Boom bomer boomste. Elsabe Steenberg

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Boom bomer boomste - Elsabe Steenberg страница 5

Boom bomer boomste - Elsabe Steenberg

Скачать книгу

net hier en daar ’n naweek kan kom. Seker maar dat hy kan weet dat daar darem iewers nog ’n plek bestaan wat nét syne is. In die kamp slaap hulle klompe bymekaar, daar’s geen privaatheid nie. Ek is wel jammer vir hom, maar dis Philla wat die swaarste kry. Ons twee aard nie lekker so saam in die kamer nie. Ek probeer hard om dit nie te doen nie, maar elke kort-kort baklei ek met haar omdat haar laaie slordig is, omdat sy vergeet om haar bed op te maak, omdat die lessenaar waar ons al twee moet werk, ewig gesaai lê van háár boeke en tekenpapier.

      Vandat sy by my moes intrek, toe Ouma van Oupa af weg is, loop sy baie meer rond as eers.

      “Skryf jy vir Oupa?” vra ek. Dis nog nie baie lig in die kamer nie en sy sit behoorlik met haar neus op die skryfblok; haar hare val oor haar oë. Sy’s omtrent die enigste meisie in standerd sewe wat nog lang hare het; definitief die enigste wat die goed nie vleg of ordentlik vasmaak nie, maar dit pas haar. Buitendien het sy mooi hare.

      “Gaan dit gou pos,” sê sy en trek ’n langbroek en trui sommer oor haar slaapklere aan.

      “Oppas dat Ouma jou nie sien nie. Sy sal nou enige oomblik kombuis toe verkas om koffie te maak.”

      “Dan liewer deur die venster.” Sy lig die sifraam weg. “As sý nie vir Oupa wil skryf nie, is dit nog nie te sê dat ek dit nie mag doen nie. Hoe moet hy nou voel – alleen in ’n hospitaalkamer!” So vroeg in die oggend is haar oë donkergrys en opstandig.

      “Pos vir my ook ’n brief,” vra ek, en kry dit tussen my boeke. Sy ruk haar kop eenkant toe dat die hare wegswaai.

      “Vir Jimmie! Hy kom tog die naweek.”

      “Ek het dit geskryf voor ons geweet het, maar dit maak ook nie saak nie. Hy’s so honger vir briewe.”

      “Lien kan skryf,” sê sy styf.

      Ek probeer geduldig wees, maar dis moeilik. “Jy’s so onredelik oor Lien! Jimmie is tog al agtien, hoekom kan hy nie ’n meisie hê nie?”

      “Ek en hy was altyd maats. Jy weet dit!”

      Ja, ek weet. Speel saam bal, en sien my nie eens huil oor ek graag wil saamspeel nie. Geniet hulle eie spesiale grappies of ek nie bestaan nie, gee vir mekaar lekkers wat hulle by partytjies versteek het. ’n Ruk het hulle glad in geheimtaal met mekaar gepraat – ek het gedog ek word gek. Ek is mos óók Jimmie se suster.

      “Nou toe, kry jou loop,” sê ek, en sy frons effens – seker omdat ek so onnodig kribbig klink. Sy klim deur die venster met die ongelooflik lenige bewegings wat mense altyd na haar laat kyk, en skielik is sy weg.

      Toe ek weer wakker word en haastig opspring omdat dit laat is, lê Philla uitgestrek en slaap, sommer bo-op die komberse en nog geklee in die langbroek en trui. As sy so diep slaap, kry geen aardbewing of sirene haar wakker nie. My moed sink: nou is dit weer een van dáárdie dae. Hoekom moet ék ook alewig die spit afbyt – dis mos nie my skuld dat sy geen normale roetine kan volg nie.

      En daar begin dit ook, nog voor ek behoorlik in die eetkamer is. “Waar is Philippa?” vra Ouma, gereed om pap in te skep. So lank is sy nou al by ons, meer as ses maande, en sy weier nog om te aanvaar dat ons nie lief is vir pap nie – nie een van ons nie. Sy glo eenvoudig aan ’n “stewige ontbyt” en klaar. G’n toebroodjies vir saamvat skool toe nie, natuurlik, dis ongesond om tussenin te eet.

      “Sy … is maar hier,” sê ek vaag. Ma kyk vinnig na my.

      “Philippa-a!” roep Ouma met ’n groot stem. Geen antwoord nie. “Sy gaan nooit betyds klaarkry om die bus te haal nie. Van hierdie laksheid en laatslapery is ek darem nou keelvol!”

      “Ek sal gaan kyk,” sê Ma gou. En kom terug met die hulpelose optrek van haar skouers wat sy die afgelope maande aangeleer het. “Sy slaap baie vas.”

      “Ek sal haar roep,” sê Ouma onheilspellend en sit die paplepel neer. Net toe kom Pa in, nog besig om sy baadjie aan te trek. Philla word vies as ek dit sê en glo dit glad nie, maar Pa het tog iets van Oupa in hom: ’n trekkie om die mond, sy skraal hande.

      “Wag, Moeder,” sê Pa. Maar voor hy of Ouma verder kan besluit oor wie nou eintlik sal gaan, het ek reeds voor hulle uitgehol kamer toe. Ma kom agter my aan. “Sy’t net agt minute om klaar te maak en die bus te haal,” sê sy bekommerd.

      “Sy … sy’t ’n slegte nag gehad, Mamma. Miskien moet ons haar liewer los. Ouma het al haar gesang gesing voor sy regtig geslaap het.”

      “Ek verstaan nie hoe …” Ma sug. Eintlik som sy dit mooi op: sy verstaan nie. Van die begin af kon sy Philla nie verstaan nie. Probeer, o ja. Nou nog, aanmekaar, maar dit help min. Dis so goed of jy ’n som probeer maak deur op te tel terwyl dit eintlik afgetrek én gedeel én vermenigvuldig moet word.

      “Philla?” Sy skud aan haar, eers ligweg en dan woes. “Word nou tog wakker, kind, dis ’n gewone skooldag! Roer jou!”

      “Gewoon?” mompel Philla asof sy die woord nog nooit gehoor het nie. “Hmmmmmm.” Sy rol om en slaap verder.

      “Ek sal iets bedink,” belowe ek, en ’n oomblik kyk Ma na my sonder die skaduwee van moegheid en spanning wat donkerder geword het in haar oë vandat Ouma by ons woon. Ek slaan my arm om haar.

      “Jy’s lief,” sê sy dankbaar. “Moenie self die bus verpas nie.”

      Ek skryf ’n haastige nota en druk dit in Philla se hand: Kom suutjies skool toe so gou jy wakker word. Klim deur die venster, ek sluit die deur.

      “Waar is sy?” galm Ouma toe ek pas die deur toegetrek en gesluit het.

      “Klaar weg, sy was seker nie honger nie.” Haastig glip ek by die voordeur uit en nael die ent bushalte toe.

      By die skool kom standerdsewekinders met boodskappe van die een na die ander onderwyser: waar’s Philla? Elke keer rammel ek die rympie af: Sy’s siekerig, sal later kom … jammer … sal verduidelik … sal werk inhaal …

      Die vreemde is dit: elke onderwyser wat al ooit vir Philla skoolgehou het of dit nog doen, trek bosse hare uit oor sy so onverskillig of afwesig of parmantig of … ag, ’n honderd dinge … is. Die meeste het haar al kantoor toe gestuur en dan preek die hoof ook langdurig oor haar sondes. En tóg hou hulle van haar en maak die verstommendste toegewings. Miskien weet hulle ook al wat ek ingesien het toe sy nog hier in die eerste standerds van die laerskool was: sy’s net ’n wildsbokkie wat per ongeluk tussen die hokke in ’n dieretuin verdwaal geraak het. Baie het haar al probeer vang en in enige soort hok ingedruk, en as hulle weer kyk, is sy weg. Net so. Nie uit moedswil nie; doodgewoon omdat sy nie anders kán nie.

      Sy kom pouse by die skool aan met haar hare heeltemal los, ’n herfsblaar aan haar rok gespeld en ’n pajamakoord (Pa s’n?) om haar middel. Sy’t skoene aan maar nie sokkies nie. Sulke tye maak ek of ek haar nie ken nie; loop sommer ’n koers in. Vas teen Leon wat ook in standerd agt is, maar in ’n ander groep as ek. Hy’t baie lank geword die laaste ruk, ek moet opkyk na hom.

      “Hallo,” groet hy. “Jy hou jou skaars.”

      Ek kan nie aan ’n antwoord dink nie.

      “Daardie sussie van jou darem,” grinnik hy, en oombliklik is ek woedend. Dis goed en wel om so half sentimenteel aan haar te dink as ’n som wat nie opgetel kan word nie, of ’n wildsbokkie, o ja, maar om familie van haar te wees, net ’n jaar ouer as sy, altyd op die verdediging,

Скачать книгу