Uit die Beek 2019. Barend Vos

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Uit die Beek 2019 - Barend Vos страница 15

Автор:
Серия:
Издательство:
Uit die Beek 2019 - Barend Vos

Скачать книгу

is, woon en werk rustig voort. Vind jou vreugde in die Here … (v. 3-4).

      Moet jou nie ontstel oor die skynbare voorspoed van goddelose mense nie. Skelms se rakleeftyd verstryk gouer as wat jy – en hulle! – dink. Daar is baie beter dinge om te doen as om jou oor hulle te kwel. Byvoorbeeld: Gaan voort met jou lewe. Die Here wat Hom nog altyd oor jou gekwel het, sal steeds sorg.

      Dit is ’n kort samevatting van hierdie langerige psalm. En dalk moet gelowiges dié paar sinne dadelik op ’n yskasdeur plak, daar waar hulle vandag ’n paar keer gaan aandoen. Of dalk voor hul bed, waar hulle vanoggend of vanaand gaan kniel.

      Miskien is die heel beste plek vir hierdie opgeplakte samevatting bo teen die plafon. Daar waarheen jy staar wanneer jy op jou bed lê en sukkel om tot slaap te kom. Ja, gaan plak dit daar, sodat jy dit nie kan miskyk nie: die vermaning om jou nie oor skelms te ontstel nie. Om nie jou tyd en krag en slaap ter wille van boelies en ander skurke op te offer nie.

      Want wat kan jý nou eintlik daaraan doen? Sal jy, soos Jesus later sou sê, daardeur jou lewe “met een enkele uur verleng”? (Matt 6:27). Nee, jy kan niks aan hulle doen nie. En jy wil ook nie. Hulle is in die Here se visier. Hý sal vergeld (vgl. Rom 12:19).

      Haal dan maar daardie nota af van die yskasdeur, die bed se kopstuk, die plafon. Skeur dit op. Vergeet van hulle. Die Here sal aan hulle dink, en sy tyd afwag.

      Leef vol vreugde voort in die beskerming van Hom wat jou nooit sal vergeet nie.

      ____________________

      Reinig my gemoed, Here! Ek laat alles aan U oor.

      Vrydag 22 FEBRUARIE 2019 Lees Genesis 44:1-17

      Ons

      Juda het geantwoord: “Wat kan ons vir Meneer sê? Wat kan ons antwoord en hoe kan ons onsself verontskuldig? God het ons sonde aan die lig gebring. Hier is ons … ons almal, saam met hom by wie die beker gekry is” (v. 16).

      Josef, sy pa se gunsteling. Josef met die veelkleurige droomjas. Josef die gehate broer. Josef die verkoopte slaaf. En nou, oplaas, Josef die baas, die man met die hoofamptenaar vir wie hy opdragte gee. Josef, ’n man met ’n plan …

      ’n Nogal wrede plan: Hy laat “plant” ’n silwerbeker in boetie Benjamin se bagasie. En toe dié kosbaarheid in Benjamin se sak ontdek word, is daar moeilikheid. Die broers skeur hul klere, klim weer op die donkies en kies koers terug Egipte toe. Hier sal hulle maar hul pak moet vat.

      Die oudste broer, Juda, se belydenis is eenvoudig: Ons is skuldig, ons het geen verskoning nie, u kan ons maar straf, ons almal.

      Merkwaardig, nè? Die broers aanvaar gesamentlike verant­woor­delikheid vir die “misdaad” wat hul jongste boetie gepleeg het. Hier is geen sprake van “jy het jou eie bed opgemaak, gaan slaap nou maar daarop” nie. Nee. “Hier is ons …” sê Juda, “ons almal.”

      Hoe jy ook al hierdie verhaal lees, jy kan geen ander afleiding maak as dat die broers eerlikwaar die klein beskuldigde wil bystaan nie. Dalk het hulle iets geleer ná hul ellendige optrede vroeër teen die dromertjie-met-die-jas. Dalk is dit hul gewete …

      Dit is nietemin verfrissend om so iets te hoor, al kom hierdie teks deur die eeue na ons toe. Ja, om juis vandag te verneem van mense wat sê “ons” – welwetend dat hulle daarvoor ’n prys gaan betaal.

      ____________________

      Dit is U, Here, wat mense saambind. Dit is U wat ons uit ons foute laat leer. Ons prys u Naam!

      Saterdag 23 FEBRUARIE 2019 Lees Genesis 44:18-34

      Juda

      “Hoe kan ek sonder die seun by my pa aankom? Ek sal dit nie kan verdra om te sien dat so ’n smart hom tref nie” (v. 34).

      Soos hulle sê: “The plot thickens.” Dit gebeur in alle verhale wat so goed oorvertel word soos dié een. Stukkie vir stukkie, paragraaf na paragraaf, neem die spanning toe. Die leser wil weet: Wanneer gaan Josef met die sak patats vorendag kom?

      Nog nie. Josef luister geduldig hoe Juda verduidelik, hoe hy om­slagtig vertel van sy vader se broosheid oor Benjamin. Daar was mos reeds die ellende met die ander broertjie, van wie die pa moes aanvaar “dat ’n roofdier hom opgevreet het” (v. 28). Daarom het hy wat Juda is persoonlik aanspreeklikheid vir Benjamin se veiligheid aanvaar. (Wat die ou vader natuurlik nie weet nie, is hoe swaar Juda aan sy gewete dra. Daardie roofdierstorie …)

      Wat Josef hoor, is wat elke leser van hierdie verhaal hoor: die erns waarmee ’n seun sy pa se saak bepleit. Boonop ten koste van homself: “Hou my daarom dan nou hier …” (v. 33). Daar ís dus iets soos grondige besinning, ’n bekering van die hart. Juda se optrede bewys dit.

      Vir die res van Juda se storie kan die Bybelleser gerus eers verder blaai, ver vorentoe, tot by die eerste boek in die Nuwe Testament. Tot hier: “Juda was die vader van Peres en Serag by Tamar …” (Matt 1:3). Juda is dus een van Jesus van Nasaret se voorsate.

      Daar is dus ook iets soos genade, daardie verbysterende daad van God. Ja, daar is maar Een soos Hy wat onverdienstelike mense in sy diens neem.

      Dit alles wys natuurlik ook dat hierdie dagstukkie se titel foutief is. Dit moet “God” heet. Hý is die onderwerp van elke storie, elke dag van ons lewe. En daarna.

      ____________________

      Grote God, aan U die eer! Heerlik is waar U regeer.

      Sondag 24 FEBRUARIE 2019 Lees Genesis 45:3-11, 15

      Maar God

      “Dis nie júlle wat my hierheen gestuur het nie, maar God. Hy het my laat aanstel …” (v. 8).

      Hier kom alles uiteindelik op die lappe. Josef, vertel die skrywer, kon sy emosies nie meer beheer nie en het al sy Egiptiese amptenare van hom af weggestuur. Net sy broers was by hom. En toe het hy begin huil, so hard dat almal in die paleis hom kon hoor.

      Toe vra hy uit oor sy pa. Sy broers kon hul ore nie glo nie. Is dit werklik Josef, die verkoopte slaaf, ons broertjie oor wie ons ’n liegstorie vertel het? Is dit werklik hý, hierdie magtige Egiptenaar?

      Dit is hy. En hy sal hulle sekerlik nou terugbetaal vir alles wat hulle hom aangedoen het. Hy sal behoorlik wraak neem – omdat hy kan. Hy sal ten minste sy dreigement uitvoer en Benjamin na behore straf. Of die broers se “aanbod” aanvaar dat hulle almal tot slawearbeid gevonnis word. Boon­op is daar Juda se pleidooi: “Hou my … hier as Meneer se slaaf …” (Gen 44:10-33).

      Maar Josef het niks hiervan ooit oorweeg nie. Hy het iets heel­te­mal anders in gedagte: Hy gaan haal die storie ver – by hul mo­tiewe, hul bose dade – en stel dit in ’n splinternuwe perspektief. Nie net slaan hy só hul asem weg nie, hy verras ook die latere lesers van hierdie verhaal.

      Julle was, onwetend, bloot God se handlangers, sê hy vir die broers. Julle maak allerlei planne, maar God het sy eie plan met al jul plannetjies.

      Julle sús en julle só – maar Gód!

      Ja, “maar God” … Dit bly waarskynlik die kortste samevatting van die blye evangelie.

      ____________________

      U

Скачать книгу