Stories van Bergplaas. Alba Bouwer

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Stories van Bergplaas - Alba Bouwer страница 4

Автор:
Серия:
Издательство:
Stories van Bergplaas - Alba Bouwer

Скачать книгу

      “Is jy weer naar?” vra sy. “Het Hans Boesman jou nie dalk regtig getoor nie?”

      Bramie gee ’n snuif en ’n hik. “Dit het so gestink in die kis,” sê hy. “Dit het vreeslik gestink. Dis daarvan.”

      “So soos ou melk in ’n toe kan, so stink?” vra Grietjie.

      “Nee, baie slegter, soos twak en skaapvel en oulyf, so.”

      “Sies,” sê Grietjie en sy spoeg ook. Bramie vee met sy hand oor sy mond. “Nou’s dit oor,” sê hy.

      “Maar ons sal jou nóóit daar gekry het nie, dis die slimste wegkruipplek op die hele plaas, sowaar,” sê Grietjie.

      “Hm,” sê Bramie en hy wikkel weer sy lyf terug deur die venster en hoor hoe Grietjie se bed in die kamer langsaan kraak soos sy inklim. ’n Vlooi maak ’n jeukspoortjie teen sy een been, maar hy roer nie eens nie, want sy kop voel groot en lig en ver weg van sy been af en trek stadig weg met hom, die sagte donker in.

      As Bramie skemeroggend wakker word, skuif hy hom ’n slag dieper tussen die lakens in, maak sy oë styf toe en luister hoe die water in die bergstroom langs die huis afloop. Saam met die bruin bergwater gly hy oor die gladde klippe, onder die groot akkerboomwortel deur, ghloemps oor die rand van die wasbalie regoor die kombuis en dan weer saggies verder onder die blomtuindraad deur af wingerd toe. Sy oë wil net weer slap word en sy kop lekker lig van seil saam met die heuninggladde water, dan sê ou Warie se rantsoenemmertjie klieks! soos hy dit aan die onderste tak van die ou lemmetjieboom voor die agterdeur ophang. Nou kan Bramie skaars mooi tot by tien tel, dan begin die werfklok langs die keldermuur kloeng-kloeng-kloeng-kloeng-kloeng! lui soos ou Warie die draad daaraan trek. Voordat die laaste kloeng mooi doodval, staan ai Nonkie in die kamerdeur. “Môre, Brampies! Hier’s jou dop, ou seur van Sadewee.”

      “Dankie, ai Nonkie, môre, ai Nonkie,” en Bramie vat die koppie koffie en sit dit op die stoel voor sy bed neer, mooi langs die Kinderbybel, want ’n mens mag nooit iets op ’n Bybel sit nie, sê tant Letta. Bramie trek sy oë op twee smal vetergaatjies en kyk hoe die vaal rokie uit die koffie ’n dun wurmpie in die lig maak en stadig wegraak. Net soos hy die koppie optel om die rokie plat te sluk, staan Grietjie in die deur. Haar oë is nog nou van die slaap en haar vlegsels lyk gekoek en deurmekaar, maar haar gesig is rooi van haar koffie wat sy vinnig ingesluk het. “Môre, Boeta,” sê sy. “Onthou jy Giel het gesê ons moet vanoggend vroeër by die poort wees want hy moet nog sy ma se botter by die pastorie gaan afgee?”

      “Hm,” sê Bramie en hy knyp sy oë styf toe en sluk lang, stadige slukke.

      Grietjie gooi haar vlegsels agtertoe en knyp haar oë so styf toe dat haar voorkop vol slootjies word. “Hm, hm,” sê sy. “Lyk my Abraham het sy tong uitgedroom. Hm, hm!” en sy loop toe-oë en voel-voel by die deur uit na haar kamer toe.

      Bramie sluk sy laaste koffiesluk, gryp sy handdoek en spring deur die venster om in die bergstroom net bokant die wasbalie sy gesig te was. Grietjie moet in die waskom in haar kamer was omdat sy ’n meisie is en sy moet skoene dra skool toe omdat sy in ’n meisieskool is, maar hy kan lekker in die bergsloot was en kaalvoet skool toe gaan tot hy dertien is soos Giel, tot dan kan hy kaalvoet na die seunskool gaan, en dan moet hy ook skoene en sokkies dra.

      “Môre, duusmannetjie,” sê Jafta Paal van die lemmetjieboom af waar hy sy rantsoenemmertjie aan die hoogste tak ophang. “Hups soos ’n ratel en vroeg uit die katel, ni!”

      “Môre, outa Jaffie,” sê Bramie en hy glip gou weer deur sy venster en trek hom vinnig aan. Voordat Grietjie haar vlegsels uitgekam en gevleg het, sal hy tog klaar in sy hemp en sy broek wees, met die gestreepte skooldassie om die nek geknoop. In die kamer langsaan hoor hy Grietjie praat: “Ai Nonkie, hoekom vleg jy nie eendag vir my ook sulke mierpaadjies oor die kop soos Trui altyd het nie, hè, ai Nonkie? Eina!”

      “Staan stil, Grieta,” sê ai Nonkie. “En basta met jou mierpaadjies. Jou hare is te lank en te glad vir mierpaadjies. As jy sulke Masbiek-hare het soos Trui, kan ons altemitters vir jou mierpaadjies maak.”

      “Hoekom is jou hare nie ook so soos Trui en Meisie en antie Willem Houtmens s’n nie, hè, ai Nonkie? Eina!” sê Grietjie.

      “Ek het ordintlike Malbaarbloed en ordintlike Malbaarhare, daaroor,” sê ai Nonkie. “Nou kam ek my ’n kondee en ek knoop my kopdoek daarom. Staan stil, Ounooi.”

      “Hoekom kan ek nie ook so ’n bolla, so ’n kondee, dra nie, ai Nonkie? Dan steek ons soggens net my vlegsels op en dan hoef ons mos nie elke oggend so uit te borsel nie, hè, ai Nonkie?”

      “’n Bril pas nie by ’n bôjaan nie en ’n kondee pas nie by ’n kind nie, daaroor,” sê ai Nonkie.

      “Kondee, kondee, kondee,” sê Grietjie vinnig soos een wat tafels leer. “Kondee – eina, ai Nonkie! Jy gee altyd so ’n harde trek as jy die strikkie bind. Hoekom kan my hare nie so kort soos Bramie s’n wees nie? Dan hoef ek nooit koeke uit te kam en linte te soek nie.”

      “Toe maar, Ounooi,” sê ai Nonkie, “jy’t ’n alte goeie kop gladde hare, laat bly maar die ou kortkopseunskinders wat soos afhoringrammetjies lyk, laat bly maar vir hulle, wat!”

      Bramie steek sy kop by die deur in: “Kondee-kondee-kondee,” sê hy. “Die pap is in die spens en jy moet kom-eet, kom-eet, kom-eet!”

      Toe hulle klaar geëet en monde afgevee en tant Letta en oom Koos gesoen het, stap Bramie en Grietjie in die plaaspad langs die wingerd af tot by die wit poort. Daar wag hulle vir Giel en sy broertjie Gert wat met die eenperdkarretjie van Janbewersfontein af in die ver hoek van die kloof kom. Bramie se donkerblou petjie wip-wip langs Grietjie se wit hoed met die skoolband om, en agter hulle draf Lappies, die bont brakkie. Toe hulle by die poort kom, hou Giel net in die pad stil. “Môre! Môre!” skree hy van ver af. “Roer julle stampers, ons is laat!”

      Lappies draf saam tot by die pad en staan en kyk hoe Grietjie eers inklim en op die agterbankie gaan sit by Gert, en Bramie dan opwip en op die voorste bankie langs Giel neerval. Dan gee hy ’n kort blaffie, spring kortom en hardloop na die hek waar hy deurglip en ruik-ruik al op oom Koos se spore aandraf na die skoffeldam in die wingerd.

      Die oggend se ry met die karretjie is vir Bramie die lekkerste lekker van die dag, baie lekkerder as die middag se terugry. Die oggendwindjie vee soos ’n sagte, koel blaretakkie oor jou wang, en oral in die skeure en voue teen Vaalkop kruip die vroeë skaduwees weg soos groot blou voëls wat wag dat die son hulle moet kom uitlig. Sjlip-sjlap, sjlip-sjlap skiet die karwiele die los sand in die pad op, en ug-ug-ug-ug maak die ou swart perd van pure lospoot draf tussen die dennebome en onder die keurtjietakke deur. Gert sit met ’n boek op sy skoot en probeer so tussen die stamp en die swaai deur nog ’n paar spelwoorde leer, want hy is twaalf en in standerd vier by ’n meneer wat alte maklik ’n lat inlê oor sleg spel. Grietjie sit en lees in haar biblioteekboek en blaai net af en toe girts die bladsy om. Giel praat niks, want hy dink aan al die huiswerk wat hy nog nie gedoen het nie en aan die Engels en die geskiedenis wat hy nooit kan onthou nie. Af en toe versit hy net sy voete voor teen die plank en gee die leisels ’n ligte plukkie. Bramie hou sy kop so skuins na die dennebos se kant toe en luister hoe ’n duif roep:

      “Soet s-oe-ntjies! Soet s-oe-ntjies!” Al hoe verder en verder weg raak die soet soentjies en al hoe nader kom die geluid van die rivierwater soos die pad afsak na die drif toe.

      “Hoit!” sê Gert en die swart perd gee ’n paar

Скачать книгу