Wilna Adriaanse-omnibus 2. Wilna Adriaanse

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Wilna Adriaanse-omnibus 2 - Wilna Adriaanse страница 6

Wilna Adriaanse-omnibus 2 - Wilna Adriaanse

Скачать книгу

draai voor die spieël in die rondte. Die materiaal is ’n diep oranje sy wat om haar rondings vou en van haar heupe af effens na onder uitklok. Drie dun veterbandjies oor elke skouer hou die rok bo. Die halslyn is laag gesny, maar nie onbehoorlik laag nie en bedek beslis al die nodige kurwes. Selfs haar ma sal nie kan kla nie. ’n Lang sjaal van dieselfde materiaal hang in die waaie van haar arms. Die kontras met haar donker vel en haarkleur was een van die redes waarom sy op dié rok besluit het en as sy nog ’n paar dae in die son kan lê, sal dit hopelik nog beter lyk.

      “Nee maggies, Karen! So lelik is die rok beslis nie …” Nicolene draai na Karen wat steeds doodstil sit.

      “Ek wonder net of ek jou enigsins naby my bruidegom kan toelaat. Jy het jouself oortref, maar ek wil asseblief net nie weet wat hierdie skepping jou gekos het nie. Ook maar goed Andrew gaan hier wees. Jy gaan die Suid-Afrikaanse manne se bloeddruk laat styg … en die arme Jacques wat saam met jou voor die kansel moet staan, gaan moeite hê om die ring te onthou.”

      “Wat gaan Jacques voor die kansel maak? Ek dag ek is die enigste gevolg.”

      “Gerrit het besluit hy het morele ondersteuning nodig, en blykbaar het hulle al op universiteit mekaar belowe dat, wie ook al eerste trou, die ander een sal strooijonker wees. Ek dog ek het jou gesê.”

      Nicolene skud haar kop ingedagte terwyl sy die rok uittrek. “Nee, jy het nie. Maar dit maak nie saak nie. Dit gaan nogal pret wees: ek en Jacques saam voor die kansel.”

      “Ai, ek kan nou al sien hoe Ma en tannie Christa met trane in hulle oë vir julle sal kyk. Maar nou ja, as dit dan nou die enigste manier is hoe ons julle twee saam voor die kansel sal kry, laat dit dan so wees.”

      Nicolene gooi ’n kussing na haar suster. “Moenie vir my sê jy koester ook nog al die jare sulke drome nie?”

      “Wie van ons doen dit nie? Ek dink die hele dorp het hulle hart daarop gesit. Maar die liefde laat hom nie voorsê nie – daarvan het ek eerstehandse kennis. Sedert ek en Gerrit ernstig begin uitgaan het, sou ek beslis ook na niemand anders geluister het nie. My hart het net een taal gepraat.”

      “As ek jou ’n geheim vertel, sal jy belowe om dit nooit te herhaal nie?” Nicolene sak weer op die bed neer en moet lag toe sy sien hoe Karen se oë rek en sy afwagtend na haar kyk.

      “Ek was, seker vandat ek verstand gekry het, op Jacques verlief, maar hy het altyd met ouer meisies uitgegaan en ek het nooit kans gesien vir die vreeslike kompetisie nie … ek weet nie of enige vrou ooit seker sal wees dat sy die enigste een in sy lewe is nie.”

      “Het jy dit ooit vir hom gesê?” Karen se oë is nou koeëlrond.

      “Moenie laf wees nie! Kan jy dink hoe hy my sou gespot het? En in elk geval het hy my altyd as ’n suster gesien.”

      “Het jy nooit eers gewonder of hy nie dieselfde oor jou voel nie?” Karen skud haar kop stadig heen en weer asof sy dit nie kan glo nie.

      “Jy moet onthou ons praat nou van jeugdige verliefdheid. ’n Mens is uiters weerloos en broos en my ego sou beslis nie so ’n teleurstelling kon hanteer nie. En in elk geval was dit baie minder gekompliseerd om sy vriendin te wees. Ek dink ek het hom meer gesien as wat sy meisies hom gesien het en ons het heerlike tye gehad, veral die tye wat hy nie meisies gehad het nie. Op universiteit het die kompetisie net sterker geword en gaandeweg het ek besluit dat dit wat tussen ons is, honderd maal beter is as wat die meisies kry.”

      “Is dit die rede waarom jy weggegaan het?”

      “Nee, goeiste! Ek het beslis nie as gevolg van ’n verlore liefde en ’n gebroke hart Engeland toe gegaan nie. En ek ly beslis ook nie nou aan ’n gebroke hart nie. Dit was sommer kalwerliefde … en moet asseblief nou nie jou kop hieroor breek, of dit vir iemand vertel nie. Ek het geen romantiese versugtinge oor Jacques Roux nie.” Nicolene kyk waarskuwend na die ander meisie.

      “Miskien was hy ook op jou verlief en jy sal dit nooit weet nie.” Karen se stem is droomverlore en Nicolene bars uit van die lag.

      “En die maan is van kaas gemaak. Asseblief! Dink maar net ’n bietjie terug: almal was mooi, selfversekerd, jy kon hulle altyd deur ’n ring trek. Hy val nie vir ’n rabbedoe wat saam met hom bome geklim en gestoei het nie.”

      “Maar jy sal nooit wéét nie. Wil jy hom nie net vra nie, net om my nuuskierigheid te bevredig? Miskien ly hy aan ’n gebroke hart en is dit die rede waarom hy nog nie getroud is nie.”

      Nicolene druk haar suster laggend op die bed neer en sit ’n kussing oor haar kop. “Ek moes jou nooit vertel het nie. Nou sal jou romantiese siel nooit rus nie. En nee, niemand gaan hom iets vra nie, ook nie jy nie, al is die versoeking ook hóé groot. Belowe my.”

      Daar is ’n oomblik net onverstaanbare geluide van onder die kussing, maar dan knik Karen en Nicolene lig die kussing. “As … wanneer … julle albei eendag gelukkig getroud is en ’n klomp kinders het, sal jy hom dan vra?”

      Karen snak na haar asem en Nicolene knik. “Ja, wanneer ons eendag oud en grys is.”

      ’n Klop aan die deur laat albei opkyk en toe loer Lisa se bekommerde gesig om die deur. “Karen! Wat op aarde … Ons moet oor ’n uur by die spysenier wees en julle is nog nie eers aangetrek nie.”

      Albei meisies spring op en met een laaste blik na mekaar spat hulle uitmekaar om vinnig te stort en aan te trek.

      “Nicci, ek sal net meer gerus wees as jy die spyskaart met die mannetjie deurwerk en hom presies laat verstaan wat ons wil hê,” laat Lisa hoor toe die drie vrouens voor die mooi, gerestoureerde hotel stilhou.

      “Ma, ek gaan beslis nie vir hom vertel hoe om dit te doen nie. Hy is ’n uiters bekwame sjef en heeltemal in staat om die spyseniering te doen.”

      Voordat Lisa kan antwoord, is hulle egter in die ontvangsportaal en die jong ontvangsdame groet hulle vriendelik. Sy beduie na die luukse sitkamer en oomblikke later sluit ’n aantreklike blondekopman met ’n wit oorbaadjie by hulle aan. Hy steek sy hand glimlaggend na Lisa en Karen uit en toe draai hy na Nicolene.

      “Hallo, ek is André. Ek is bly om jou uiteindelik te ontmoet.”

      Hy neem haar hand in syne en sy wonder wat haar ma hom alles vertel het.

      “Hallo, ek is Nicci,” laat sy gesellig hoor en sy sien hoe hy verlig begin glimlag.

      Vir die volgende uur word daar kos en versierings gepraat en as hy aanvanklik onseker van homself was, oorwin hy dit gou toe hy sien Nicolene is tevrede met sy voorstelle. Sy vra ook net die nodigste vrae, al kan sy sien haar ma wil baie meer inligting hê.

      Toe hulle eindelik groet, lyk Lisa aansienlik meer verlig en Nicolene kan nie help om te glimlag nie. Haar ma is besig om soos ’n geoefende generaal ’n veldslag te beplan. Niks word oorgesien nie; alles word tot in die fynste besonderhede uitgewerk.

      Nicolene is dankbaar toe hulle net voor middagete tuiskom. Karen moet ’n vriendin vir middagete ontmoet en Lisa moet ná ete haar rok gaan aanpas. In haar kamer trek Nicolene ’n kortbroek en loopskoene aan en dan kies sy koers deur die populierbos na die huis aan die oorkant van die riviertjie. Dis nou middagete; miskien is hy by die huis.

      Sy stoot die kombuisdeur oop en dit neem ’n oomblik vir haar oë om aan die skemerte gewoond te raak. Die volgende oomblik skrik sy toe ’n figuur uit die spens kom.

      “Kan

Скачать книгу