Van sorg na liefde. Malene Breytenbach
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Van sorg na liefde - Malene Breytenbach страница 6
Hulle gaan na ’n tafel en het skaars gesit, toe kom Barnes uit met ’n trollie vol drank, glase, ys en bakkies neute. Daar is selfs ’n bottel Franse sjampanje in ’n ysemmer.
“Maak asseblief vir ons die Bollinger oop, Barnes,” sê Sarah. “Ek het vanaand lus om dit te vier dat ek ’n geselskapdame gekry het.”
Hy maak die bottel behendig oop en skink in twee fluitvormige langsteelglase – een vir Sarah en een vir Mia.
“Santé,” sê Sarah toe sy hare aanvat. “Hoe sê julle dit in jou land?”
“Gesondheid. Op mevrou en Jersey en beterskap.” Mia wonder of Sarah de Lisle dit geniet om ’n “eksotiese” versorger te hê.
“Absoluut.” Sarah teug met ’n glimlag en kyk in die verte, na die see.
Mia lig haar glas na haar lippe en die sjampanje gly heerlik koud en borrelend in haar keel af. Om te dink dat sy by ’n plek is waar sy sjampanje saam met haar werkgewer moet geniet! Sy hoor ’n motor se gedreun en wonder met ’n wip van haar hart of dit Jean de Lisle is wat dalk kom kuier.
“Nou toe nou. My seun is hier. Ek sal die geluid van daardie Ferrari enige plek en tyd herken. Snaaks dat hy vanaand kom. Ek verwag hom eers môre, wanneer die naweek aanbreek.”
Mia sit stokstyf van spanning en hoor skaars wat haar werkgewer praat. Jean de Lisle kom by die deur op die terras uit. Hy dra steeds sy elegante pak, maar het sy das afgehaal en sy hemp is oop by die nek.
“Dis ’n verrassing, my lief,” sê sy ma. “Jy kan ook ’n glasie sjampanje saam met ons geniet.”
Mia kan hom skaars direk aankyk, so oorweldigend is hy. Dit voel asof haar hart nie normaal wil klop nie.
Hy buk oor sy ma en soen haar. “Ek het ’n besige dag gehad, maar toe het ek sommer lus om bietjie vir Ma te kom kuier.” Hy skink vir hom sjampanje, gaan sit met ’n sug op ’n stoel, strek sy lang bene uit en teug aan die sjampanje. “A, nou kan ek vir die eerste keer regtig ontspan.”
Hy begin sy ma vertel van nuwe kliënte wat hy gekry het, maar Mia is bewus dat sy blik kort-kort na haar draai. Naderhand vra hy: “En toe? Is jy al tuis, mejuffrou De Villiers?”
“Ja, dankie.” Kastig komkommerkoel sluk sy haar sjampanje. Hy is besig om haar deur te kyk en op te som – en dit maak haar ongemaklik. Wat dink hy as hy so uit die hoogte met haar praat? Dit maak haar wrewelig as iemand so duidelik wys dat sy vir hom minderwaardig is. In haar lewe het so iets nog nooit gebeur nie.
“Ek wonder tog waarom ’n vrou soos jy ’n versorger wil wees,” sê hy.
Sy word stokstyf. Hy laat dit regtig na ’n baie lae posisie klink. Gaan sy ma hom nou vertel dat sy ’n liefdesteleurstelling gehad het en daarom uit Suid-Afrika wou wegvlug?
“Moenie so nuuskierig wees nie, Jean. Sy het seker haar redes,” sê sy ma egter. “Ek is bly dat mejuffrou De Villiers die vakke geskiedenis en Engels op skool gegee het.” Sy draai na Mia. “Jy sal dit darem seker geniet om vir my boeke voor te lees? En nou kan ek vir jou die historiese plekke van Jersey wys. Sal jy dit graag wil sien, mejuffrou De Villiers?”
“Baie graag, dankie.” Dit kan sowaar net lekker wees. Sy word amper soos ’n toeris behandel.
“Kan jy goed bestuur?” vra hy. “Dit was een van ons voorwaardes.”
“Ja, ek kan goed bestuur. Ek bestuur al jare lank. Ek het my motor verkoop net voordat ek gekom het, maar sodra ek terug is in Suid-Afrika, koop ek vir my ’n nuwe een.”
“Met die baie geld wat jy hier maak? Die wisselkoers is mos teen julle, daar in ’n ontwikkelende land met ’n swak ekonomie. Om ponde te verdien sal jou omtrent ryk maak as jy dit omsit in jul powere geldeenheid.”
“Dis een van die redes waarom mense soos ek oorsee gaan werk.” Sy probeer die bitsigheid uit haar stem hou, maar kry dit nie heeltemal reg nie.
“Jean vra of jy goed kan bestuur, want jy sal die Bentley moet bestuur,” sê Sarah.
Mia skrik. Daardie yslike motor? Sy kan nie nou sê sy sien nie kans daarvoor nie.
“Ek het al gesê Ma moet daardie motor verkoop en iets meer prakties kry.”
“Ek verkoop nie jou pa se motor nie. Ek gaan nog lank daarmee ry.”
“’n Ferrari is ook nie wat ek ’n praktiese motor sou noem nie,” laat Mia in ’n onbewaakte oomblik val. Liewe hemel, dit is die sjampanje wat nou praat.
Hy kyk spottend na haar. “Nee, maar ek hoef nie ’n praktiese motor te ry nie.”
Nee, vir jou gaan dit oor vertoon, dink sy. En wat is nou meer vertonerig as ’n peperduur rooi sportmotor? En dit op Jersey waar jy nie vinnig mag ry nie.
Tot haar verligting kom die groot kat met ’n miaau by die stoep opgestap.
“Haai, ou Sylvester, kom hier,” sê Jean. Hy steek sy hand na die pragdier uit en die kat kom nader sodat hy gestreel kan word. “Jy leef darem lekker. Kyk hoe vet is jy.” Hy streel sag oor die kat se pels.
Mia is verbaas. Jean lyk nie na iemand wat vir katte lief sal wees nie. Die egalige hale wat sy vingers oor die kat se rug vee, betower haar. Dis die mooiste hande wat sy nog aan ’n man gesien het.
“Hy het op my bed kom lê,” sê sy.
Jean en sy ma kyk na mekaar. “Hy sal seker na jou kamer gaan, want hy het dit altyd gedoen,” sê Jean. “As jy nie van katte hou nie, kan jy hom wegjaag.”
“Ek is lief vir katte. Ek sal hom nooit wegjaag nie.”
Sy sien Sarah de Lisle se oë blink asof daar ongestorte trane opdam. “Hy het altyd daar gaan lê toe Bienne nog gelewe het.”
Mia glimlag vir haar. “Ag, hy kan seker aanvoel dat ek van katte hou. Katte het mos ’n ekstra sintuig.”
Jean staan op en skink vir hulle almal nog sjampanje. “Is jy gewoond aan drank?”
Wat ’n vreemde ding om te vra! Probeer hy haar nou uitvang? As sy ja sê, kan dit mos klink asof sy te veel drink. “Wel, ek kom van ’n streek waar wyn gemaak word,” sê sy dan maar.
Hy gaan sit weer. “Dis goed, want dan sal jy weet hoe om dit te hanteer. Ek wil nie hê my ma se versorger moet aangeklam raak nie.”
“Ek sal nie aangeklam raak nie,” protesteer sy.
“Ag, Jean, moenie die arme kind terg nie,” sê sy ma. “Dalk skrik jy haar af en dan wil sy weggaan.”
Mia kyk nie na hom nie, glimlag net vir sy ma. “Ek skrik nie sommer nie, mevrou. In elk geval nie vir koue pampoen nie.”
Sarah lag. “Jean, dalk is sy opgewasse vir jou. Jy is te gewoond dat almal gedienstig is en jou nie die harnas in wil jaag nie.”
Hy gryns. “Ons sal sien.” Hy verander