Anton Goosen. Hanlie Retief
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Anton Goosen - Hanlie Retief страница 8
3
Sonja en “Jantjie” – die begin van groot dinge
Ek moes dalk nooit na my pa in die kis gaan kyk het nie. Hulle sê mos dis die beeld wat vir altyd by jou bly, maar hierdie stywe man in ’n donker kis was nie anders as die beeld wat ek altyd van hom gehad het nie.
My pa is in 1974 dood, ek was 28 en ek het langs die kis gestaan en hom só gekyk en geweet, hier lê jy nou, Pa.
Was dit hoekom ek op daardie Sondagoggend as driejarige op my driewiel geklim het om my ma by die kerk op die dorp te gaan soek, met my pa wat stroef onder ’n boom sit, besig met sy Louis L’Amour, terwyl hy my eintlik moet oppas, sy seun moet koester? Het ek sy koudheid teenoor my toe al gevoel? Ons het vyf myl buite die dorp gebly, en omtrent halfpad soontoe het die twee soekgeselskappe by hierdie klein seuntjie op sy driewiel uitgekom.
My ouers het die jaar nadat ek matriek in Welkom geskryf het, Bloemfontein toe getrek. Op kollege het ek naweke die vyf uur van Heidelberg af Bloemfontein toe gehike, “my hande vol presente/ ’n liedjie vir my ma en ’n bietjie trots vir my pa”, soos in een van Breyten se gedigte. Maar sommer by die voordeur al meet my pa met sy oë hoe lank my hare is, en as dit té lank was na sy sin, het hy heelnaweek nie met my gepraat nie. Dan was alles verniet, die vyf uur hike, alles.
Ek staan langs die kis en ek is hartseer hy is dood, want hy is my pa en ek is lief vir hom en ek onthou die klank van sy mondfluitjie, sy stem as hy sing in die kar, ek kan amper sien hoe hy, die verliefde poskantoorman, op die perron agter Ma aanhardloop. Maar binne my stoot die weersin op, want jy het my altyd so klein en fucked up laat voel, Pa, ek kan nie ordentlik plaasdrade span of koeie melk of ’n man wees nie.
Voor die begrafnis vra my ma: “Sal jy uit respek jou hare sny?” Nee Ma, ek wens ek kan my hare vandag nog tien keer langer laat groei.
Iewers in my kollegejare skryf my pa in ’n brief: “Liewe Anton, jou lang hare en walglike voorkoms en vriende en musiek ens.” Dit was weer een van daardie gewone briewe waarin hy my lang hare en my gedrag afkeur, sy teleurstelling loop dik tussen die lyne, want ek is nie die staatmaker Afrikanerseun wat Ben vir hom geword het nie. Ek het jare later die brief teen my studeerkamer se deur op die plaas opgeplak, amper so ’n reverse van Martin Luther.
Later jare, toe my depressie en my tweede opgeneukte huwelik my een nag daar by die kampvuurlapa op die plaas inhaal, het ek my geel hoërskoolghitaar – die een wat my pa in sy hangkas toegesluit het – teen daardie klippe van die kampvuur fucked up geslaan en in die vuur gegooi.
Ure later het ek onthou wat Tharinca, Ben se vrou, eenkeer opgemerk het nadat sy die brief op die glasdeur gelees het: “Anton, jou pa het darem geëindig met ‘Liefde, Pappa’.”
Op daai oomblik het ek vrede gemaak en besef dit was sy manier van liefde wys, sy lomp poging om my op die regte pad te kry. Ek het in die inhoud van die brief vasgekyk, nie in die “Liewe Anton” en “Liefde, Pappa” nie. Maar toe was hy lankal dood.
Daarna was dinge vir my beter, somehow. Soos dit maar altyd gebeur, dink mens jare later eerder met nostalgie as wrewel aan iemand terug. Ek sou nou so graag met hom wou gesels, oor die invloed wat hy op my lewe gehad het, die liefde vir Afrikaans en die dinge waarvoor ek tog dankbaar is. Sy singery laataand in die Hudson wanneer ons huis toe ry, het ’n blywende indruk op my gelaat. Mens onthou nie net die goed en die sleg nie, jy onthou die totaliteit.
Dan was daar die ding van reis wat ek by hom en my ma geleer het. Geniet die reis, die reis kan die lekkerste wees as jy die regte goeters langs die pad raaksien.
’n Paar maande ná my pa se dood het my ma vir haar ’n Datsun-sportkarretjie gekoop, Johannesburg toe getrek en naby ons kom bly, in Villa Barcelona, ’n meenthuiskompleks. Sy het baie vir ons kom kuier en dit was goed om te sien hoe sy weer haar kop oplig, met ’n bietjie juig- en pryshulp van die plaaslike Apostoliese gemeente.
My ma het die liefde vir poësie en letterkunde by my gekweek. Sy was ’n Van Wyk Louw-aanhanger, ek ’n Breyten Breytenbach-fan. Maar daar was ook AG Visser, Opperman, Jonker, Eugène Marais, Uys Krige, Chris Barnard. En Langenhoven. Sy en haar vriendin Jeanne Roussouw het toe hulle by UCT was ’n keer met Langenhoven tussen hulle in Roelandstraat gestap. Hy kon blykbaar na willekeur winde laat. So ook daardie dag. Die twee girls het gebloos van skaamte. Langenhoven het onmiddellik opgemerk: “Toemaar julle, dit het my ook al oorgekom.”
Sy het vir haar ’n toervakansie Europa toe bespreek en ek het haar die dag lughawe toe gevat. Ons was laat en in ’n stadium het haar oë op die spoednaald se 170 km/h geval. Sy merk toe ewe droog op sy het nie geweet die kar kan so vinnig ry nie.
By Jan Smuts se internasionale vertreksaal het ons vir oulaas deur die groot vensters soentjies vir mekaar gewaai. Ek het gestaan en wag totdat die vliegtuig spreekwoordelik sy vlerke klap voordat hy rigting Europa gevlieg en ek koers gekies het huis toe.
Die volgende dag staan ek voor St Stithians se standerd 3’s. Daar is ’n klop aan die deur en die Metodiste-kapelaan roep my uit die klas en blaker dit uit: “Your mother has died on Las Palmas.” My wêreld het uitmekaar geval.
Die vliegtuig het vir brandstof op Las Palmas geland en terwyl hulle op die lughawe gesit en wag het, het my ma hartversaking gekry. Sy was maar 53.
Toe kom sy terug, nie opgewonde oor die weersien by die internasionale aankomssaal nie, maar by ’n plek waarheen jy nooit wil gaan nie, diep in die maag van die lughawe waar hulle die lyke bêre. Hulle sit die valstande in ’n plastieksakkie voor jou neer en ’n klein Avbob-vliegtuig styg op om haar Bloemfontein toe te vat. Ons het die begrafnisreëlings deur die Avbob-kantoor in Johannesburg getref. Ons het gehoor hoe die man wat ons bedien het in die kamer langsaan na “die ding” verwys. Dit was my ma. Ek het agterna ’n brief geskryf en hy het sy werk verloor.
Ek het darem ’n mooi finale afskeidsbeeld van my ma gehad, hoe sy vir my koebaai waai op pad vliegtuig toe. En sy kon Jantjie, kom huis toe by St Stithians bywoon. Ek was baie fucked up ná my ma se dood. Die title song in Donovan se Cosmic Wheels-album is toe net uitgereik, met die eerste reël: “God is playing marbles with his planets and his stars.” Ek mis my ouers.
In dieselfde jaar is my skoonpa dood en teen daai tyd was my emosies rivieraf. Ek het nie sy begrafnis bygewoon nie. Ek kon nie. Ek het gaan sokker speel. Dit was net té veel.
Die paar maande ná St Stithians en voordat my musiekloopbaan losgebars het, was aards en rustig saam met Antjie en Maríza. Ek en Antjie het saam pottery-klasse geneem, dit was in die 1970’s ’n baie hip ding om te doen. Dit het my kreatiwiteit losgemaak, ek het baie songs uitgedink met okerkleur klei aan my hande. Antjie het aan ’n koerant vertel hoe my pottebakkerswiel al stadiger begin draai, my voet ritmies op die vloer begin tik en dan kom die wiel tot stilstand en ek vlieg op, was my hande, gaan na my studeerkamer met die make shift klankborde, gryp my ghitaar en skryf. Die kombinasie het goed gewerk. Dit was baie aards.
Ons was naderhand só goed met die pottery-ding dat toe die pottebakkers – die Greens – met vakansie Kanada toe is, ons vir hulle ingestaan en hul klasse aangebied het. Hul kind het die vakansie tragies in die grootouers se swembad in Bryanston verdrink. Daarna het die arme Greens weggetrek en hul ateljee aan my en Antjie verkoop.
Só kom dit toe dat ek en Antjie ’n pottery studio in ons garage in Fontainebleau begin het. Antjie het ekstra wiskundeklasse gegee, ek ghitaarlesse en in September 1975 word ek ’n deeltydse musiekjoernalis en popresensent vir Beeld en Huisgenoot.
Vir