Annelize Morgan Omnibus 2. Annelize Morgan
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Annelize Morgan Omnibus 2 - Annelize Morgan страница 16
“Soos dit vir mý deesdae lyk, kan ’n mens enigiets van enigeen verwag. Die ou spul is glad nie meer so edel as wat hulle nog altyd voorgegee het om te wees nie. Ek was my hande nou sowaar in onskuld. Hulle moet mekaar maar na hartelus bedrieg en belieg en beroof. Dit kan my nie meer skeel nie.”
Jeanne draai om en gaan na haar kamer.
Celèste kyk Jeanne net ’n oomblik lank agterna voordat sy weer haar aandag bepaal by dit wat daar buite besig is om te gebeur.
Monsieur De Villiers probeer die dreigende geveg stopsit, maar die twee neefs gaan hulle nie so maklik van stryk laat bring nie. Ook Emile de la Roque lyk effens bekommerd. Almal weet tog hoe ’n gedugte swaardvegter De Bordeaux is. Niemand waag dit sommer om hom tot ’n tweegeveg uit te daag nie.
Armand de Bordeaux lag sag toe sy teenstander aarsel. “Begin jy dalk dink dat jy oorhaastig besluit het, my liewe neef?” wil hy spottend weet. “Dis jý wat eerste jou swaard getrek het en as jy nie gaan veg nie, gaan jy die res van jou lewe as lafaard gebrandmerk wees.”
De la Roque se oë smeul skielik weer. “Ek is nie bang vir jou nie, De Bordeaux … Jy maak ook foute.”
“En jy is te oud om nog met die swaard te veg … Dit was ’n fout van jou om my uit te daag, De la Roque.”
Louis de la Roque kyk vlugtig oor sy skouer terug na sy bekommerde seun en die stugge De Villiers.
“Swaardgevegte is onwettig, monsieur,” sê De Villiers afgemete.
“Wanneer ’n man se eer op die spel is,” antwoord De Bordeaux, “dan geld die wet nie. Kom nou, De la Roque, ons het nie die hele dag tyd nie.”
Terwyl Celèste na hulle staan en kyk, begin hulle om mekaar kring soos twee kapokhaantjies wat gereed maak om te baklei. Haar hart bons in haar keel. Die twee mans daar buite haat mekaar en niks sal hulle verhinder om te veg tot die einde nie. Hulle sal nie ophou voordat een van hulle dood is nie. Sy sidder liggies. Hulle koelbloedigheid maak haar bang. Dis nie hoe sy graaf De Bordeaux ken nie.
Die twee mans spring verwoed aan mekaar. Die geveg is vir hulle albei erns en hulle is nie van plan om die ander een ’n halwe kans te gee nie. Heen en weer trap hulle oor die grasperk, om die lae struike en oor klippe. Hulle is gedugte teenstanders en veg met ’n venyn wat Celèste laat ril. En tog is dit elke meer mis.
Sy verstom haar aan hulle vlugheid van voet en die snelheid waarmee hulle die swaarde deur die lug laat swiep. De la Roque veg met albei hande om die hef van sy swaard, terwyl De Bordeaux die wapen hanteer asof dit gewigloos is.
De Bordeaux dryf sy teenstander agteruit na ’n groepie roosbome op die rand van die grasperk. Hy bring sy houe genadeloos neer en De la Roque moet hom verdedig so al wat hy kan as hy nie summier onthoof wil word nie. Daar is ’n mengsel van paniek en woede op sy gesig te lees. Elke hou van De Bordeaux maak hom roekeloser. Dis asof hy alle versigtigheid oorboord gooi omdat hy weet dat hy die vlymskerp punt van De Bordeaux se swaard nie veel langer sal ontwyk nie.
Skielik ruk hy sy swaard terug, trap eenkant toe en bring sy wapen met al sy krag af na sy teenstander.
Celèste staar met wydgesperde oë na wat besig is om voor haar oë te gebeur. Armand de Bordeaux lyk asof hy in sy spore tot stilstand gekom het, asof hy weet dat hy hierdie een moordende, vernietigende hou van De la Roque nie sal kan afweer nie …
Die meisie knyp haar oë styf toe. Sy wil nie sien wanneer dit gebeur nie … sy wil nie sien hoe die man wat sy so bewonder met ’n swaard deurboor word nie …
5
Terwyl sy haar hande voor haar oë druk, ontglip ’n gil Celèste se lippe.
“Non!” Dis ’n rou kreet wat De la Roque net ’n oomblik van stryk bring. Teen die tyd dat hy herstel het, is dit reeds te laat. De Bordeaux het sy vernietigende hou ontduik en het weer die hef in die hand. Hy dikteer weer die geveg. De la Roque besef baie goed dat hy nie weer so ’n goue geleentheid sal kry om sy neef van die gras af te maak nie.
’n Koue woede jeens die meisie wat gegil het, stu in hom op. Hy weet nie wie dit was nie. Al wat hy weet, is dat dit ’n vrou was en Madeleine Tredoux was dit nie. Sy is nie hier nie.
Armand de Bordeaux speel nie langer kat en muis nie. So flussies nog het hy die hele geveg byna as ’n grap beskou, maar nie meer nie. Sy neef sal hom vermoor as hy hom net die geringste kans bied.
“Jy wil moord pleeg voor drie getuies, De la Roque?” sêvra hy.
De la Roque byt op sy tande. “Wie sal teen my kan getuig? Jy het my getart en hierdie geveg uitgelok.”
Armand se tande skitter wit teen sy songebruinde vel toe hy skielik lag.
“Jy het nie nodig gehad om aan die aas te byt nie, maar jy haat my só dat dit jou gesonde denke beïnvloed.”
“Die geveg het nie meer sin nie,” sê De la Roque skielik. “Na regte moes jy nou dood gewees het, maar die geluksgodin was maar weer aan jou kant.”
Armand se oë vernou. “Word jy nou bang?”
Louis de la Roque pers sy lippe opmekaar. Dit maak hom woedend dat hy niks kan doen nie. Hy word teen sy wil gedwing om die geveg voort te sit en hy besef maar alte goed dat sy kanse baie skraal is om dit te oorleef.
“Prêt!” roep hy uit en lig sy swaard weer op.
“Ja!” sê Armand en ’n spottende glimlag verskyn om sy mondhoeke.
Celèste se moed sak in haar skoene toe die twee weer begin veg. Het hulle dan nie ’n les geleer nie? Armand se lewe is naelskraap gered en nog weier hy om te luister.
Meer as ’n kwartier lank veg die twee mans verwoed voort. Hulle kyk skaars om hulle rond, maar konsentreer net op hulle teenstander se bewegings. Sweetdruppels pêrel op De la Roque se voorkop en hy hyg effens na sy asem. Armand is self nie meer so fris en vars as ’n uur gelede nie. Sy bewegings is nie meer so blitssnel nie, maar dis tog duidelik dat hy fikser as De la Roque is.
Hy veg met oordeel en spaar sy kragte. De la Roque is te moeg om nog enige strategie aan die dag te lê. Hy weer bloot die venynige houe van De Bordeaux af en wag dat die geveg afgehandel moet word. Hy het geen illusies nie. Daar is geen rede waarom Armand de Bordeaux sy lewe moet spaar nie. In Armand se skoene sou hý nie genadig gewees het nie, dink De la Roque en struikel oor ’n klip. Sy swaard spat uit sy hand en die volgende oomblik prik die punt van De Bordeaux se swaard deur die keelvel van die man op die grond.
De la Roque se adamsappel wip op en neer, sweet stroom oor sy gesig, sy mond is half oop terwyl hy na sy asem hyg. Hy weet dat die geveg verby is en dat hy niks kan doen om te verhoed dat De Bordeaux hom doodmaak nie. Daar is koue haat in sy oë toe hy kyk na De Bordeaux wat bo hom uittoring met ’n vae, spottende glimlag om sy mondhoeke. Hulle oë ontmoet, hou mekaar gevange. In De la Roque s’n is net haat en in dié van De Bordeaux is daar bitterheid en afsku.
Skielik neem Armand sy swaard weg van sy neef se keel en steek dit in die skede terug.
“Ek het nie nodig om jou dood te maak nie, De la Roque,” sê hy eindelik. “Jou haat en gierigheid sal jou wel vernietig.” Hy draai om en stap vinnig terug na die stoep.