Prooi. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Prooi - Deon Meyer страница 7
Hy was ’n lenige man. Fiks. Aantreklik. Met ’n glimlag vol selfvertroue, ’n uitdrukking wat sê: Kyk, dís die lieflike goed wat die lewe vir my gegee het.
Terwyl hy alles stelselmatig deursoek en op die Canon vaslê, dink Griessel aan foto’s.
Sommiges lieg.
Dié een van die Johnson-gesin is omtrent drie jaar oud. Destyds dalk uitgestal op Robyn se lessenaar. Of teen J.J. se muur waar hy in Pretoria gebly het. Dit spreek van geluk en harmonie, dit profeteer ’n sprokiesverhaal.
En kyk waar is hulle nou.
Hy dink nie hy het sulke foto’s nie. Toe hy en Anna, sy eks, só oud was, het hy dag en nag gewerk by die ou Moord-en-Roof. Gewerk en gesuip. Sy lewe was ’n waas van geweldsmisdaad en drank. Die enkele foto’s wat bestaan, het hy geneem met ’n mik-en-druk wanneer hulle in April gaan vakansie hou het. Tien dae van soberheid by Langebaan of Hermanus se see, sy kop by die werk, sy hart by die brandewyn. Net Anna en sy dogter, Carla, en sy seun, Fritz, is op die foto’s. Die kinders uitbundig, gelukkig. En in Anna se oë – dalk verbeel hy hom dit in retrospek – ’n bietjie bang vir die monster in haar man, die posttraumatiese stres wat niemand destyds mooi verstaan het nie.
Dit was foto’s wat hul toekoms veel beter voorspel het. Want hy was afwesig.
Carla is nou twee-en-twintig. Sy het begin werk as ’n skakelbeampte op ’n wynlandgoed. Sy het drama geswot, maar sy kon nie werk in die vermaaklikheidsbedryf kry nie. Fritz is negentien en ’n tweedejaar by AFDA, die Kaapse filmskool wat Griessel nie kan bekostig nie. En Anna is getroud met ’n prokureur. Wanneer hy en Anna mekaar nou en dan sien, lyk dit altyd vir hom of sy verlig is dat sy verlos is van hom. En of sy haar ’n bietjie skaam vir sy styllose klere en sy apologetiese houding.
En hy verstaan dit.
Want hy is steeds net ’n poliesman, ’n rehabiliterende alkoholis, skaars agt maande droog, en sy grootste begeerte is om die ander rehabiliterende alkoholis in sy lewe te vra om met hom te trou. Die ring vir Alexa Barnard is gekoop, toegesluit in sy boonste laai by die werk.
Hy hou aan vir homself sê hy het haar nog nie gevra nie, want hy wil dit spesiaal maak. ’n Storie wat sy met trots en smaak sal kan oorvertel.
Maar die waarheid is: Hy is bang.
Bennie Griessel sug. Hy maak klaar, sluit en ry.
Hy het niks gekry nie.
7
Augustus. Daniel Darret. Bordeaux.
Daniel se lewe was doelbewus eenvoudig, vóór madame Lecompte en die geweld in die nag.
Hy werk as handlanger vir die meubelrestoureerder Henry Lefèvre. Die ou man met sy dik, silwerwit hare en snor is ’n geniale houttowenaar wat kosbare stukke uit die sewentiende en agttiende eeue só perfek kan regmaak dat Europa se grootste kenners van antieke meubels nie die herstelwerk kan raaksien nie.
Maar Levèfre het Asperger-sindroom. Sy brein lê op die sosiaal-problematiese deel van die outismespektrum. Hy maak geen oogkontak nie en het geen sin van of empatie met ander se gevoelens en bedoelings nie. Daarom is dit baie moeilik om saam met hom te werk. Kollegas voel gou dat hy hulle beledig, verneder of ignoreer, al is dit nie sy bedoeling nie. “Hy het net nie ’n filter nie, en hy dink dit is hoe almal is,” het sy vrou, madame Sandrine Lefèvre, vir Daniel gesê toe sy hom aangestel het. “Die handlangers hou net ’n week of twee, monsieur Darret, al betaal ons meer as die gewone salaris. As jy fyngevoelig is, moet jy maar vir my sê. Dan moet jy liewer ’n ander betrekking gaan soek.”
Sy bedryf ’n aangrensende oudhedewinkel in die Chartrons-buurt – Madame Lefèvre, Antiquités-Brocante – wat onder meer haar man se handewerk verkoop. Sy is ’n baie slim vrou.
Daniel het destyds vir haar gesê hy dink hy sal die Aspergers kan hanteer. En toe gee sy hom die betrekking – hoofsaaklik omdat hy groot en sterk is, en die salaris sonder kibbeling aanvaar het. En omdat sy net so desperaat was soos hy.
Dit het hom maande geneem om vrede te maak met die ou man se vreemde gedrag. Eindelik het daar ’n band tussen hulle ontwikkel, onuitgesproke, amorf en vreemd. Dit bestaan net in die stiltes van die werkswinkel, in die ritme wanneer net hulle twee saamwerk, en in die seldsame, vlietende flitse in Lefèvre se oë wat ’n sagter, meer akkommoderende taal praat.
En hy raak verlief op die Lefèvre-proses, om stukkende goed heel te maak.
* * *
Daniel staan elke weeksdag om ses op, drink sterk koffie, eet sy hawermout, gee die kat kos, maak die eenslaapkamer-woonstel skoon, was en skeer, en stap dan om sewe-uur na La Boulangerie op die Rue des Faures. Hy groet die bakkers op die naam, en hulle vir hom. Hy koop twee croissants en twee chocolatines. Laasgenoemde eet hy so in die loop op pad werk toe, want dit is nog warm uit die oond. Die croissants sit hy in die klein rugsak, want dit is vir tienuur saam met sy tee.
Hy is altyd eerste by die werkswinkel. Dan sluit hy oop en adem die reuke in van meubelpolitoer en vernis, lym en houtskaafsels en -saagsels, die stapels planke en die vreemde, misterieuse muskus van die ou, afgeleefde stukke. Elke oggend is die aroma se versnit effens anders, bepaal deur wat le génie laas nag gebeitel of gesaag of geskaaf of blinkgevryf het.
Sy gewone dagtaak, wanneer die Lefèvres daar is: Hy stof af en vee skoon, pak en hang gereedskap presies soos Lefèvre daarvan hou, en hy herstapel planke en meubels, bekyk voorraad, vul aan en maak ’n lys van bestellings. Om nege-uur kom Madame, dan beraadslaag hulle, hy merk die verkoopte goed en dra dit na die diensingang waar die afleweringsvragmotor dit net voor tien sal kom haal. Dan eet hy sy croissants saam met tee, en wanneer le génie aankom, werk hulle volgens Lefèvre se bevele tot Madame middagete na agter bring. Wat hulle in afsondering eet, elkeen op sy eie houtkrat aan weerskante van die werkswinkel.
En hy steel met sy oë, alles wat Henry Lefèvre met die hout en die meubels doen.
Iewers ná drie kom wink Madame hom stil-stil weg en hy skuif vir haar goed in die winkel rond, doen kleiner aflewerings of help met die aanry van stukke met die paneelwa. Hy werk soms aan sy eie projek, wanneer die skedule dit toelaat. Ná vyf gaan hy huis toe, sonder om vir Monsieur te groet, want teen daardie tyd is die meubelmaker reeds diep in sy eie wêreld verlore.
Dit is ’n lang dag se werk, fisiek uitdagend, want hy is feitlik heeltyd op sy voete, en hy moet swaar items optel en aandra, skuif en aflewer, meestal alleen. Juis daarom dat hy daarvan hou. Dit hou hom fiks en maak hom moeg, sodat hy soms saans nie die energie het om te verlang of te treur of te onthou nie.
* * *
Saans ná werk kyk hy televisie. Sokker. Ou flieks. Nuus. Of hy lees op sy tweedehandse tablet oor die gebeure in sy geboorteland.
Saterdae maak hy die woonstel van hoek tot kant skoon. Dan gaan hy mark toe vir sy weeklikse aankope van kaas en ham, skywe terrien of patee, saucisson en vrugte, asook Wackett se vis, en vir ’n glas wyn en gesels met Mamadou Ali, die man wat vir die bloemiste werk en algemeen bekendstaan as Ali du Mali. Ali van Mali.
Hy het nie werklik ander vriende nie, mense weet nie veel van hom nie.
Sondae sal hy sy motorfiets gaan was in die klein motorhuis wat hy huur in die Rue Permentade, en