Bruidzilla. Marion Erskine

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Bruidzilla - Marion Erskine страница 4

Автор:
Серия:
Издательство:
Bruidzilla - Marion Erskine

Скачать книгу

is doodreg. Ek sal dit vandag nog share,” sê Tillie en kyk op haar horlosie. “Maar ek moet nou gaan. Weereens geluk, vriendin. Ek’s so bly vir julle.”

      “Dankie. Toedeloe. Jacques wag vir my. Ek het hom belowe ons sal nog ’n keer liefde maak in die borrelbad voor ons uitboek!” roep Milanka en druk die foon dood.

      Tillie kom verslae orent en trek haar broek op. Sy gaan staan voor die spieël, kyk na haar vaal hare en was haar hande. Die sproetgesig wat na haar terugkyk, is regtig nie jaloers nie. Sy gun Milanka al die geluk in die wêreld. Regtig. Sy’s net hartseer. Sy wonder of haar eie Prince Charming eendag sal kom. Sy’t nie ’n olifant, lugballon of enigiets fancy nodig nie. Net iemand wat haar ’n drukkie kan gee op ’n dag soos dié. Wat sal sy tog nie doen vir ’n doodgewone hug nie?

      2

      Draadjies en diëte

      Dis Vrydagaand en Tillie bevind haar oorkant Milanka en Jacques in Montecasino se 3SIXTY° Liquid Lounge. Natuurlik is dit een van die fancyste plekke in Johannesburg en Milanka het haar mos nie kans gegee om enigiets anders te gaan aantrek nie. Nou sit sy hier met tekkies, haar jeans en ’n wit T-hemp met Torro! Torro! agterop. Aan die voorkant is ’n skets van ’n bul met ’n mes en vurk in sy pote en ’n groot stuk steak voor hom. Alejandro wou ’n wasbak kraam toe oom Fernando met dié hemde by El Horno aangekom het.

      “Vir wat sal ’n bleddie bul sy eie familie eet?” het Alejandro gesanik en Fernando het gesê dat hy nie so daaraan gedink het nie. Oomblikke later het hy homself in sy eie sangria pity party probeer verdrink. Die hemde is gekoop met hierdie jaar se budget en hulle moet dit nou dra vir die volgende jaar.

      Tillie skaam haar morsdood tussen die mense. Dis ’n wonder hulle het haar so toegelaat in dié ghrênd plek.

      Jacques Malherbe dra ’n netjiese blou pak klere. Hy het ’n wit langmouhemp aan en is sonder das. Dié beeldskone donkerkopman met sy tweedag-stubble sal goed lyk in ’n bleddie streepsak. Sy pa het een van Suid-Afrika se top-eiendomsagentskappe begin en Jacques het daar begin werk nadat hy sy bemarkingsgraad gekry het. Vanaand het hy nog nie veel gepraat nie. Met Milanka in ’n gesprek kry min ander mense ’n kans. Jy antwoord basies wanneer daar met jou gepraat word, en verder knik jy soos een van daardie bobblenek-poppies. Jacques is dalk meer van ’n introvert as wat sy gedink het, vermoed Tillie nou, en dit lyk nie asof hy aanstoot neem oor Milanka se byna bonatuurlike energie nie. Die sielkundiges sê mos al jare dat mens altyd iets in jou partner soek wat jy nie het nie.

      Milanka dra ’n eina swart cocktail-nommertjie en die Swarovski-oorbelle wat sy vir haar verjaardag by haar toekomstige man gekry het. Die oorbelle is behoorlik in kompetisie met die pienk rots op haar verloofring.

      “Hoe gek is jy oor my ring, vriendin?” vra sy toe sy agterkom dat Tillie dit bekyk. “Dis ’n padparadscha sapphire, met rose-cut diamonds.”

      “Dis regtig baie mooi,” roep Tillie bo-oor die musiek, wat effens hard is. “Jacques, daar is niks so wonderlik vir ’n vrou as dat sy weet haar geliefde ken haar smaak nie. Jy’t goed gekies.”

      Hy maak sy keel skoon om te antwoord, maar Milanka kan haar opgewondenheid nie inhou nie. “O, dis ’n snaakse storie, eintlik. Ek het sommer my eie ring gekies.”

      Jacques knik en vat ’n sluk van die vye-martini wat Milanka vir hulle al drie bestel het. “Dis waar. My engel het self gekies.”

      Tillie kan nie sy pokerface lees nie en weet nie regtig wat anders om te sê as “Oukei” nie.

      “Jy glo mos daaraan dat die heelal jou soms roep, nè?” vra Milanka en staar na die plafon asof sy Orion se belt soek.

      Tillie knik. “Ek dink so.”

      “Wel, ek het eendag tien minute oor tien by die huis gesit en net gevoel ek moet na die Suid-Afrikaanse ontwerper Anton Heunis se website gaan.”

      “Anton Heunis?” Tillie het al iewers die naam gehoor.

      “Ja,” roep Milanka. “Ek het jou aangesê om hom te volg op Instagram, onthou? Hy bly in Madrid en maak die mooiste juwele.”

      “O ja.” Dis hoekom die naam bekend geklink het.

      “Anyway,” gaan Milanka voort, “om tien oor tien het ek op sy website gegaan, want ek het gevoel my ring wag daar.”

      “Hy wag vir jou?” frons Tillie.

      “Hy’t vir haar gewag,” glimlag Jacques en cheers met sy martini in die lug. “Dit was bestem.”

      “En raai watter liedjie begin speel net toe oor die radio?” vra Milanka.

      “Beyoncé se ‘Single Ladies’?” raai Tillie en lag amper vir haar eie grappie.

      “Nee, Bruno Mars se ‘I Think I Wanna Marry You’!”

      Tillie wil nog vra, maar Milanka doen reeds vir haar die wiskunde: “Toe die liedjie begin speel, het hierdie ring op Anton se website gelaai.”

      Tillie loer na Jacques en sien hy’s net so dik van die lag soos sy, maar nie een van hulle durf wys dat hulle Milanka se denkwyse amusant vind nie.

      “Iemand in Spanje het mý ring gemaak terwyl Bruno Mars ’n liedjie vir my geskryf het,” verklaar Milanka dramaties.

      “Vertel Tillie van die afslag, my engel,” por Jacques haar aan.

      “O ja!” roep Milanka uit. “Daar was tien persent afslag op my ring!”

      “Tien?” vra Tillie en wonder of tien present veel van ’n verskil maak aan iets met ’n woonstel se prys.

      “Ja,” knik Milanka en soen haar verloofring sagkens. “Een vir elke maand wat ek en Jacques al saam is.”

      “Sjô, Milanks,” is al waarmee Tillie vorendag kan kom.

      “Toe gebruik ek my kredietkaart,” vertel Milanka “En toe gee Jacques my die geld terug.”

      Tillie voel haar kop deurmekaar raak. “So, jy het die verloofring gekoop voordat Jacques jou gevra het om te trou?”

      Milanka rol haar oë. “Vriendin, dit was voor die hand liggend dat hy my die een of ander tyd sou vra. Ons het gereeld daaroor gepraat. Ek het hom net die stres gespaar om dag na dag te moes gaan soek na die ring. My arme verloofde is besig.”

      “Jy’s reg, my engel.” Jacques plak ’n soen op haar wang en knipoog vir Tillie. “Ek het beplan om jou net daarna te vra.”

      “O, e … ja, e … natuurlik.” Tillie kan sien dat die arme Jacques basies gyselaar gehou is in hierdie transaksie. “So, wanneer is die groot dag?”

      “Ons wil trou op Lentedag. Een September,” glimlag Milanka breed.

      “Hierdie jaar?” vra Tillie vinnig.

      “Doodreg!”

      Tillie tel vinnig in haar kop. “Dis oor minder as drie maande!”

      “Dis reg, ja,” knik Milanka en trek Jacques se hand nader.

      “Gaan

Скачать книгу