Annelize Morgan Omnibus 2. Annelize Morgan

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Annelize Morgan Omnibus 2 - Annelize Morgan страница 14

Annelize Morgan Omnibus 2 - Annelize Morgan

Скачать книгу

kan sy sy stewels sien blink en die swaard aan sy sy sien glinster.

      Sy weet waarheen hy op pad is en dink onwillekeurig aan die gesprek wat sy die vorige aand op die stoep gehoor het. De la Roque het Armand nie net van moord beskuldig nie, maar dit het werklik geklink asof hy dink dat die graaf De Bordeaux tot iets so verskrikliks in staat is. Sy haat Louis de la Roque en sy wens dat hy nooit na die Kaap gekom het nie. Hy voorspel net moeilikheid.

      Toe Armand de Bordeaux op sy perd klim en wegry, draai Celèste om en gaan kruip weer in die bed. Nou sal niemand enigeen van hulle steur nie. Die baas van La Montagne sal nie voor middagete terug wees nie.

      Garcon word die Maandag begrawe, maar nie voordat daar eers ’n afvaardiging van die Kasteel af gekom het om die omstandighede van sy dood te ondersoek nie.

      Dis Ernest wat sy arm om Celèste se skouers sit toe die kis in die graf afsak. Sy is bly vir sy nabyheid en ondersteuning op hierdie oomblik, maar haar gedagtes bly tog half en half by die ander wat ook om die oop graf vergader het.

      Al die plaaswerkers is teenwoordig. Daar is ook Jacques Tredoux, Jeanne en die graaf De Bordeaux. Dis net Jeanne wat enige trane stort oor die ontslapene. Jacques Tredoux frons diep en skynbaar bekommerd, terwyl die graaf se uitdrukking heeltemal onpeilbaar is.

      Skielik kyk hy op en vas in Celèste se oë. Die uitdrukking op sy gesig verander nie; daar is net ’n onverklaarbare flikkering in sy blou oë asof hy aan iets dink wat hy nie met iemand anders wil deel nie.

      Eindelik is Garcon iemand wat tot die verlede behoort en keer die plaaswerkers terug na die wingerde. Ernest wil eers saam met Celèste huis toe loop, maar die graaf beduie dat sy van die oop rytuig gebruik moet maak. Toe sy half aarselend opklim, volg hy haar en spoedig is hulle alleen op pad terug na die herehuis.

      Hulle is al ’n hele ent weg voordat De Bordeaux vra: “Het jy ’n benul wat daar by die stal gebeur het?”

      “Non, monsieur …” Sy voel baie ongemaklik hier alleen saam met hom in die oop rytuig.

      “Het Garcon niks aan jou gesê nie … ek bedoel, hy sou jou tog in sy vertroue geneem het, sou hy nie?”

      “As hy iets vermoed het, sou hy my daarvan gesê het, monsieur,” antwoord sy eerlik, “maar hy het nie. Ek dink hy is verras.”

      Hy staar weg oor die wingerde wat vinnig besig is om te verkleur. Weldra sal nog net die kaal stamme daar wees. Dan sal die werkers ’n paar weke lank vakansie kan hou voordat die volgende jaar se oes voorberei moet word.

      De Bordeaux se gesig is ’n uitdrukkinglose masker. Celèste kan nie raai wat daar in sy gedagtes omgaan nie. Sy is net bewus van haar eie vreemde emosies. Sy voel half bly en half verskrik hier alleen saam met die man vir wie sy so ’n groot bewondering het. Sy is bang dat hy haar gedagtes dalk sal kan raai, maar hy kyk nie na haar nie. Dis amper asof hy van haar teenwoordigheid vergeet het.

      Maar dan sê hy skielik: “Dis nou nie meer lank nie, dan sal ek ’n lang ruk weggaan. Ek hoop jy besef dat ek jou dan sal moet vertrou met die leersak. Ek sal ook die portret van Etienne le Blanc aan jou gee sodat jy seker kan wees dat jy die regte persoon herken.”

      Sy sluk hard. “Monsieur … u moet my nie alleen laat met hierdie … hierdie ding nie …”

      ’n Glimlag raak aan sy mondhoeke en die uitdrukking in sy blou oë versag.

      “Jy het niks om voor bang te wees nie. Moet net nie iets onbesonne aanvang nie, dis al. Doen presies wat ek van jou vra en jy sal niks oorkom nie.”

      Sy byt haar onderlip vas en kan dit nie verhelp om te wonder hoe hy so seker kan wees dat alles so glad sal verloop nie.

      “Ek sal niks onbesonne aanvang nie, monsieur,” sê sy en wonder waarom hy dan nou eintlik sal weggaan. Daar moet tog ’n goeie rede voor wees … en hoe lank sal hy weggaan? Celèste onthou Louis de la Roque se dreigemente en sidder liggies. Sal De Bordeaux van haar verwag om hier aan te bly as De la Roque dalk kom oorneem in sy afwesigheid?

      Hy leun skielik effens oor na haar kant toe. “As monsieur Le Blanc nog nie gekom het voordat ek moet weggaan nie, sal jy die leersak aan hom gee … asseblief?”

      Sy stemtoon is dringend en ’n ligte fronsie verskyn tussen Celèste se oë.

      “Mais oui, monsieur …”

      “Jy moet my nie in die steek laat nie, Celèste …” Daar is werklike kommer in sy oë te sien.

      “Ek sal nie … u kan op my reken.”

      Madeleine Tredoux wag hulle op die stoep van die herehuis in en aan haar sy staan Emile de la Roque. Celèste pers haar lippe opmekaar. Wat soek hy hier? Hy en sy pa is van die landgoed af weggejaag en hulle het sowaar die vermetelheid om terug te keer.

      De Bordeaux se uitdrukking voorspel niks goeds nie. Sy gesig verdonker toe hy die jonge De la Roque sien. Hy groet Celèste vlugtig en stap dan na waar Madeleine en Emile op hom wag.

      Celèste gaan na die agterdeur. Hierdie keer sal sy nie weet wat daar tussen die drie mense op die stoep gepraat word nie.

      Jeanne stoom toe sy ’n paar minute later ook haar opwagting maak.

      “Ek pak sommer my goed en trap!” sê sy ergerlik toe sy haar voorskoot ombind en ’n erdeskottel van ’n rak afhaal.

      “Wie het jou nou kwaad gemaak?” wil Celèste weet.

      “Hierdie monsieur De la Roque het darem sy mond vol vir ’n besoeker! Dis ver van die begraafplaas af hierheen en ek is nie meer so jonk nie. Ek wou by die voordeur inkom, omdat dit kortpad vir my is, maar nee, ek word deur die klein twak beveel om die agterdeur te gebruik aangesien ek maar net ’n bediende is!”

      Celèste skud haar kop ongelowig.

      “Maar wat het monsieur De Bordeaux gesê? Die graaf sou mos nie so iets toelaat nie!”

      “Hy was nie daar om iets te sê nie. Dit was net monsieur De la Roque en mademoiselle Madeleine wat op die stoep was.” Sy snork minagtend deur haar neus. “En mademoiselle Madeleine is ook heeltemal te liefies met daardie laventelhaan. Ek sou my oë uit my kop skaam as en sý was! Om te dink dat sy ons goeie graaf De Bordeaux probeer vermaak met daardie nikswerd klein twak!”

      “Dít suig jy uit jou duim, Jeanne,” keer Celèste.

      “Ek mag al oud wees, maar ek is nog nie blind nie, gehoor! Sy staar daardie mannetjie met sulke leepogies aan en pruil haar mond dat dit ’n naarheid is. Ek sê nou vir jou, Emile de la Roque het net gekom om moeilikheid te maak! Hy en sy pa gaan nog groot probleme veroorsaak!”

      “Die graaf sal mos nie toelaat dat hulle oor hom loop nie, Jeanne …” paai Celèste.

      “Daardie twee sal nie vir die duiwel stuit nie. Hulle wil La Montagne en die titel hê en hulle sal nie rus voordat hulle albei het nie.”

      Celèste lag sag.

      “En hoe dink jy gaan hulle dit miskien regkry?” wil sy weet. “Ons graaf het die volste reg op sy titel en fortuin. Hy het mos niks om te vrees nie.”

      Jeanne loer om hulle rond, maar daar is niemand in sig nie.

      “Nou

Скачать книгу