Die koning se wingerd. F. A. Venter

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die koning se wingerd - F. A. Venter страница

Автор:
Серия:
Издательство:
Die koning se wingerd - F. A. Venter

Скачать книгу

on>

      

      DIE KONING

      SE WINGERD

      F.A. VENTER

      Lux Verbi

      Vir Stella Elizabeth en Johann François

Deel een

      1

      Toe die basuingeskal aangehef word, los die werkers in die klipgroef almal hul gereedskap en kyk op na die stadspoort van Samaria. Die menigte voor die poort gaan so aan die juig en skreeu dat die basuine skaars hoorbaar is.

      Alle oë is gerig op die optog wat teen die ronde heuwel opkruip na die stadspoort, waar die skare hoe langer hoe opgewondener word. Uit die rumoer styg gaandeweg ’n ritmiese geroep op: “Isebel … Isebel … prinses Isebel!” Die skare begin die optog tegemoethardloop, strooi blomme in die pad.

      ’n Lang en indrukwekkende optog dié. Vooraan die gewapende ruiters wat hul perde spoggerig laat kopspeel en dwarspassies uitvoer, die lanse f litsend in die son; dan die drie versierde waens met kappe van Tirreense purper, getrek deur lewendige swart hingste en beskerm deur die manne van ’n hoofman oor honderd; dan ’n lang streep voetgangers in priesterlike klere, vier-vier langs mekaar, baie plegstatig; dan swaar gelaaide oskarre, en kamele met hul drywers, alles in netjiese gelid; en heel agter ’n hoofman met honderd lansiers en een met honderd boogskutters.

      Voordat die rumoerige skare by die voorpunt van die optog aansluit, kan die werkers in die klipgroef die kleinerige man in sy koningsklere op die voorste wa uitken en langs hom die lang, statige vrou; regop soos ’n standbeeld. Hulle wuif, die man vriendelik en die vrou stywerig. Dit maak die skare histeries sodat die ruiters en die voetsoldate hul hande vol het om dié wat nader storm van die waens weg te hou.

      In die klipgroef het Johanan en Sihon ook hul hamers en beitels neergesit. Hulle verkyk hulle aan die skouspel. Dit lyk of die hele hang van die heuwel na die stadspoort aanskuiwe.

      “Wat ’n pakkaas!” smaal Johanan versigtig-sag. “Lyk my Isebel het die hele Sidon na Samaria saamgebring.”

      “Prinses Isebel,” vermaan Sihon sy maat. “Onthou, môre word sy die vrou van prins Agab van Israel.”

      “Moenie sonde soek nie, Sihon …”

      Sihon terg nie verder nie. Hy weet hoe kriewelrig sy vriend kan raak, en die opsigters is gewoonlik die ene ore. Tog wil hy Johanan nie heeltemal los nie. Hy voel lus om ’n bietjie aweregs te wees. “Onthou, prinses Isebel is die dogter van koning Etbaäl van Sidon. Sy is gewoond aan rykdom; daarom het sy so baie bagasie,” sê hy bedaard.

      “En ’n hele kasarm priesters op die koop toe,” kla Johanan harder as wat hy behoort te doen. “Sy waag baie om met so ’n boel Baälpriesters in Samaria aangesit te kom. Die vermetelheid!”

      “Los dit,” keer Sihon. “Ons kan nie hier staan en stry nie.” Hy loer na die geselpaal daar eenkant. “Een ding kan ek jou sê: Ons gaan nog heelwat van prinses Isebel hoor. Hulle sê sy’s ’n voorslag.”

      Johanan wil weer praat, maar toe gewaar hy die opsigter hier kort by hulle; ’n groot, iesegrimmige man wat hom altyd gedra asof hy al Israel se sondes op iemand wil wreek. Die twee gryp dadelik hul hamers en beitels.

      “Aan die werk!” bulk Obed, die opsigter. “Verkyk julle jul ook aan die Baälkaravaan? Pleks dat julle klippe kap.”

      Sihon kom orent en vee die sweet uit sy oë. “Ons het maar net gekyk na koning Etbaäl en prinses Isebel …”

      “Daardie Baälfeeks met haar priestergespuis!” bulder Obed. “Wat is daar aan haar te sien? En aan haar verpotte pa?”

      “Sy is die bruid van prins Agab.” Sihon sê dit half uitdagend sodat Johanan ontsteld na hom loer. Sou Sihon meen dat die koms van Isebel alles klaar verander het?

      Obed se growwe gesig word rooi. “Jy terg my, jou vervloekte Kanaäniet!” Hy slaan Sihon ’n hou oor die linkerskouer sodat die voorslag van die karwats die vel op sy rug oopkloof.

      Sihon bly doodstil staan, maar sy vuis klem om die steel van die hamer. Gou spring Johanan tussen hom en Obed in. Sihon se asem jaag, maar hy sê niks verder nie. Vir ’n Kanaäniet is dit ’n wet van die lewe om stil te bly en te verduur. Só is hy grootgemaak.

      “Waarom slaan jy hom?” vra Johanan. “Hy praat mos die waarheid. Isebel gaan nog koningin van Israel word.”

      “Stil!” gebied Obed. “Of wil jy ook ’n hou oor jou harspan hê?”

      “Aan mý slaan jy nie. Ek is ’n Israeliet, Nabot van Jisreël se seun.”

      Obed meet Johanan met die karwats. “Israeliet ofte nie …”

      “En hoe dink jy wat sal met jou gebeur as ek vir die hoofopsigter gaan vertel wat jy oor prins Agab se bruid gesê het?”

      Obed gluur Johanan en Sihon aan, maar sy houding verslap stadig. “Bewerk daardie klippe,” kners hy, draai om en stap weg om sy gesag op ’n ander plek te laat geld.

      Sihon druk met sy vereelte hande op die growwe kant van sy klip, probeer die woede in hom bedwing.

      “Hy’t jou rug oopgeslaan,” sê Johanan. “Wat het jou besiel om so te praat?”

      Sihon skud sy natgeswete kop. “Laat hom maar slaan,” sê hy. “Hy slaan net die haat dieper in my in … Slae is goed vir ons Kanaäniete; dit help dat die vuur in ons nooit geblus word nie.”

      “Waarom het jy hom getart? Ek ken jou nie so nie.”

      “Omdat ek vandag amper vry voel. Isebel se koms het ’n nuwe pad oopgemaak. Sy bring ’n nuwe geluid in Israel. Haar naam het haar vooruitgeloop na Samaria. Sy sal haar stem verhef ter wille van Baäl en ons Kanaäniete.”

      “Sihon,” sê Johanan besorg, “jy moenie met vuur speel nie.” Hy knabbel met sy beitel aan die klip, maar weet dit skaars.

      Sihon antwoord nie. Hulle praat nie verder nie, werk net aan die vierkantige klippe.

      Die poort het nou die optog en die skare ingesluk. Die enigste beweging voor die poort is dié van die handelaars wat onder hul afdakkies rondspring om munt te slaan uit die menigte nuuskieriges wat van heinde en ver gekom het om koning Etbaäl van Sidon en sy dogter Isebel te verwelkom.

      Binne-in die stad moet daar groot opwinding wees, want telkens klink ’n dawerende gejuig op, gedra deur die warm, dor wind uit die heuwelland van Israel.

      Vir Sihon is dit ’n genoeglike geluid. Hy glo vas dat dit die voorspel is tot iets opwindends. Maar Johanan luister met vertwyfeling en onrus.

      Toe hulle weer rug reguit maak, merk Johanan dat die haal oor Sihon se rug bloederig glinster. Hy gaan haal Sihon se jurk. “Trek dit aan,” sê hy. “Die son is nie goed vir jou wond nie.”

      Sihon trek dit aan en kreun toe die growwe weefstof die seerplek aanraak. “Waarom is alle Israeliete nie soos jy nie?” sê hy vir Johanan.

      “Het ons dan nie saam grootgeword nie?”

      Sihon blaas op sy hande. “Ek wens alles was nog soos toe ons jonk was, toe ons saam skaap opgepas het. Maar hoe ouer ons word, hoe meer ons van die wêreld en die mens verstaan, hoe meer loop ons paaie uitmekaar.”

Скачать книгу