Dors. Marinda van Zyl
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Dors - Marinda van Zyl страница 6
“En toe slaan jou pa hom katswink en beland in die tronk?”
Jan vee oor sy oë asof hy die beeld wil uitwis. “As hy maar het. Hy’t omgedraai en weggeloop. Ek hoor nou nog die spottende lag van die Engelsman. Ek was toe tien en wou omvlieg om hom te gaan regsien, maar Pa het my aan die skouer beetgekry: ‘As jy een maal jou hande met stront bevuil het, kleef die reuk vir altyd.’”
“Jou pa was ’n wyse man. Maak soos hy jou geleer het. Lag vir hulle en stap weg. Dis skone jaloesie oor hulle nie jou kennis en durf het nie wat Louw-hulle so laat optree.”
Jan suig ’n rukkie aan sy pyp. “Jy’s reg, hulle moet wag tot ek lus het om verslag te doen, want daar’s spanne tyd. Ek vat nie ’n trek in die somer deur die Dors nie. Hopelik skok die nuus dat Khama ons deurgang weier hulle tot besinning.”
Betta voel die vrees soos ’n slang teen haar ruggraat afseil toe die swartkraai skree.
4
September 1876, Jakobsrus, Ackermans se plaas naby Rustenburg
Adriana lê en luister na die donderweer wat al hoe dowwer word en adem die geur van nat grond in. Langs haar slaap haar sussie nog vas. Voetjie vir voetjie sluip sy by die slaapkamer uit sodat Bellie nie moet wakker word nie. In die kombuis is Heilie besig om pannekoekdeeg aan te maak.
“Pappa gaan sopnat wees wanneer hy by die huis kom,” sê Heilie.
Adriana is sommer van nuuts af vies vir haar pa oor hy ná middagete mielieland toe is sonder haar. Toe gebruik haar ma die kans om haar op te saal met Bellie. “Ek gaan net gou kyk of alles reg is by my sog. Bellie slaap nog.”
Adriana het skaars begin om droë hooi vir haar dragtige sog uit te gooi, toe haar ma se stem oor die werf sny: “Adriana, kom vat vir Bellie!”
Wat sou die klein klits tog nou weer aangevang het? Adriana gryp haar rokspante bymekaar en hardloop spring-spring oor plasse water huis toe. Haar ma sit soos gewoonlik op die stoep met borduurwerk op haar skoot en Boeta stroopsoet langs haar. Sy raap vir Bellie uit ’n modderpoel op en hou haar met uitgestrekte arms op ’n afstand.
Bellie spartel om vry te kom. “Ek bak koekies, ek bak koekies.” Dis duidelik dat sy nie net modderkoekies bak nie, maar dit ook eet, want haar gesiggie is die ene modder.
“Dis ’n mensie wat jy vashou, nie ’n doringtak nie. Verbeel jou sy’s ’n klein varkie.”
Adriana kyk verbaas op na haar pa wat op die tuinhekkie leun. Die oomblik toe sy haar arms verslap, skop Bellie haar in die maag. “Eina, varkies maak nie so nie!” protesteer sy.
Heilie roep van die stoep af: “Kom, Bellie, kom ons bak liewer pannekoek. Dis tog baie lekkerder as modderkoekies.”
Verlig sit Adriana vir Bellie neer en dié hardloop agter Heilie aan die huis in. Koponderstebo wag sy vir die skrobbering wat moet volg oor sy ongehoorsaam was. Maar dis haar pa wat in haar ma se visier is.
“Jakobus! Jy was al weer by die Lemmers. Ek dag jy’s mielielande toe. Of het jy in ’n stroois geskuil om so kurkdroog te wees?”
“Celia, wees tog redelik. Ek het toevallig vir Lodewyk raakgeloop. Ons het boerderydinge gehad om oor te praat. Moes ons dit nou in die reën staan en doen oor jy nie wil hê ek moet in jou niggie se huis kom nie?”
Adriana skud haar kop. Dis nou die verkeerdste antwoord wat haar pa kon gee. Pleks dat hy ’n witleuentjie vertel en sê hy was by oupa Jakob-hulle oorkant die spruit op Ackermansdrif.
Om te vlug is haar pa se natuurlike reaksie as haar ma só na hom kyk. “Ek is nou op pad lande toe. Adriana, saal solank die perde vir ons op. Lyk my Boeta is lus om saam te ry. Hy kan sommer voor by jou op die saal sit.”
Haar ma se arm skiet uit en trek Boeta teen haar vas. “Nee, sy bors is nie lekker nie en dis sopnat buite.”
“Ag, kom nou, Celia. Op die perd se rug kan hy tog nie nat word nie en dis September, nie winter nie.”
“Nee, hy sal siek word en hy is al wat ek het.”
“En ek en die meisiekinders?”
Adriana wag nie op haar ma se antwoord nie. Vandat Boeta sewe jaar terug gebore is, maak niemand anders meer saak vir haar ma nie.
Pronk is klaar opgesaal toe haar pa by die stal kom. “Ek ry solank vooruit,” sê hy.
Hy is skaars by die werf uit toe Adriana by hom verbyjaag. Sonder kappie en met rokspante fladderend in die wind lê sy plat teen die perd se nek en skree: “Laaste een by die land is vrot pampoen!”
By die bruisende spruit wag sy vir hom. Maak of sy nie die seer in die hang van sy skouers raaksien toe hy op ’n drafstap naderry nie en sê gemaak vrolik: “Dit moes meer gereën het in die rante as by die huis. Gaan ons gou kyk?”
Hy korrel met een oog na die son. “Goed, dan kan ek sommer by die saaivolk se werf aangaan. Die hoofman het laat weet hulle wil meer grond skoonmaak vir hulle koring, want Oupa wil mos nou net mielies op die ou lande laat plant. Maar ons sal moet aanstoot. Jy weet hoe dit jou ma ontstel as ons nie teen skemer by die huis is nie en my mond water vir Heilie se pannekoek.”
’n Halfuur later stuur hulle die perde teen die koppie op. Van bo af kan hulle die wasige blou Magaliesberg in die noorde sien. Weswaarts sny die spruit deur soetdoringveld wat goudgeel in die blom is tot by die lushof van opstalle waar vier plase se hoeke grens. “Oupa Jakob het darem maar die mooiste plek op aarde uitgekies om sy paradys te kom skep,” dink Adriana hardop.
“Eintlik het die noodlot dit so beskik. Toe ons in 1842 uit Natalia hierheen getrek het, was al die grond langs die Mooirivier al beset. Hy’t ons in Mooirivierdorp gelos en noordwaarts verken vir geskikte grond waar hy ook sou kon saai. Dis juis op ’n dag soos vandag, met die spruit in vloed, dat hy hier aangekom het. Hy’t dadelik vir hom en oom Flip en Braam plase uitgemeet. Daardie tyd het hulle dit nog gedoen deur ’n uur te perd in elke windrigting te ry.”
“Hoekom het Pa dan nie ook ’n plaas gekry nie?”
“Ek was maar twee jaar oud. Mens moes veertien wees om te kwalifiseer vir ’n plaas.”
Aan tafel die aand sê haar pa terloops: “Môre moet ek vroeg roer. Ek en Wikus gaan bees koop.”
Adriana kyk vinnig van haar bord af op by die noem van Wikus se naam.
Haar ma trek bakkop soos ’n rinkhals. “Wat het Wikus met jou beeskopery uit te waai?”
“Dis vir hom wat ons koeie gaan koop. Lodewyk sê Wikus sal seker aanstons begin dink aan vrou vat. Dis tyd dat hy sy eie aanteeltrop kry. Dries Petoors wil saam met Jan Greyling Damaraland toe trek. Hy gaan glo sy hele boerdery tot niet maak.”
“Dis mos die Lemmers se besigheid. Vir wat bemoei jy jou daarmee?”
“Lodewyk sê hy is ongerus oor Corrie. Sy sukkel weer erg met die water. Hy wil haar nie nou alleen laat nie. Jy weet mos,” beduie hy met sy oë in die rigting van sy dogters.
Adriana loer vir Heilie. Sou hulle pa sowaar glo hulle weet nie tant Corrie gaan weer ’n baba kry