Annelize Morgan Omnibus 2. Annelize Morgan
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Annelize Morgan Omnibus 2 - Annelize Morgan страница 15
“Wel, dis die storie wat die ronde doen en as monsieur De la Roque kan bewys dat ons graaf sy eie pa vermoor het, dan mag De la Roque die titel opeis en Armand de Bordeaux word gehang.”
Celèste soek haastig na ’n stoel. “Ek kan nie glo dat ons monsieur so iets sou gedoen het nie …” prewel sy geskok.
Jeanne haal haar skouers op. “Hoe sal ons nou weet wat die waarheid is? De la Roque beweer dat hy kan bewys dat ons monsieur die ou graaf vermoor het. As hy dit kan doen, is ons graaf se lewe, sy titel en sy fortuin kwyt.”
Celèste vee met haar hand oor haar hare. Sy weet nie wat om te antwoord nie. Jeanne is nie iemand wat haar sommer aan skinderstories steur nie. Wat sy gehoor het, moes sy van ’n baie betroubare bron verneem het.
Madeleine maak onverwags haar verskyning in die kombuisdeur. Sy staan die ander twee vroue ’n oomblik lank ietwat uit die hoogte en betrag voordat sy styf sê: “Ete sal vandag onder die bome in die tuin bedien word. Sorg dat die wyn goed koud is.”
Celèste het verskrik opgespring toe Madeleine ingekom het en nou maak sy ’n vinnige kniebuiging.
“Oui, mademoiselle …”
Daar is ’n oomblik lank vyandigheid in Madeleine se koel, grys oë te lees toe sy na Celèste kyk. Haar hele houding is afsydig en kil. In teenstelling met Celèste en Jeanne wat albei roudrag dra, is Madeleine swierig uitgevat in ’n tabberd van rooskleurige sy wat haar blonde hare en grys oë vlei. Dit is asof sy moedswillig nie vir die geleentheid van Garcon se begrafnis geklee het nie. Haar hare is in weelderige krulle gekam en met syrose versier. Vanaf haar haartooisel tot by die punte van haar skoene is sy perfek geklee en goed versorg. Sy sal pragtig pas in die rol van gravin De Bordeaux en sy besef dit terdeë.
Sy draai om en met ’n sagte geritsel van haar wye tabberd stap sy met die gang af na die voorstoep.
Celèste haal diep asem en kyk na Jeanne.
“Sy jaag my elke keer die skrik op die lyf, Jeanne. Jong, wanneer sy die dag hier op La Montagne kom woon, gee ek pad. Noudat Garcon nie meer hier is nie, sal niks my tog hier kan hou nie.”
Sy dink aan die graaf en hartseer wel in haar op. ’n Mens kan nie baklei teen dinge wat jy nie kan verander nie.
“Jy lyk nie baie treurig oor Garcon se heengaan nie,” betig Jeanne haar sag. “Ek sou dink ’n meisie sou darem gehuil het oor die man met wie sy sou trou.”
Celèste kyk op. “Jy ken tog die omstandighede, Jeanne. Ek het van Garcon gehou, maar dit was ook al.”
“Nou hoekom het jy dan vir hom gesê dat jy met hom sal trou? Was dit nou regverdig om die arme man so aan die neus te lei?”
Celèste slaan haar blik neer en frons liggies. “Sal die antwoord op daardie vraag nóú nog enige verskil maak, Jeanne? Garcon sal nie meer kan weet dat … dat ek hom nooit liefgehad het nie.”
Jeanne skud haar kop stadig. Wat sou Celèste dan hoegenaamd besiel het om Garcon se huweliksaanbod te aanvaar?
Die Vrydagmiddag pas nadat Celèste en Jeanne in die kombuis klaargemaak het, hou die rytuig van monsieur Louis de la Roque voor die deur van die herehuis stil. Sy seun is by hom, asook ’n regsgeleerde uit die Kaap.
Celèste en Jeanne kyk vinnig na mekaar toe die drie here, getooi met pruike en poeier, gestyfde krawatte en kantmansjette uit die rytuig klim. Met ’n aanstellerige wuif van die hand beduie Louis de la Roque aan sy koetsier om by die stal te gaan wag totdat hy ontbied word.
Plotseling gaan die voordeur oop en kom Armand de Bordeaux uitgestap. Sy houding is trots, uitdagend en ietwat minagtend teenoor sy belangrike besoekers.
“O, aarde, hier kom moeilikheid,” prewel Jeanne en druk haar hande voor haar mond. “As monsieur De Bordeaux só lyk, kry ek die duiwel jammer.”
Dit lyk nie asof die houding van die graaf De Bordeaux sy neef juis die skrik op die lyf jaag nie, want hy kom ongesteurd nader.
“Ons het gekom om ’n sakie af te handel,” sê hy kortaf.
“Jy het niks hier op La Montagne verloor nie,” kom Armand se antwoord bars.
De la Roque lyk effens geamuseerd. “Jy is besonder verwaand vir iemand wat deur die gereg gesoek word, my liewe neef.” Hy kyk oor sy skouer terug na die gepruikte regsgeleerde en dan weer terug na Armand. “Monsieur De Villiers is ten volle ingelig oor wat daar in Lyon gebeur het. Volgens sy mening is ek geregtig op jou vader se titel en fortuin.”
“Jy is op niks geregtig nie, De la Roque,” sê De Bordeaux kil. “Jy is en bly ’n onbenullige arbeider uit die laer stand.”
De la Roque se oë vernou. “ ’n Man wat sy eie pa vermoor het, behoort te sterf en dit sál uiteindelik jou lot wees.”
Celèste kyk met ingehoue asem na Armand de Bordeaux. Sy gesig is bleek van woede, sy hande is in vuiste gebal langs sy sye. Sonder sy baadjie lyk hy vir haar selfs groter en langer. Hy dra net ’n wit syhemp, ’n swart fluweelbroek en wit kniekouse en skoene. Selfs nou is sy swaard aan sy sy.
“Ek het nie my pa vermoor nie,” sê hy hees van woede. “Jý is die een wat dit die beste weet, want jy was ook daardie aand in ons huis.”
De la Roque se gesigsuitdrukking verander nie, maar bly ewe smalend en tartend.
“Ek was daar, ja, en ek het jou met die bebloede mes in jou hand oor jou pa sien buk. Jy is ’n vuilgoed, De Bordeaux!”
“Daar wás iemand wat die moordenaar gesien het,” sê De Bordeaux skielik. “Daar is ’n getuie van die moord.”
De la Roque kyk vinnig na die regsgeleerde en toe na sy seun. Dan draai hy terug na Armand, ’n diep frons tussen sy oë.
“Jy probeer my verniet belieg. As iemand die moordenaar gesien het, moes hy of sy jóú gesien het.”
“Oor minder as ’n maand sal ons weet wie hy gesien het, De la Roque … en ek verseker jou, daarna gaan daar nie meer ’n plek op die aarde wees waar jy veilig sal voel nie.” De Bordeaux stap tot op die rand van die stoep van waar hy uit die hoogte op sy onwelkome neef kan afkyk. “Jy het nie ’n houvas op my nie, De la Roque … nie soos jy op jou ouer broer gehad het toe jy hom in die tronk laat sterf het nie. Ook nie soos jy op jou moeder gehad het toe jy haar na die platteland verban en van haar vergeet het nie. Ek is Armand de Bordeaux, De la Roque, en moet dit nooit vergeet nie.”
De la Roque se oë gloei van woede.
“Dis alles leuens!” gil hy skielik. “My moeder was sieklik en my broer het selfmoord gepleeg! Ek was nie verantwoordelik vir hulle dood nie! Jy sal nie weer sulke beskuldigings teen my maak nie!”
Hy ruk skielik sy swaard uit. ’n Fyn glimlaggie verskyn om die graaf se mondhoeke toe dit gebeur.
Jeanne se oë rek. “Hy het dit moedswillig gedoen … Die graaf het monsieur De la Roque uitgetart sodat hy hom tot ’n swaardgeveg kan uitdaag. Monsieur De Bordeaux wil sy neef doodmaak.”
Celèste kyk vinnig na die ouer vrou.