Op soek na Tretchikoff. Anita du Preez

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Op soek na Tretchikoff - Anita du Preez страница 6

Автор:
Серия:
Издательство:
Op soek na Tretchikoff - Anita du Preez

Скачать книгу

cute, nè,” sê sy.

      “Verskriklik,” sê ek.

      Thuli trippel nader en kry my aan die pols beet. Ek wil nog teëstribbel. “Kom,” sê sy en rem my kombuis toe.

      “Ek het dit eintlik vir jóú gekry hier oorkant by Hair by Mona,” sê sy, “want ek weet jy gaan nog cuter as ek lyk daarmee.” Sy pluk die pruik van haar kop af en haar krulletjies spring parmantig orent. Ek probeer keer, maar mens wen nie maklik met Thuli nie. “Nee, komaan, Lily,” sê sy en woel my eie haardos plat. “Dié hairstyle van jou is lankal tired,” hou sy vol terwyl sy die ding op my kop plak en tot by my ore afrem. En ek weet presies hoe ’n lam ter slagting moet voel.

      “Sien? Supercute!” Thuli pluk-pluk aan die kuifie soos ’n trotse mamma. “Dis lankal tyd dat jy ietsie nuuts try!”

      Toe die dreamcatcher aandui daar is iemand wat wil inkom, los sy my net so, spring rats binnetoe en gaan sit op die naaste stoel. Daar gebeur min genoeg hier rond en sy gaan duidelik niks mis nie. Sy draai in my rigting, beduie iets en rol haar ogies vir my om te kom kyk.

      En toe ek om die deur loer, weet ek wat haar so op hol het. Ek bly net daar staan. Haal nie die pruik af nie, want ek weet hoe my eie ou haartjies dán sal lyk, en daar is darem nog standaarde. Want die man wat ingestap het, is nogal iets. Dit kan selfs ek sien, al is my uitsig meestal van sy rugkant.

      Ligte hare, so nie juis my cup of soup nie, maar tall, dark and handsome én onder sewentig is nie aldag hier in Vishoek te siene nie. So. Nie dat ek juis in mans belangstel nie, maar ek is ook nie blind nie, en ons kunstenaars sien mos maar altyd iets moois raak. Ek kan sien Mevrou Besluiteloos neem ook daar en dan ’n besluit om te bly sit net waar sy is.

      Net Dricus staan nader, want die res van ons is vasgenael. Veral toe ons hoor wat die man wil hê.

      “Kyk, ek weet nie of jy my kan help nie. Ek het ’n geweldige fout gemaak,” verduidelik hy. “Ek het iemand se naam op my arm laat aanbring en nou dryf die persoon my heeltemal tot raserny. So. Ek het net kom hoor of ’n mens so ’n tatoe kan verander?”

      “Laat ek sien?” vra Dricus.

      Thuli skuif ongemerk nader en Mevrou Besluiteloos sit die tydskrif neer. Ek onthou die artikel wat ek gelees het van Johnny Depp wat sy tatoe WYNONA FOREVER laat verander het na WYNO FOREVER, en maak of ek my tekkie se veter vasmaak. Nou wil ek ook niks mis nie. Die man begin sy hempsmou oprol, maar dis denim en hy sukkel.

      “Ag, trek maar die hemp uit,” stel Mevrou Besluiteloos voor, “ons gee nie om nie.”

      Vir die eerste keer stem ek met haar saam oor iets, net toe ’n selfoon iewers begin lui. Dricus draf na sy lessenaar, Mevrou Besluiteloos gryp na haar handsak en Meneer Tatoe laat vaar sy pogings met die hempsmou en pluk sy foon uit sy jean se gatsak. Al drie besef gelyktydig dis nie hulle foon nie en kyk verleë rond. Net ek besef wat dit is. Ek probeer my dom hou, maar dis duidelik waar die gelui vandaan kom. Dis Naas. Oom Heydenrych het daardie diedelie-diedelie-die-luitoon.

      Gelukkig hou Naas op met lui.

      Die man vat-vat weer aan sy hempsmou, en besluit dan om te maak soos Mevrou Besluiteloos voorgestel het.

      “Wel … as niemand omgee nie,” begin hy huiwerig losknoop. Ons is vasgenael, maar hy kom net drie knope ver, en net daar ruk Naas geheel en al handuit. Wip op en af op sy stokkie en kwetter soos ’n boom vol vinke. “Oor ons ewige gebergtes!” sing hy luidkeels. Almal draai na hom en daar staan ek soos die ma van ’n kleuter wat amok maak in ’n porseleinwinkel, en met iemand anders se blonde pruik op.

      Dricus gee my een verbysterde kyk en stuur my en Naas liefs huis toe vir die middag.

      “To come to terms with this morning’s trauma,” sê hy.

      So wat die girlfriend se naam is, sal ek seker nooit uitvind nie. Al wat ek kon uitmaak toe die man moes skuins draai om een arm halfpad uit sy mou gewikkel te kry, is dat dit begin met ’n M en eindig met ’n N of iets, in Gotiese krulletters hoog op teen sy gespierde boarm. Ek wou nog mooi kyk, maar ek moes haastig by die deur uit met verdomde voëlhok en al terwyl Naas sy solo lustig afsluit met: “Waar die kráááánse antwoord gee!”

      * * *

      Dit hou my heelnag wakker. Nee. Nie Naas se aanval van musikale patriotisme nie. Ook nie die feit dat ek moes erken dat Thuli reg is oor my hare nie. My weerkaatsing in die bespikkelde badkamerspieël was nogal glad nie onaardig so met die vals blonde haardos nie. Toe ek dit afpluk, kon ek duidelik sien sake was beter toe ek dit opgehad het. Maar dis nie wat my wakker hou nie.

      Ek kan nie slaap nie, want my kop wil nie tot ruste kom nie. Nie voor ek gedink het hoe om die man se ongewenste tatoe in iets anders te omskep nie. Kruis van die kunssinnige. Die geworstel met oplossings vir enigiets wat visueel van aard is. My brein het nog nie die boodskap gekry dat ek klaar is met kuns nie. Die stomme ding is skoon verward.

      Ek boks die kussings in toom en wonder oor meisiename met M’e en N’e. Marina? Nee. Marion? Marian? Die M kan dalk vlerke word? Ja. Maar wat van die res? Nee, liewer die hele naam omskep in ’n oopbek-tier. Hmm … Ek teken dit in my kop. Huh-uh. Eerder ’n swart luiperd? Ja. Dit kan werk. Meer pigment om mee te speel. Of … Liewe genade, Lily! Kan iemand asseblief ’n boodskap na die betrokke lob van my ooraktiewe breintjie stuur?

      Ek skakel die lig aan. Die feit dat dit baie sou gehelp het as ek geweet het wat die meisie se naam is, plus die feit dat dit net mooi niks met my te doen het nie, maak geen verskil nie. Ek gaan maak tee en klim weer in die bed met my tablet.

      Daar is hordes hartseer stories op die internet oor mense met “tattooer’s remorse”, met prentjies by. Wie sou dit nou kon dink? Meneer Depp het dit al ’n tweede keer gedoen, sien ek. Die tatoe van sy troetelnaam vir Amber Heard, SLIM, is summier verander na SCUM. Wys jou net. Wanneer liefde draai, word dinge maklik lelik. Vra my.

      * * *

      Ek word ure later wakker met die tablet op my bors en ’n oplossing in my kop vir die arme tatoeman se probleem. Ek sien dit so duidelik voor my geestesoog dat ek dadelik opspring en my ou sketsboek en ’n paar potlode gaan uitgrawe. Ek weet al uit ondervinding dat mens nie moet wag vir die dag van môre as so ’n briljante idee kom aanklop nie. Want môre kan jy niks onthou nie.

      Ek slaap glad nie verder nie. Toe dit lig word, is ek niks vaak nie en ek maak koffie.

      Gevolglik gebeur daar iets wat nog nie tevore gebeur het nie. Ek daag eerste op by Exotic Tattoos.

      “En dit?” vra Dricus toe hy aangestap kom. “Het jy in die bed gepiepie?”

      “Dis nie nodig om snaaks te wees nie, Dricus. Dis nie aldag wat mens inspirasie kry nie.”

      “O hel,” sê hy terwyl hy oopsluit, “ek is te bang om te vra, maar ek kan sien dit sal nie help nie.”

      “Doringtakkies,” blerts ek dit uit nog voor hy behoorlik sy sit kan kry. “Pure genius, huh? Al moet ek dit self sê?”

      “Doringtakkies?” Ek kan sien Dricus dink hy weet nou iets waaroor hy nog altyd gewonder het.

      “Ja! Só gepas vir die man se situasie!”

      “Ek is bly om te sien jy is uiteindelik weer opgewonde oor iets, Lily, maar waarvan praat ons?”

      “Die

Скачать книгу