Goudmyn. Wilbur Smith

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Goudmyn - Wilbur Smith страница 8

Goudmyn - Wilbur Smith

Скачать книгу

op agter sy lessenaar. “Jy sal van my hoor. Nou kan jy gaan.”

      9

      Jak steek die breë geplaveide stoep oor sonder om enigiets te sien of te hoor. Hy is in ’n dwaal terwyl hy oor die grasperk na sy kar toe loop. Sy gedagtes maal oor die pas afgelope gesprek, skeur dit uitmekaar soos ’n trop wildehonde wat ’n karkas toetakel.

      Hy loop omtrent in Theresa Steyner vas voordat hy haar opmerk, en eensklaps dink hy glad nie meer aan die pos as hoofbestuurder nie.

      Theresa het ander klere aangetrek, haar gesig gegrimeer, en die boksterte is versteek onder ’n lemmetjiegroen syserp – dit alles in die halfuur sedert hy haar laas gesien het. Sy staan by ’n blombedding met ’n mandjie aan een arm gehaak, helder en vrolik soos ’n heuningvoëltjie.

      Jak is geamuseer en gevlei, ydel genoeg om te besef die verandering was om sy onthalwe, en genoeg van ’n kenner om die verbetering te waardeer.

      “Hallo.”

      Sy kyk op, en kry dit reg om tegelyk verbaas en ongekunsteld te lyk. Haar oë is regtig enorm, en die grimering is aangewend om hulle te beklemtoon.

      “Jy’s ’n besige miertjie.” Jak laat gly sy kennersoog oor die geblomde broekpak wat sy dra, en sien die blos op haar wange vorm toe sy sy oë op haar voel.

      “Was die gesprek suksesvol?”

      “Baie.”

      “Is jy ’n prokureur?”

      “Nee, ek werk vir jou oupa.”

      “Op watter terrein?”

      “Ek delf goud.”

      “Watter myn?”

      “Sonderkloof.”

      “Wat doen jy daar?”

      “Wel, as jou man woord hou, dan’s ek die nuwe hoofbestuurder.”

      “Jy’s te jonk,” sê sy.

      “Dis wat ek ook gedink het.”

      “Oupaps sal wel iets hieroor te sê hê.”

      “Oupaps?” vra hy.

      “My oupa.”

      Jak lag voordat hy hom kan inhou.

      “Wat’s miskien so snaaks?”

      “Dat GSR se voorsitter ‘Oupaps’ genoem word.”

      “Dis net ek wat hom so noem.”

      “Daarvan is ek seker.” Hy lag weer. “ ’n Meisie soos jy kan seker allerhande stoutighede aanvang.”

      Die seksuele moontlikhede van sy opmerking tref hulle albei en hulle raak stil. Theresa kyk af terwyl sy ’n blomsteel knip.

      “Ek het dit nie só bedoel nie,” maak Jak verskoning.

      “Nie hoe nie, meneer Stapelberg?” Sy kyk openlik na hom en vra die vraag met onnutsige onskuld, waarop hulle albei lag.

      Die ongemak wyk dadelik.

      Sy loop saam met hom kar toe en laat dit doodnatuurlik voorkom, en toe hy agter die stuur inklim, merk sy op: “Ek en Manfred kom volgende week Sonderkloof toe. Manfred gaan toekennings vir lang diens en dapperheid aan party van jou mense toeken.” Sy het reeds die uitnodiging om saam met Manfred te gaan van die hand gewys, en sal nou moet sorg dat hy haar weer nooi. “Ek sal jou seker dan sien.”

      “Ek sien uit daarna,” sê Jak en laat skiet die koppelaar.

      Met die wegry kyk hy in sy truspieëltjie. Sy is ’n merkwaardig aantreklike en aanloklike vrou. As ’n man nie oppas nie, kan jy in daardie oë verdrink.

      Doktor Manfred Steyner het vir hom ’n helse probleem op die hals gehaal, besluit hy. Onse Manfred is seker so besig om sy toerusting in te seep en te skrop, dat hy nooit daarby uitkom om dit te gebruik nie.

      10

      Deur die loodglasvensters sien doktor Steyner ’n flits van die Maserati toe dit om die oprit se draai verdwyn, en hy luister totdat die enjingedruis stil raak. Dan tel hy die telefoon se gehoorbuis op en vee dit met die wit sakdoek af voordat hy dit teen sy oor druk. Hy skakel en terwyl die foon lui, inspekteer hy sy los hand se naels noukeurig.

      “Steyner,” sê hy in die mondstuk. “Ja … Ja.”

      Hy luister.

      “Ja, hy is pas hier weg … Ja, dis gereël … Nee, daar sal nie moeilikheid wees nie, daarvan is ek seker.” Terwyl hy praat, kyk hy na sy handpalm. Hy sien fyn sweetdruppeltjies daarop uitslaan en ’n opwelling van weersin trek sy lippe plat. “Ek is ten volle bewus van die gevolge. Ek kan jou verseker, ek weet.”

      Hy maak sy oë toe en luister nog ’n rukkie roerloos terwyl die gehoorstuk krys en klik, dan maak hy sy oë oop. “Dit sal als wel gedoen word, daarvan kan jy maar seker wees. Tot siens.”

      Hy lui af en gaan na die wasbak toe. Terwyl hy sy hande inseep, dink hy: Nou moet ek dit net by die ou man verbykry.

      11

      Hy is nou oud, 78 lang, moeilike jare oud. Sy hare en wenkbroue is spierwit, sy vel is vol voue en plooie, vol merke en vlekke, en hang in sakkies onder sy ken en oë.

      Sy lyf het uitgedroog, sodat hy lank en dun en krom staan soos ’n boom wat in sterk wind gegroei het, maar die onderliggende dringendheid spreek nog steeds uit sy houding, met dieselfde dringendheid wat vir hom die naam Hurry Hirschfeld verwerf het toe hy sestig jaar gelede die eerste keer die goudvelde getref het.

      Op hierdie Maandagoggend staan hy voor die vollengte vensters in sy dakkantoor en kyk af oor Johannesburg. Reef House staan skouer aan magtige skouer langs die Schlesinger-gebou op Braamfonteinrif, bokant die middestad. Van hierdie hoogte af lyk dit asof Johannesburg voor Hurry Hirschfeld se voete neerbuig, wat heel gepas is.

      Lank gelede, voor die Groot Depressie van die 1930’s, het hy al opgehou om sy rykdom in terme van geld te meet. Hy besit in sy persoonlike hoedanigheid meer as ’n kwart van Gekonsolideerde Sentraalrand se aandele. Teen die huidige markwaarde van R120 per aandeel is dit ’n asembenemende bedrag.

      Daarby, deur middel van ’n ingewikkelde netwerk van trusts, volmagte en verweefde direkteurskappe, het hy beheer oor ’n massiewe blok van twintig persent van die maatskappy se stemreg.

      Die interkom pieng saggies in die vertrek met sy sagte materiaal en ingetoë kleure, en Hurry skrik effe. “Ja,” sê hy sonder om van die venster af weg te draai.

      “Doktor Steyner is hier, meneer Hirschfeld,” kom sy sekretaresse se fluisterstem, spookagtig in die luuksueuse ruimte.

      “Stuur hom in,” snerp Hurry. Die verdomde interkom gee hom die horries. Die hele verdomde vertrek gee hom die horries. Soos hy al telkens hardop gesê het, dis soos ’n hoerhuis vir feetjies.

Скачать книгу