Hartklop Omnibus 3. Malene Breytenbach

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Hartklop Omnibus 3 - Malene Breytenbach страница 12

Hartklop Omnibus 3 - Malene Breytenbach

Скачать книгу

komplikasies?”

      Sy klink vir Lucinda meer geïrriteerd as bekommerd.

      “Mevrou, u seun het die ernstigste vorm van malaria, P. falciparum. Dis dikwels middelweerstandig en kan kognitiewe skade meebring.”

      “Ek dag daardie artemis… wat noem julle dit nou weer? Die name van die goed is ook so moeilik om te onthou. Ek dag dié behandeling is veronderstel om so effektief te wees.”

      “Artemisinin. Dis die beste wat ons kan bied, maar niemand kan vooraf honderd persent sukses voorspel nie.”

      Enid Huber gluur haar aan. “Ek begin twyfel of hierdie kliniek regtig so wêreldklas is soos julle wil voorgee. Erik moes liewer Engeland toe gekom het – na die Eerste Wêreld, nie die Derde Wêreld nie. Maar nee, sy pa bring hom na hierdie kliniek in Afrika.”

      Lucinda vererg haar, maar sy hou haar stem bedaard. “Die Wynland-kliniek ís wêreldklas, mevrou, en gee die beste behandeling wat verkrygbaar is. In Europa of die Verenigde Koninkryk sal hulle nie beter kan doen nie. Ons is vertroud met tropiese siektes, en in Suid-Afrika word uitstekende navorsing in dié verband gedoen. Dwarsoor die wêreld is dit ’n probleem om dié gevreesde siekte te genees.”

      Op daardie oomblik sien Lucinda dat Jens in die deur staan en sy lei uit sy gesigsuitdrukking af dat hy gehoor het wat Enid Huber sê oor die kliniek waarop hy so trots is en waaraan hy en sy vrou hulle lewens wy. Waarom het die vroumens tog nie die deur agter haar toegemaak nie? Sy praat boonop so hard, asof sy haar belangrikheid daarmee te kenne wil gee.

      Jens kom in met ’n bleek gesig. “Verskoon my dat ek sommer instap, dokter O’Neill. Is daar iets wat jou laat dink ons gee nie vir Erik die beste behandeling moontlik nie, Enid?”

      Sy bloos darem, sien Lucinda, wat hard probeer om haar minagting agter ’n uitdrukkinglose gesig weg te steek.

      Enid Huber staan op, asof sy Jens wil konfronteer.

      “Al wat ek wou weet, is hoe lank dit gaan neem om Erik gesond te kry. En dié dokter …” sy kyk vlugtig hovaardig na Lucinda, “vertel vir my dit kan maande neem. Ek kan nie so lank hier rondhang nie.”

      Sy wil dus gaan en sy wil nie opgehou word nie, dink Lucinda. Watse soort ma is sy? Dis nie asof sy ’n beroep het waarheen sy moet terugkeer nie.

      Nou kan Lucinda haar nie meer inhou nie. Sy staan ook op.

      “Mevrou, dit is u kínd wat daar lê en hy is baie siek. Om by hom te wees, sou ek nie as rondhang bestempel nie. Het u werklik iets belangrikers om te gaan doen as om by hom te wees terwyl hy in ’n krisis verkeer?” Haar stem bewe eintlik so verontwaardig is sy. “Buitendien oordryf u. Ek het nie van maande in die hospitaal gepraat nie.”

      “Ek stel voor jy bespreek dit met Werner, Enid,” stel Jens kil voor, en Lucinda sien dat hy skaars die afkeer van sy gesig kan afhou.

      “Nou goed dan,” sê Enid Huber hooghartig en loop uit.

      Lucinda druk haar vuiste diep in haar wit jas se sakke en kners op haar tande om haar in te hou voordat sy iets bitsigs kwytraak.

      Jens skud sy kop en kyk haar meewarig aan. “Ons ken haar maar so. Dis net jammer die kind is aan haar toegestaan en nie aan die pa nie. Dit het gebeur omdat hy klein was toe hulle geskei het en die ma in so ’n geval gewoonlik voorkeur kry in die skeihof. Werner betaal hoë onderhoud aan haar en sy probeer soveel uit hom kry soos sy kan. Verskoon my, ek skinder. Dis nie baie professioneel nie.”

      “Ek is bevrees as ek ooit ’n gly in iemand gevang het, is dit nou in haar. Ek is ook nie professioneel as ek dit sê nie, maar sy is darem baie selfsugtig en konfronterend. Sy dink skynbaar nie eerste aan haar kind nie, maar aan haarself.”

      “Ek verstaan dit nie. Ons seuns is al groot en uit die huis, maar ons is nog net so besorg oor hulle as toe hulle klein was.”

      Hy lig sy hand asof hy groet en loop ingedagte uit. Hy voel seker te na gekom, dink Lucinda simpatiek.

      Watter feeks van ’n vrou! Hoe het iemand soos Werner ooit op haar verlief geraak? Die liefde kan ook maar blind wees. Jy sien wat jy wíl sien, en dis nie noodwendig die ware karakter nie.

      Sy maak klaar en gaan na Bets by ontvangs. “Kan ek jou pla?”

      “Niks is pla nie. Wat kan ek vir dok doen?”

      “Ek wil die kinders se verjaardagdatums hê, asseblief.”

      Bets glimlag breed. “Haai, ek het nogal ’n lys, weet dok? Tant Mymie wou dit ook hê.”

      Sy haal dit te voorskyn en Lucinda soek eerste na Nanette.

      “Dis asof my sesde sintuig vir my gesê het die Van Reenen-kleintjie verjaar binnekort, en hier sien ek dis volgende week. Ek sien ook sy is ouer as wat sy lyk, want sy word al vier. Maar dis ’n kenmerk van MIV-kinders om swak groei te toon.”

      En sy klou vas aan daardie beertjie soos ’n kleuter sou doen, dink Lucinda bejammerend. Die kind is nie vertraag nie, maar haar ontwikkeling het ’n agterstand.

      “Ja, sjym, wil dok vir haar ’n partytjie hou?”

      Lucinda kyk op. “Dis ’n idee. Ek sien klein Charles Nieuwoudt verjaar kort na haar. Miskien kan ons sommer vir die twee saam iets hou?”

      “Vir seker. Tant Mymie sal wil help. Sy bak mos so koekies en maak graag ’n ophef van die ou kleintjies.”

      “As dit baie sagte eetgoed is, kan hulle dit met hulle ou seer mondjies dalk inkry, maar dis die gedagte wat tel. Ons moet hulle ’n bietjie opbeur, en dan sommer die ander outjies ook.”

      In die weeshuis het sy altyd verjaardagpartytjies vir die kleintjies gereël en vreeslik gekollekteer vir die versnaperinge. Sy dink ver terug en kom eers ná ’n rukkie agter dat Bets haar iets vra.

      “Ekskuus, ek is ingedagte. Wat wou jy weet?”

      “Dink dok dit sal vir die dogtertjie se pa moontlik wees om na haar verjaardag te kom?”

      “Dís nou ’n briljante voorstel. Ek dink hy kan gerus die moeite doen – ek gaan hom vandag nog bel.” Sy sien Bets se oë blink. “Is dit genoeg tyd vir daardie dieet om jou onweerstaanbaar te maak?” terg sy met ’n sedige gesig.

      Bets lag skalks. “Hy moet my maar vat soos ek is, met meer vatplek. O, hy is die naaste aan Prince Charming wat ek nog gesien het. Hy het laas my arme ou voete skoon onder my uitgeslaan.”

      Lucinda glimlag geamuseer. “Ja, Eddie was maar altyd vir die meisies baie mooi.”

      “Daar is seker strepe van die flerries agter hom aan. Hoekom klink dit asof dok hom ken?”

      “Ons het saam grootgeword. Wel, tot matriek, toe gaan hy oorsee.”

      “Tik my om met ’n budgie-veer! Ek is skoon jaloers. Die kere dat hy gekom het, het ek so hard probeer om raakgesien te word, maar nee, hy het net die mooi verpleegsters gesien en my skoon misgekyk.”

      “Ag, Bets, ek glo regtig nie hy het jou misgekyk nie,” troos Lucinda.

      Bets sug teatraal.

Скачать книгу