Goudmyn. Wilbur Smith

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Goudmyn - Wilbur Smith страница 5

Goudmyn - Wilbur Smith

Скачать книгу

af gewaar hy Frank Lemmer, Sonderkloof-myn se hoofbestuurder. Hy lê op sy rug. Sy helm is van sy kop af gestamp en daar is ’n diep sny bokant sy oog. Bloed uit die wond het in sy silwer hare ingeloop en swart saamgekoek. Hy maak sy oë oop en knip hulle soos ’n uil vir die helderte van Jak se lamp. Jak swaai vinnig die ligstraal weg.

      “Meneer Lemmer,” sê hy.

      “Wat de hel dink jy doen jy by die reddingspan?” blaf Frank Lemmer. “Dis nie jou werk nie. Het jy in twintig jaar se mynwerk nie ’n enkele bliksemse ding geleer nie?”

      “Is als reg, meneer?”

      “Kry ’n dokter hier. Hy sal my moet lossny van hierdie besigheid af.”

      Jak skuifel nader, dan sien hy wat die baas bedoel het. Van sy elmboog af is sy arm onder ’n soliede rotslaag vasgepen. Jak voel aan die rots. Dit sal plofstof vat om dit te skuif. Soos gewoonlik is Frank Lemmer reg.

      Jak wikkel terug uit die opening uit en roep oor sy skouer: “Kry die telefoon hier.”

      ’n Paar minute later kom hy deur na die stasie op vlak 95 wat as noodhulppos en rusplek vir die reddingswerkers ingerig is.

      “Dis Stapelberg. Kry vir my vir dokter Stander.”

      “Hou aan.”

      Dan, oomblikke later: “Hallo, Jak, dis Daniël.”

      “Jis, Daniël, ons het die ou man gekry.”

      “Hoe gaan dit met hom? Is hy by sy positiewe?”

      “Ja, maar hy’s vasgepen – jy sal moet kom sny.”

      “Is jy seker?” vra Daniël Stander.

      “Natuurlik is ek seker,” snou Jak.

      “Stadig nou, ou kêrel,” vermaan Daniël hom.

      “Jammer.”

      “Nou ja, waar’s hy vasgepen?”

      “Arm. Jy sal hom bokant die elmboog moet afsit.”

      “H’m, tog te lekker,” merk Daniël op.

      “Ek wag hier vir jou.”

      “Goed so, ek sal so oor vyf minute daar wees.”

      6

      “Dis snaaks, jy sien hulle keer op keer so sny, maar jy’s seker dit sal nooit met jou gebeur nie.” Frank Lemmer se stem is rustig en sterk. Die arm moet sy gevoel verloor het, dink Jak terwyl hy langs sy baas in die werkgang lê.

      Die man draai sy kop na Jak toe. “Hoekom gaan boer jy nie, ou seun?”

      “U weet hoekom.”

      “Ja.” Lemmer glimlag effens, net ’n trekking van sy lippe. Met sy los hand vee hy sy mond af. “Jy weet, ek het nog net drie maande voordat ek aftree. Ek het dit so byna gemaak. Jy sal ook nog in hierdie posisie beland, boet, in die grond met jou bene verbrysel.”

      “Dis nie die einde nie,” sê Jak.

      “Is dit nie?” Hierdie keer grinnik hy. “Is dit nie?”

      “Wat’s die grap?” vra Daniël Stander, en kyk deur die opening na hulle.

      “Genade, dit het jou lank genoeg gevat om hier te kom,” brom Frank Lemmer.

      “Help ’n bietjie, Jak.” Daniël gee sy dokterstas aan. Dan, terwyl hy deurkruip, praat hy met Frank Lemmer: “Unie Staal het vanaand op 98 sent gesluit. Ek het gesê jy moet koop.”

      “Te duur, oorgekapitaliseer,” snork die ouer man.

      Daniël gaan lê op sy sy en pak sy instrumente uit, terwyl hulle oor aandele kibbel. Toe hy die spuit vol Pentanol getrek het en die seningrige arm ontsmet, draai Lemmer weer sy kop na Jak se kant toe.

      “Ons het goed gemyn hier, Jakobus, ek en jy. Ek wens hulle wil dit nou vir jou gee, maar hulle sal nie, jy’s nog te jonk. Maar wie hulle ook al in my plek sit, sorg dat jy ’n ogie op hom hou. Jy ken die grond hier, moenie dat hy dit opfoeter nie.”

      En die naald gaan in.

      Daniël sny binne vier-en-’n-half minute deur die arm. Sewe-en-twintig minute later sterf Frank Lemmer weens skok en ontbering in die dienshyshok, op pad oppervlak toe.

      7

      As hy eers Patti se onderhoud betaal het, is daar nie meer veel van Jak se salaris oor vir luukses nie, maar een van sy pronkstukke is die groot, roomkleurige Maserati. Hoewel die kar al twee jaar oud is, ’n 1966-model met reeds byna vyftigduisend kilometer op toe hy hom gekoop het, vat die paaiemente ’n groot hap uit sy maandelikse salaristjek.

      Op oggende soos hierdie dink hy die uitgawe is die moeite werd. Hy kom met die kronkelpad van Kraalkoprif af, en sodra die nasionale pad plat en gelyk voor hom lê vir die laaste stuk Johannesburg toe, gee hy vet. Dis asof die kar hom plattrek teen die grond soos ’n leeu wat storm en die enjin se geluid verander, word dieper, dringender.

      Gewoonlik is dit ’n uur se ry van die Sonderkloof-myn af tot in die Johannesburgse middestad, maar Jak kan twintig minute van daardie tyd afkerf.

      Dis Saterdagoggend en hy is opgeruimd, vol afwagting.

      Sedert die egskeiding lewe Jak soos Jekyll en Hyde. Vyf dae ’n week is hy ’n maatskappyman in die topbestuur, maar op die laaste twee dae gaan hy Johannesburg toe met sy gholfstokke agter in die Maserati, die sleutels van sy luukse woonstel in Hillbrow in sy agtersak, en ’n glimlag op sy lippe.

      Vandag is die afwagting groter as gewoonlik, want bo en behalwe die 22-jarige blonde model wat regstaan om haar aand aan Jakobus Stapelberg se vermaak te wy, is daar die geheimsinnige afspraak met doktor Manfred Steyner om na te kom.

      Die uitnodiging het gekom via ’n naamlose vrou wat gebel het en haar as “doktor Steyner se sekretaresse” bekend gestel het. Dit was die dag ná Frank Lemmer se begrafnis. Jak moet hom Saterdag om elf voormiddag aanmeld.

      Hy het nog nooit vir Manfred Steyner ontmoet nie, maar het natuurlik al van hom gehoor. Enigiemand wat in een van die 56 maatskappye werk waaruit die Gekonsolideerde Sentraalrand-groep bestaan, moes al van Steyner gehoor het, en die Sonderkloof-mynmaatskappy is deel van die groep.

      Manfred Steyner het ’n baccalaureusgraad in ekonomie van die Berlynse universiteit, en ’n doktorsgraad in sake-administrasie van Cornell. Hy het skaars twaalf jaar tevore op dertigjarige ouderdom by GSR aangesluit, en nou is hy die gunsteling om die groep oor te neem. Hurry Hirschfeld sal nie vir ewig lewe nie, al gee hy alle aanduidings dat presies dit sy bedoeling is. As hy die dag heengaan om ’n oorname van die hel te probeer bewimpel, is die verwagting allerweë dat Manfred Steyner hom as GSR se voorsitter gaan opvolg.

      Dit is ’n gesogte posisie, want dit beteken outomaties jy is een van die vyf magtigste mans in Afrika, en dit sluit staatshoofde in.

      Die verwagtinge rondom doktor Steyner is gegrond op ’n aantal goeie redes. Hy het ’n brein wat hom die bynaam Die Rekenaar besorg

Скачать книгу