Anton Goosen. Hanlie Retief
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Anton Goosen - Hanlie Retief страница 10
Herbie & Spence het een van my songs opgeneem en omtrent al my woorde verander. Hulle het my later om verskoning gevra en belowe hulle sal nooit weer nie, maar hulle het ook nooit weer ’n song van my gekry nie. In September 1978 was daar vir die eerste keer tegelykertyd ’n Engelse liedjie én ’n Afrikaanse een van my op die treffersparade: “My Life is in Good Hands” met Gene Rockwell en Carike Keuzenkamp se “Hoeka toeka”.
Voor die dae van selfone en minibandopnemers het mens wysies en lirieke inderhaas in ’n sakboekie of op stukkies papier neergeskribbel soos dit in jou kop kom. Tydens ’n publisiteitstoer het die komponis Barry Mason wat o.a. “Delilah” vir Tom Jones geskryf het, my vertel dat hy die hele tyd ’n sakboekie by hom dra vir gedagtes oor liedjies. Die probleem daarmee is nes met bandopnames – jy moet gedissiplineerd wees en terugkyk en weggooi. Nie net versamel nie. Maar as dit goed genoeg is, gaan jy dikwels onthou. Ek onthou Barry het ook vertel hy kon nie musiek skryf of ’n instrument bespeel nie, hy het die wysies in sy kop vir iemand geneurie of gesing en dié het dit dan neergepen. Hy het wel die eerste van sy hits saam met Les Reed geskryf. Albert Hammond het my vertel dat hy en Mike Hazlewood saam geskryf het, maar kontinente van mekaar af. Hulle het mekaar gebel.
Op pad terug van Pretoria waar ek bladmusiek gaan aflaai het, het die wysie van die koor in “Byeboerwa” ingewarrel gekom. Net die eerste note, toe weet ek dit kan ’n tune word. Ek het dit vir myself herhaal tot by die huis waar ek dit kon opneem.
Dan begin die gekarring om iets te kry wat sal inpas by die wysie. Jy blaai deur die Afrikaanse spelreëls, of maar weer deur ’n Breyten-digbundel en kom af op die reël “hier kom ek aan uit die berge met blomme in my hare”. Die titel van daardie gedig was “Byeboer”. Net dit. Dan tref dit jou dat die dude dalk moet rondtrek. Ek het ’n groot sagte plek vir Pelgrimsrus en die dorp se geskiedenis. So laat ek die byeboer soontoe gaan en terugkeer. Maar “byeboer” het steeds een lettergreep te min. Wel, in 1891 is daar nie motors nie, so hy en sy korwe sal met ’n wa moet trek. Bingo. Dit was toe uiteindelik metafories/simbolies van die gras aan daardie kant is groener, en as jy daar kom, is hierdie kant se gras groener. Dit het my twee dae geneem om “Byeboerwa” te skryf.
Tant Mossie van Arlington het ’n mondigwordingspartytjie vir haar seun gehou en ons is saam met my broer-hulle daarheen. Terug in Fontainebleau skryf ek die song van “Ta’ Mossie se sakkie sakkie boeredans”. Toe tant Mossie dit die eerste keer oor Radio Oranje hoor, het sy skertsend gesê dis baie nice maar dit was ’n deftige partytjie, glad nie soos Anton dit in die liedjie verduidelik het nie.
Maar dis presies hoe dit werk as jy ’n liedjie skryf. Jy meng beelde wat jy in herinnering oproep, soos die kampterrein in Musina waar die ooms hul amps met karbatterye laai en ek en Antjie kaalvoet om die vuur gedans het. Kleintydherinneringe van die partytjies by die Lace-myn en my oom wat koponderstebo rondloop en kyk of hy diamante kan optel. Meng dit met Ta’ Mossie se partytjie en jy het ’n song. Dis soos die trekklavierkoning Ollie Viljoen gesê het: “Moenie dat feite in die pad van ’n goeie storie kom nie.”
Die finale woord oor liedjies: Moenie jou kennis of hoogdrawendheid op die luisteraar probeer afdwing nie. Liedjies is nie poësie of letterkunde nie. Die luisterliedjie het juis hieroor gesterf, doodgepraat en doodgesimposium.
In ’n song oor bokkoms op die stoep skryf ek “waar al my liefde gedy het”. Stephan Bouwer, ’n baanbreker in Afrikaanse TV-dramas wat self gedigte geskryf het, se kommentaar daarop was dat mense met bokkoms op die stoep nie die woord gedy gebruik nie. Hy was reg.
Gedigte is moeilik om in liedjies te verwerk. Dit leef op papier, maar ek het net ’n paar suksesvol kon toonset. In Stephan se gedig “Die mense wat ek liefhet” is die reël “ek met my harnas van been”. Dit het nie vir my as beeld in ’n liedjie gewerk nie, toe verander ek dit na “ek met my moskombersie”. Mense wat nie die song se titel onthou nie sal vir my sê sing vir ons van die moskombersie. Dis vir my die verskil tussen poësie en liriekskryf. Om die swakste skakel heel te maak. Met “om te breyten” het ek “my wintervoël” verander na “wintervoëltjie” – dit het die betekenis heeltemal verander en liries versag.
Jy moet jou eie werk gereeld ondersoek en nasorg doen en kyk of jy nie besig is om tematies vas te haak of te herhaal nie. Wanneer dit gebeur is dit tyd vir nuwe invloede of interaksie met ander kunstenaars of skrywers. Soms kry jy writer’s block en jy wil borde stukkend gooi omdat niks uitkom nie. Gooi dan die borde en gaan slaap. Vroegoggend het jou onderbewussyn dalk onverwags die antwoord. Soms nie. Vergeet dan daarvan.
’n Liedjieskrywer het twee groot vyande. Eerstens, om in sirkels te werk en te dink. Sommige liedjies ontwikkel net nooit verder nie en dan het jy ontsaglik baie tyd daarop verspil.
Tweedens, geraas. Jy het stilte nodig. Die kreatiewe geheue het ’n uitwisknoppie soos ’n rekenaar. ’n Telefoon of bybie in die middel van ’n komposisie laat jou gedagtes verlore gaan en veroorsaak onnodige frustrasie. Sommige komponiste soos Irving Berlin kon op busse skryf. Ek kan nie.
’n Liedjieskrywer moet van soveel soorte musiek moontlik weet. Luister na ander se werk, ontleed dit, kyk na die binnewerk. Ondersoek die akkoordprogressies, probeer variante daarvan, maar moenie liedjies volgens akkoorde skryf nie. Akkoorde vul net melodie aan, nie andersom nie. ’n Goeie liedjie kan deur ’n mamma vir ’n baba geneurie word, maar ook deur ’n simfonieorkes gespeel word.
Hoe skryf ek ’n liedjie? Ek weet nie. Ek gaan sit net en skryf.
Iets wat my in die laat 1970’s heeltemal onkant betrap het, was die Afrikanerdom se drakoniese sensuur. Dis nogal ’n ding om te verwerk as jou songs verbied word, dat jy nie meer mag skryf wat jy wil nie. Daai tyd was enige godsdiens, enige handelsnaam, enige politieke kontroversie op die sensors se lys. En seks. So jy moes óm dit skryf. Dan raak jy maar ’n meester van subtiliteit en dubbelsinnighede, jou politieke boodskap raak ondergronds. “Waterblommetjies” was so, “Hanoverstraat”, “Jantjie” in ’n mate onbewustelik so, “Antjie Somers”, “Atlantis”.
“Atlantis” is verbied, maar om die een of ander rede het “Mpanzaville” wat ek vir Laurika oor die 1976-betogings geskryf het, deurgeglip. James Mpanza was een van die stadsvaders van Soweto en daar was ’n voorstel dat Soweto se naam moet verander na Mpanza. Ek het toe die simboliese beeld gebruik van die honger krokodil wat doodgemaak moet word, met dié dat PW Botha se bynaam Die Groot Krokodil was. Die SAUK het sy eie sensuurstelsel gehad. Later het die game so ontaard, ek het woorde begin gebruik wat hulle nie sou verstaan nie, soos “gentoe” in my sewende album, City/Stad. Die Gentoo was ’n skip wat ’n klomp prostitute in die Kaap kom aflaai het om die mans te bedien. Op Houtbaai se hawe staan in die sement uitgekrap: jou ma is ’n gentoe.
My liedjie “Boude” het natuurlik ook nie die paal gehaal nie, al was dit ’n stokou Maleierliedjie. Ek het die liedjie “Anna Jordaan” by Chris Swanepoel, oudredakteur van Die Wynboer en Gilbeys se skakelhoof, gehoor: “Ou Anna Jordaan jou kaalkop korhaan. By Suurbraak het Anna vir sewe man gestaan, en Anna se ma het so baie gehuil toe stuur sy vir Anna na die Barrydale. En miesies Morkel het deur die sleutelgat geloer en toe sien sy vir Anna met sewe manne koekeloer.”
Godsdiens was ’n doodsonde vir die sensuurraad, tog is Kris Kristofferson se “Why me Lord” nie verbied nie. Vir die liedjie “My Life’s in Good Hands” wat ek vir Gene Rockwell geskryf het, het ek catch phrases uit die Metodistesangbundel