Bruidzilla. Marion Erskine

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Bruidzilla - Marion Erskine страница 2

Автор:
Серия:
Издательство:
Bruidzilla - Marion Erskine

Скачать книгу

knik. “Dit word ‘agua’ genoem, meneer.”

      “Dit klink amper soos ‘aqua’!” verklaar die oom opgewonde.

      “Dis reg.”

      “Hoor jy, Vytjie?” sê die oom hard vir sy vrou, wat blykbaar nie goed kan hoor nie. “Water is ‘a-gua’ in Spaans!”

      “Twee bieftortillas en ’n groot bottel agua,” bevestig Tillie en stap weg. “Koud.”

      “Ek wag steeds!” gil die tannie voordat Tillie by die kombuisdeur in verdwyn.

      “Alejandro, die tannie soek haar sop warm,” sê Tillie en plak die gazpacho voor hom neer. “En twee bieftortillas vir tafel vyf.”

      “Warm gazpacho?” wil Alejandro een oktaaf hoër as gewoonlik weet. “Ek weier!”

      “Sy soek dit warm,” herhaal Tillie. “Gooi sommer ook ’n hardlywigheidspil in, want sy’s vol stront!”

      Die kombuisdeur slaan oop en Phatiswa kom ingestorm.

      “Jammer ek is laat, daar was load-”

      “Shedding,” sê Tillie en Alejandro byna gelyk.

      Phatiswa rek haar oë. “Well, sorry that I live in the township, your highnesses.”

      “Ons het ook loadshedding gehad, your majesty,” kap Alejandro terug. “And yet we managed to be on time.”

      “Dis oukei, Phats,” keer Tillie voordat die twee aan mekaar spring. “Kan jy asseblief net die twee tortillas en bottel water aflaai by tafel vyf en vir die ou tannie haar warm gazpacho gee? Ek moet piepie. Ek knyp nou al van agtuur af!”

      “Warm gazpacho?” vra Phatiswa geskok.

      “Ek weet!” gil Alejandro, wat lyk asof hy huil terwyl hy die sop in ’n warm pan gooi.

      “Ek’s nou terug,” sê Tillie en storm na die badkamer.

      Sy maak dit net-net tot op die toilet. Wat ’n verligting. Genugtig. Dit is ook nie ’n lewe om op agt-en-twintig nie eens te mag pie wanneer jy wil nie.

      Sy laat sak haar gesig in haar hande en sug hard. Dis nie hoe sy haar die lewe voorgestel het nie. Eerlikwaar nie. Die meeste van haar matriekklas is al getroud met rugbyspanne kinders en Instagram-posts van hoe hulle in Zanzibar vakansie hou. Party van hulle is al in ’n tweede of derde huwelik! Wat het sy om te wys? Boggherôl. Dis net sy en haar beste vriendin, Milanka, wat nog nie getroud is nie (wat sy van weet). Maar dit gaan ook waarskynlik binnekort verander, want Milanka en Jacques is die laaste ruk onafskeidbaar. Jacques Malherbe. Die mees perfekte man op aarde. Handsome, oulik én ryk. Tillie kan nou nog nie glo hoe dié twee liefdesduifies by mekaar uitgekom het nie. Wie’t ooit gedink sy sou onwetend Kupido speel?

      Die foon vibreer op die teëlvloer waar haar jeans om haar enkels lê. Tillie gee nog ’n sug en haal dit uit. Praat van die duiwel. Nege WhatsApps. Veertien missed calls. Almal van Milanka!

      Sy lees eers die boodskappe.

      Tillie!!

      Bel my. Dadelik. xx

      Waar is jy?

      Ignoreer jy my? Ek het nuus!!!! xx

      Antwoord asseblief! [no image in epub file]

      Ek weet jy werk, maar dit kan wag. My nuus is belangrik!!!

      TILLIE!!!!!!!!!

      [no image in epub file]

      ANTWOORD JOU FOON!!!!! [no image in epub file]

      Kyk, as die baas gepraat het, moet jy luister. Dit is al so van skooldae af. Tillie weet sommer Milanka gaan haar soos ’n goeie reisagent op ’n behoorlike guilt trip stuur hiervoor.

      Sy ruk soos sy skrik toe die foon in haar hand vibreer. Sy haal diep asem voor sy antwoord.

      “Hallo, Milanks.”

      “Kan jy nie sien ek probeer jou al meer as ’n halfuur kontak nie?” roep Milanka ontsteld uit aan die ander kant.

      “Ek is jammer,” probeer Tillie verduidelik. “Ons het ’n tekort aan –”

      “Whatever,” onderbreek Milanka haar. “Raai wat!”

      “Vertel my.” Die nuus kan enigiets wees. Milanka het haar verlede week twaalf missed calls gegee omdat Victoria’s Secret ’n uitverkoping gehou het. Gmf. Asof sý ooit sulke fancy panties sal kan bekostig. Vir wat nogal? Die laaste keer dat ’n man naby haar lyf gekom het, was amper tien maande gelede. Tinus was ’n great ou en sy het regtig baie van hom gehou, maar sy was so oorwerk dat sy aan die slaap geraak het terwyl hulle liefde gemaak het. ’n Man se selfbeeld kan dalk een so ’n vernedering hanteer, maar twee maal in twee weke? Sy het hard probeer verduidelik dat daar niks verkeerd is met sy tegnieke nie, maar dit was net te veel vir Tinus en hy’t aanbeweeg na lewendiger weivelde. Dis ook die rede hoekom sy toe maar Tinder van haar foon afgehaal het. Sy werk. En slaap. Werk. En slaap. Dis al lewe wat sy ken.

      “Jacques het gevra om met my te trou!” gil Milanka so hard dat Alejandro dit waarskynlik in die kombuis kon hoor.

      Tillie weet nie wat om te sê nie. Sy het die nuus wel die een of ander tyd verwag, maar die skok is te groot vir nou, hier waar sy op die toilet sit.

      Praat, Tillie. Sê iets!

      “Aitsa,” is al wat sy vir eers uitkry.

      “Aitsa?” roep Milanka geskok uit. “Is dit al?”

      “Jammer,” sê Tillie haastig en probeer heuning aansmeer. “Ek’s so bly vir jou, Milanks. Sjoe.”

      “Vra my hoe hy die nuus gebreek het!” gil Milanka, uit haar vel.

      “Hoe het hy die nuus gebreek?” na-aap Tillie soos ’n goeie kleuterskoolkind wat mooi luister na juffrou, en voel hoe haar kop begin verlep.

      “Ek wou jou nie oor die foon vertel nie,” begin Milanka, “maar ek kan eenvoudig nie meer wag nie! En ek wil hê jy moet dit direk van my af hoor en nie eers op Instagram sien nie!”

      “Dis baie dierbaar van jou,” dik Tillie dit soveel aan as wat sy kan. “Vertel my.”

      “Jy weet mos Jacques en ek is nou in ’n vyfster-lodge hier naby die Krugerwildtuin?”

      Nee, tensy jy praat van die tweehonderd foto’s wat jy op sosiale media gelaai het die laaste drie dae. Van afshow en ghrênd plekke in mens se keel afdruk, is Milanka Fouché die koningin én eerste prinses. En haar hashtags is genoeg om jou na goedkoop bokswyn te dryf. Dis #lovethisman, #happiestcouple, #eatthatkardashians, #mymanisthebest en moenie vergeet van #iwishicouldmarryhim nie, drie keer ’n dag.

      “Ek het iets op Instagram gesien, ja,” poog Tillie ’n antwoord.

      “Wel,” gil Milanka histeries, “al wat Jacques my vertel het gisteraand, nadat ons drie keer liefde gemaak het, is dat ek vanoggend vieruur

Скачать книгу