. Sy kan dit van hier af ruik en het nie gedink dit is so naby nie. Sy kyk op haar horlosie. Daar is nog ’n uur voordat sy na mevrou De Lisle moet gaan. Sy loop met die afdraand af na die strand. Op die see is bote wat na vissersbote lyk. Daar is ook seiljagte. Sy het sowaar na ’n paradys gekom. Hopelik een sonder ’n slang!

      Op die strand trek Mia haar skoene uit en loop ’n entjie op die wit sand. Dit is heerlik. Die son skyn op haar neer, maar dit is nie te warm nie. Naderhand draai sy om en loop terug na die bultjie en die huis. Sy vee die sand van haar voete af toe sy op groen gras kom en trek weer haar skoene aan. As sy tyd kry, sal sy in die see gaan swem, besluit sy.

      Mia help haar nuwe werkgewer van die bed af en weer in die rolstoel.

      “Ek lê altyd my hare plat,” sê Sarah de Lisle. “Kan jy dit asseblief weer vir my kam? Is jy goed met hare?”

      “Goed genoeg.”

      Voor die spieëltafel gaan die rolstoel staan. Mia maak die ouer vrou se hare los, vat die haarborsel wat daar lê en borsel deur haar hare. Daarna maak sy dit weer vas in die Franse rol soos dit voorheen was. Sarah draai haar kop heen en weer.

      “Dis goed so,” sê sy tevrede. “Kom ons gaan af na die groot stoep. Ek drink elke aand skemerdrankies soos toe my man nog gelewe het. Daarna gaan eet ons in die klein eetkamer wat net vir die familie bedoel is. Ek is bly jy is hier. Nou hoef ek nie alleen te drink nie.”

Скачать книгу