Pluimprinse. Malene Breytenbach
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Pluimprinse - Malene Breytenbach страница 4
“Ek kan met trots daarop aanspraak maak dat ek van die mooiste pluimpaleise in hierdie eens armoedige dorp in die Klein-Karoo geskep het,” sê meneer Bullock uit die hoogte. “Die inkommers van oraloor wat so gou uit die pluime ryk geword het, wou veral huise hê wat hulle nuutgevonde status en geld sou weerspieël. Hulle wou paleise hê van klip, gebrandskilderde glas, gekerfde hout, versierings en vergulding. Hulle wou oordaad hê. En ék het dit vir hulle gegee.”
Mijnheer Vixseboxse lag. “Nouveaux riches, parvenu’s wat uit die vere van die volstruis ryk geword het en wat ’n tyd lank baie hoog gelewe het.”
“Ons produkte verteenwoordig tog la belle époque van Oudtshoorn. Ek het nog die elegante Imperial Hotel ook ontwerp.”
“Het is tog jammer dat zij jouw hotel asook jou meesterstuk, The Towers, tot puin gemaakt heeft.”
“Die Filistyne! Dit is onvergeeflike verwoesting! Ek raak ál meer bekommerd. Daar is soveel verval en verrotting op Oudtshoorn. Die rykdom van die verlede is besig om te vergaan. Die mense vir wie ons gebou het, se dinastieë sterf uit. Ek kan net hoop dat daar darem van ons skeppings sal voortleef.”
Mijnheer Vixseboxse lyk ook gekwel, maar spot weer so ’n bietjie. “Niks bestaat toch voor eeuwig. Sic transit gloria mundi – aldus vergaan die glorie van die wêreld.”
Meneer Bullock sug. “So is dit. Maar een van die dae is daar darem meer as net die verval om dop te hou. Het jy gehoor? Sý is op pad.”
En die twee knipoog vir mekaar en glimlag.
Olivia word wakker en lê aan die droom en dink. Watter vreemde droom, wat tog so werklik gevoel het. Waar kom sy aan die name? Is dit weer een van haar voor- of naspooksels? Sy ervaar dikwels déjà vu, óf sy droom dat iets gaan gebeur, en dan gebeur dit werklik.
Sy staan op en gaan na haar skootrekenaar waar sy die naam Bullock google. Ja, hy was ’n Oudtshoornse argitek in die boom-tydperk wat vir die mense wat so skielik ryk geword het uit volstruispluime, herehuise ontwerp het, en hy is in 1909 oorlede.
Daar is ’n lys van Bullock se Oudtshoorn-huise:
Montague House, eienaar Lipschitz, 1908;
Gottland House, eienaar C.M. Lind, 1902;
Mimosa Lodge, eienaar R. Sladowski, 1907;
Dorpshuis, eienaar J. le Roux, 1908;
The Towers, eienaar G. Olivier, 1902 (gesloop) ;
Rus-in-Urbe, eienaar J.A. Foster, 1902;
Rykskraal, eienaar S.J. le Riche, 1906;
Courland House, eienaar C. Wolowsky, 1906.
Die argitek Charles Bullock, wat in 1909 dood is, word as een van die groot sandsteenargitekte bestempel.
Courland House is haar oupa en ouma se huis, waar haar ma grootgeword het. Sy droom nie verniet daarvan nie. Dit gee haar weer die buitewêreldse sensasies wat sy kry wanneer sy iets sommer weet, maar nie altyd weet hoekom sy dit weet nie. Dis ’n boodskap, ’n rigtingwyser.
Oupa Isaac kan seker nie meer lewe nie, maar dit is moontlik dat ouma Rebekah nog lewe. Sy was ’n hele entjie jonger as hy. Sy moet egter al baie oud wees. Dit val Olivia by dat sy ’n hele ruk gelede ’n artikel gelees het van argitekte wat oor die laaste twee eeue in Suid-Afrika gewerk het. Mense soos die beroemde Sir Herbert Baker. Charles Bullock is ook genoem, en Johannes Egbertus Vixseboxse. Dit moes in haar onderbewussyn vasgesteek het.
Durf sy soontoe gaan? Na Courland House? Sy gaan ten minste probeer. Dis op die oomblik vir haar ’n uitkoms en ’n toevlug, en baie jare is darem sedert haar ma se tragiese vlug verby.
Word sy geroep?
Olivia bel haar vriendin Amanda wat by Fair Lady werk en vertel haar van die aanval.
“En jy sê my nou eers?” roep Amanda geskok uit. “Dit het al eergisteraand gebeur. Jy kon hiernatoe gekom het …”
“Nee, ek wou nie weghardloop en arme Minnie net so los nie.”
“Ag nee. Kom slaap vannag hier. Minnie is tog seker oukei? Niemand sal haar wil beroof nie.”
Olivia sug. “Ek het so groot geskrik en is so bang daardie aanvaller kom terug dat ek net uit Kaapstad en Muizenberg wil wegvlug. Ek wil ook nie my vriende met my probleme belas nie. Dis beter dat ek heeltemal weggaan.”
“Maar waarheen wil jy gaan?”
“Ek het gedink aan my ouma op Oudtshoorn. Die een van wie ek jou vertel het. Ek ken haar nie, maar ek wonder nog al die jare oor haar. Sy was die sagte een van die twee oumense. My ma het altyd gesê haar pa het hulle almal gedomineer en hulle moes hom in alles gehoorsaam. Ek is seker sy sou nie my ma wou dood verklaar het nie. Ek gaan na haar toe en as sy my wegjaag, nouja, dan jaag sy my weg.”
Daar is ’n kort stilte voordat Amanda weer praat. “Gee jy nou jou werk en huis op, of is dit net ’n tydelike kuier?”
“Ek sal my huis net so verhuur, met Minnie daarby. Sy sal nie haar werk wil verloor nie. Die ekonomie trek swaar. Ek kan net nie nou met saktye en harde nuus cope nie. Ek moet eers afstand kry, en gesond word.”
“Ag shame, jy is werklik getraumatiseer. Ek sou ook uitgefreak het. Jy gaan nie weg voordat jy kom totsiens sê nie en dan behou jy kontak, of ek kom haal jou en gee jou ’n pak slae. Hoor jy my?”
Olivia glimlag, al trek haar gesig seer. “Ek sal jou van al my bewegings laat weet, my vriendin. Wanneer ek beter voel, kom ek terug. Maar op die oomblik kan ek skaars helder dink. Ek wil regtig net wegkom.”
2
Olivia ry met haar geel Mini Cooper deur die strate van Oudtshoorn. Die voorbereidings vir die jaarlikse Klein Karoo Nasionale Kunstefees is in volle gang. Daar is ’n brug oor ’n trae stroom wat die Grobbelaarsrivier genoem word en ’n tentdorp is opgerig langs die straat en die rivier. Voor ’n groot sandsteengebou met ’n toring, sien sy die naam CP Nel Museum. Dit is dié plek wat sy in haar droom gesien het. Daar waar die twee argitekte met mekaar gesels het.
Hier draai sy links in Baron van Rheedestraat. Hoewel daar moderne geboue tussenin is, kan sy sien dat baie van die ander geboue van sandsteen is, en die ou stoepe van huise en winkels is versier met krullerige smeeyster. Hier word die Victoriaanse en Eduardiaanse verlede nog bewaar en dit gee aan Oudtshoorn ’n uniekheid wat ander plattelandse dorpe in die Klein-Karoo kort.
Hoe verder sy in die straat afry, hoe meer sandsteengeboue is daar. Die pluimpaleise waarvan sy so baie gehoor en gelees het. Soos elegante bejaarde dames staan hulle daar, opgesmuk, met versierings en torings. In valletjies en kant, bepluim en gekorset. Sy sou dit prettig vind as sy nie so gespanne was nie.
Om en om ry sy sodat sy ’n geheelindruk kan kry. Een enorme pseudo-Tudor-paleis wat uitstaan tussen dorpsontwikkeling, winkels en vulstasies, heet Fosters Manor. Dit is ’n gastehuis. Ou weelde gekommersialiseer. Naderhand hou sy stil en vra ’n seningrige bruin man of hy weet waar Courland House is. Sy veronderstel die plaaslike inwoners ken die naam, en hy weet inderdaad. Hy beduie, terug oor die brug. “By Wesbank. Jan van Riebeeckstraat,