Hartklop Omnibus 3. Malene Breytenbach

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Hartklop Omnibus 3 - Malene Breytenbach страница 14

Hartklop Omnibus 3 - Malene Breytenbach

Скачать книгу

het, maar waarvan sy onbewus was. Een van die dae gaan hy uit haar lewe verdwyn en dan gaan die vakuum erger voel as voorheen. Sy voorsien ’n gemis en sy vrees dit.

      “Hoe lank sal hy nog in die hospitaal moet bly?” vra Werner.

      “Ek sou dink nog minstens ’n week. Sy koorsaanvalle is nie verby nie en ons kan nie kanse waag nie. Uiteindelik sal die aanvalle natuurlik ophou, maar jy moet weet dat hy nog lank pap en siek gaan wees.”

      Werner kyk van haar na Jens en weer na haar. “Sal dit reg wees as ek steeds by jou loseer, dokter O’Neill, totdat hy ontslaan word?”

      Sy glimlag. “Natuurlik, dis nie eens ’n kwessie nie. Jy bly so lank soos jy dit nodig ag.”

      Jens kug asof hy wil aandag trek en dit nodig vind om hulle konsentrasie op mekaar te verbreek. Hy nooi hulle om te sit, en met sy hande saamgevou kyk hy Werner ernstig aan.

      “Die prognose lyk wel positief, maar jy sal moet begryp dat Erik nou bloedarmoedig gaan wees. En sy lewer is aangetas, daarom gaan hy moeg bly. Hy sal vir so ses weke tot twee maande kort-kort toetse en bloedsmere moet ondergaan om die hemoglobien en ystergehalte van sy bloed te toets. Hy sal ook middels moet neem om sy bloed op te bou. Malaria is baie afbrekend. Ek dink nie hy kan huis toe gaan na sy ma nie, want óns sal dit moet doen.”

      Werner vryf oor sy ken en dink met sy kop vooroor geboë.

      Toe kyk hy na Jens. “Wel, ek is mos in Kaapstad gebaseer. My huis is in Constantia en dis ver van hier af, maar ek sal vir eers met Erik daar gaan bly. My suster Dagmar woon in Houtbaai en as ek moet weggaan, kan sy na hom kyk en hom hierheen bring wanneer nodig. Dis glad nie ’n onoorkomelike probleem nie.”

      “Jy sal vir Enid die hele prentjie moet skilder,” sê Jens.

      “Ja, veral na aanleiding van wat ek en jy bespreek het. Verskoon my.”

      Nadat hy uit is, kry Jens ’n uitdrukking van afkeer op sy gesig wat glad nie vir Lucinda kenmerkend van hom is nie.

      “Ek skat Enid slaap nog. Vroeg opstaan is blykbaar nie iets wat sy graag doen nie. Werner wil die kind by Enid wegneem en by hom hou, maar hy vertel my dat sy ’n hele scène gemaak het toe hy dit aan haar voorstel. Sy het selfs voorgestel dat hulle om Erik se onthalwe versoen moet raak.”

      Lucinda kry ’n hol kol op haar maag toe sy dit hoor. “Dink jy … dis moontlik?” vra sy en probeer haar stem kalm en onbetrokke hou.

      “Ek weet nie. Mense offer baie vir hulle kinders op. Sy wou nie in ander Afrikalande gaan bly nie, maar noudat Werner se projek in Zambië ten einde loop en hy waarskynlik weer in Suid-Afrika sal woon, sal sy seker gewillig wees om versoen te raak.”

      Lucinda voel siek. Sou hy nog vir daardie vrou lief kon wees? Sy wat so hard en koud is? Maar sy is baie mooi, en sy het seker ander eienskappe wat hom in die eerste plek aangetrek het. Wat hulle gevoel vir mekaar weer kan aansteek?

      Aangesien sy nog nooit self ’n liefdesverhouding gehad het wat tot trou kon lei nie, weet sy nie hoe diep sulke dinge loop nie. ’n Kind moet tog ’n onbreekbare band tussen man en vrou vorm, of dit liefdevol is of nie?

      Sy staan op. “Ek moet gaan, Jens. Verskoon my.” Buite in die gang loop sy tant Mymie raak.

      “Haai, dokter, wat hoor ek? Ons gaan partytjie hou? Dis sommer ’n blink idee.”

      Lucinda dwing ’n glimlag uit. “Ja, dit sal die kinders opbeur. Dis buitendien ’n goeie manier om Nanette se pa hierheen te lok. Dis hoog tyd dat hy sy kind kom sien.”

      “Ek sou so dink. Hy was lanklaas hier, maar hy lewe mos glo die hoge lewe en is altyd landuit. Waar die ander familie is, weet ek nie. Niemand kom kuier ooit vir die kind nie.”

      Lucinda sien nie nou kans om alles omtrent Edwin se agtergrond te verduidelik nie. Later sal sy dit miskien doen.

      “Dankie dat tante darem probeer om vir haar ’n oumatjie te wees. Ons praat weer oor die reëlings vir die partytjie, maar nou moet ek gou maak, die saalsuster wag vir my.”

      Teen die tyd dat Lucinda weer by Erik Huber uitkom, is sy pa nie daar nie. Sy neem aan Werner is by sy eksvrou. Erik is wakker en lê natgesweet en hygend vir haar en kyk.

      “Hallo, jong,” groet sy vrolik.

      “Hallo, tannie.”

      “Jy voel maar oes, nè? Maar toemaar, ons is besig om die nare ou siekte uit jou te dryf. Ons het aan jou bloed wat ons getoets het, gesien jy is sommer al baie beter.”

      Hy glimlag bewerig.

      “Die verpleegsters gaan jou lekker was en skoon aantrek en jou bed oortrek, dan voel jy weer vars.”

      Sy bruin oë is so groot en moeg tussen die lang, swart wimpers, en hy lyk meteens so tenger dat haar hart sommer van jammerte oorloop.

      “Weet jy, ons gaan vir twee van die ander kinders ’n verjaardagpartytjie hou en jy is genooi, mits jy sterk genoeg voel om te kom. Dis eers volgende week, so jy het tyd om gesonder te word. Hoe klink dit?”

      “Lekker, tannie,” sê hy met ’n swak stemmetjie. “Waar is Pappa?”

      “Ek vermoed hy is by jou mamma. Hy kom seker nou-nou.”

      “Hier is hy,” hoor sy agter haar en draai om, haar hart meteens aan die galop.

      “Ja, hier is hy,” lag sy en geniet die breë wittandglimlag van die man wat nou langs haar by die bed kom staan.

      “Hallo, Pappa,” kom die yl stemmetjie van die bed af.

      “Hallo, my ou groot seun. Mamma sal later vanmiddag kom kuier, hoor.”

      Lucinda staan langs Werner, uiters bewus van die groot lyf, die hande wat uitreik na die kind, die welluidende stem. Sy moet haarself wegskeur, maar sy geniet die skuldige naby-oomblikkie en rek dit uit.

      “Jong, hierdie dokter Lucinda het seker jou lewe gered,” skerts hy. “Jy moet vir haar dankie sê.”

      Die kind kyk verwonderd na haar. “Dankie, tannie.”

      “Haai, dis mos my werk,” lag sy. “Ek moet sorg dat kinders soos jy gesond raak.”

      “Wanneer gaan ek weer vir Rover sien, Pappa?” wil Erik weet.

      “Ongelukkig nie gou nie, my seun. Jy sal by my moet bly, want nadat jy uit die hospitaal ontslaan is, sal jy nog steeds behandeling moet kry om jou weer sterk te maak en dit moet hier gedoen word.”

      Die koorsige ogies helder effens op. “Gaan ek by Pappa bly? Wat van Mamma?”

      “Sy sal kom kuier. As dit nodig is, sal ek Rover ook laat kom.”

      Hy draai na Lucinda, wat haar gesig uitdrukkingloos probeer hou. “Rover is Erik se Engelse skaaphond.”

      “O, ek het so iets vermoed.” Sy moet wegbeweeg, want die twee verpleegsters kom in.

      “Ons is reg vir die skoonmaak,” sê die een vrolik. Lucinda loop en sy is net by die deur toe Werner by haar aansluit. “Jy het my

Скачать книгу