Boomwortels in die hemel. Pierre du Plessis
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Boomwortels in die hemel - Pierre du Plessis страница 4
Jesus se woorde dus: hierdie feesjaar gaan gebeur, maar dis nie vir julle nie.
Hoe lyk God se hart, daar waar die wortels van die koninkryk diep ingegroei lê? God se plan is nog altyd dieselfde. God se plan is vir sy mense om Hom te ken, om Hom lief te hê en Hom te volg. Die plan is vir ons om terug te keer na ons wortels, om weer saam met Hom in die tuin te stap – in perfekte harmonie met Hom, mekaar en die natuur.
Die waardes van God se koninkryk is anders en lyk vir ons onderstebo. Amper soos die kremetartboom wat so onderstebo staan met sy worteltakke wat na die hemel strek. God sluit hulle in wat ons uitsluit. God stel belang in wie jy is, in jou karakter, nie in wat jy dink jy reggekry het nie. God is nie magsbehep nie. God is die mens Jesus wat onder ons kom woon het en ons kom dien het. In God se nuwe wêreld tel oorgee meer as beheer, tel vertroue meer as sekuriteit en tel liefde meer as aanvaarding.
Jesus kondig ’n feesjaar aan, ’n jaar van rus met slawe wat vry gaan, grond wat terugbesorg word en skuld wat afgeskryf word. Hierdie nuwe koninkryk se ekonomie lyk baie anders as die een wat ons in ons Westerse wêreld ken, selfs al is Jesus die sentrale figuur. Jesus is anders, radikaal, terug na die wortel. Die onderstebo genadejaarkoninkryk verskyn gereeld in Jesus se optrede, in sy stories en in sy wysheid.
Hoe lyk ’n feesjaar se ekonomiese stelsels? Watter dinge sal in ons wêreld moet verander as ons durf waag om te begin leef soos wat Jesus leer? Hoe dink ons op ’n praktiese vlak oor rus, slawe, eiendom en skuld? Dit is maklik om dit te vergeestelik, maar ons het baie egte uitdagings in elkeen van hierdie vier genadejaarvoorwaardes wat aan ons samelewing se deure hamer.
Ons is uitgeput en uitgebrand. Ons werksetiek is van so ’n aard dat ons mense letterlik en figuurlik boei. Grondhervorming is ’n tameletjie in ons eie land en in baie wêrelddele. Finansiële skuld verwoes gesinne en ekonomieë.
Ek het regtig nie antwoorde nie, maar ons moet baie ernstig oor hierdie sake dink. Hoe loop ons agter Jesus aan as Hy ons na ’n hersteljaar uitnooi?
Dit is moeilik om te verteer. Ons is so gewoond aan die wêreld soos dit is dat Jesus se wêreld vir ons verkeerd lyk – onmoontlik en onderstebo.
Terwyl dit eintlik óns is wat onderstebo en agterstevoorom leef.
DEEL 1
EK EN GOD
Wat is my verstaan van myself deur die lens van my verhouding met God? Hoe lyk ons verhouding? Jy weet, wanneer ek oor my en Rialette, my vrou, praat, dan is daar ’n sekere beeld wat by my opkom. As jy ons sou ken, sal jy weet hoe ons saam is. Daar is ’n sekere dinamika wat anders is as byvoorbeeld tussen my en ’n vriend of tussen my en ’n kollega. Die terme van die verhoudings verskil, die deel van inligting verskil, die vlakke van intimiteit verskil en die tipe liefde verskil. Die taal en metafore verskil.
Waar ek en Ria net vir mekaar kan kyk en weet wat in die ander een se kop en hart aangaan, is die dinamika tussen my en my vriende anders.
Vriende het binnegrappies en deel mekaar se swaarkry en voorspoed.
Ek geniet dit om saam met my vriende ’n bottel wyn of twee te drink en nonsens te praat. Saam met Ria praat ek oor my hart, waarheen ek groei en waarmee ek stoei. Sy het toestemming om hard met my te praat as ek droogmaak. Sy is ook die een wat die stukke optel wanneer ek uitmekaarval.
Die vraag hier, in die eerste deel van die boek, is hoe lyk my verhouding met God? Hoe lyk die mens se verhouding met God? Wat is die dinamika, die taal en die terme van die verhouding?
Hoe ken ek God?
Die mens het nog altyd op die een of ander manier ’n verhouding met die gode gehad.
Die oomblik toe ons oerouers uit hul evolusionêre onbewustheid wakker geword en hul oë hul eie self die eerste keer raakgesien en waargeneem en besef het hulle bestaan, het hulle sekerlik opgekyk na die sterre en het hul kollektiewe self gedink, hier moet iets meer wees as net ek.
Dit was nie lank nie of mense het aan die gode begin offers bring. Hulle het die son, maan en sterre aanbid. Die natuurverskynsels vereer en ook probeer beheer. Ek dink juis hierdie gevoel van ’n jong bewustheid dat alles nie beheer kan word nie, het ons aangewakker om uit te roep na wat ook al hierdie vreemde natuur beheer, want sekerlik moet iemand of iets iewers in beheer wees? Offers was ’n manier om die toekoms te probeer verseker.
Dit is eintlik ’n baie eenvoudige stelsel: jy bring ’n offer aan ’n god en die god maak dan seker dat dit reën. Die offer kan ook die god kalmeer of paai sodat sy nie kwaad raak en jou oes met hael verpletter nie.
Daar is ’n duidelike dinamika in die verhouding. Die gode vereis offers. As jy offers bring, dan doen die god wat jy nodig het of weerhou van jou wat jy nie nodig het nie. Met ander woorde: ek doen x, dan doen god y – geen verdere verpligtinge nie.
“Wat het Ek aan julle baie offers? vra die
Here. Ek is sat van die brandoffers van
ramme en die vet van voerbeeste; die bloed
van bulle en lammers en bokke staan My
nie aan nie.”12
Die God van die Israeliete was anders – onderstebo, andersom – as die ander gode van die volke rondom hulle.
Terwyl die ander gode bloed gesoek het, het die God van Israel dit nie gesoek nie.
Die offers wat in Levitikus beskryf word en in die tabernakel en later in die tempel gebring is, was ook anders. Dit was nie omkoop nie, dit was ’n voorbeeld. ’n Kragtige beeld van die resultaat van sonde, die uiteinde. Soos die bloed van die lam gevloei het oor die altaar en die lewe uit die dier gesypel het, het dit ’n baie egte, raak en diep-roerende, emosionele beeld geword. Die versoening wat gebeur het, was nie God wat kalmeer en genoeg dood gekry het nie – dit was eerder ’n bedekking van ons afvalligheid. Dit is wat die woord kippur, wat ons met “versoening” vertaal, in die Ou Testament beteken – om toe te gooi. Dit is ’n toemaak van sonde, soos ’n sluier wat oor ons gegooi word. ’n Beeld dat God ons steeds liefhet en by ons wil wees en verby ons sonde kyk, dit in werklikheid nie raaksien onder die sluier van bloed nie. So is Jesus se dood die laaste offer, die beeld van alle beelde, die laaste toemaak van alle sonde.
God het nie iets van mense nodig nie, tog dink ons so. Ons glo ons moet ’n hele lys goed doen sodat God iets vir ons sal doen. Ons moet iets doen dat God sal terugkom. Ons moet genoeg in die bordjie gooi, ons moet genoeg mense kry om gelyk te bid, ons moet onsself ontneem van sekere goed – dan sal God beweeg.
Die waarheid is, God is nie weg nie.
God is die hele tyd nog by ons. God stel nie belang in ons offers nie, maar Hy stel belang in ons harte. Hy stel belang in hoe ons mekaar van dag tot dag hanteer, hoe ons die armes en die weduwees hanteer. Hy wil weet hoe ons lewe en hoe ons omgaan met sy goedgeskape wêreld. God stel bo alles belang in ons beskikbaarheid voor Hom; ons wat bloot sê: hier is ek. Dit is wat dit so moeilik maak. Daar is nie ’n uitgewerkte lys dinge-om-te-doen-sodat nie.
Spiritualiteit wat