Dors. Marinda van Zyl
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Dors - Marinda van Zyl страница 8
“In die kombuis. Hy en Boeta eet nog. Ek het juis kom kyk of Wikus al op pad is, want my pa is haastig om te ry.”
“So dan ís hy besig om agter my rug te konkel.”
Adriana moet haastig terugtree toe haar oupa die tuinhekkie oopstamp. Sy volg hom, nuuskierig oor die rede vir sy omgekraptheid.
Haar pa spring op toe Oupa die kombuis instorm. “Is iets fout met Ma?”
“Nou wat’s dit met jou en Adriana vanmôre dat julle dink daar skeel iets met haar? Ek’s hier om te hoor van jou veekopery waarvan ek tot gisteraand geen sout of water geweet het nie.” Oupa spoeg sy kousel pruimtwak met ’n boog uit.
“Ai tog, Pa! Mieta-hulle het die hele week gewerk om die vloere te smeer. Ek moes tot tollie slag sodat daar genoeg bloed is om met die mis te meng vir die regte kleur, en hier kom spoeg Pa kolle met die intrapslag. Celia wil graag die plek netjies hê vir haar ouers se kuier.”
“Moenie jakkalsdraaie gooi nie, Jakobus. Waarom weet ek niks van jou veekopery nie?”
Haar pa se mondhoek ruk soos hy hom vererg. “Omdat daar niks vir Pa te wete is nie. Lodewyk het gevra ek moet Wikus gaan help met sy aankope. Ek beplan nie om enigiets te koop nie, behalwe miskien ’n verskalfie vir Boeta. Iets wat ek lankal moes doen.”
’n Rukkie is Oupa sonder woorde, toe probeer hy weer sy gesag afdwing. “Ons moet die vee minder maak, pleks van meer, anders is Jakobsrus ook later so kaalgevreet soos Ackermansdrif.”
“Nou hoekom praat Pa dan nie vir broer Flip aan nie?”
“Jy vergeet Ackermansdrif moet vir vier huise kos op die tafel sit.”
“Nou hoe kom Pa daarby uit? Pa-hulle leef mos uit Jakobsrus se opbrengs. Die helfte van die aanteelt is Pa s’n, en ’n kwart van die oes. Daaruit kan Pa-hulle tog ruim leef.” Hy haal sy hoed en sweep van die kapstok af. “As daar nog iets is, moet dit wag tot vanaand. As ons nie nou in die pad kom nie, is die vendusie verby voor ons daar kom.”
“Ek is nog nie klaar gepraat nie. Oor Danie van Flip aankomende Maart trou, het ek besluit hy moet oortrek Jakobsrus toe. Daar’s nie plek vir nog ’n werf op Ackermansdrif nie.”
“Pa kan dit nie doen nie. Jakobsrus is my erfdeel. Pa het Ackermansdrif en Sterkspruit vir Flip en Braam gekoop. Dit was tog nog altyd die plan dat ek Jakobsrus kry. Of hoe? Ek is tog Pa se naamgenoot, so ook Boeta, daarom …”
“En so ook twee ander kleinkinders en ’n agterkleinkind,” val Oupa hom in die rede, “maar tot ek die dag my kop neerlê, is dit my grond. Soetdoring kon vandag joune gewees het. Maar nee, toe staan en kies jy mos vrou met jou lyf pleks van jou kop.”
“Pa! Nie voor die kinders nie.”
Adriana gee dadelik pad voor sy weer van afluistery beskuldig word. Buite is dit reeds lig, maar sy sien nie vir Wikus nie en besluit om vir ouma Tina te gaan môre sê. Die damwal in die spruit is nog glad van gister se oorloop en sy beland amper in die water toe sy omkyk-omkyk loop met die hoop dat sy vir Wikus sal gewaar.
“Môre, Ouma,” roep sy toe sy by die oop voordeur instap.
“In die kamer. Kam nog hare, my hartjie.”
In die kamer neem Adriana die borsel uit haar ouma se hande en laat gly dit deur die sysagte grys hare. “Ouma se hare blink soos silwer in die kerslig.”
“Og ja, in my jong dae was dit goud soos Heilie en Bellie s’n en het ek Heilie se lyfie gehad. Maar julle kinders weet mos niks van die swaarkry wat ons op die trekpad …”
“Hoe wil Ouma dit hê? Bolla of vlegsel om die kop?” vra Adriana voor haar ouma weer begin uitwei oor die twee seuns wat sy op die trekpad verloor het en hoe lekker sy in Natalia gebly het tot oupa Jakob weer die Engelse as verskoning gebruik het om te trek. Ouma Tina antwoord nie en Adriana besluit op ’n bolla.
“Wat bring jou so vroeg hier, hartjie?” vra Ouma terwyl sy die haarnaalde vir Adriana aangee.
“Ek dag Ouma is siek toe Oupa douvoordag daar by ons instorm.”
“Nee, die satangs ry hom mos weer ná Sanna gisteraand kom skinner het dat Jakobus vandag gaan beeste koop. Kon laas nag nie twee oge op mekaar sit soos hy rondrol en vroetel nie.”
Mieta kon seker nie wag om gisteraand by haar suster te kom stories aandra nie, besef Adriana. “Oupa se slapelose nag was alles verniet. Pappa gaan net vir Wikus help om goeie aanteelvee te koop.”
“Vier ons dalk iets meer as ’n verjaarsdag hierdie jaar?” wil Ouma dadelik weet en Adriana is sommer van voor af vies vir Wikus.
Sy bly haar ouma ’n antwoord skuldig, maar vra: “Gaan Ouma kom?”
“Flip het gesê hulle sal my op die wa katrol soos met nagmaal.”
Adriana omhels haar ouma, al krap die snorbaarde. “My pa gaan vreeslik bly wees om dit te hoor.”
Sy swik amper onder die gewig toe haar ouma op haar leun om voetjie vir voetjie haar logge liggaam na die voorhuis te verskuif waar sy die res van die dag gaan slyt. Adriana vryf die koue voete wat sy op die voetstofie sit en stut haar kop teen die sagte knie. Toe Ouma oor haar hare streel, voer dit haar terug na haar kleintyd en die koestering van haar ouma se sagte skoot. Haar nuuskierigheid kry die oorhand: “Nou hoe’t Ouma so vet geword as Ouma eers soos Heilie gelyk het?”
“Seker maar Sanna se lekker kos,” sug sy. “Kon nie ophou eet wanneer jou oupa my alleen los om te gaan jag of op kommando gaan nie. Geweet hy gaan eendag terugkom en sê daar is iewers ’n beter plek. Nou sal hy my nie weer op ’n wa kan laai en die grammadoelas infoeter nie. Kamstig die plaas Jakobsrus genoem om te wys dis ons laaste staning, maar ek sien mos die kyk in sy oë as hy na die rantjies staar.”
5
September 1876, Greyling-staning
Betta nies toe die wind rooi stofwalms saam met die droë peultjies van die withaak by die tentopening instoot. Sy haal ’n sakdoek uit haar voorskootsak en blaas haar neus driftig, die psalm wat sy aan ’t neurie was vergete. Versigtig ondersoek sy Elisabet se wit rok om te sien of daar spatsels op is.
In haar voorbereiding vir die trek het sy nooit daaraan gedink dat Elisabet en Paul nog nie as lidmate van die Gereformeerde Kerk aangeneem is nie. Nou moet sy hier in die stof sit en klere maak. Haar dogter se rok mag nie by die ander meisies afsteek nie, maar te oordadig kan sy dit ook nie versier nie, want dan klap die tonge weer. Daarom het sy besluit om net die moue en die kraag met wit satyngare te borduur.
Verlede week het die ouderling die nuus gebring dat Rustenburg se dominee middel September hier kom kerk hou. Dit was goeie nuus, want nou kan Elisabet en Paul aangeneem word voor hulle sonder leraar die wildernis intrek. Maar toe gooi die ouderling ’n turksvy in haar skoot. “Ek wil die katkisante vir die volgende drie weke onderrig. Julle sal na die hooflaer toe moet versit.”
Dit sou vet op die vuur wees as Jan en Daniël drie weke lank onder mekaar se voete is. Gelukkig het sy onthou dat Grieta van Alie Haasbroek ook nog moet katkiseer. Paul en Elisabet kon saam met hulle gaan. Met ouma Lappies om toesig te hou sou sy gerus slaap. Maar nee, toe word